Jump to content

Die Romeinse Boer/Georgica II

From Wikisource
Boek I Oor die Land Die Romeinse Boer
Georgica, Boek II: Oor Bome
deur T.J. Haarhoff
Boek III Oor Vee


Georgica. Boek II.

Oor Bome.

[edit]
1-8. Die wingerdstok en ander bome is die onderwerp van hierdie boek. Wees ons met hulp naby, o Bacchus, Heer van die wynvat!

Tot sover die ontginning van die land en die hemelsterre: nou sal ek u, o Bacchus, besing, en tesame met u ook die bosse van die woud en die kind van die stadiggroeiende olyfboom. Nader, o, Heer van die wynpers - hier is alles vol van u gawe, vir u bloei die wingerd swaar met die najaarslote, vir u skuim met oorlopende vate die druiwe-oes - nader, o Heer van die wynpers, saam met my, pluk af die stewels, en verf u kaal bene met die nuwe mos.[1]

9-34. Die maniere om bome voort te plant, natuurlik en kunsmatig.

Ten eerste, die Natuur is veelvuldig in die groei van bome. Want sommige, sonder dwang van iemand, kom uit hul eie, so vanself op, en sprei aan alle kante, op veld en by kronkelende rivier, soos die sagte biesiesgoed en die taaie brem en die populierboom en die wilgerbedde, half wit met hul bleekgroen loof. Party groei van die saad wat hul laat val, soos die hoë kastaiingbome en die eikeboom wat groen word vir Juppiter, grootste in die hele woud, en die eike wat die Grieke as orakels beskou. By ander, soos die kersie en die olm, skiet daar 'n digte bos van die wortels uit, en die klein lourierboompie op Parnassus, groei op onder sy moeder se uitgestrekte skaduwee. Hierdie soort groei is die oudste gawe van die Natuur; hiermee word groen al die rasse van bos en struik en heilige woud. (107)

Daar is ander maniere van groei wat ondervinding in sy loop ontdek het. Hierdie boer sny die lote af van die tere moederstem en lê hul in slote in; daardie een begrawe in die grond stamme in die vorm van paaltjies, in vier gekloof, of met 'n skerp punt in die middel (om wortels te bevorder). En ander bosbome wag op die gekromde boog van die ingelegde loot, en steggies lewendig in hul moederaarde; ander weer het nie 'n wortel nodig nie, en die snoeier aarsel nie om die boonste lote aan die grond toe te vertrou nie. Ja, selfs van die droë hout val sy afgesaagde stam (wonderlik om te sê) druk die olyfboom 'n wortel uit. En dikwels sien ons die takke van een boom sonder skade verander in die van 'n ander: die veranderde peerboom dra haar ingeënte appels, pruime word rooi op die steenagtige kornoelieboom.[2]

35-46. Beroep op die boere om te werk en op Maecenas om goedgunstig met sy teenwoordigheid te help: die onderwerp is soos 'n wye see, maar die digter gaan net so effens langs die kus seil.

Kom dan, boere, en leer die behoorlike aankweek van elke boom na sy soort; beskaaf die wilde vrugte deur jul ontginning, en laat die aarde nie ledig lê nie. Want wat 'n vreugde is dit om Ismarus dig met vrugte te beplant en magtige Taburnus[3] met olywe te beklee. En wees teenwoordig om saam met my die begonne taak te voltooi, o Maecenas, ons heerlikheid, met reg die grootste deler in ons glorie, en gee aan die uitgestrekte see u vlieënde seile. Nie om die hele onderwerp in my verse in te sluit nie is my wens: nee al had ek 'n honderd tonge en 'n honderd monde en 'n stem van yster, sou ek dit nie waag nie. Kom, en seil net langs die kant van die wal. Die kus is naby, vir u sal ek (108) nie hier met omslag van woorde, met fabelsang en lang inleiding ophou nie.

47-72. Hoe verskillende bome die beste groei.

Bome wat vanself in die grense van die daglig oprys, is wel onvrugbaar, maar welig en sterk, want natuurlike krag is in hul grond. Maar selfs dié, as 'n mens hul inent of oorplant in gedolwe slote, sal hul wilde geaardheid ontgroei, en met gedurige ontginning, sal hul gou-gou aanleer watter bekwaamhede jy ook wil. Selfs die onvrugbare waterloot wat van die voet van die stam uitgroei, sou dit doen, as dit oor 'n oop erf uitgeplant word: nou word dit oorskadu deur die moeder se hoë blare en takke, waardeur sy vrug geroof word en sy vrugbaarheid gestrem. Dan, die boom wat groei van gesaaide saad, kom langsaam op, en sal eers vir jou kindskindere in later tyd skaduwee verskaf; appels gaan agteruit en vergeet hul vroeër geur, die wingerdstok dra skandelike trossies, 'n prooi vir voëls.

Inderdaad, arbeid moet op almal gespandeer word, almal moet in die voor gedwing word en met groot onkoste getem. Olyfbome groei die beste van afgesaagde stamme, druiwe van ingelegde ranke, Paphiese mirtebosse[4] van 'n soliede stam. Van steggies word gebore die harde haselboom, die magtige es en die skaduryke boom van Hercules se kroon,[5] en die akkers van die (109) Heer van Chaonia;[6] so ook word gebore die hoë palmboom en die denneboom wat die gevare van die see sal aanskou. Deur inenting bring die grofgebaste arbutusboom okkerneute voort, en die onvrugbare plataanboom dra sterk appeltakke, kastaiingbome, beuktakke. Die bergesboom word wit met blank peerbloeisels en varke kou akkers onder die olme.

73-82. Die onderskeid tussen inent en inokuleer.

Daar is meer as een manier van inent en inokuleer. Want waar die knoppies deur die bas deurdruk en hul tere skedes oopbars, daar, net op die lid, word 'n nou kerfie gemaak; daarin lê hul die knoppie van 'n ander soort boom en leer dit om in die sappige bas groot te word. Of weer, gladde stamme word oopgekloof en diep word 'n weg tot die hart gesplits, en steggies word dan ingevoeg: binnekort klim die magtige boom hemelwaarts met vrugbare takke, en bewonder sy vreemde blare en vrugte wat nie sy eie is nie.

83-108. Alle bome het skakeringe, maar die wingerdstok is veral beroemd vir die verskeidenheid van sy soorte.

Verder is nòg die sterk olme, nòg die wilgerboom en die lotus, nòg die sipresse van Ida[7] enkelsoortig. Nie in een gedaante word die ryk olywe gebore nie, - daar is die ovaalgevormdes en die langes en die bitter soort wat gepluk word voor hul ryp is. - en veelsoortig is die appels in die boorde van Alcinoüs.[8] Dieselfde loot (110) dra nie Crustumeriese en Suriese pere en nie die groot swaar peer nie.[9] Nie dieselfde is die druiwe wat van ons stokke hang en die wat Lesbos pluk van die stokke van Methumna[10] nie. Daar is wingerdstokke van Thasos,[11] daar is bleek Mareotiese[12] stokke, hierdie geskik vir 'n ryke, daardie vir 'n ligter grond. Daar is die Psithiadruif, nuttiger vir rosyntjieswyn, en die subtiele Lagïese [13] tros, wat binnekort die voete sal aantas en die tong oormeester; daar is die purper en die vroeë druif; en in watter lied sal ek u, o Rhaetiese,[14] besing. Maar, goed soos jy is, kan jy nie metdie Falerniese[15] kelders meeding nie. Daar is ook Amineïese stokke, wat 'n baie vaste wyn gee, waarvoor die wyn van Tmolus[16] en selfs die koninklike wyn van Phanae[17] plek maak; en die minderwaardige Argitis, ongeëwenaar in hoeveelheid van voortbrings of in lengte van duur deur die jare. Laat my jou nie verby - (111) gaan nie, o wyn van Rhodus,[18] gelief deur gode en feeste, en Bumastos,[19] met jou swellende trosse. Maar ontelbaar is die baie soorte en die name wat hul dra, en, inderdaad, om die getal uit te reken is van geen belang nie. Wie dit wil weet, laat hom ook wens om te leer hoeveel sandkorrels die westewind op die vlaktes van Libua[20] rondwarrel, of, wanneer die oostewind, geweldiger as gewoonlik op die skepe val, laat hom wens om te weet hoe veel Joniese golwe land-toe loop.

109-135. Verskillende bome het verskillende grond en klimaat nodig: oral is daar verskiedenheid.

En alle soorte grond kan nie alles voortbring nie. By riviere groei wilgerbome, en in dik moerasse die elseboom, en onvrugbare berg-esse op rotsige heuwels. Op die seekus groei mirte-bosse die beste; maar die wyngod hou van oop heuwels, en die taksisboom van die koue winterswind. Kyk ook waar die uiterste dele van die aarde deur die boer getem is, die oosterse huise van Arabië en die geskilderde Geloni:[21] só is die tuisplekke van bome verskillend. Indië alleen bring swart ebbehout voort, Sabaea[22] alleen het die wierookboom. Waarom sou ek vertel van balsem wat drup uit die welriekende hout, en die bessies van die groen acanthus? Of van die Etiopiese woude, wit met sagte (112) boomwol, en hoe Sjinese van die blare hul sy-vliesies kam?[23] Of van die bosse wat Indië dra naby die Oseaanstroom, die verste uithoek van die wêreld, waar g'n pyl ooit deur die lug die boomtop kan bereik nie[24] - en waarlik hierdie ras is nie onbehendig in die hanteer van die boog nie.

Medië bring die suur sap en nablywende smaak van die suurlemoen voort, die beste van alle geneesmiddels, (as ooit wrede stiefmoeders 'n beker vergif het met gemende kruie en gevaarlike toorformule), om hulp te bring en die swart gif van die lede uit te dryf. Die boom self is groot, en van aansien baie nes 'n lourier; 'n lourier sou dit wees, was dit nie vir die ander geur wat dit oral versprei nie. Die blare val nooit af nie, hoe sterk die wind ook; die bloeisel sit vas soos min; daarmee maak die Meders[25] hul asem geurig en spoel hul monde uit, en genees die asma van die ouderdom.

136-176. G'n land staan gelyk met Italië nie: graan vrugte, vee floreer daar; wilde diere en dodelike plante ontbreek. Dink aan sy pragtige stede, mere, hawens; sy silwer en goud; sy stoere-krygsmanne en leiers, onder wie Caesar Augustus eerste staan.

Maar nòg die Mediese woude, waar die aarde die rykste is, nòg skone Ganges, en Hermus troebel met goudstof, kon wedywer met die lof van Italië: nee, nòg (113) Bactra nòg die Indiërs en die hele Panchaïa[26] met sy wierookdraende sand. Hierdie land het stiere met vuurblasende neusgate nie omgeploeg by die saai van die monsterdraak se tande nie; g'n stekerige koringveld van manskappe met helms en diggedronge spere het opgeskiet nie.[27] Nee, swaar graan en die Massicus-sap[28] van Bacchus bedek haar; in haar woon olywe en voorspoedige vee. Hiervandaan kom die oorlogsperd wat hoogmoedig die veld binne-loop, van hieraf lei jou wit kuddes, Clitumnus,[29] en die stier, 'n magtige slagoffer (dikwels met jou heilige stroom besprinkel) die Romeinse triomfe na die tempels van die gode. Hier is dit gedurig lente en somer in maande nie sy eie nie: tweemaal word die vee bevrug, tweemaal dien die boom ons met appels. Maar hier ontbreek die woedende tier, en die wrede welpe van leeus; giftige plante bedrieg nie die ongelukkige plukker nie, nòg skiet die skubbige slang sy ontsaglike sirkels oor die grond, of rol hy hom in ringe met so 'n lengte. Dink ook aan al (114) haar voortreflike stede, voorbeelde van menslike arbeid, - aan al die stede deur mensehande gebou op steil rotse, en riviere wat onder mure van die oudheid gly.[30] Waarom sou ek gewag maak van die seë wat onder Italië spoel, en bo?[31] Van haar groot mere, van u, magtige Larius en u, Benacus,[32] wat oprys met branders en gedruis soos dié van die see? Sou ek haar hawens meld, of die grendels geplaas op die meer Lucrinus, en die see verwoed met magtige geruis, waar die golf van die Julia-hawe ver weerklink met die donder van die teruggedrewe Oseaan, en waar die Etruskiese gety instroom in die engtes van Avernus?[33] Sy is dit ook wat in haar are getoon het strome van silwer en myne van brons, en wat oorvloedig met goud gevloei het. Dit is sy wat 'n dapper ras van helde voortgebring het, die Marsi en die Sabelliese jeug, die Liguriër gewoon aan swaarkry, die Volsci met hul spere; haar kinders ook is die Decii, die Marii, die magtige (115) Camilli, die Scipio's,[34] taaie krygsmanne, en u, verhoogde Caesar,[35] wat nou reeds, oorwinnaar op die verste grense van Asië, die verwryfde Indiër weghou van die Romeinse heuwels. Gegroet, magtige moeder van graan velde, land van Saturnus, magtig ook in helde: in u eer begin ek 'n taak van antieke roem en kuns, en waag dit om die heilige fonteine te ontsluit, en deur die Romeinse stede sing ek die lied van Ascra.[36]

177-225. Die beste soorte grond vir olywe, wingerdstokke, vee, koring.

Nou kan ons behandel die geaardheid van velde, die krag van elk, hul kleur, hul natuurlike gawe vir vrugdra. In die eerste plek, moeilike soort grond en kwaadaardige heuwels, waar daar meer klei is en klipperige doringbos-veld, verwelkom die langlewende olyfwoude van Pallas:[37] 'n teken daarvan is dat die wilde olyfboom veelvuldig groei in dieselfde streek en die veld bestrooi met haar woudbessies. Maar ryk grond, verheug deur soete vog, en veld vol gras en vet met vrugbaarheid (soos ons gewoon is om dikwels te sien in 'n holle bergkloof, want hierheen van die rotstoppe af drup water neer en bring vrugbare modder mee) en ook land wat suidwaarts kyk en wat varings voed, land gehaat deur die kromme ploeg: sulke land sal een dag wingerdstokke vir jou verskaf, voortreflik in krag en (116) vloeiende, met 'n mag van wyn; sulke land is vrugbaar vir druiwe met die sap waarvan ons offerande maak uit drinkbokale van goud, wanneer die vet Etruskiese priester sy fluit van ivoor by die altaar blaas, en ons op geronde skottels die stomende ingewande offer.[38] Maar hy wat verlang om liewer vee en kalwers aan te hou, of om skape aan te teel, of bokke wat die land afvreet, laat hom die weilande en die verre plekke van goed bewaterde Tarentum opsoek, of so 'n veld soos ongelukkige Mantua verloor het,[39] Mantua wat sneeuwit swane in die kruidryke rivier voed: daar sal nòg helder fonteine, nòg gras vir die kuddes ontbreek, en soveel sal die koue dou in 'n kort nag herstel. Land wat swart en ryk is onder die ingedrukte ploegskaar en krummelrige grond (want dit is wat ons met die ploeg naboots) is gewoonlik die beste vir koring: van g'n ander land sal jy die langsame osse jou waens meer dikwels sien huis-toe bring nie. Goed is ook die land waarvandaan die ploeër kwaad die bosbome weggery het, waar hy die woude neervel wat vir jare ledig kon gelê het, waar hy die oeroue nessies van die voëls geheel uitroei: lugwaarts rys hul op, en verlaat hul woonplek; maar die wilde veld blink ordelik agter die ingedrewe ploegskaar. Want inderdaad die hongerige gruis van die heuwels verskaf met moeite laaggroeiende wilde kaneel en roosmaryn aan die bye. En die growwe tufsteen en die kalkklip, uitgevreet deur swart waterslange, noem hulself gelyk aan g'n ander land om serpente met keurige kos en kronkelende skuilplekke te voorsien nie. Land wat dun mis en vlieënde rook uitasem, en vog opdrink en uitgee wanneer dit wil, en altyd gekleed (117) gaan in sy eie groen gras, en yster nie bederf met skurfte en sout nie roeserige - daardie land sal jou olme met laggende wingerdstokke besnoer,[40] só 'n land is vrugbaar vir die olyf. Deur ontginning sal jy vind dat dit maklik voer verskaf vir die vee, maklik hom onderwerp aan die gekromde ploegskaar. So 'n veld ploeg die boere van vrugbare Capua, van die kus wat grens op die berg Vesuvius, en die boere van die Clanius-rivier, wat vir Acerrae[41] met verspoelinge verwoes en leeg agterlaat.

226-272. Hoe om verskillende soorte grond te onderskei. Vir wingerd moet die grond goed gedolwe word. Die uitplant van stokke.

Nou sal ek vertel hoe jy verskillende soorte grond kan onderskei. As jy wil weet of dit lig is, of meer as gewoonlik vas (want die een is goed vir koring, die ander vir die wingerdstok, die vaster soort vir Ceres, al die ligste vir Bacchus), kies eers 'n plek met jou oog uit en beveel dat 'n put diep gegrawe word in die soliede aarde. Gooi weer al die grond in, en maak gelyk bo met jou voete. As daar nie genoeg grond is om die sloot weer vol te maak nie, sal die land los wees, en meer geskik vir kuddes en wilde wingerd; maar as dit weier om weer in te gaan, en daar grond oorskiet as die sloot vol is, dan is die land vas; dan moet jy taai kluite en dik rûens verwag en sterk moet die stiere wees waarmee jy jou land omploeg. Souterige aarde en dit wat bitter genoem word (onvrugbaar is dit vir graan en ongetem, al ploeg jy dit, en die druif behou nie sy ras, nòg die boordvrug sy naam daarin nie) sal só 'n teken van sy karakter gee : ruk af van die rook-vuil balke diggevlegte (118) mandjies en die siwwe van die wynpers; maak hul vol met daardie slegte grond en vars fonteinwater, en trap dit vas; al die water sal uitgedruk word, ja, en groot druppels, sal deur die biesiesgoed kom; maar die geur sal 'n duidelike teken gee, en met sy bitter smaak sal hy die lippe van die smaker suur plooi. Dan weer, die ryk land leer ons alleen op hierdie wyse ken: as jy dit van hand tot hand gooi, verkrummel dit nooit, maar, soos pik, word dit aanklewerig as jou vingers dit bewerk. Nat grond laat gras hoër groei, dit is self meer vrugbaar as wat reg is. A, laat my land nie oorvrugbaar wees, of hom te sterk toon as die aar nog jonk is nie! Die swaar grond meld hom aan sonder woorde[42] deur gewig alleen; en so ook die ligte. Maklik is dit vir die oë om die swart grond te ken, en die kleur van elk. Maar om die plek waar wrede koue heers te herken, is moeilik: net somtyds is daar pynbome en skadelike taksisbome of die donker klimop wat sy stappe sprei.

Op hierdie dinge moet jy let, en onthou om lank tevore jou land in die son te laat bak en om die heuwels met lang vore op te breek, en die omgeploegde kluite aan dig noordewind te toon, voordat jy die blye wingerdstok inspit. Land waar die grond verkrummel, is die beste: daarvoor maak die winde en die ysige ryp voorsiening, en die stewige delwer wat die grond roer en losmaak. Maar die wat niks aan hul waaksaamheid laat ontsnap nie, soek voorheen 'n plek uit, waar die jong stokke voorberei kan word vir die bome wat hul gaan ondersteun, 'n plek gelyk aan die waarheen hul binnekort gevoer en uitgeplant sal word, sodat die stok nie vervreemd word deur 'n skielike verandering van moeder nie. Ja, en hul merk op die bas die rigting van hemel, sodat hul elke stok kan oorplant net soos hy gestaan het, in die deel waarin hy die somerhitte gedra het, en waar hy sy rug na die noordpool gekeer het: (119) so belangrik is dit om van jongs af aan jou omgewing gewoon te raak.

272-314. Waar en hoe om wingerdstokke te plant.

Ondersoek eers of heuwels of gelyke grond beter is vir die plant van jou wingerd. As dit 'n vrugbare land is wat jy afmeet, plant dik: dik geplant, is die wingerdstok nie minder gereed om te dra nie; maar as jy plant op 'n helling of op heuwels, wat breed uitgestrek lê, gee die rye meer plek, maar wees net so versigtig as wanneer hul dig geplant is, om elke lyn waarin die bome geplant is, presies te laat inpas met die kruislyne; net soos dikwels in 'n magtige oorlog wanneer die lang legioen sy afdelinge ontvou, en die kolom en die reguit opgetrokke slaglienies op die oop veld staan; oral golf die hele aarde met glinsterende brons, en nog nie ontmoet hul in vreeslike geveg nie, maar die oorlogsgod dwaal huiwerend onder hul wapens. Laat al die ruimtes tussen die paadjies gelyk en egaal opgemeet word, nie alleen sodat die uitsig die ledige gees van die toeskouer kan verkwik nie, maar omdat só alleen die aarde gelyke krag aan al die stoke verskaf, só alleen die ranke in leë ruimte sal kan uitsprei.

Miskien sou jy ook vra na die diepte van die slote. Ek sou waag om die wingerdstok toe te vertrou selfs aan 'n vlakke slootjie. Maar 'n boom word dieper, ver in die aarde, geplant; veral die eik, wat, sover as sy top na die hemel opreik, sover sy wortel afstrek na Hades. Daarom, nie storm, nòg wind, nòg reën ontwortel hom nie: standvastig staan hy, en oorleef kinders se kinders; baie mensegeslagte sien hy verby hom rol; na regter- en na linkerhand strek hy sy arm wyd in sy sterkte, en rondom homself sprei hy 'n magtige skaduwee.

Laat jou wingerde ook nie kyk na die ondergaande son nie; plant g'n haselboom onder die stokke nie; moenie die boonste ranke afsny of die opperste lote afbreek (120) nie (so groot is hul liefde vir die aarde). Beskadig hul nie deur 'n stomp snoeimes te gebruik nie; en plant nie wilde olyfstamme onder hul nie. Want, dikwels laat onverskillige herders 'n vonkie val, wat hom eers stilletjies wegsteek onder die olie-agtige bas van die olyf, die hout aangryp, of in die hoë blare gly en met geweldige gekraak hemelwaarts oprys. Al verder trek hy, en speel baas onder die takke en die hoë toppe. Die hele bos rol hy in vlam, en stroom omhoog, 'n swart wolk, dik met pik-swart rook; veral wanneer 'n storm blindelings neerval op die woud, en wind die vuur saamwaai en versprei. Waar dit gebeur, het die wingerdstokke g'n krag in hul wortels oor nie, en, ofskoon afgesny, kan hul nie weer tot verhaal kom of weer groen word uit die aarde soos hul eers was nie: alleen die onvrugbare wilde olyf met sy bitter blare bly oor.

314-345. Lente en die geboortedag van die wêreld.

En laat g'n raadgewer, hoe wys ook al, jou ompraat om die aarde om te spit terwyl dit nog styf lê onder die asem van die noordewind nie. Dan is dit dat winter die land met ys toesluit, en ofskoon jy die steggie plant, laat hy hom nie toe sy gevrore wortel vas te klem in die grond nie. Die beste tyd vir wingerd plant is wanneer, by die eerste blos van die lente, die sneeu-wit voël, deur lang slange gehaat, verskyn, of anders kort na die eerste najaarsryp, wanneer die vurige son nog nie die winter met sy perde geraak het nie, en die somer reeds verbysnel. Die lente, is dit wat loof en woude seën, in die lente swel die aarde met verlange en vra die lewegéwende saad. Dan is dit dat die Hemel, die Almagtige Vader, met bevrugtende reën in die skoot van sy verheugd' gade neerdaal, en in sy mag, gemeng met haar magtige liggaam, al haar vrugte voed. Dan is dit dat afgeleë bosse weergalm met welluidende voëls en die kuddes op vasgestelde dae hul liefde hernuwe. Die gulle veld verlang om voort te bring, die lande ontbloot hul boesems terwyl die westewindjies al sidderende (121) waai: oral is daar oorvloed van sagte vog, die grassies kry moed om hul veilig toe te vertrou aan die lenteson, en die wingerdrank vrees nie meer die opkom van die suidewind of die reënvlag van die hemel gedrewe deur magtige noordewinde nie, maar stoot sy knoppies uit en ontplooi al sy blare. Ja so, na my mening, het die dae aangebreek by die eerste begin van die groeiende wêreld, en so was hul gestadige loop: lente was dit, lente, wat die vèr uitgestrekte aarde gevier het; toe het die oostewind sy winterasem gespaar, toe die eerste vee die lig ingedrink het en die aardgebore mensegeslag opgerys het uit die harde lande, en die wilde beeste losgelaat is in die woud, en die sterre in die hemel. Inderdaad, tere plantjies kon nie hul stryd op aarde deurmaak nie, het daar nie tussen die koue en die hitte so 'n rustyd gekom nie, en het daar nie 'n milde lug gewag om die aarde welkom te heet nie.

346-397. Sorg van plante; versigtigheid moet gebruik word as hul jonk is. Inkamp van wingerde, veral as beskutting teen bokke.

Vir die res, watter plantasies jy ook sal plant oor jou velde, sprinkel vet mis en verberg dit versigtig diep in die grond: grawe opsuiende sandsteen en growwe skulpe in, want deur hul sal reëns vloei en 'n dun damp sal opstyg, en die plante sal hul siel verhef. En voorheen is daar al mense gevind wat oor hulle klippe en groot, swaar panne laai, as 'n beskerming teen stromende reën, 'n afwering ook teen warmte as die hittebringende Hondster die lande klief en laat gaap van dors.

As jou plante in is, bly dit oor, om gedurig die grond om die wortels los te maak en die harde pik te hanteer, of die aarde te bewerk met ingedrukte ploegskaar, en om jou stoeiende osse selfs tussen die wingerdrye om te swaai; dan, om ligte riete saam te pas en afgeskilde latte en es-pale en sterk boomstutte, waardeur (122) hul ondersteun word en kan leer klim en die winde verag, en met verdiepinge opstyg na die olmtoppe toe.

En terwyl hul vroeë jeug met nuwe blare opgroei, moet jy hul jonkheid spaar; en terwyl die wingerdloot bly hemelwaarts opskiet en voortja deur die helder lug met teuels slap, moet jy dit nog nie met die snoeimes aanpak nie, maar die blare moet afgebreek word en uitgepluk met geboë vingers. Daarna, as hul opgegroei is en reeds met sterk stamme die olm omhels, dan moet jy hul lokke snoei, hul arms afkap (vantevore deins hul) terug vir die staal); dan, en dan eers, moet jy strenge tug beoefen, en die vloeiende takke inkort.

Heinings van biesiesgoed ook moet geweef en die hele kudde afgekamp word, veral as die blaar teer is, en nog onervare in swaarkry. Want behalwe onverdiende storme en die geweldige son, speel buffels van die bos en dartelende bokkies daarop, skape en gretige verskalwers vreet dit af. Nie so skadelik daarvoor is die koue, gevries met spierwit ryp nie, of die somer wat swaar broei oor die verdorde rotse, as die kuddes met die gif van hul harde tande en die wond wat ingebyt lê op die stam. Vir g'n ander sonde word die wilde bok aan Bacchus op alle altare opgeoffer nie, terwyl die aloue spele op die toneel verskyn, van die tyd af dat die kinders van Theseus pryse vasgestel het vir vindingrykheid onder die dorpe en kruispaaie, en vrolik by hul drinkgelag op ge-oliede wynsakke in die sagte velde gedans het.[43] So ook die setlaars van Ausonia,[44] 'n (123) ras van Troje af uitgestuur, - hul skeer die gek met ongekunstelde verse en skatergelag, en sit tragedie-maskers op van uitgeholde kurk, en met blye liedere roep hul u aan, o Bacchus, en in u eer hang hul beweeglike maskertjies[45] aan die hoë pynboom op. Daarom groei al hul wingerde met volop vrugte, en bedek welig die hol valleie en die diep woudveld, en waar ook die god sy lieflike aangesig wend. Daarom sal ons, soos betaamlik is, met die liedere van ons land, Bacchus die eer toesing wat hy verdien, en borde met heilige koek aanbring, en die offerbok, by die horing gelei, sal naas die altaar staan, en sy vet ingewande sal ons braai op 'n spit van haselhout.

397-457. Behandeling van die volwasse wingerdstok. Olywe en vrugtebome. Nut van wilde bome. Is die gawe van die wingerdstok beter as die ander, of is dit maar dikwels die oorsaak van stryd en rusie?

Dan is daar daardie ander werk van wingerd versorg, 'n werk waaraan g'n end is nie. Want elke jaar, (124) drie of viermaal, moet al die grond losgemaak word en die pik geswaai word al ewig om die kluite op te breek, en al die bome moet van hul blare verlig word. Die boer se werk kom weer, rondgedryf in 'n sirkel, en die jaar rol terug op homself langs sy eie spore. En dadelik, wanneer die wingerd sy laat blare verloor het, en die ysige noordewind die woud van sy glorie beroof het, dan dadelik al strek die ywerige boer sy sorg uit tot in die volgende jaar, en met die kromme snoeimes van Saturnus[46] val hy die wingerdstok aan, en sny af en gee hom vorm deur besnoeiing. Wees die eerste om die grond om te spit, die eerste om die takkies weg te ry en te verbrand, die eerste om die boomstutte binne te dra; wees die laaste om die wingerd af te oes. Tweemaal word die skaduwee om die wingerdstok dig, tweemaal bedek onkruid die land met digte doringbossies; albei gee swaar werk. Prys 'n groot plaas; bewerk 'n kleintjie! Dan word ook die latjies van die muisdoring in die bos gesny, en die rivierriet op die oewer, en die sorg van die wilde biesies hou jou besig. En nou is die stokke vasgebind, nou kan die snoeimes van die boord opsy gesit word, nou eindelik sing die wingerdwerker by die voltooiing van sy rye. Tog moet die grond opgebreek, en die stof opgeslaan word[47] en die Heer van die reën gevrees, as die druiwe reeds ryp is.

Olyfbome, aan die ander kant, het geen ontginning nodig nie: hul verwag nie die gekromde mes of die pik wat vassteek, as hul eenmaal wortel geskiet het en die weer leer verdra het nie. Die aarde self, geopen deur die geboë pik, verskaf sap genoeg en swaar oeste ná (125) die ploeg: só moet jy die vet olyf voed, die olyf wat Vrede lief het.[48]

Boordbome ook, so gou as hul krag in hul stamme voel en hul eie sterkte besit, skiet gou-gou op na die sterre met eie energie, sonder om ons hulp nodig te hê: nie minder nie, intussen, word die hele woud swaar met vrug, en met bloedrooi bessies bloos die boshuisies van die voëls. Die cutisos[49] word afgemaai, die hoë woud gee hout vir fakkels, die hele nag word die sterrevuur gevoed en stort sy glans na onder toe.[50] Aarsel mense dan om te saai en sorg te dra?[51] En waarom sou ek my beperk tot die groter bome? Die wilgerheinings en die laaggroeiende brem - selfs hul verskaf blare aan die vee of skaduwee aan die herder, en beskerm die gesaaides en voed die heuningby. En graag sou ek Cutoros, golwende met bukshoutbome, gadeslaan met sy pynbosse; graag die velde wat niks verskuldig is aan die pik of aan menslike sorg nie. Selfs onvrugbare woude op 'n bergpunt van Caucasus, wat driftige oostewinde gedurig breek en plunder, bring voort vrug volgens hul soort - die pynboom wat bruikbaar is vir skepe, seders en sipresse vir huise: van die een draai die boere wielspeke, van die ander maak hul soliede wiele vir waens en gekromde skeepskiele. Wilgerheinings verskaf oorvloedige bandlatjies, die olme blare, (126) maar die mirteboom gee ons sterk speerstele, asook die kornoelieboom, goed vir oorlog, terwyl die taksisboom gebuik word om Ituraeïese boë te vorm.[52] Dan ook gladde lemmetjiebome en gepolyste bukshout kry vorm onder die draai-yster, en word uitgehol met die skerp beitel. En die ligte elseboom dryf op die borrelende stroom, die Po-rivier afgestuur, en bye verberg hul swerms in 'n uitgeholde bas of die binneste van 'n vermolmde eik. Wat so merkwaardig het die gifte van Bacchus gegee? Bacchus is selfs die oorsprong van skuld: hy was dit wat die rasende Centauri met die dood getem het, Rhoetus en Pholus, en Hulaeus wat die Lapithae met die groot mengvat bedreig het.[53]

458-474. Die geluk van die landelike lewe. Eenvoud en vrede is meer as mag en weelde.

A, al te gelukkig die boere, wis hul maar net hoe gelukkig! Vir wie, ver van wapenbotsing, die aarde, hul mees regverdige meesteres, self uit die grond 'n volop leeftog uitskink. Gelukkig as die hoë stadshuis, met hoogmoedige deure, nie in die oggend 'n magtige stroom van aanhangers[54] uitbraak nie; gelukkig as hul (127) nie die gevariëerde deurposte, met pragtig skilpaddop versier, staan aangaap nie, of klere kunstig bewerk met goud of bronstukke van Ephure;[55] gelukkig as die wit wol nie geverf word met oosterse verfstof[56] of die helder olyfolie vir gebruik bederf word deur inmenging van casia nie. Nee, daar is vrede onbeangs, en 'n lewe wat nie weet hoe om te bedrieg nie, ryk met veelvuldige rykdom; daar is die rus van uitgestrekte velde, grotte en natuurlike mere en koel Tempe-valleie, die gebulk van beeste en sagte slaap onder 'n boom. Daar is woudveld en die tuisplekke van wilde diere, 'n jeug wat taai is om te werk en gewoon aan eenvoudigheid, daar ook die godsdiens en respek vir ouers. Dit was daar dat Geregtigheid, toe sy die aarde verlaat het, haar laaste stappe gedruk het.[57]

475-489. My eerste gebed aan die Muse is dat ek die geheime van die natuur mag verstaan; maar as dit nie my lot is nie, mag ek dan minstens die digter wees van velde, bosse en riviere.

Wat my aangaan, in die eerste plek, mag die Muse wat ek voor alles bemin, van die ek priester is, getref (128) deur 'n magtige liefde, my ontvang en die paaie van die hemel en die sterre wys, die verskillende verduisteringe van die son en die vermoeienisse van die maan; waarvandaan aardbéwinge kom, deur watter geweld die seegetye groot swel, en hul grendels oopbars, en dan weer in hulself terugsink; waarom die winterson so seer haas om hom in die see te doop, of watter oponthoud die langsame somernagte versper. Maar as die koue bloed om my hart[58] verhinder dat ek hierdie dele van die Natuur nader, mag dan die velde en die riviere wat in valleie vloei, my genot wees, mag ek, onbekroon met roem, die strome en die bosse bemin. O! waar die velde van Spercheios lê, en waar Lakoniese maagde op Taügetos die dans van Bacchus vier! O, dat iemand my kon plaas in die koel valleie van Haemus, en met die uitgestrekte skaduwee van takke oorsprei.[59]

490-542. Gelukkig die filosoof wat die wette van die natuur deurgrond en die vrees van die dood oorwen, mar hy is ook gelukkig wat die ou landelike gode dien. Hy het vrede van gemoed en die gestadige oorvloed van die land. Eersug en stryd en weelde kwel hom nie. Hy geniet 'n rein famielielewe, soos die Sabini vanouds; en so, langs die weg van eenvoud en reinheid, het Rome groot geword.

Gelukkig hy wat die oorsake van die heelal kon leer ken, en alle vrees en die onverbiddelike noodlot onder sy (129) voet vertrap het, en die rumoer van gulsige Acheron![60] Maar geseën is ook hy wat die landelike gode ken, Pan en Silvanus en die suster-nimfe. Hom beweeg die politieke gawe[61] van die volk, nòg die purper van konings, nòg tweespalt wat broers dryf om mekaar te verraai, nòg die Daciër wat neerstroom van die Ister,[62] sy bondgenoot, af; nee, nòg die Romeinse Ryk, nog koninkryke tot ondergang gedoem;[63] en nooit voel hy die smart wat jammer vir die armes of afguns op die rykes meebring nie. Watter vrugte die takke, watter die lande uit eie vrye wil voortbring, dié pluk hy, en (130) die ystervastheid van die wet en die rasende Forum of die argiewe[64] van die volk, dié sien hy nie. Ander karring met roeiers die blinde seë op, ander storm teen die staal los, ander baan hul weg tot in die sale van konings. Hier is een wat sy stad met ramp bedreig en haar huise met ongelukkigheid - met die doel om uit 'n juweelbeker te kan drink en te slaap op Tieriese purper. 'n Ander steek sy rykdom weg, en broei oor sy begrawe goud. Hierdie een staan verstom oor die welsprekendheid van die orator, daardie word weggevoer, terwyl hy dit bewonderend aangaap, deur die handegeklap van volk en senatore, wat oor en oor deur die teater rol. Daar is diegene wat met vreugde hul broers se bloed vergiet, en die geliefde drumpels van hul huise vir ballingskap omruil, en 'n ander vaderland onder die son gaan soek. Maar die boer klief die aarde met die gekromde ploeg: hiervandaan kom die werk van die jaar, en die onderhoud van sy vaderland en van sy klein kindskinders, en van die kuddes vee, en die stiere wat hom diens bewys het. Die stroom van oorvloed maak g'n pouse nie; want die jaar bring òf volop appels voort òf vee òf koringgarf van Ceres, en oorlaai die vore met sy oes en oorvloei die skure.

Nou het winter gekom: die olyfbessie van Sicuon word in die oliepers gepars, die varke kom huis-toe vet van akkers, die bos gee wilde aarbei. En die najaar lê voor ons sy veelvuldige vrug, en hoog-op bak die milde druiwe-oes ryp op die sonnige rots.

Intussen hang hierbare kinders aan sy lippe; sy huis bly rein en eerbaar; vol melk hang die uiers van die koei; en op die welige gras stoei en stoot die vet bokkies mekaar. Hy self vier die heilige dae, uitgestrek (131) op die gras, waar die vuur in die middel brand, en vriende die mengvat met kranse bekroon; daar roep hy u met offers aan, Heer van die Wynpers, en vir die herders van sy vee plaas hy 'n merk op die olmboom in die wedstryd van die vlieënde speer, of hul ontbloot hul ysterharde liggame in die landelike worstelstryd. Dit was die lewenswys van die Sabyne vanouds, van Remus en sy broer;[65] só het Etruria sterk gegroei, voorwaar só het Rome die skoonste ding in die wêreld geword en met haar muur die sewe heuwels omhels as een stad. Ja, voor die septer van Kretiese Juppiter,[66] en voor 'n skuldige mensdom die os vir sy feesviering geslag het,[67] het goue Saturnus só 'n lewe op die aarde gelei. En nog nie het hul die oorlogstrompet hoor blaas nie, nog nie die swaard op die harde aambeeld hoor klink nie.

Maar grensloos is die plein wat ons nou afgelê het; en reeds is dit tyd om die nekke van ons stomende perde te ontbind. (132)

Voetnotas

[edit]
  1. d.i. onder die pars van die druiwe.
  2. Soort kersieboom.
  3. Ismarus berg en stad in Thrake. Taburnus berg tussen Campania en Samnium, Middel-Italië.
  4. Paphiese mirte. Die mirte was heilig aan Venus wat veral op Paphos in die eiland Kupros aanbid is.
  5. Die populier, wat in die onderwêreld, Hades, (die hemel en hel van die Grieke en die Romeine) gegroei het, en waarvan Hercules vir hom 'n kroon gemaak het toe hy, as een van sy twaalf take, die hond Cerberus uit Hades moes bring.
  6. Sien Georg. I.8. - Die denneboom aanskou die gevare van die see omdat skepe daarvan gemaak word.
  7. Ida-gebergte N.W. Klein-Asië, 'veelfonteinig' in Homeros genoem. Vgl. Tennyson, Oenone: 'a mother Ida, many-fountained Ida.'
  8. Legendariese koning van die Phaiakoi. Vgl. Odussee VII waar 'n beroemde beskrywing van sy tuine gegee word.
  9. let. peer wat die handpalm volmaak (volaemus) - enige groot peer. Crustumerium was 'n stad N. van Rome, naby die Tiber.
  10. Methumna - stad in die eiland Lesbos in die Aigeïese see.
  11. Thasos-eiland onderkant Thrake, N.O. Griekeland.
  12. Die meer Marea (waarvan Mareotis die adjektief is) naby Alxandrië.
  13. Albei onbekend.
  14. Rhaetiese Alpe- N.O. Italië.
  15. Falerniese wyn van die ager Falernus in Campania, onderkant Rome. Baie beroemd.
  16. Tmolus in Liedië, Klein-Asië.
  17. Phanae in die eiland Chios, wat genoem word in Handelinge 20 vs. 15.
  18. Eiland, vgl. Handelinge 21 vs. 1.
  19. Die voorvoegsel bu- (let. = os) word gebruik om grootte aan te dui. Vgl. Varro se beskrywing van die os. Bumattos = met groot bors, d.i. groot korrels.
  20. Libua - N. Afrika. Let op die kuns waarmee Vergilius die boomsoorte beskrywe. As iemand 'n katalogus van plante sou neem, en probeer om poësie daarvan te maak, sou hy iets van die moeilikheid besef.
  21. Hul woon in Skuthia, S. Rusland.
  22. Deel van S. Arabië.
  23. Sy van Sjiena is reeds vroeg in Rome gebruik. Die idee was dat dit op bome groei, soos boomwol. 'n Beroemde hoofstuk (c. 40) in Gibbon se "Decline and Fall of the Roman Empire" beskrywe die gebruik van sy in Rome, en die invoer van sywurms in Griekeland deur keiser Justiniaan (6e eeu N. Kr.)
  24. so hoog is die bome.
  25. Die Meders en Perse van die O.T. Die Parters in Vergilius se tyd het hul Ryk geërf.
  26. Panchaïa - fabel-eiland, naby Arabië, vol rykdom en geluk: soos ons sou praat van El Dorado.
  27. Jason is deur die koning van Colchis (by die Swart See) die beroemde goue vlies belowe, op voorwaarde dat hy die vuurblasende stiere onder die juk bring en die tande van die draak saai. Uit hierdie tande het 'n bende gewapendes opgekom wat mekaar op een na verslaan het. Italië, sê Vergilius, het nie legendes van dié soort nie: sy het ander dinge om haar op te beroem: nie 'n oes van afbrekende soldate nie, maar velde van opbouende graan.
  28. Die bekende Massicus-wyn het in Campania, S. van Rome, gegroei.
  29. Clitumnus-rivier in N.O. Italië. Daar het hul die spierwit stiere aangeteel wat aan die triomfprosessie van 'n generaal na die Kapitool deel geneem het, om daar aan Juppiter geoffer te word.
  30. Dit is nog 'n kenmerk van baie Italiaanse stede. "Fluminaque antiquos subterlabentia muros" Ja, en riviere wat vloei daar onder die oeroue mure het 'n mag van romantiese assosiasies wat moeilik weergegee kan word.
  31. Mare inferum: die "onderste" see, is die Etruskiese; die see "bokant Italië (mare superum) is die Adriatiese.
  32. Larius - die meer Como: Benacus - die meer Garda.
  33. Op die kus van Campania, naby Napels, was twee meertjies, Avernus en Lucrinus. In 37 v. Kr. het hul die twee verbind deur 'n kanaal en 'n passasie gemaak om skepe van die see af in te laat. Dit was die Julia-Hawe. Die "grendels" is die breekwater voor die meer Lucrinus gebou.
  34. Beroemde leiers en krygsmanne uit die tyd van die Republiek: nasionale helde.
  35. Augustus, natuurlik.
  36. Nominaal is die Georgica 'n nabootsing van die gedig (Werke en Dae) van Hesiodos, wat op Ascra, in boiotia gebore is. Werklik is dit baie meer. Die heilige fonteine ontsluit d.i. put uit dieselfde bron van inspirasie as Hesiodos: heilig, omdat dit aan die Muse gewy is.
  37. Die olyf was heilig aan Pallas Athene.
  38. Die Romeine het baie van hul formele godsdiens, veral die waarsêery met ingewande van slagoffers, van die Etruskers gekry.
  39. Vergilius dink aan sy eie ondervinding.- Tarentum is in die "hakskeen" van Italië.
  40. Hul het wingerdstokke langs olme laat oprank en gedink dat hul só meer voorspoedig is.
  41. Capua, Vesuvius, Clanius, Acerrae - almal in Campania.
  42. d.i. sonder dat dit 'n toets moet deurmaak.
  43. Die kinders (afstammelinge) van Theseus is die Ateners, wat die eerste was om die dramatiese kuns tot 'n hoë peil in Europa te bevorder. Drie pryse vir die beste stelle van drie tragedies is uitgeloof. Tragedie = "bok-sang," miskien omdat die akteurs in bokvelle aangetrek was om Saturoi, woudwesens, volgelinge van die god Bacchus, voor te stel. Tragedie het waarskynlik begin met liedere ter ere van Bacchus, aan wie, by geleentheid van 'n opvoering, 'n bok altyd geoffer is. Blyspel (komoidia) vind sy oorsprong in die landelike vieringe (b.v. as die oes huis-toe gebring word) waarby skertsende toesprakies, dans en drank 'n groot rol gespeel het.
  44. Ausonii hier = Italiërs. Volgens die miete wat Vergilius in die Aeneis volg, is die Romeine afgestam van die held Aeneas, wat uit Troje gevlug het met die inneem van die stad deur die Grieke, en, na veelvuldige omswerwinge, eindelik die Romeinse nasie gestig het deur homself in die nabyheid van die Tiber te vestig.
  45. Die maskers van Bacchus, wyngod en god van vrugbaarheid, moet oral kyk, en waar hul kyk, maak hul die land vrugbaar.
  46. Saturnus, eerste legendariese koning van Italië, is ook beskou as god van die landbou. Hy word voorgestel met 'n gekromde snoeimes in sy hand.
  47. Die idee was dat die maak van 'n stofwolk (pulveratio) 'n verdediging vir die ryp druiwe was teen son en reën.
  48. Die olyftak is die simbool van vrede, die "wit vlag" waaronder vyande mekaar nader in oorlogstyd. (Aeneis VII. 154. VIII. 116). Wanneer Aeneas Sisielië vir die twede keer verlaat, kroon hy homself met 'n olyfkrans, in die hoop om 'n vredevolle ontvangs in Italië te kry.
  49. Miskien iets soos lusern.
  50. Die sterre word voorgestel as vuur wat deur die opperlug, die brandende aether, gevoed word.
  51. Die natuur gee ons 'n voorbeeld van onvermoeide werk - waarom volg ons dit nie?
  52. Ituraea, N.O. Palestina, bekend vir boogskutters.
  53. Slaan op die rusie tussen die Lapithae en die Centauri (mietiese wesens, half mens, half perd) by die bruilof van Peirithoös, koning van die Lapithae. Die onderwerp word dikwels in die Griekse kuns voorgestel. In die mengvat (crater) het hul die wyn, volgens gewoonte, met water gemeng. Om wyn puur te drink was 'n teken van barbaarsheid.
  54. Vroeg in die oggend het die ryk heer se aanhangers (clientes) wat hom in eleksies ondersteun het en algemeen gedienstig was, hom kom groet (salutare). By dié geleentheid het hul dan 'n klein presentjie (sportula) in geld of in eetware van die heer ontvang.
  55. Ephure - ou naam van Korinte, beroemd vir sy brons-kunswerke.
  56. Die beroemde verfstof van die inwoners van Tierus in Phoenicia langs die kus van Palestiena. Hul het dit van 'n see-skulpdiertjie gekry. Vgl. "Tyrian purple" en die geskiedenis van Tierus en Siedon in die Ou Testament. (vgl. Eseg. 27. Handelinge 21:3).
  57. Aan die end van die Goue Eeu het Astrea (of Iustitia), die Maagd van Geregtigheid, die agteruitgaande wêreld verlaat, en die mense het hoe langer hoe sondiger geword. Die legende weerspieël die eeuelange lug vir "die goeie ou tyd," wat ons in die lig van idealiserende verbeelding soveel beter as die teenswoordige toeskyn.
  58. Die bloed om die hart is deur die filosoof Empedokles beskou as die verstand van die mens, en dikwels staan cor (hart) gelyk met mens (verstand). As die bloed om die hart dik was, was dit 'n teken van domheid.
  59. Spercheios, rivier in Thessalië, N.O. Griekeland. Taügetos, berg in Lakonia, S. Griekeland, waar die Spartaanse maagde by nag die wilde danse van Bacchus vier.
  60. Vergilius dink hier veral aan sy groot voorganger, Lucretius, wat in sy gedig Oor die Natuur van die Heelal, probeer het om die mensdom te verlos van die vrees van die dood, en die geloof aan fabels omtrent die wêreld hiernamaals (Hades, Acheron, deur te wys op die onverbiddelike wette van die natuur en die teorie van Epicuros dat alles in die wêreld, ook die siel, stoflik is, en dus verganklik. Aan die ander kant, sê Vergilius, gelukkig is ook hy wat die vrede van die voorvaderlike godsdiens van die land geniet en dit as 'n hulp gebruik om 'n rein en edel lewe te lei. Dit is die lot van die filosoof om die waarheid na te speur; maar nie daarom sal hy diegene verag, wie se lot langs ander paaie lê nie - mits dat hul opreg is.
  61. let. Fasces, bondel roedes, simbool van hoë staatsampte soos die praetorskap en die konsulskap.
  62. Ister = R. Donou. Dacia - Roemenië. Dacia is eers 101-106 n. Kr. deur Keiser Trajanus oorwen en in 'n Romeinse provinsie gevorm. (Die moderne naam Roemenië verkondig nog die Romeinse oorheersing.)
  63. d.i. Koninkryke wat Romeinse imperialiste nog wou verower. Maar na Augustus het die Ryk, behalwe vir kort periodes, dieselfde grense behou.
  64. Die groot argiefgebou (tabularium) waar die Ryksdokumente gehuisves was, was die simbool van Rome se wêreldmag.
  65. Die Sabyne, 'n volk in middel-Italië, deur die Romeine verower, en Remus en Romulus staan as tiepes van die vroeë tyd toe die Romeinse karakter nog nie onder die invloed van mag en rykdom begin ly het nie.
  66. Die legende vertel dat Juppiter gebore is op die berg Dikte in Kreta. Hy het die opvolger van Saturnus as koning van die gode geword. "Voòr Juppiter" beteken dus "in die goue eeu" toe Saturnus nog regeer het, en toe daar nog nie soiets as oorlog was nie. Vgl. Keats. Hyperion.
  67. Die os, vriend van die mens, mog in die ou tyd nie geslag word nie. Vgl. die opmerking van Varro bo. Die skoonheid van verse 475-542 is met reg beroemd.