Die Afrikaanse gedagte/Stijn Streuvels

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Ons Letterkunde in Voëlvlug Die Afrikaanse gedagte
Stijn Streuvels
deur C. M. van den Heever
Lewensstyl


Stijn Streuvels.

Het die Afrikaner 'n ontwikkelde liefde vir die „aarde”? As 'n mens hierdie vraag stel, dan volg die antwoord onmiddellik: „Natuurlik! Die grootste deel van ons volk is boere, mense wat dag vir dag in kontak lewe met die wispelturigheid van die grond. Die grond het hulle lief - die grond wat hulle van die voorgeslagte geërwe het.”

Ek vrees egter dat dit nie heeltemal juis is nie. Mense wat met die aarde vergroeid is, skei met die grootste moeite daarvan; dit is deel van hulself, dit is soos die skaduwee wat hulle begelei. En skei die Afrikaner van vandag nie maklik van sy grond nie? Die man wat so 'n liefde vir sy plaas het soos oom Jakob in Bosrand van Malherbe, word al minder. 'n Geslag wat grond geken en liefgehad het, verdwyn. Die Westerse beskawing, wat die kontak mens-aarde almeer vernietig, het ou, vaste waardes by ons ondermyn. Die grond wat vir de werklike boer so waardevol as sy eie bloed behoort te wees, word deur baie, sonder dat hy ernstig daaroor dink, onder 'n verband geplaas sodat 'n groot motor langs die huis kan glinster. Die vreugde om die aarde te bewerk, verminder, 'n opgejaagde sensasielus het die tere begeerte ondermyn om die saad wat met eie hand gesaai is, te sien verrys op die lande en die lewe-saam-met-die-natuur in die bloed te ondergaan as 'n onbewuste weelde. Sonder daardie onbewuste liefde vir die grond - wat eers duidelik voelbaar is as van die plaas geskei moet word - kan geen sterk boerebevolking opgebou word nie, en sonder 'n sterk, gesonde plattelandse lewe verword enige kultuur baie maklik tot kunsmatige beskawing. Bekyk Sondae die verhongerde stadsmenigte wat met hul (52) motors die ruimte buite die stad soek om verdwaald onder 'n boompie by 'n piekniekmandjie te mymer - bekyk dit en u verstaan dat die liefde vir die ruimte, die natuur nooit kan sterf by die mens nie, al moet hy ook popspeel met die lewe in sy stereotiepe „flat!” As ons sien hoe die Afrikaner vlug na die stede, vlug van die grond af, omdat hulle daar nie meer kan bestaan nie, dan vervul dit ons met angs, want daarmee word 'n deel van ons volkskultuur ondermyn. En as ons in boereromans van ander lande lees hoe geworstel word om die grond te behou, hoe diep die liefde van geslag na geslag vir die plaas bly, dan voel ons spyt dat by 'n deel van ons volk die gemeenskap met die grond verlore gaan en dat hulle daardeur losraak van hulle ware self. Ons, wat nog genoeg natuurvryheid het, kan miskien nog nie die aarde so waardeer as die bewoner van Europa nie, wat elke duim vrye grond bedreig sien deur die steeds uitbreidende dorpe en stede. Het ons skrywers, wat hulle besighou met die uitbeelding van die stadslewe, die grond so lief as by voorbeeld die Vlaamse skrywers? Daar is mense wat beweer dat ons Calvinistiese geloof daardie liefde ondermyn het, dat 'n geloof wat so weinig nadruk lê op die skone, die vrugbare, die sappige van die aarde, alleen houterige didaktiek en bloedlose godsdienstige liriek en romans kan voortbring. Hulle beweer dat die Rooms-Katolieke geloof die mense se oë en sinne baie meer oop hou vir die sagte weelde van die aarde, en dat Vlaandere daarom skrywers kon voortbring in wie se werk die donker roepstem van die aarde verneem word soos dit by geen enkele Nederlandse of Afrikaanse skrywer die geval is nie.

Of so 'n beskouing korrek is, weet ek nie, maar seker is dit dat skrywers soos Stijn Streuvels, Felix Timmermans, Herman Teirlinck 'n enige plek beklee in die Dietse letterkunde. Kan daar ooit in Suid-Afrika 'n Pallieter geskrywe word? Ek glo dit seker. Daar is baie Pallieteragtige mense op die platteland te vind, met dieselfde stralende gesondheid en lewenskrag. Maar wee die skrywer wat op menslik-ope wyse so 'n persoonlikheid sou behandel. Die voorskrywende liggame, daardie „gewete” van ons „bloeiende letterkunde,” sal hom maklik doodfrons! Ons is by uitnemendheid probleem-ontwykers; ons is by uitnemendheid mense wat die kern van 'n saak verby loop of met 'n groot, versigtige omweg benader. Ons is nie alleen bang vir die lewe nie, maar bang vir onsself. Om ons hang so 'n dik wolk stof dat ons nouliks ons omgewing kan sien. Luister na die woorderyke sprekers oor ons volksverlede, ons kultuur, en ons vind gou uit wat gemeenplasigheid, wolkigheid, probleemontvlugting beteken! En wee hom wat 'n (53) eerlik gevonde waarheid nie wikkel in 'n dogmaties-erkende vorm nie! Wee hom wat dit waag om te hard die waarheid te sê.

Ek noem hierdie puntjies as enkele gedagtes wat by my opgekom het terwyl ek die werk van die gevierde Vlaamse skrywer Stjin Streuvels gelees het. Hierin het ons 'n sterk en eerlike uitbeelding van die lewe van die Vlaamse boer; hier het ons'n siening van die lewe, so ope en onbevange, dat ons wel mag vra wanneer die Afrikaanse plaaslewe ook só geteken sal word, nie alleen in fyn trekke nie, maar in al die grootsheid van natuurperspektief. En wanneer dit gedaan word, dan mag ons wel die baie veroordelaars van die „swartgallige Afrikaanse letterkunde,” van die boeke oor armblankes en plaasmense oorlaat aan hul ingevoerde rolprentsterre en aan hul dekadente waarheidsvrees! Stijn Streuvels het nie sy volk gekleineer toe hy van die boere as stompsinnig en onbeskaafd uitgebeeld het nie. Hy het inteendeel sy volk groot gemaak deur sy kunstenaarsiening. Want waarheid en skoonheid is altyd groot en verruimend. Alleen die leuen, die bevooroordeeldheid is klein. Kleinlik is dit wanneer mense met eina-oorgevoeligheid beweer dat, as Ampie op skool gebruik word, Engelssprekendes dalk kan dink dat Ampie 'n verteenwoordigende tipe van die Afrikaner is! Indien daar Engelssprekendes is wat so sou dink, dan sou hulle net so belaglik wees as 'n Afrikaner wat in die Cockney-tipe die hele Britse volk wil sien. Groot kuns lê in die waarheid van betragting, in die liefdevolle deurskouing van welke werklikheid ook. En gesond is die volk wat kunstenaars soos Streuvels en Van Bruggen kan voortbring, kunstenaars wie se gevoelshouding teenoor hul karakters nie 'n styl laat ontstaan wat sarkasties of kwetsend is nie, maar wat gedra word deur 'n sagte humor en begrypende menslikheid, veral waar dit die klein dinge in die lewe geld.

Streuvels is 'n susterskind van Gezelle en met sy gevierde oom het hy gemeen 'n liefde vir die kleur en vorm van die dinge, vir die wonder van die groeiende natuurlewe, maar waar Gezelle se lewensliefde tot uiting kom in vloeiend-melodieuse verse, daar soek Streuvels na die weids-ontplooiende prosa-sin, na die gebaar wat vergesigte van heuwel en saailand openbaar.

Streuvels (wie se regte naam Frank Lateur is) is gebore op Heule (by Kortrijk) in 1871. Hy is dus al oor die sestig, en onlangs het aan hom weer die eer te beurt geval om die Vyfjaarlikse Belgiese Staatsprys te verower. Tot vandag toe (54) word hy erken as die grootste Vlaamse prosaskrywer, en het hy baie navolgers gehad, al is daar meesterlike dinge oor die Vlaamse landelike lewe geskryf, staan Streuvels hoog tussen almal uit met sy groot visie en onvergelyklike prosa-plastiek.

Die grootmeester van die Vlaamse prosa het nie veel skoolopvoeding gehad nie. Hy moes bakker word. Maar in sy hart was 'n groot leesdrif. So het hy in sy eensame kamertjie op Avelghem, as sy vriende kaart speel en bier drink en ander al slaap, Dostojefski, Gorki en die Franse naturaliste leer ken. Sy eerste werk is dan ook in 'n somber toon geskryf. 'n Fantastiese atmosfeer hang daaroor - ongelukke word beskryf, heksagtige vrouens, die somberte van die lewe en lot. Die groot Russiese skrywers se invloed en die neerdrukkende atmosfeer van die triestige banale dorp Avelghem hang daaroor.

Sy eerste boek, wat bestaan het uit gebundelde kortverhale en sketse en wat hy Lenteleven genoem het, het egter groot bewondering afgedwing. Die jong kunstenaar is erken as een van die sterkste prosaskrywers in Suid- en Noord-Nederland. Reeds tevore het die kring van Van Nu en Straks hom ontdek. Ek wil hier net wys op Streuvels se indringing in die natuurkrag wat aangevoel word as 'n donker noodlot en hoe hy nog onseker sy prosa-sinne bou. Die latere eenheid tussen ervaring en ritme-openbaring deur die woord, die organie voldraenheid van die styl is nog nie volledig op te merk nie. Maar hoe fyn reeds die sintuiglike gevoeligheid! „Eerst waren de blaren bleek geworden, doodsch bleek; later wierden ze geluwbruin, en dan gingen ze aan 't zwemelen, en aan 't wikkelen, zoo moe, zoo slak, gelijk vlerken van stervende vogels; en rekewijs wierden zij, stillekes neêrewaards dansende te vallen, bij heele zwermen. Ze wervelden rond in de lucht, wierden meêgedreven met die wind, en eindelinge vielen ze dood en vaste ievers in 't slijk... Geen mensch was er te zien, en de huizekes die dichte bij de eerde gehurkt zaten, bleven toe en gesloten; de rook uit de kaven gaf alleene nog teeken van leven.” (Uit In den Voorwinter.) Stukke soos Lente, Wit Leven en Het Einde is reeds fyn deurvoelde werk en daarin sien ons reeds die besondere krag van die prosa.

'n Jaar ná Lenteleven verskyn agtereenvolgens Zomerland en Zonnetij. In Zomerland het die skrywer gestreef na 'n ruimer komposisie as in sy vorige werk, maar hy het nie daarin geslaag om 'n eenheid te skep nie. Sonderling kom in hierdie verhaal, wat so mooi begin met die tekening van die arbeidende (55) boer wat verlang na meer land, maar die tirannie oor hom voel donker van die baas Knudde, 'n snaakse oorgang voor, want nadat die boer as moordenaar gevange geneem is, vervaag die verhaal tot 'n onreële, fantastiese voorstelling van die strydende families. Dit is duidelik dat Streuvels nog maar gedeeltelik intuïtief kan aanvoel watter stof by sy ideë-wêreld pas, en daarom nog die onsuiwerhede wat nie in die sentrale siening ingegroei is nie. Dat hy hom nog tot stof getrokke voel wat hy nie tot'n suiwer geheel kan omvorm nie, blyk uit Meimorgen. Maar in Zonnetij kom Streuvels se fyne krag tot verrassende ontwikkeling, want een van die vier verhale wat hier bymekaar gebundel is, is die sublieme Oogst, seker een van die grootste novelles wat ooit oor die landelike lewe geskryf is. Hierin sien ons Streuvels in die krag van sy uitbeelding. Die natuur is die geweldige, die genadelose heerser. Soos 'n tiran dreig dit oor die klein, arbeidende mens, wat weerloos is soos 'n kind teenoor 'n wrede moeder, wat hom tog ook weer liefdevol kan beskerm en seën. Die hele gees van die landskap, van die versengende somerson, van die rypende koring en swoegende snyers lewe in die styl terug. Daarom is die boek so sterk. Dit is 'n stuk oerkrag self. „En de zon stak geweldig, maar de pikkers en vielen niet slap. Zij voelden het nijpen door hun lichte, losse kleeren en bijten op hun hoofd, en toch hielden zij stand : ze bogen den kop en de pikke bliksemglimde bij 't op- en neergaan, slag op slag. Met 't groeien van de hitte ging er een razernij door hun armen en ze hielden sterk de leden. Nog dieper bogen zij naar de eerde, sloten de tanden en lieten het zweet vrij van zich afleken. Een enkelen keer waagde Rik het hoofd te heffen maar hij schrikte voor 't geen zijn oogen zagen. De zon was de bijtende ronde gloeibol niet meer in een zeker punt van de hemel, maar heel de groote luchtkoepel stond in laaie vlam, al hemel en vuur! 't regende geen hitte, 't waren net getekende lekvlammen die woelden hooge en kwamen spelen tussen 't koorn, om en nevens en over heel het afgeschoren land.”

Wat so geweldig aandoen in die werk, is die tirannie van die natuur wat heers oor die arbeiders. Geduldig onderwerp hulle hul daaraan, en as die vlammende son vir Rik neervel, kan daar nie gewag word nie. Hulle moet voortgaan met hul werk; hulle is die slawe van die aarde. Die mens verdwyn, maar die lewe gaan voort, die lewe waarin die natuurkrag hom verwerklik. Al die verhale in Zonnetij eindig met die dood, wat wel duidelik bewys hoe seer die Avelghemse atmosfeer nog in die werk van Streuvels te merk is. Opmerklik is wel (56) Rik se tere, nooit uitgesproke liefde vir Lida - een van die fynste romantiese gedeeltes in Streuvels se werk - en daarnaas die troostelose verhaal van Zeen in Einde, wat by sy werk neerval terwyl sy vrou moet voortgaan om aan die aarde te gehoorsaam. Ook is In 't Water 'n triestige verhaal van 'n bruidegom wat opsetlik saam met sy bruid in die Schelde verdrink, omdat hy met haar moet trou, maar haar nie lief het nie. Ongeluk, moord, grillige fantasie kom nog in Streuvels se werk voor. Ook nog Doodendans is in dieselfde geestesatmosfeer geskryf. So is dit inderdaad interessant om te sien hoe in Doodendans die byna morbide fantasie deureenspeel met die gevoelige weergawe van die kinderlewe. Ook Timmermans sou groei van Schemeringen van de Dood tot Pallieter! Die reeds beroemde skrywer worstel nog steeds om binne 'n breë bouplan 'n eenheid van siening, 'n gekonsentreerde weergawe van die tragiek wat verbonde is aan die landelike lewe, te gee, en in Langs de Wegen (1902), wat verwantskap toon met Knut Hamsun se Hoe het Groeide, bereik hy 'n geslotenheid van konsepsie wat wys op die meesterlike Vlaschaard van later. Want die eenvoudige perdekneg Jan, met al sy verdriet en ellende - die dood van sy vrou, die vertrek van sy kinders, hul terugkoms om vir die vereensaamde, doodgesukkelde vader te lag - dit alles is die tragiek van die land waar die natuur skep en weer vernietig, waar skoonheid en belofte voor die oë rys om reddeloos te vergaan in die ewige, onverbiddelike wenteling van die tye. Die mens word oud en maak plek vir sy kinders; die lewensspel begin weer van voor af aan. In Minnehandel (1904) is daar vooruitgang in die verdieping van die siel van die karakters, maar by Streuvels geen fyn-gespanne sielkundige ontrafeling nie. Oor sy mense en werk hang die atmosfeer van die natuurlewe. Tussen die mens en die aarde is daar 'n geheimsinnige kosmiese verband, en wie die mens uit daardie eenheid losmaak, gee hom oor aan senuwee-magte wat sy innerlike verteer. Wel is die natuur 'n genadelose heerser, maar ook weer 'n seënende moeder; maar wie die moeder verlaat en minag, word 'n lewe sonder agtergrond. Daarom is die boere nie pessimiste nie. Laat die hael die koring verwoes, die droogte kom en dit lyk asof die bewoners van die land moet sterf voor die onbegryplike genadeloosheid... oor 'n tydjie styg die vrugbaarheid uit die aarde, die lewensdrif werk soos wyn deur die liggame van plant, mens en dier. Die groot liefde en gemeenskap is herstel! Streuvels het self beweer dat: „Pessimisme word geboren uit nadenken, uit (57) ontleden, is een ontaarding bij de mensch en woekert ook het weligst ver van alle natuurlikheid, ver van de bron van het leven (de natuur) ...” Die natuur sien hy as wrede, maar, lewestuwende mag en bron van vreugde, maar ook as blinde, hopelose, duisendkoppige vernieler wat krag en lewe opslurp om iets voort te bring waaraan die werker nòg nut nòg vreugde beleef. Baie belangwekkend is dit om te sien hoe Streuvels probeer om, in Minnehandel by voorbeeld, uit te styg bo die fragmentariese, om die hele ingewikkelde samehang tussen mens en aarde, die jeugdige liefde en die dreiging van die lewe se wispelturigheid uit te teken met 'n rustige, epiese lyn.

Maar hoe goed onderdele van hierdie werke ook al is, net soos die geval is in Dorpsgeheimen (1904) en Uitzicht der Dingen (1906), tot 'n vaste geheel sou Streuvels se styl, sy houding teenoor sy karakters, met hul oneindige agtergrond van hemel en aarde, groei in een van die grootste werke van alle tye, nl. De Vlaschaard (1907). Om die hoogheid van natuurkonsepsie, die ligtende suiwerheid van hierdie werk te verstaan, is dit nodig om te wys watter verandering daar in Streuvels se lewensatmosfeer gekom het. In 1903 het hy vir hom grond gekoop op Ingoyghem en daar sy woning De Lijsternest gebou. Die nare, triestige lewe op Avelghem raak al meer op die agtergrond. Die digter se kyk op mens en natuur word deursigtiger en sonniger. In sy „peinzelijke eenzaamheid” beskou hy deur die groot raam van sy werkkamer die blou vergesigte van die land, die heuweling van die aarde en die arbeidende boere afgeteken soos nietige stippeltjies op die oneindigheid van die velde. Sy konsepsie het vaster gegroei aan die nietigste onderdeel, soos 'n boom wat sy wortels uitslaan. Die natuur en die mens rys in helderder en dieper lyne op in sy besonke gees. Die stryd tussen mens en natuur, in sy vorige werk nie altyd tot die genadelose einde gevoer nie, kan nou end-uit gestry word. Die kunstenaar besit nou die onbewuste, deurgrondende aanvoeling van die oerkrag van die natuur, maar ook die verhoogde bewussyn van die kultuurmens en die gesuiwerde, verfynde sintuiglike gevoeligheid van die ontwikkelde kunstenaar. Daarom kan hy nou sy grootste skepping gee: De Vlaschaard. Ons merk al dadelik aan die prosa hoe die ruimte en verte van die nuwe omgewing op die draagwydte daarvan ingewerk het. Hy beskryf die plase: „Ze staan verzaaid over heel de streek, verre van elkaar en op hun eigen afgezonderd door veel opene lucht en vlakke velden. Naamloze, onbekende dingen zijn het, stomp van vorm, langs heel den overkant der Schelde tot op 't hooge van den heuvelrand waar de wereld eindigt.” (58)

In hierdie werk tree die koppige, hoogmoedige boer Vermeulen op. As hy sien dat sy seun Louis 'n man geword het wat die vader se plek sal moet inneem, dan word hy verteer deur jaloesie, wat uiterlik openbaar word as koppigheid, 'n dwarstrekkerige houding om presies die teenoorgestelde te doen wat die seun aanbeveel. En so verander die vader, wat eers vir die kind 'n wonder van 'n boer was, tot 'n verspotte, dom ou man wat om sy stompsinnige aanmatiging net vir hom haatlik maak. As Louis sê dat die vlas op die onderste land (die laagkouter), wat beskerm lê teen die hael, gesaai moet word, dan moet dit natuurlik op die boonste een (die hoogkouter)! En om sy koppigheid nog te versterk moet Vermeulen ontdek dat sy seun gelyk gehad het. Hy moet self sien watter verwoesting deur die storm aangerig is op die land: „Hij zuchtte niet en maakte geen misbaar alhoewel hij met zichzelf alleene stond - zijn wezen veranderde geen spier; maar de spijt en de gramschap grolden in hem, het gevoel van onmacht tegenover de ramp vernederde zijn gemoed en hij wilde zijne onmacht bij zichzelf bekennen. Al evenwel was hij diep geschokt - al waar hik keek was 't hetzelfde, 't scheen hem een straffe; alsof door die rommeling, de lange reeks schoone dagen - heel het schoone zomergebouw ineen was gestort, in één slag was alles verpletterd, 't geen zoo 'n lange tijd van doen had op te groeien.”

Dieselfde boer wat magteloos swyg voor die natuur se heerskappy, bars los as hy sien hoe mooi die hawer op die land staan wat Louis vir die vlas aanbeveel het: „En de boer die bij 't overzien van heel zijn ongeluk geen grol had uitgestoten, loste nu een vloek omdat de ongeschondenheid van die haver hem zijn ongelijk deed inzien en zijn onverstandig beleg.”

Vermeulen is die sterk boer wat buig voor die mag van die natuur, „de groote Baas,” maar kleingeestig en jaloers is hy teenoor sy medemens, ander boere, sy eie kind. Hy is die ongeneeslike beterweter, met sy gevoelens wat magteloos opgesluit lê agter die ruwe skors van sy weerbaarheid na buite. Soos 'n boom is hy wat in die aarde ingryp en selfsugtig neem wat hy kan om groter en groter te groei. Maar magteloos staan hy teenoor eie drifte, vooroordele, onuitgesproke gevoelens. Selfs teenoor sy vrou Barbele is hy bars, al bedoel hy dit nie so erg nie. „Mij hebt ge nooit een schoon woord gegeven - hebt altijd de beste gespeeld met mij, alsof ik u maarte (diensmeid) ware; vanaf dat we getrouwd zijn, heb ik nooit mijn naam horen noemen.” Sy dogters wat na die kosskool gegaan het, is vervreemd van hom. „Dat zijn mijn (59) dochters niet,” brom hy, omdat hy onhandig, boers in hul teenwoordigheid voel.

Die verhaal bereik sy hoogtepunt waar die vader besluit om die seun, in wie hy 'n mededinger sien, uit sy pad te kry deur vir hom 'n ander plaas te koop, want in die seun sien hy niemand anders dan „zijn eigen zelf... dat de zoon niets anders is dan 't voortzetsel en 't hernemen van 't vergane leven van den vader... de spruite van den ouden boom.” Hy voel die onversetlike gang van die ewige natuurwet, kom daarteen in opstand, jaloers in opstand teen sy eie seun... teen homself! Maar as hy Legijn se plaas vir sy seun gekoop het en meen dat die saak opgelos is, dat hy weer die kragtige boer van vroeër is, stuit hy op Louis se spottende ongehoorsaamheid op die land. En in sy toorn slaan hy sy seun in die nek met sy kierie neer. Hy het dus oorwin. Nee, met daardie slag het hy homself neergevel. Langsaam tuimel sy koppigheid en hoogmoed in, en „de oude, pezige kamper,” wat so doodsekuur bevele kon uitdeel, staan verdwaasd voor die ou dienskneg Poortere en hulpeloos-verteder teenoor sy vrou by die doodsbed van sy eie seun - die seun in wie hy, die kragtige, weer sou herleef het. Hy is self neergevel, omdat hy hom versit het teen die onverroerbare gang van die dinge, omdat hy deur sy koppigheid nie kon insien nie „dat hij maar een nieteling was in 't wentelen der groote gebeurtenissen.”

Seker een van die magtigste werke in die wêreldletterkunde, en selfs Knut Hamsun se beroemde Hoe Het Groeide kan volgens my mening nie gestel word langs hierdie stuk natuurlewe wat tot breed-deinende prosa gegroei het nie. Streuvels is die skrywer wat die aarde lief het en met 'n tere stem spreek hy oor die „groeite” en die „saaihede” van die land. Hawer kan 'n mens op arglose wyse saai, maar met vlas, die fyne en tere, is dit anders: „Dan deed Louis als een priester die de misse gaat lezen: hij stropte het lange witlinnen zaaikleed aan en sloeg een kruis over zijn borst”.... De boevers en de oude boer stonden stil om de eerste stap te zien van 't inzetten... Niet met volle grepen lijk rogge, tarwe of haver - die grove ware is en minder oplettendheid vergt - maar lichtjes, teder, met de toppen van de vingers: een grepe als een snuifje amper, vloog het poerfijne lijnzaad in de aâmlooze lucht. Als bij den aanzet van een verre reize, stapte de zaaier met heftige passen, den hals rechtop en de ferme beweging van den arm die, bij elken stap en na elken zwaai, toehaalde om in de schoot te scheppen en weer open zwaaide naar buiten.” (60)

So het die hele buitelewe gestalte gekry in hierdie werk. Streuvels het die fynste gebaar in die natuurlewe nagespeur en in sy prosa die ritme laat dein van die vreemde, onbewuste bestaan wat onwetend arbei sonder inspanning, aan die organiese lewe wat ewig groei en verkwyn. Die mense leef instinktief in hierdie atmosfeer; meestal lyk hulle soos 'n deel van die omringende lewe self, bruin gebrand en inderdaad uit die aarde gemaak. Wat veral aan Streuvels se werk so 'n fyn stemmingsatmosfeer gee, is die innerlike oorgawe waarmee hy skryf, want ons voel liggaamlik die opkomende donderweer aan; ons sinne is verheug as hy die weelde van die lente beskryf; ons word weer almal kinders van die land onder die wye straling van die koninklike son, die ewige herskepper van al die kragte in die aarde. Daarom kon Verwey sê, as die son kon skryf, sou hy soos Streuvels geskryf het! Vermeylen het die suiwerheid van Streuvels se kuns baie juis gekarakteriseer deur te sê dat hy weet hoe om die klank en die beweging en die onbepaalbare geestelike waarde van woord en woordopvolging so te gebruik dat die dinge self voor ons opgeroep word, duidelik asof hulle voor ons staan, duideliker soms, want ons sien hulle skerper en in ruimer opgetoënheid as gewoonlik, met hul eienaardige wese, hul siel, die lug wat die uitademing daarvan is.

Die waarheid van Streuvels se werk lê in die juistheid, die suiwerheid van die atmosfeer. Met Gezelle het hy dit gemeen in sy kuns dat die kleine gedurig gesien word in verband met die grote, dat die eenheid van natuurlewe altyd tot 'n geslote vastheid word in sy kuns. Sy werk is realisties in dié sin dat hy net dié werklikheid gebruik wat geestesbesit geword het deur sy liefde en daardeur in die sagte straling kom van sy stemmingslewe. Want sy kuns, hoe getrou ook na die waarhede geteken, is altyd opgebou uit stemmingsbeelde - soms fyn-liries getint - en die eenheid van sy werk berus dus nie op 'n argitektoniese bouplan nie, maar op 'n eenheid van grondgevoel, 'n deurlopende toon, 'n omsluitende atmosfeer. Sy beskrywing is een en al suggestie en werk op ons diepste instinktiewe gevoel in. 'n Kunstenaar wat so uit die innerlike van sy aanskouing skryf, is nie die dekadente artiest wat elke môre voor sy skryftafel gaan sit en probeer om op wanhopige wyse stemminge te kweek nie. Hy skryf met die volle oorgawe van liggaam en gees. Hy word die instrument waarmee die wonder wat agter die groeiende natuurverskynsels sit, sy eie, geheimsinnige lewe uitskryf.

Die samevattende grootheid van De Vlaschaard het Streuvels nie weer in 'n ander werk bereik nie. Daar is miskien (61) waarheid in die bewering dat baie van Streuvels se werk novelle-agtig is, dat die mooi onderdele daarvan in sy groter konsepsies nie altyd saamgegroei is tot 'n sintetiese geheel nie. Maar ons moet ook baie versigtig wees met die „eenheid” in 'n roman. Daar is kritici wat maklik 'n werk misluk sal noem omdat die skrywer nie elke gebaartjie van die „hoofkarakter” verbind aan ander karakters se dade nie. In 'n roman is en bly die atmosfeer hoofsaak, want waar atmosfeer is, daar was ontroering by die skepping, daar was meelewing en oorgawe. En die eenheid wat die atmosfeer gee, is altyd hoër as dié wat bereik word deur 'n verstandelike samevatting.

Ek wil hier nie verwys na al Streuvels se werk nie, maar net na dié wat hoofsaaklik met die landelike lewe te doen het. Dit is maar net 'n deel van Streuvels se wese, maar ongetwyfeld die sterkste deel. Daar is Streuvels van die oorlogsdagboek, waardeur hy, as gevolg van eerlike meedeling van sy ervaring, baie bitter dinge moes hoor. Daar is Streuvels van Dorpslucht (1914 en 1915, twee dele); van die merkwaardige fyn ontleding van die kindersiel Prutske (1922); van die historiese roman Genoveva van Brabant; van die suiwer Kersverhale, wat die Vlaminge so mooi kan vertel; van rustige mymeringe soos in Stille Avonden (1905); van vertalinge en van 'n godsdienstig-suiwer ontleding soos Alma met de Vlassen Haren (1931). Dit is waar, soos Pillecijn in sy werk oor Streuvels sê, dat hierdie veelsydige kunstenaar baie gely het onder die oppervlakkigheid van kritici wat net sy eerste werk gelees het en sonder om sy latere boeke behoorlik deur te gaan, Streuvels maar bly sien het soos in sy eerste werk. Ná De Vlaschaard het Streuvels nog heelwat sterk dinge oor die land geskryf, soos Werkmenschen (1926), waarin die meesterlike Leven en Dood op den Ast voorkom, en De Teleurgang van den Waterhoek (1927), waarin ou motiewe, wat herinner aan sy eerste werk, nou opgeneem word in 'n groter siening. In hierdie werk gee hy 'n indringende ontleding van die siel van Mira, wat wonderlik verwikkeld is, en daarmee het Streuvels bewys dat hy nie net die kunstenaar van die natuur is nie, maar kan deurdring in die geheimenisse van die siel.

Want is die oppervlakkige bewering waar dat dit veel makliker is om die siel van 'n boer soos Vermeulen of 'n armblanke soos Ampie weer te gee, as die geval b.v. is met 'n verstedelikte klerk of 'n vrou wat 'n senuweebol geword het as gevolg van cocktail-partye en sosiale eersug? Wie dit beweer, weet heel weinig van die sielkunde, en veral van die (62) mens se siel, wat op suggestief-plastiese wyse openbaar moet word in die romanvorm. Eienaardig is dit seker dat, waar Streuvels in die later jare hom al meer toelê op die uitbeelding van die siel in plaas van 'n beeld te gee van die natuurmens, met aarde en lug as agtergrond, daar verloor sy prosa al meer die tipies Wes-Vlaamse kleur, die volksaardige uitdrukking, die verrassende wending en kom dit nader aan die stereotipe algemeen-beskaafde taal. Sommige het beweer dat sy taal, veral in die romans waar boere optree, nie Wes-Vlaams is nie. Cyriel Buysse het selfs gekonstateer: „Het is een gemengd samenraapsel van officieel woordenboek-Vlaamsch, van gewoon goed Nederlandsch en van gewestspraak. Eenheid, echtheid bezit ze niet... De taal van Streuvels is geen homogene taal en door geen mensch wordt ze in Vlaanderen gesproken.” Gezelle het immers nie die alledaagse spreektaal van Wes-Vlaandere gaan skryf nie. Hy het die „gewoon goed Nederlandsch” ondergedompel in die fris bronne van die volkstaal om daaraan meer lewenskrag, karakteristieke gebaar en verrassende wendinge en woorde te gee, wat die skoonheid van sy eie streek suiwer moes oproep. Streuvels doen dieselfde. Elke ware kunstenaar doen dit. Daarom sal goeie dialoog nooit 'n fonografiese opname word van die alledaagse spreektaal nie, maar sal dit 'n sintetiese geheel wees wat binne die skrywer se konsepsie pas: taal wat deur die organiese wese van die kunstenaar opgeneem is, die kleur dra van sy emosionele ervaring en tot 'n eenheid gerangskik is wat openbaring is van die ritme van sy gees. Hoe seer Streuvels gearbei het om sy karakters se dialoog, die draagwydte van die sinne, die stuwing van die hele konsepsie in een ritmiese verloop op te neem, word duidelik bewys as ons die groei van sy prosa-sin bestudeer. In Lenteleven, soos ons gesien het, kom daar nog heelwat fragmentariese voorsteliings voor, nog nie heeltemal organiese deel van die geheel nie, b.v.: „Een bende lagen elk op zijnen buik in de schaduwe te slapen. Er reed een traag gerid voorbij, dat verdween achter den hoek. Een hond kwam lamlendig aangestapt en ging, bij 't baanhuis, onder de zonnebloemen liggen pinkoogen.” Styl is die lewe, die siel, die beweging van die dinge self, soos hulle opgeroep word in die ritmiese rangskikking van die taal. Luister na die volheid van die prosa-sin wat Streuvels sou bereik toe sy gees geleer het om die werklikheid in die dieper lig van gekonsentreerde geritmeerde ervaring te bring: „Als ze in hun geheugen nagaan en 't geen er al verbeeld staat in de ondervinding van het leven hier, in den ernst van hun kalme hoofd - zijn het (63) enige simpele feitjes: een enkele, gewone daad van hun gebuur of een luttele beweging van hen zelf - dingen licht en verklaarbaar als de damp uit een pijpe, waar de nietigheid van al hun doen staat in eene omgeving voor een agtergrond van oneindigheid en zoo blijft de herinnering van hun gewoon bedrijf verbonden aan een gelijk welken heerlijken dageraad, aan de kalmte van een effenen zomerdag in stilte, of in de stemming van een heiligen avond den gouden uitgang van een grootschen dag, in 't opene van het groote wereldvlak.” (Stille Avonden). Hierin voel ons duidelik die wye, diep vloeing van Streuvels se styl, 'n styl wat sy lig en ruimte, sy ritmiese gedraenheid ontleen aan 'n besef van die lewe se eindigheid binne die groter oneindigheid, van die nietige boerelewe in die ewige gang van jare en seisoene, van die nietige menselewe teen die spel van hemel en wolke, van die donker buie van die aarde wat onwetend arbei. Daarom sê Pillecijn tereg: „Het in zich opgenomene, in zich herschapene uitzicht en leven van natuur en mensch wordt weergegeven in een beeld waarvan het synthetische zich onweerstaanbaar opdringt door de gang van den zin, het rhythme van het proza, de stijl.”

Wie so die natuurervaring kan boetseer tot prosa wat in die leser die wye vergesigte van sy verbeelding open, hom soos Streuvels laat kyk oor die daling en styging van die land, na die verste kimme waar die hemelblou in sy oneindigheid welf, is 'n groot kunstenaar. En gelukkig is die volk wat 'n kunstenaar soos Streuvels besit, want in sy werk lê die lewe van die Vlaamse aarde uitgebeeld met 'n krag wat aan die natuurgrootheid self laat dink, met 'n suiwerheid van gevoel ervaar en 'n vastheid van visie gesien wat ons laat dink aan ontsaglik uitgestrekte lande, met trekkende wolkeskaduwees daaroor, aan donderbuie en sterdeurligte somernagte, aan groot skeppingsdade en aan die geweld van die dood. (64)