Jump to content

Die Afrikaanse gedagte/Lewensstyl

From Wikisource
Stijn Streuvels Die Afrikaanse gedagte
Lewensstyl
deur C. M. van den Heever
Die Ontwikkeling van ons poësie sedert Unie


Lewensstyl.

Die volk wat geen visie, geen verstand het nie - so leer die Bybelwoord ons - sal ondergaan. Die volk wat wel oë besit, maar niks sien nie, is innerllk dood - so ook die mens wat horende doof en siende blind is. U sal sê dat dit onmoontlik is. 'n Mens besit immers 'n paar oë, deeglike besigheidsoë, hoe sou hy dan nie kan sien nie? Nee, hy sien goed, maar net 'n klein kantjie van die lewe. Hy het sy hele visie vertregter op een aspek van die lewe: hy sien die moontlikhede om besigheid te doen, hy sien die swakhede en gebreke van sy medemens, waaroor hy diepsinnig kan skinder, maar die lewe as geheel, met sy hoogtes en dieptes, met sy breë menslike ervaring, die lewe as geheel kan hy nie sien en aanvoel nie. Waarom? Hy het nooit geleer om met en deur sy siel te kyk nie! Hy het grootgeword in 'n omgewing, in 'n onderwys waarin die lewe versplinter lê tot klein flenters, waarin die groot-menslike nie meer in die oog spring nie, die lewe net sy praktiese alledaagse gelaat toon en die wonder van die oneindige wat straal agter alle uiterlike verskynsels, nie meer gesien en ervaar word nie. Ons gevierde beeldhoukunstenaar Anton van Wouw het eenmaal aan my gesê dat dit so treurig is om op te merk dat die meeste mense niks sien nie. En inderdaad moet dit vir 'n kunstenaar soos van Wouw, met daardie fyn-skerpe waarneming van die uiterlike vorm en lyn van die dinge, afskuwelik wees om te sien hoe die meeste mense deur die lewe gaan en nouliks besonderhede van hul omgewing opmerk. Dit is 'n kuns om te kan sien, en dit is nog 'n groter kuns om die mooie en waardevolle wat ons opgemerk het, te assimileer tot geestesbesit en om te kan onderskei tussen die essensiële en die nie-essensiële in die lewe wat ons omring. Mens moet van jongsaf leer om 'n gesonde waarnemingsvermoë te ontwikkel en om die bonte, veelkleurige wêreld wat ons sien, te verinnig tot sielsbesit deur dit suiwer te laat afspieël (65) op 'n mooi gevormde innerlike. Ons het al almal mense ontmoet wat 'n hele lang reis gemaak het en jou niks kan vertel as hulle terugkom nie; of as hulle dan nog vertel, dan is dit 'n aanmekaargeratel van oninteressante dinge, en wie oninteressant gesels of skrywe, het geen fyne sin van verhouding nie, kan nie onderskei tussen wat boeiend en vervelend is nie. Sy hele gees is gemeenplasig. Daar is baie mense wat nog nooit opgemerk het hoe die randjie naby sy huis lyk nie, wat die werklike kleur van die veld, pad of straat in sy omgewing is nie. Alles is min-of-meer, nooit 'n drang na die haarfyne en korrekte nie. En hoeveel van ons lê ons toe op 'n sorgvuldige, indringende studie van ons medemens se siel. Baie van ons het wel 'n hele boel te vertel oor hul swakhede, maar die mens as geheel, met sy swakhede en deugde, sy vreugde en leed, al sy menslikheid ken ons nie, en daarom kan ons ook geen kuns waardeer nie, want om waardering te hê vir kuns, beteken om menslik te wees, om die groot ruim veld van die lewe onbevooroordeeld in te gaan en met al die sintuie en die hele gees op te neem alles wat van waarde is en om dan so 'n volledige persoonlikheid op te bou wat gedrenk is in ervaring en verruim is deur begrip en menseliefde. Die kleingeestige mense wat ons elke dag ontmoet, mense sonder werklike simpatie vir hul medemens, sonder ruimte of vergesigte in hul lewe, bekrompe, eng en vitterig, is mense wat nie volledig lewe nie. Hulle hele bestaan is vasgeanker aan een kantjie van die lewe: die kleinlike, en hoe hulle ook al wil beduie watter groot betekenis hulle vir die samelewing het, hulle is meestal gelukbederwers wat net die lewe onplesierig maak vir wie opreg voel, sien of dink. Om 'n gesonde waarderingsvermoë te besit, daarvoor is nodig 'n ope blik op die werklikheid en 'n invoelings- en waarnemingskrag. Want om te sien of 'n kunstenaar die lewe haarfyn en besield geteken het - laat dit wees met die pen, penseel of klei - daarvoor moet jy self tenminste skerp en begrypend na die lewe gekyk het, na die tipiese in houding en gebaar van figure, na die kleur en vorm van 'n landskap, na die tere ligflonkeringe, skaduweedieptes en vervloeiende lyne wat aan elke ding 'n eie wese en gestalte gee. 'n Ou kaffer hurk voor die vuur neer: en blaas dit aan dat die goue gloed van die vlamme sy hele gesig verhelder. Baie mense sal nooit die skoonheid van dle hele ligkombinasie sien nie, omdat hy nog nie die ontwikkelde invoelingsvermoë besit nie waardeur hy sy oë moet gebruik om te sien-voel. Wanneer ons bewus word van die lig- en skaduwee-skakering en ons hele wese in verhoogde spanning daarna kyk, wanneer (66) ons die toneel, die hele lewe in 'n dieper lig, as't ware teen die ewigheidsagtergrond sien en in die besondere die universele erken, eers dan gebruik ons ons oë behoorlik.

In Suid-Afrika merk ons veral 'n gebrek aan lewensstyl. Ons bestaan nog te veel en het nog nie die lewe na sy wesensgrond aangevoel, dit gestileer tot kultuurmooiheid nie. Ons is nog te veel tevrede met die alledaagse, die doodgewone. Vanuit ons skole en universiteite sal in die nabye toekoms die verlewendigende invloed moet uitgaan. Deurdat ons nie lees nie, word die meeste van ons kunstenaars nooit by die breër volksmassas bekend nie. En dié wat nog bekend word, ontvang hierdie twyfelagtige eer deurdat 'n eksamen-bevreesde leerling die „inhoud” van die boek, dikwels teen sy sin, moes verteer. Maar so sal ons geen waardering vir kuns in Suid-Afrika opwerk nie; ons sal net die bietjie kunssin wat daar nog is, doodmaak. Kunswaardering berus op geesdrif, op liefde en op kennis, en ons moet by ons volk, in sy breë lae, eers 'n gunstige atmosfeer skep teenoor die boek, die skildery, die beeldhouwerk, sodat hy 'n liefde kan ontwikkel vir kuns, vir die kleur en vorm van die dinge, vir die veelvoudigheid, innerlike glans, skoonheid en diepte van die immer-skeppende lewe. Die hele lewe, in al sy volheid, sy fyne skakeringe en gedurig ontwikkelende lyne is so interessant dat mens in jou hart spyt voel dat daar soveel mense soos slaapwandelaars daardeur gaan, sonder om hewig en diep te voel en in een oomblik soms die gekonsentreerde wonder van ons bestaan te ontdek soos uitgedruk in die gesuiwerde straling van die kuns. Een van die vernaamste oorsake van die armoede aan hooggespanne kunswerke in Suid-Afrika en die rede waarom ons soveel bloedlose en kleurdooie produkte het, is omdat ons nog nooit geleer het om behoorlik te kyk nie, om die aksent op die regte plek te lê nie. Derde-rangse toneelspelers word te dikwels toegejuig asof hulle 'n wonder verrig het, terwyl by 'n belangrike hoogtepunt in die stuk irriterend gegiggel word. Derde- rangse romans en kortverhale - liefs dié waarin daar 'n tranerige sentimentaliteit is - kan deur „vooraanstaande” Afrikaners hoegenaamd nie onderskei word van fyn gestileerde en deurleefde werk nie. Vir so baie is enige prentjie teen 'n muur net so goed as die skildery van 'n Pierneef of Wenning. Waarom is dit so? Omdat ons nog geen ontwikkelde onderskeidingsvermoë, geen gesuiwerde-waardewêreld besit nie en voordat dit die geval is nie, sal ons ons volk se geestesplan nie verhef nie en sal ons met gespanne aandag luister na die lawwe seerrug-grappe van politici wat ons volk (67) se mentaliteit verder verknoei deurdat hul teer op holle sentiment en nie peil na ewewigtigheid van oordeel nie. Laat ons net, met stille vertroue arbei en hoop dat die ware, goeie en skone langsamerhand sal en moet oorwin. (68)