Die Afrikaanse gedagte/Letterkunde se waarde in ons tyd

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Nasievorming Die Afrikaanse gedagte
Letterkunde se waarde in ons tyd
deur C. M. van den Heever
Kwasstrepe


Letterkunde se waarde in ons tyd.


Die vraag kom dikwels by ons op: het letterkunde nog waarde in ons tyd van algemeen geestelike verwarring, van verwerping van ideële waardes en die lus om stoflike besit op te stawel? Die wêreldoorlog het ons aandag weer skerp gevestig op die tydelikheid, die verbygaande van alle kultuurdinge. Eeue lank het die volk gebou, elkeen aan 'n eie beskawingslewe, en in 'n paar jaar is dieselfde wêreld omgeskep tot een waarin rustige kultuurbouers mekaar op dierlike wyse vermoor het. Kultuurskatte van eeue het in puin agtergebly, nadat sogenoemde „oorwinnings” behaal is. Groepe, volke mag tydelik geprofiteer het, maar die mensheid het ontsaglik daardeur verloor. En nou vra ons die vraag: wat help dit om nog te praat van enige kunswaardes, van die onverganklike van die letterkunde, as jy weet dat 'n oorlog - ja, ons dink met ontsetting aan die volgende menseslagting - al ons ideale te gronde rig, die paleise van ons beskawingsgedagte tot 'n puinhoop laat ineensak en ons almal maak tot besétenes wat laai van wraakhartstog?

Natuurlik sal sommige 'n oorlog verdedig en selfs beweer dat die volk daardeur baie gewin het. Maar na die Wêreldoorlog het ons wyser geword. Toe aan die gevierde, gryse Engelse skrywer Thomas Hardy gevra is wat hy dink van die resultaat van die oorlog, of dit nie 'n vernuwing van geestelike waardes beteken nie, was sy antwoord: nee, al wat hy kon sien was dat die oorlog tallose jong, belofteryke talente vermoor het.

Benader ons die saak van daardie kant, dan mag ons moedeloos word en sê: wat beteken iets dan nog in hierdie lewe? Dit help eenvoudig nie om iets moois te skep nie, want ons weet vooraf reeds dat dit vernietig sal word. Die tweeling-broer van skepping is tog maar altyd die dood! Maar as ons so redeneer, dan verloor ons later alle verantwoordelikheidsin (91) teenoor die lewe, ons verloor alle vertroue en geloof in hoër dinge, en daarsonder moet ons, ook sonder hewige skokke van buite, soos 'n oorlog b.v., doodseker uitsak en te gronde gaan. Die groot saak in die lewe van elke mens is tenslotte die ontwikkeling van 'n persoonlikheid, en daardie persoonlikheid kan hy nie ontwikkel op grond van neerslagtigheid en 'n pessimistiese houding teenoor die lewe nie, maar deur oortuiging, deur innerlike geloof aan die goeie, ware en skone, deur 'n drang om tot eenheid en helderheid te kom oor lewensvraagstukke, deur 'n eie ontdekkingsreis te maak na die land Kanaän van die Waarheid. En wie iets ontdek het van die groot wêreld van moontlikhede wat in hom lê, dié bring soos die bespieders van ouds iets mee na sy wagtende medemens en hy vra hom af: wat moet ek doen sodat almal kan deelagtig word aan daardie wêreld wat nou hier voor my lê soos 'n geheimsinnige see en waarvan ek nog maar net die branders by die kant ken? So 'n mens handel uit 'n geloofsdrang, uit 'n innerlike wet wat sê: daar is groter dinge in die lewe as dood en vernietiging, daar werk kragte in jou wat jou tot 'n slaaf van jou hartstogte kan maak of wat jou kan laat verrys in die heerlikheid van skoonheid; daar is geestelike waardes wat bly werk lank nadat oorlog en verderf ons sin verblind het vir die mooie en ware, daar is kragte in elkeen van ons wat ontgin moet word, nie alleen terwille van ons persoonlike geluk nie, maar terwille van ons volk se ontwikkeling, terwille van die mensheid wat die eeue deur, deur teenslae en stryd, deur domheid, bekrompenheid en dwaasheid, deur te val en weer op te staan, gesoek het na die lig van die lewe deur die dwaasheid en agter die sluier van die skyn die wese wou ontdek om so tot rus en tot geluk te kom.

Ja, gesoek het na die skoonheid en die waarheid! Daarmee is ons tog by die letterkunde beland. Want waarna soek die ware skrywer dan? Die ware skrywer sien 'n wêreld van skyn en bedrog, maar ook van menseliefde en geworstel, van valsheid maar ook van skoonheid, en hy beeld dit uit en sy uitbeelding dra die stempel van die waarheid. Wat wil die letterkunde dus doen? Die letterkunde wil vir ons 'n beeld gee van die lewe, van die mens, van ons self. Het so 'n beeld vir ons nog waarde in 'n tyd soos ons s'n? Seker is dit dat ons moet worstel met geweldige magte wat dreig om ons weg te hou van die dinge wat ideële betekenis het. Baie mense sal vir jou vandag sê: „my liewe man, wat spook jy tog al met daardie ,hoë dinge in die lewe' of hoe jy dit ook al noem! Ek sê vir jou as ek net 'n lekker „joppie” het, is ek heeltemal (92) tevrede. Ek lees my koerant en nou en dan gaan ek bioskooptoe, en ek dink ek het die volste reg om te sê dat ek 'n baie beskaafde mens is. Maar julle kêrels spook vir my al so teen die stroom op: wie wil nou vandag nog hoor van „geloof in die lewe,” van „ideale,” van „kultuurgedoentes,” ek weet nie eers hoe julle al die goed noem nie! Dit traak my ook nie! Ek is gelukkig soos ek is. As ek maar net 'n bietjie geld in hierdie lewe kan bymekaarmaak en op dié manier onafhanklik word, dan is ek heeltemal tevrede. Nee, ou vriend, hou maar daardie dinge vir jou, as dit jou plesier gee, maar laat my asseblief met vrede!”

U sal dink dat dit 'n bietjie kwaai klink en tog sal u verbaas staan oor die aantal mense wat so dink. U sal hulle kry by diegene in die hoogste betrekkings, by beskaafdes, u sal dit kry by baie interessante mense wat nooit huigel nie, maar presies weet wat hulle wil hê en wat hulle baie angsvallig daarop toelê, en dit pas ons dikwels gladnie om ons oor hulle aan te matig nie. Dikwels is die gedweep met kuns, met „die hoëre dinge” by die meeste mense soveel huigelary. Maar dit is seker ontstemmend vir ons opvatting van „ideale,” hoe ontsettend materialisties die meeste mense van ons tyd is en hoe weinig hulle hulle tenslotte bekreun oor letterkunde en kultuurdinge. Wat die Afrikaanse letterkunde en kultuur betref, kan ek net verwys na die onrusbarende verskynsels wat hulle hier openbaar. Ons het een van die mooiste letterkundige tydskrifte besit wat nog in Suid-Afrika uitgegee is n.l. Die Nuwe Brandwag. Dié blad het goed vergelyk met die beste werk van dié soort wat in Europa verskyn. Maar dit het hom doodgekwyn. Waar was diegene by wie ons letterkunde en kultuur so swaar geweeg het? Waarskynlik ywerig besig om na politieke vergaderinge te jaag om mosies van vertroue en wantroue in een of ander leier aangeneem te kry. Mense kla dat hulle nie die intekengeld op sulke blaaie kan betaal nie, maar vra u bietjie af waaraan hulle hul geld bestee. Nie dat ons hulle dit kwalik neem nie. Gladnie. Maar laat ons dan tog asseblief „daardie hoëre geestesdinge” met vrede laat en dit nie gedurig as 'n skoenpoetser gebruik wanneer ons indommel na ons swaar politieke etes nie. Wie met kultuurdinge smous om daardeur by die agterdeur van ons volksgewete in te kom, is ongeveer soos die bekende slegte wolf wat die drie varkies se lewe so ongelukkig gemaak het.

Beskou die Afrikaanse letterkunde. Daar is al heelwat roem op uitgestort deur mense wat nog nie veel daarvan gelees het nie. Maar daardie roem hoort nou eenmaal daarby, terwyl (93) die aanskaf van die boek liewers oorgelaat word aan mense „wat tyd het om te lees,” soos dit gerieflikheidshalwe uitgedruk word. En niemand dink natuurlik dat hyself dalk die sondebok kan wees nie. 'n Gevierde Duitse romanskrywer het in sy romans sosiale toestande in Berlyn skerp gehekel. En hy was verbitterd om te vind dat dié mense na wie hy eintlik verwys het, gedurig die hekeling op ander mense toegepas het. So tref jy eintlik nooit die ware sondebokke nie!

Nou is die vraag weer: het die letterkunde nog vir ons waarde, of is dit maar 'n mode-gedoente om „in tel” te wees, mens moet eintlik iets daarvan weet om in beskaafde kringe vir enigsins ontwikkeld deur te gaan! Die letterkunde is, soos ons aangedui het, 'n fyne uitbeelding van gedagtes, gevoelens en probleme van ons tyd, dit is 'n panorama van ideë wat voor ons verbytrek, dit is ons innerlikste self wat daarin afspieëling vind. As ons nie daarin belangstel nie, beteken dit eenvoudig dat ons ons eie self nie ken of nie wil ken nie, dat ons nie die kraalmuurtjie om ons eie ek kan wegbreek nie, dat ons van die mooiste potensialiteite in ons laat slaap: ons sin vir die skone en suiwere, en dat ons ander kante van ons wese laat ontwikkel tot disharmoniese groei. In die begin het ons aangedui hoe die mens in die ellende van 'n oorlog kan gesleep word deur die duiwel wat daar in elkeen van ons slaap, die baas te laat word. Net so kan ons die wonderbare wat in elkeen van ons is, ons menslike gevoel, tot ontwikkeling bring om die waaragtig suiwere wat daar in kuns en in skoonheid is te waardeer en te gebruik om ons te verryk. En dit beteken nou eenvoudig niks om te sê: met daardie dinge wil ek niks te doen hê nie. Wie dit doen, versmoor die sterkste kragte tot die skoonheid wat in hom sluimer, en maak hom 'n prooi van Goethe se bekende beskuldiging: Hy wat die stem van die digkuns nie verneem nie, is 'n barbaar, laat hy wees wie hy wil. In die gedreun van ons moderne lewe word daardie stem ongelukkig nie baie gehoor nie. Wat so noodlottig is vir die ware ontluiking en uitgroeiing van letterkundige smaak en gevoel in ons eie land, is die feit dat daar so ontsettend min gelees word. Hoeveel Afrikaners is daar wat gereeld op hoogte bly met wat daar verskyn in Afrikaans, hoe min lewe intens mee met die openbaring van enige nuwe geestelike lewe. As ons dan maar net eerlik is en sê dat ons werklik geen belangstelling het in letterkunde nie, dat ons nooit 'n nuwe Afrikaanse boek koop nie en dat die werklike groei van die Afrikaanse letterkunde ons nie die minste interesseer nie, dan kan mens nog rede verstaan. So 'n persoon is eerlik. Maar daar is baie wat die (94) Afrikaanse letterkunde en kultuur net gebruik as 'n badjie om hul politieke en ander bybedoelinge mee uit te stort oor die hoofde van die publiek. As jy die woorde „Afrikaanse letterkunde en kultuur” as 'n wegspring-plank gebruik, dan kan jy seker wees dat jy goed toegejuig sal word en dat heelwat sentiment daarmee gaande gemaak is. Te veel is tot dusver misbruik gemaak van ons letterkunde deur politieke klopjagters dan dat ons dit langer oogluikend mag verbysien. Laat iemand ons sy biblioteek laat sien, laat hy ons oortuig met die beste werke van skrywers van oorsee, met die beste werke van skrywers hier in ons land, dat dit hom erns is met die hoëre dinge in die lewe, laat hom simpatiek, vol kennis en met fyn smaak gesels oor daardie produkte - en hy sal ons onmiddellik oortuig dat hy werklik 'n gevormde kultuurmens is, dat hy 'n kosbare eenheidskakel is in die beskawingsbou van sy volk, dat hy die nodige atmosfeer gaan skep waarin sterk geestelike dinge kan lewe.

Elkeen van ons wat met erns die moderne politieke en staatkundige verwarring van die wêreld aanskou, vra hom seker af waar dit alles moet heen gaan. Is die mens skoon sy vat kwyt op die lewe, het die stoflike eindelik die geestelike onder die knie, het die masjien wat ons self geskep het, ons baas geword, bly daar niks anders oor as 'n wilde gejag na ons enkeling-vreugde, na bietjie geld, 'n besittinkie oor nie? 'n Groot denker van ons tyd druk dit as volg uit: „Op die gesigte van die mense van hierdie tyd staan veelal die innerlike ontreddering te lees, al dra die meeste van hulle 'n masker... Uitinge van die ontreddering is die angs om alleen te wees, die angs vir die stilte. Baie mense is vir niks so bang as om met hulself alleen te wees nie. Dan kom hulle lewens- en sterwensangs na bo; hulle innerlike leegte gryns hulle aan. Hulle vlug vir hulle diepste self, of 'n duiwel daarin huis. En seker is daar op die weg na daardie self heelwat duiwels om te oorwin. Maar as hulle maar net diep genoeg afdaal, sou hulle goddelike magte vind: verlange na suiwerheid, na eenheid met ander en almal, intuïtiewe strewe na alsydige harmonie. Maar hulle het die weg na die diepte verleer.”

Laat ons volk op hierdie belangrike stadium van sy ontwikkeling leer om alle valse sentimentsmouse in die buitekantse duisternis uit te werp en laat ons die weg na ons binnekant ontdek deur die letterkunde, daardie getroue dienares van waarheid en skoonheid, van diepste suiwerheid, dan sal ons vanself kom tot die ontwikkeling van ware persoonlikhede, van harmoniese eenhede binne 'n groot eenheid. Dan sal ons volledig (95) bewus wees dat ons deel het aan die groter geestelike eenheid. En sonder om dit dan uit te basuin, sal ons ware kultuur hê. (96)