Die Afrikaanse gedagte/Kwasstrepe
← Letterkunde se waarde in ons tyd | Die Afrikaanse gedagte Kwasstrepe deur C. M. van den Heever |
Na die Toekoms→ |
Kwasstrepe.
Verwyding van Blik.
[edit]Voorwaarde vir die groei van enige letterkunde is gesonde, opbouende vergelyking. Mens kan baie maklik in uiterstes verval wanneer dit gaan oor jou eie kultuur of letterkunde: jy kan die saak net van binne bekyk en jou in buitensporige verheerliking vermei van al wat eiendomlik is, of jy kan dit heeltemal van buite benader en volksaardige produkte met 'n hooghartige glimlag verneder omdat dit so nietig is wanneer mens dit naas die kragtige kultuurprestasies van ouer kultuurlande plaas.
Vir ons lyk die gesonde middelweg die beste: 'n opregte, ewewigtige waardering van die eie, maar gepaard daarmee 'n nimmer eindigende begeerte om dit steeds dieper en ryker te maak, sodat dit die swaarste toets met die buitelandse werk kan deurstaan. Alleen op hierdie wyse kan die nasionale verwyd tot internasionale betekenis.
Ons in Suid-Afrika wat ons besig hou met die Afrikaanse letterkunde, moet onrustig waak teen chauvinistiese ophemeling. Onder kultuurmense wat so hier en daar 'n Afrikaanse gedig, waarvan hulle hou, in 'n bloemlesing teenkom, of by wie se ore bekende Afrikaanse gedigte deur voordraers ingedreun word, kry mens maklik die neiging om breedsprakig te word oor die Afrikaanse letterkunde, en hul gedagtes neem dan maklik 'n skilpad-draffie in die rigting van die politiek, daardie parasiet wat hom so maklik in die kultuurlewe kan insuig. Hulle redeneer dan ongeveer so: „Die Engelse in Suid-Afrika is op kultuurgebied morsdood. Omdat hulle nie gewortel is nie, kan hulle geen kenmerkende Engels-Afrikaanse letterkunde opbou nie. Hul sogenaamde digters in Suid-Afrika kan jy nie eers vergelyk met die Afrikaanse digters nie. Dié wat hier iets bereik, verdwyn dan ook gou weer in die rigting (97) van Engeland, waar die ,koloniale' dadelik verdamp. Die Afrikaanssprekendes, as draers van die vryheidsidee, as geworteldes in Afrikaanse aarde, is die enigste wat kuns van betekenis voortbring. Die Engelse letterkunde in S.-Afrika is in vergelyking daarmee soos 'n dooi geënte loot naas 'n kragtig groeiende boom!”
So 'n redenasie maak seker indruk en vervul ons, wat so lank gesoek het na die verwesenliking van ons onbewuste gedagtes in 'n eie taal, met trots en 'n tikkie aanmatiging. Maar ons moet onthou dat deeglike kritiek niks te doen het met aanmatiging nie. Die growwe basuinklanke van eie voortreflike prestasies, hoog bokant dié van enigsins waardelose mededingers, hoort tuis in die luidrugtige kamp van die partypolitiek. Behoorlike oordeel en suiwer waardering berus op begrypende kennis, en wie op dié wyse te werk gaan, kan tog 'n veel betroubaarder waardebeleid vorm as diegene wat hul beskouinge opblaas met bybedoelinge.
Daar is seker geen ontwikkelde Afrikaner wat sy letterkunde nie wil sien op 'n peil so hoog soos die van enige ander moderne letterkunde nie. Maar dit sou noodlottig en skadelik wees as so 'n verheffing op die stam van misverstand en chauvinisme voortwoeker. Ons herinner maar net daaraan hoe die chauvinistiese gedweep van die Voor-Tagtigers in Holland duidelik gewys het op die holheid van eie prestasies. Nou kan mens te dof en dood wees teenoor die prestasies van jou eie volk, jy kan in trae onkunde lewe van alles wat om jou heen aangaan. Baie Afrikaners is so en jy kan hom moeilik met 'n hokstok wegslaan van sy snoeperige, materialistiese lewensopvatting, jy kan hom met die beste wil van die wêreld nie betrek in kulturele dinge nie.
Maar dan is daar ook dié soort „kultuurdraer” wat met blikkerige gerommel roem op ons kultuurdinge, terwyl hier en daar 'n stowwerige Afrikaanse klasboekie in sy boekrak leun, die man wat teer op roem van sy voorvaders, en sy teenstanders met onbeweeglike os-oë staan en aankyk, terwyl hy in werklikheid die hele kultuurprobleem nog nooit in al sy subtiele onderdele konsekwent deurdink het nie. Vir die Afrikaner geld dus op hierdie ontwikkelingstadium die noodsaaklikheid om intens en warm sy eie kultuurskeppinge te waardeer, maar ook: hy moet nie in lompe buitensporighede verval nie. Alle fyn en helder geeste ondergaan gedurig die invloed van elders - hoe sou hulle anders in lewendige gevoelskontak bly met strominge uit ander lande? - maar hulle assimileer dit in eie Afrikaanse wese en bring gedagtes na vore (98) wat Afrikaans is, maar verband hou met die fyne trilling in die atmosfeer wat ons die „internasionale” kan noem.
Byna op geen ander gebied kan ons die beweginge in die ervaringswêreld van volke so helder volg as in die letterkunde nie. Hier het ons die suiwer uitgewerkte gevoelsbeeld, die uitdrukking van gedagtes en probleme in die elastiese wonder van die taal. En eers deur die ervaringslewe en die uitdrukking daarvan in die vormlewe van die taal na te gaan, kan ons be- troubaar bepaal in hoeverre ons eie kultuurlewe, ons eie digterlike styl die tekens van grootheid en waarheid dra.
Verbreding van Afrikaanse Prosa.
[edit]Dit was te verwagte dat die Afrikaanse prosa, na die ernstige stilistiese strewe wat geopenbaar is in sommige verdienstelike romans, wat die begin aandui van ernstiger kunspogings, hom sou gaan verbreed, maar ook dat die intrige en growwe verrassingsmotiewe waarop so baie van die sensasieliteratuur van ná die Tweede Vryheidsoorlog steun, sou verfyn word deur groter bou-vermoë en skerpsinniger samestelling van onderdele. Te begrype is dit dat die stylskoonheid noodwendig hierdeur moes daal in waarde, die karakteristiek meer in die breedte as na die diepte sou uitgewerk word, waardeur die styl sou win aan pakkende vlotheid, joernalistieke vaardigheid, maar waardeur ook die onmiskenbare „aksent,” die „grondtoon,” wat so 'n vername deel van goeie styl vorm, sou verlore gaan in dié verbredingsproses.
Hierdie verskynsel het hom in die laaste vier jaar baie sterk begin openbaar: van die smalspoor-verhaal, waarin breedvoerig die lotgevalle, hoofsaaklik inwendig, van 'n enkele karakter aangedui word in 'n sekere milieu, het ons daartoe gekom om 'n hele aantal karakters in 'n aantreklik-geboude verhaal uit te beeld teen 'n bepaalde agtergrond. Dit is 'n goeie teken, want selfs in Holland, waar daar in die romans na 1880 soveel vervelend psigologiese studies gegee is, dikwels van abnormale mense met allerhande komplekse, word vandag gespot deur die jongeres met die eindelose uitrafeling van een karakter se sielkundige wendinge, word gespot met die oorlade, bloemryke styl, wat so lank in swang was, en is die strewe - die gevolg van harde oorlogservaring - na soberheid, suggestiwiteit en eenvoud in die styl, na die strenggeboude roman, waarin jy getref word deur puntige karakteristiek na die kern neigende uitbeelding van 'n bepaalde konsepsie. (99)
Die doodsgedagte by Totius.
[edit]Die geheim van die dood. Geen probleem wat so intens die eeue deur in die denklewe van alle groot digters gevreet het nie. Dit het sommige in wilde opstandigheid laat opvlam en hulle laat toorn teen die oneindige, wat in elke mens, hoe ryk van innerlike gawe ook al, die kiem van die verderf gelê het; dit het ander kunstenaars met weemoed vervul oor die ontsettende tragiek, wat hulle uit elke donker hoek van die lewe kan bespring en hulle kan verwyder na 'n land, waarin net die geloof van die Christen nog vertroue kan gee. Die tragiek van die dood het altyd gelei na 'n deurgronding van die lewe se betekenis, want besit die dood nie simbool-waarde nie, maak dit nie die lewe deursigtiger en ryker aan betekenis nie? Ryker? Net na gelang van die lewensbeskouing. Maar altyd is die dood as 'n begrensing van die lewe daar en doem dit teen al ons begrippe van bestaanswaardes as 'n nimmerverwyderbare ewigheidsagtergrond op.
Die doodsgedagte moet vir die Calvinistiese digter noodsaaklikerwyse 'n ander gestalte aanneem as vir die pessimistiese wêreldling. Totius is van al die Afrikaanse digters verreweg die swaarmoedigste, maar hierdie swaarmoedigheid word nooit pessimisme nie, dit is eerder 'n geestestoestand wat ons by digters kry wat innerlik weerloos is, wat uit die aard van hul introspektiewe neiging deur uiterlike prikkels tot stemmingsoorgawe geroep word. By Totius is hierdie stemming van so 'n intense aard dat dit vir hom moeilik gaan om hom daaraan te ontworstel. Tog kom aan die einde altyd die bevryding en volg gewoonlik, ná die insinking van 'n donkere stemming, die verheldering van 'n opnuut-ontdekte lewensgeloof en bestaansvreugde.
Dat Totius 'n intens-liriese aanleg besit, het veral uit sy Wilgerboombogies geblyk, wat ons as 'n hoogtepunt in die Afrikaanse liriek kan beskou. Hier het ons, naas swakkerige gedeeltes wat enigsins aan sy Patriot-tydperk herinner, 'n fynheid van gevoelsekspressie, 'n innerlike eenheid tussen beeld en gevoel, 'n simboliese deurskouing wat aan die werk 'n gedrae, gewyde karakter gee. Ná Rachel, met sy liriese tussensange, ná Trekkerswee, met sy idilliese, subjektiewe siening, kry ons dan, nadat die digter hom vir jare teruggetrek het in die eensaamheid van studie, sy bundel Passieblomme. Maar dat hierdie gedigte nou eers gebundel word, wil nie sê dat hulle eers ontlangs ontstaan het nie. Sommige van hulle is reeds twaalf jaar oud. Passieblomme... 'n digter so weerloos en teergevoelig soos Totius, met 'n neiging tot droefgeestige stemmingsoorgawe (100) , moes tot op die bodem sy gelowige lewensbeskouing geskok gewees het deur die dood van twee van sy kinders kort na mekaar: 'n seuntjie aan harsingvlies-ontsteking en 'n dogtertjie deur 'n bliksemstraal wat haar dodelik getref het. In sobere woorde meld die digter dit in sy inleiding. Hierdie vreeslike beproewing het Totius se gevoelige sielelewe weer soos in Wilgerboombogies - wat immer aan „drie liewe dooie” gewy is - dig by die geheim van die dood gebring. Nee, juister gesê: veel digter, want waar ons in Wilgerboombogies die gesluierde omwaasde beeld kry, die versigtige sim- boliese deurskemering, wat wys dat die smart besonke is, daar het ons die digter nou in al sy weerloosheid en ouersmart, hulp- loos wankelend op die donker skemerrand van die dood waar sy kleintjies se laaste spore verdwyn het. Soos in sy vroeër werk, het hierdie bundeltjie ook die drieledige indeling: onheil, onrus, berusting, wat duidelik die ontwikkelingsgang van 'n gevoelsewolusie simboliseer. Van die begin tot die end word ons getref deur 'n onmiddellikheid van gevoelsopenbaring wat die leser diep aangryp, hier (veral in die begin) nie die rustige besonke smartherinnering nie, maar die spokende gestalte van die onheil, die smart wat so hewig nog is dat geen skone vorm daaruit kristalliseer nie. Die naakte smartervaring, so aan- grypend soos geen ander verse in Afrikaans nie.
Afrikaanse Skryfsters.
[edit]In die laaste jare het daar 'n hele aantal skryfsters by ons op die voorgrond gekom. Ons besit nog geen enkele digteres nie - ten minste een wat al haar werk bekend gemaak het nie - en ons skryfsters bepaal hulle hoofsaaklik by die roman en die kortverhaal, nie omdat hierdie kunsvorme so maklik is om te beoefen nie, maar omdat die liefde om te beskrywe en om- skrywe by almal oorwegend is.
Die verskyning van Marie Linde, Meg Ross en Eva Walter se bekroonde werk was belangrik, omdat die vrou daarmee haar verskyning op die gebied van ons letterkundige werksaamheid gemaak het, maar van die standpunt van 'n vernuwing, 'n vernuwing en verjonging van ons prosa, van 'n meer verfynde uitbeelding van die werklikheid, was daar geen sprake nie. Marie Linde se werk was veral belangrik, omdat sy haar nie besig gehou het met die uitbeelding van minderbevoorregte plaastipes nie - wat volgens sommige beoordelaars ons letterkunde te veel begin bevolk het - maar dat sy ontwikkelde, hooggeplaaste karakters probeer uitbeeld het en hulle gesien het teen 'n minderbekende, enigsins uitheemsgetinte omgewing. (101)
Dat daar in die laaste jare klagtes begin ontstaan, veral om opvoedkundige redes, teen die Ampie-tipe in ons romans, is in 'n mate begryplik, want sommige mense wat gesteld is op ons volks-eer, is bang dat die vreemdeling daarin 'n verteen- woordigende beeld sal sien van die Afrikaner en sy gewone omgewing. Hulle wys daarop dat daar die beter ontwikkelde Afrikaanse boer is en in die stede en dorpe die verfynde huisgesin, wat deur kosmopolitiese invloede al uitgegroei het bokant dié dinge wat gewoonlik as „plattelands” beskou word.
Seker is dit nodig dat al die aspekte van ons maatskaplike lewe sy weerspieëling in die kuns vind, dat ons deur 'n ryke waarneming 'n betroubare beeld kry van ons hele volkslewe. Maar dit is verkeerd om soos sommige beoordelaars te beweer dat ons net hooggeplaaste mense, dié soort wat jy gewoonlik in die society-rolprent sien beweeg, moet uitbeeld, om daardeur te bewys dat die Afrikaner ten slotte tog nie so agteraf is soos baie onsimpatiekes wil uitmaak nie. 'n Volk kan nie sy letter- kunde, ter wille van bekrompe, en dikwels onopgevoede, veroordelaars, deur middel van allerhande moeilik verbloemde propaganda-foefies so buig dat dit vir die vreemdeling uiteindelik op 'n skinkbord kan aangedra word nie. 'n Volk se letterkunde en kultuur ontwikkel hom van binne-uit, is die produk van organiese groei. 'n Kunstenaar kan nog soveel fyn geklede here en dames, gewapen met die nuutste modes en society-uitdrukkings, in 'n boek bymekaar ja, maar dit beteken ten slotte nog niks. Die saak kom neer op die innerlike aan- en deurskouing, wat die stof moet adel. Dit hang af van temperamentele gesteldheid van die kunstenaar, sy vormgewende krag. Besit hy dié, dan sal hy uit die afskuwelikste werklikheid die wonder van die kuns laat verrys; dan word die verflenterde, inmekaargehurkte daggaroker verhewe, want die kunstenaar het aan daardie stukkie skynbaar nietige lewe agtergrond gegee; dan verhoog ons belangstelling in die rampsalige sukkelaar, wat ons anders, deur gebrek aan menslike deurvoeling, nie eers sou raakgesien het nie.
Kennisuitstalling, retoriek en patos.
[edit]By die Afrikaanse skryfsters - met watter karakters hulle hul nou ook al besighou - is daar in die laaste tyd 'n paar dinge baie opvallend. Die eerste kan ons begryplikerwyse verklaar uit 'n soort minderwaardigheidsgevoel by baie Afrikaners, omdat hul letterkunde en kultuur totaal verdwerg, sodra as jy na dié van ander lande kyk. Hierdie eienaardigheid (102) openbaar hom in die vorm van 'n duiselingwekkende uitstalling van „kultuurkennis,” uit alle windstreke versamel; dit gaan van operas na Oosterse wysbegeerte, van Italiaanse skilders na porselein, van Milton na die Eiffeltoring. Dit word so erg dat die leser naderhand 'n bietjie senuweeagtig word oor soveel wysheid wat deur een mens omgedra word. Want waar hardwerkende mense in 'n leeftyd maar een gebied met moeite behoorlik oorsien en gedurig kla omdat die probleme al meer en moeiliker word, daar word alles hier so maklik voorgestel of dit maar net neerkom op 'n Europese reis om dan ineens die wysheid deelagtig te word.
'n Ander eienaardigheid lê in die taal en styl. Ons kry nie meer soveel growwe taalfoute nie. Die taal is dikwels glad gepolys en die gedagtes ry soos op wieletjies weg, maar 'n swaar oorerflikheid in die vorm van bevrore retoriek lê oral netjies vasgebrei. Hierdie fout het natuurlik baie diep wortels, want dit hang saam met die gebrek aan innerlike ekspressiekrag van die skryfster.
Nog 'n ander eienaardigheid, wat hom aansluit by dié wat net genoem is, is by sommige skryfsters - blykbaar diegene wat die oog het op die „minderbevoorregte” leser - om soveel patos as moontlik in hul werk saam te bring; die arme vertrapte word nog verder in die aarde vertrap, dit word so erg dat daar uiteindelik nie 'n droë sakdoek meer oorbly nie!
Maar die kritikus moet ook weer versigtig wees om in die geval van ons Afrikaanse skrywers en skryfsters nie te hard te oordeel nie. Ons worstel nog en tas rond, ons voel die krag van 'n nuwe, wordende lewe in ons, maar ons het nog nie die besonkenheid en dikwels nie die talent nie, ons het nog nodig die harmoniese betragting van die dinge om letterkundige produkte te kry wat die suiwerste, essensieelste uitdrukking sal wees van 'n gees wat waarlik Afrikaans is.
Waarde van die Klassieke.
[edit]Daar heers 'n koppige misverstand in sekere sleg ingeligte kringe dat die Klassieke „dood” is. Meer as een, wat hom graag daarop beroem dat hy in alle opsigte „modern” is, kyk vreemd op as hy die naam van 'n mitologiese god hoor, hy gebruik miskien dit soms selfs verkeerd by wyse van geleerdheidsuitstalling wanneer hy 'n artikel moet skrywe en beeldspraak as 'n noodsaaklike euwel gevoel word, of hy voel dalk weersin in hom opstyg as daar gepraat word oor Grieks en (103) Latyn, oor deegliker onderwys in hierdie vakke, oor hul humanistiese waarde, oor hul algemeen vormende draagkrag, oor hul onmisbaarheid vir taal- en letterkundige kennis. Hy voel dat dit „dooi” vakke is wat sy lewe stelselmatig verpes het op skool en later miskien 'n rukkie ook nog aan die universiteit. Dit is vir hom bloot „studievakke” in die slegste sin van die woord - dink aan die eindelose oefeninge wat die volgende more versier word deur rooi kruisies, strepies en kringetjies van 'n leermeester, wat beskik het oor 'n verbluffende kennis van „reëls”; dink aan die grammatikaboek, wat in die drome bly spook het, aan rye voorsetsels wat, om die geheue tog bietjie te help, berym is, aan naamvalsuitgange wat die spitsvondigste brein bespot, aan uitsonderings wat dreig om reël te word!
Daar bestaan wel 'n rede waarom baie mense hul Latynse en Griekse werkies in hul rakke laat staan en eendag weer daaraan dink as hul kinders vra of hul vader of moeder nie ook 'n sekere werk „voorgeskrywe” gehad het vir 'n eksamen nie. „Voorskrywe” het 'n magwoord in Suid-Afrika geword, en daar vorm so gaandeweg 'n kompleks om alle kennis van letterkunde te meet volgens wat, van uit hoër terreine, „voorgeskrywe” was! Hoor 'n mens nie dikwels die volgende nie: „Ken jy dié of dié boek?" Ja, dit was vir ons „voorgeskrywe!” Dit fout lê nie so seer daarin dat voorgeskrewe boeke gelees moet word nie, maar wel dat net voorgeskrewe boeke en niks anders die aandag ontvang nie.
Sommige het al begin wanhoop aan die „herstel” van die Klassieke, tog is daar persone in ons land wat probeer om langs simpatieke weg die kwaad uit die pad te ruim wat deur skoolvosse gedaan is. Prof. T. J. Haarhoff is een van die vernaamste werkers in hierdie opsig. Hy gaan langs glad 'n ander weg te werk as die skoolvos, wat die hele ou beskawing weggesnoei het tot 'n aantal ystervaste reëls waarin jou opvatting pas of nie pas nie. Hy het van die Grieke en Romeine geleer om die dinge as eenhede te sien, om deur verwantskapsgevoel die agtergrond te verstaan wat oprys agter alle uiterlike verskynsels, om die menslike te waardeer, daardie onvernietigbare, haas onomskryfbare iets wat deur al die eeue dieselfde bly. Wie die menslike leer waardeer het, op die humanistiese standpunt staan, kan nie tydperke in die geskiedenis van die mensheid sien binne die bakens van 'n aantal jaartalle en dorre feite nie. Hy voel die lewe aan en weet dat in daardie tyd mense gelewe het met dieselfde hartstogte as ons, deur dieselfde lotswisseling beheers is, ook verbyster gestaan het langs (104) die kort endjie pad met sy ewige bakens: Geboorte, Dood. In ons tyd - waarskynlik het die Wêreldoorlog die skok gegee in daardie rigting - het 'n verhewigde drang na die menslike ontstaan. Lewensgeskiedenisse van helde en vereerde persone word geskrywe op so 'n wyse dat die vroeëre papierheld nou voor ons oprys in lewende gestalte, met sy foute en goeie eienskappe. Selfs het dié rigting in 'n mate ontaard, want boewe-konings en boewe se „bewoë” lewe word ook geboekstaaf, en moordenaars ontvang die laaste eer om, teen fabelagtige pryse, as afskeid te vertel in 'n artikel hoe hulle die „grootste” daad van hul lewe gepleeg het!
In Suid-Afrika dring langsamerhand die besef deur, dat ons in die onderwys, nee selfs in ons hele lewe, waardering moet toon vir die menslikheidstandpunt. Dit is een van die mooiste ideale wat nagestrewe kan word, want dit beteken om stryd aan te knoop teen verdorring en vorm-aanbidding, wat die dood is van elke groeiende kultuur.
In sy werk Virgil in the Experience of South Africa, 'n werk wat in die buiteland soveel lof ontvang het, het prof. Haarhoff ons 'n treffende beeld gegee van die groot ooreenkom in lewensbeskouing en gewoonte-opvatting, in landbewerking en stoere stoïsynse gelatenheid wat tussen die Romeinse boer en die plattelandse Afrikaner bestaan. Dit vul mens met verrassing om die opvallende ooreenkomste te lees wat hy opnoem en jy besef onmiddellik dat, hoewel dié beskawingsbouers soveel honderde jare terug gelewe het, daar ooreenkomste in die mens se geaardheid is, in sy uitkyk op die lewe wanneer hy sy bestaan aan die Aarde moet ontworstel, wat bokant tyd of plek verhewe is. Prof. Haarhoff het behalwe in die aantal werke wat spesiaal geskrywe is om voorligting te gee op die gebied van lewende onderwys in die klassieke, 'n paar jaar gelede sy bundel gedigte Tria Corda uitgegee, waarin ons hom leer ken as 'n fyne, gevoelige digter wat van die Griekse en Romeinse skrywers sy gebalanseerde skoonheidsuitkyk op die dinge geleer het, iemand wat intens die dinge bewonder wat menslik en waardevol vir lewe en kultuur is. 'n Hele aantal vertalings het hy ook in hierdie bundel gegee, vertalings wat getuig het van Afrikaans se fyne uitdrukkingsvermoë.
Van Bruggen en Buysse.
[edit]Leersaam is dit om Van Bruggen te vergelyk met kunstenaars van sy soort in ander lande. Vlaandere besit b.v. twee groot uitbeelders van die landelike lewe: Stijn Streuvels en (105) Cyriel Buysse. Streuvels word beheers, in sy beginperiode veral, deur die kompleks mens-aarde. Hy sien die mens teen die magtige agtergrond van die natuur; daarin is hy feitlik vasgegroei. Die natuur oorheers hom, beheers sy eenvoudige lewe, werk deur hom. Hy is 'n brokkie van daardie natuur. Streuvels se krag lê in sy prosa, sy natuursieninge, wat tot monumentale grootsheid uitgroei. Sy werk besit waarlik epiese breedheid. Dit is oor die algemeen somber, met die grootheid daarby wat deel is van somberheid.
Buysse se aandag val op die mens, op al sy beweginge. Hy is in sy siening humoristies en geestig. Sy styl is los, sonder die ritmiese gedragenheid wat ons kry by Streuvels. Van Bruggen vertoon in meer as een opsig groot ooreenkoms met Buysse. Sy krag lê in sy mensskeppingsvermoë, en in byna al sy werke mis ons die agtergrond, wat so 'n grootse reliëf vorm in die werke van Streuvels. 'n Kunstenaar soos Streuvels besit die Afrikaanse letterkunde nog nie. Ons wag nog op die siener wat ons vlaktes en berge, ons wolkelugte en blou hemel, ons swoegende boere met so 'n indringende grootsheid sal af-ets, trek vir trek, met die rus van die waarlik groot epikus.
Maar Van Bruggen is vir ons 'n baie belangrike romanskrywer. Sy eerbied vir die ware, die menslike, is iets besonders en van groot betekenis vir ons letterkunde. Sy mensskeppende vermoë staan hoog uit bokant dié van enige ander Afrikaanse kunstenaar. Hy besit die geduld om sy impressies rustig te verwerk, sonder om aan bybedoelinge te dink. Hy het die vermoë om die kragtige, die hewig-verbeelde te bereik, soos hy afdoende bewys het in Ampie I, en sy bewonderaars verwag dat hy 'n werk sal lewer waarin ons die aandagtige toespitsing het van die hele innerlike sodat die uitbeelding ontvou tot 'n grootse beweging, waarin die dinge hul geheime lewe adem, waarin daar verhoogde spanning van sielskragte voelbaar is, ongesogte simboliek opskemer deur die suiwer volgehoue werklikheidsbeelding heen.
Die Natuuragtergrond by Jonker.
[edit]Hoe verdienstelik Die Plaasverdeling van Abr. Jonker ook al is, skeel daar iewers iets waardeur dit nie uitgegroei het tot iets groots nie. En ons hoef maar net Stijn Streuvels se „De Vlaschaard" te lees om te bepaal wat hierdie gebrek is. Ons het die sielelewens van die karakters duidelik, maar hierdie karakters wortel in 'n omgewing, hulle is deel daarvan, die eentonige Karroovelde is die moeder wat hul voed, aan daardie aarde ontworstel hulle hul lewe, daarop is hulle, met al hul (106) kleinlike rusies, soos donker stippeltjies afgeteken en is die eenvoudige kerkhoffie by die sloot maar net getuie van die einde van 'n moeisame worsteltog. Streuvels sien sy karakters teen die raamwerk daaragter, hulle is onafskeidelik daaraan verbonde, organismes met 'n jaargety-lewe, soos die aarde om hulle.
Hierde aarde is onvoldoende geteken deur Jonker. Ons sou graag hierdie mense sien swoeg het teen die donker aarde, omhemel deur die blou lug, waarin die belowende wolke kom en gaan. Die skrywer laat ons nou net hoor wat aangaan, maar hy teken nie die oneindige vlaktes, die lydende vee, die saailande nie. Hy dui dit net terloops aan. Daardeur mis sy boek agtergrond. En tog kon hy dit gedoen het, omdat hy nou en dan losraak van sy rustig-omslagtige ontleding van gevoelens, sy intuitief-beeldende weergawe van gedagtes.
Hier en daar het ons sulke mooi belowende stukkies, soos die volgende, waarin Antonie se eensaamheid op die veldverlatenheid so duidelik voelbaar gemaak word: „Rustig, maar met duisend kronkelings kom hy aan, sy klein gesiggie en sy stekelsnor verskuil in die skaduwee van sy hoedrand, 'n reg-op stompie van 'n man, gehul in 'n groen-verskote swart, mensalleen op die wye, sonlig-oorgolfde veld” (bls. 10). Wie so gevoelig kan waarneem, is in staat om perspektief aan sy roman te gee. En teen die einde van die boek (bls. 382), wanneer Antonie sy plaas moet verlaat, kry ons weer 'n pragtige stukkie natuurvisie, as vanself gegroei uit die organiese verband van die geheel. „Dis 'n pragtige wintermore. Regs van hom kyk hy af oor die sloot en die kerkhoffie tot daar waar in die donker verte Jacob se saailande lê, nou vir die oog verberg onder die mistige newelwaas wat daar van die dam se kant af uitwasem. En hier reg voor hom uit lê sy eie rantveld, rooiswart van die droogte, met die droë, kaal bossies so hier en daar in donker kolle teen die hange.” Dit is baie mooi gesien, maar deur nog intenser inlewing was dit moontlik dat die simboliese los en natuurlik sou opgegroei het, nie alleen uit hierdie siening nie, maar uit die konsepsie-as-geheel. Dan sou die boek vir ons simbool geword het van worstelende boere, wat neergedruk word deur die onafwendbare lot, belangrik in hulle eie oë met hul dade van dag-vir-dag, met hul byna dierlike beskerming van die bietjie wat aan hulle behoort, maar ten slotte nietige stippeltjies afgeteken teen die oneindige van die hemel en veld, met die grafstene van die klein kerkhoffie wit bo die donker aarde... (107)
Maar dit is miskien nog te veel geëis van 'n Afrikaanse skrywer. Ons het nog nie die rustige sintetiese krag ontwikkel om die dinge strak uit te beeld en die simboliese soos die wonder van die ewigheid daaragter te laat opskemer nie.
Afwerking van 'n Gedig
[edit]Poësie help ons om die innerlikste bewegings van die samelewing, die beskouings en standpunte van elke geslag duidelik te begryp. Die digter moet intens die gees van sy tyd aanvoel, die ligste trilling daarvan probeer vat in die ritme van sy gedig. By die uiterlike, die verbygaande kan hy stilstaan om die verborge stem daaragter te beluister, want die „lewe” word eers poësie in ons as ons dit van sy tydelike ontdoen en die blywende daarin erken. Altyd as ons die lewe in ons voel as ewig en noodsaaklik dan is die poësie in ons, sê Albert Verwey. Hoe ons die ewige, soos ons daarvan bewus geword het, sal vertolk, sal afhang van ons temperament en dikwels ook van faktore wat saamhang met ons tydkompleks. Byna elke geslag digters het 'n neiging om iets eie in die openbaring van hul gevoelslewe te bring. Dit swewe in die atmosfeer van die letterkunde. Daarom dan ook dat sekere motiewe, uitdrukkingswyses, vormlikhede, telkens terugkeer. Aan die „gees” van die tyd ontsnap niemand nie, hoe hy hom nou ook al daarteen versit.
Na die Tweede Vryheidsoorlog was die oorlogsmotief op die voorgrond en die digters se uiting van die smart hang saam met die opgaan van hul hele persoonlikheid in 'n breër stroom van volkslyding. 'n Tegniek wat noodwendig verbonde is aan indiwidualistiese gevoelsuiting, wyk meer op die agtergrond - die sonnet bly feitlik afwesig - en die openbaringsvorm lê nader aan die volksritme, die maklik beweegbare.
Langsamerhand het die groot gebeurtenis in ons volkslewe op die agtergrond geraak en die digters begin al meer hul persoonlike aandoening uit te sing. Digters soos Jan Cilliers, Totius, Leipoldt en Malherbe het tot 'n mate by die volk bekend geword, al is dit dan maar net deur middel van enkele gedigte. Baie van hierdie digters se mooiste werk is onbekend, miskien omdat dit nog nie deur mode en eksamens skerp genoeg onder die aandag gebring is nie. Na hulle het jonger digters soos Toon van den Heever, J.R.L. van Bruggen, Theo. Wassenaar en A.D. Keet probeer om 'n nuwe geluid te bring deur baie aandag aan die eie persoonlike belewing te gee.
Die oorlogsmotief is dood en dit wil lyk of daarmee die poësie as geheel innerlik ook 'n rukkie kwyn. A.G. Visser (108) bring 'n klein opflikkering, maar sy werk is nog heeltemal in die gees van die digters met wie hy nog saam skoolgegaan het. Dit is volkspoësie in die goeie betekenis van die woord.
In die toekoms lê daar vir die Afrikaanse digter net een weg oop: hy moet soek na innerlike verdieping, na fyne uitkristallisering van gedagtes, na teerder gevoelsverklanking. Ons kan dit nie ontken nie dat daar in ons poësie oor die algemeen te veel lukrake skrywery was. Hier doem 'n beeld, daar 'n visie voor die digter op en instede van met steeds dieper ingrawende noukeurigheid na die enig-juiste te strewe, dans die pen oor die papier en die gedig verhuis na 'n tydskrif. Noukeurige afwerking in hierdie opsig beteken nog nie verstandelike regvylery nie. Ons weet hoe Staring gearbei het aan sy werk, hoe Gezelle, wat tot by uitnemendheid 'n gevoelsdigter was, op later leeftyd met angsvalligheid gesoek het na die „juiste” in alle opsig, sodat die handskrifte van dié gedigte soos „slagvelde” lyk.
Mocke se digterpersoonlikheid
[edit]In byna al sy gedigte is Mocke met sy innerlike belewing besig. Sy aanleg is deur-en-deur liries. As hy na die wêreld daarbuite kyk, is dit maar alleen om sy weemoedige stemminge daarin te lees, want weemoed is die grondtrek van sy werk. As digter neig hy oor na die idealistiese. Hy hou van die goue romantiese vreugde, die idilliese rus wat iewers buite die skerpkantige werklikheid lê, inderdaad maar net in die weekheid van sy drome bestaan. Hierdie droomwêreld kom egter in voortdurende stryd met die werklikheidswêreld, en dit veroorsaak 'n tweespalt by die digter wat hom telkens terugdryf na die weemoedige mymering. Sy weemoed as digter vloei grotendeels daaruit voort dat hy die lewenswerklikheid nie vertrou nie, dat droom en daad nog nie gehuwenik is nie. Immers, eers dan ontstaan ewewigtigheid van aanskouing wat die dinge in hul juiste verhoudinge optower en hulle kan laat verrein tot ewigheidsgestaltes. Dat Mocke nog in die newels wandel en nie altyd die omtrekke van die landskap duidelik kan sien nie, gee dikwels aanleiding dat hy wolkig, vaag-juis is in sy uitdrukking en dat die woorde soms eerder sy bedoeling versper as verduidelik.
Ons Afrikaanse digters het lank geveg met hul woordmateriaal om sover te kom dat die woorde die deursigtige wondere van die sielelewe word. Hoe vlakker iemand van gevoel is, hoe meer hy praat. Hoe dieper sy gevoel reik, hoe swygsamer hy word. Daarom was die grootste digters die grootste (109) swygers. Ons kan nie genoeg nadruk daarop lê dat 'n digter die taal moet deurskou van alle kante as hy nie alleen groot „woordkunstenaar” wil word nie, maar ook digter in die diepste betekenis van die woord. Daarom die mooi woorde van Donker: „Woorden zijn niet meer dan symbolen, onnauwkeurige signalen meestal. Maar in de poëzie zijn de woorden zoo bijna geheel gelijkgekleurd en gelijkgeaard als de dingen en gemoedstoestanden, dat zij nauwelijks meer symbolen zijn, ze niet meer aanduiden of weergeven maar voortzetten in de taal.
„In de poëzie is de taal niet langer een abstractie, maar als het ware een andere materialisering van het waargenome en ondervondene.”
As ons Mocke se gedigte sorgvuldig lees dan is dit duidelik dat hy nog van die woordskuim moet afroom as hy sy siening waterhelder vir ons wil maak. Mocke se lewensbeskouing is nog nie heeltemal gevorm nie, 'n digterstem het hom nog nie volledig en suiwer losgemaak in hierdie werk nie. Sy talent sal deur oefening en ervaring gaandeweg die oorbodige wegskuiwe en net die essensiële gee.
Van Melle as digter
[edit]Van Melle is, soos reeds geblyk het uit sy roman, 'n ernstige lewensbeskouing toegedaan. Hy is die soeker en twyfelaar wat die lewe se grondwaarhede langs die weg van die godsdiens wil benader. Hy is nie die haastige lirikus, wie se verse spontaan vloei nie; hy is die rustige betragter, wat veral delf in die herinnering en weemoedig vra na die verbysterende in die lewe: die troostelose gevangene wat daarbuite 'n blom sien bloei; die diep fluisterende windgeruis in die bos; die skoolseun wat deur die venster van die skoollokaal na die vlugtende voorjaarswolke kyk; die eensame, mymerende ou vrou, wat daarbuite die geruis van die lewe hoor en vergeefs wag op troos teen „levens ongeheelde kwaad”; die wagtende siel, wat versomber is deur 'n sondelas, en hoop op die komende gerug van 'n blyer, mooier lewe. Van Melle voel hom aangetrokke tot die verhalende vers, wat in wese tog liries is en waardeur hy net die verskillende kante van sy ervaringslewe kan objektiveer.
Hy veroorloof hom graag metriese vryheid in die bou van sy strofes. Ons kan dit alleen toejuig, want daar is niks ver- veliger as die doodse gestamp van die rymvorme nie, waar geen verbisondering van gedagte-inhoud en melodie die meganiese skema red nie. Maar wie uit hierdie skema tree - die oorgelewerde (110) gelewerde vers-ervaring van eeue - moet 'n onfeilbare ritmiese vers-instink hê, as mens dit so mag uitdruk, om die natuurlike vloei-wydte van die reëls aan te voel en die rimpeling van die ritmiese gevoel so suiwer te gee, dat die leser dit natuurlik naleef en ervaar as suiwer. Ek meen dat ek in sommige gedigte van Van Melle 'n ritmiese onvastheid, 'n onsekerheid verneem wat bewys dat die stroom van sy aandoening nie sy natuurlike grense binne die taalplastiek gevind het nie. Juis waar die digter buite die metriese vastheid tree, moet sy ritmiese ervaring noukeurig uitvloei in die taalritme en versmelodie. Dit is die toets vir die geoefende kunstenaar, wat tot die fynste modulasie in klankwaardes instaat moet wees.
Die wese van die roman.
[edit]Alle kuns moet benader word van die standpunt: die ek teenoor die wêreld. As die mens gebore word, tree hy 'n groot chaos van stof tegemoet en hoe meer hy ontwikkel, hoe wyer sy ervaringsveld uitgroei, des te meer vorm kom daar in die stof wat hom omring. Duideliker gesê: die groeiende persoonlikheid skep sy inhoud uit die stof, en die verskillende stylsoorte, letterkundige strominge berus op 'n spanning tussen die ek en die omringende wêreld. As die skrywer hom kan versoen met die lewe, dan kan sy styl weemoedig, humoristies wees al na gelang van die gevoelsverhouding; as hy in botsing is met die wêreldorde, dan kan die spanningsaard tragies, satiries of verbitterd wees. So kry ons in die kuns dan die twee groot pole: die subjektiewe is die kunstenaar se self, sy ervaringslewe, sy waardewêreld. Alles saam is sy lewensbeskouing. Daarteenoor staan die groot onbegrensde, objektiewe wêreld van die stof. Uit die paring van subjektiewe en objektiewe ontstaan die kunswerk met eie, karakteristieke vorm.
In die kunstenaar se lewensbeskouing wortel al sy idees en die stof bestaan weer uit tallose motiewe. Die stof in die kunswerk is die konkreet-algemene b.v. 'n klomp arbeiders wat saamwerk; die motief is onderdeel daarvan, b.v. 'n arbeider wat seergekry het. Maar die motief, die stof is dood en onvrugbaar sonder die skeppende omvorming van die wêreldbeskouing, die indiwidualisering van die stof, die idee-deurdringing van die motief. Die idee self in die kuns is liggaamloos, en wanneer dit nie deur die motief tot lewende gestalte omgeskep word nie, kan dit maklik verval tot lewenslose tendens. Wanneer die idee die motief so deurdring dat die kunswerk organies-geheel daaruit opgroei, dan is die kunswerk in styl, konsepsie, vorm voldrae. Gebeur dit nie, dan kry ons allerhande (111) foute, soos ondeurleefde karaktertekening, karakters wat net spreekbuise is van idees, uiterlike natuurbeskrywing wat nie ingegroei is in die geheel nie, vervelende onderdele en 'n onbevredigende oplossing.
As ons sien hoe organies-fyn die twee inmekaar weef, dan is dit duidelik dat daar nie so iets is as die kies van 'n stof of motief nie. Elke kunstenaar vind sy stof deur liefdevolle kennis en intuitiewe ervaring. 'n Motief wat by die genie van een skrywer pas, deug glad nie vir 'n ander nie, en omdat die stof magneties die idee aantrek, daarom kry ons ook dinamiek van die idee, wat wel die kragtigste werking in enige kunswerk is. Dit skep die totale stemming en atmosfeer en bewerk die innerlike noodwendigheid van 'n kunswerk. Daarom is daar nie so iets dat 'n sekere vorm by 'n inhoud „pas” nie. Deur die wedersydse magnetisme en ineensmelting ontstaan die organiese eenheid van die twee wat hom openbaar as eenheid van styl, wel die hoogste wat die skrywer kan bereik.
Die wese van die roman word bepaal deur die skrywer se houding teenoor die wêreld. Wil hy 'n objektiewe uitbeelding van sy ervaring gee, dan gaan sy eie persoonlike, ekkerige gevoel op die agtergrond, versink hy in sy stof om dit so te indiwidualiseer tot 'n gestalte wat die tekens van sy eie ervaring dra. Kan hy sy eie ek goed in die skepping laat opgaan, dan ontstaan 'n oortuigende objektiwiteit wat so seer die karakter van die groot roman is, maar nog so dikwels in die meeste Afrikaanse werke ontbreek. Die roman met sy breedopgesette bouplan maak gebruik van meer as een motief wat opgeneem word in die emosionele stuwing van 'n sentrale konsepsie. Die kortverhaal en novelle word meestal beperk tot een, hoogstens twee motiewe. Is daar disharmonie tussen die motiewe en die omvang van die werk, dan is dit duidelik dat die vormlewe van die kuns aangerand is. 'n Motief met die saamvloeiende idee moet spontaan die natuurlike omvang-grense ontdek. Baie kortverhale verskyn daar wat romans moes gewees het en andersom, en die fout is altyd tuis te bring op dieselfde: gebrek aan in- en deurlewing van die stof. Vir die skepping van goeie romans is geen „korrespondensie-kursus-raad” te gee nie; elke kunstenaar ontdek die natuurlike grense van sy genie, sy besondere vorm.
Idee en motief in Afrikaanse Romans.
[edit]Daar word dikwels in Suid-Afrika gekla oor die Nederlandse roman se geduldige omslagtigheid, die trapsuutjiesmetode (112) van ontleding en samevatting. En dit is juis so eienaardig dat waar die Hollandse skrywer, meestal skryfster, veral sondig aan die kant van 'n „te veel” wat detailwerk betref, die Afrikaanse skrywers, meestal skryfsters, gemaksugtig en oppervlakkig met 'n paar gemoedelike reëltjies oor belangrike sielkundige verwikkelinge heenstap en die ingewikkelde lewensproses tot 'n aardige skematjie vereenvoudig. Ons praat van die sielkundige ontleding, omdat dit skyn of baie van ons Afrikaanse skryfsters en aankomende skryfsters hulle aangetrokke voel om die liefdes- en huweliksprobleem uit te beeld, en hier is die aanvoeling en weergawe van sielstoestande tog van die allergrootste belang. In die meeste gevalle ontbreek die rustige deursettingskrag egter. Pakkende motiewe word behandel, maar wat beteken 'n mooi motief (elke koerant lewer vir ons 'n aantal aangrypendes!) sonder die besielende idee wat omvorm, wat eie gestalte gee en 'n eie wêreldbeeld laat skyn deur die vormlewe. Geen sintetiese opbou van 'n kunswerk sonder innerlike konsentrasie nie; geen stofbelewing sonder gloedvolle idee-deurdringing nie, geen realisme sonder temperament nie. Maar ook: geen suiwer opgeboude werk sonder arbeid, deursettingsvermoë nie. Om aan 'n realistiese roman 'n goed volgehoue ontwikkelingslyn te gee, daarvoor is nodig 'n gloedvolle deurlewing van die hele stof met al die motiewe daaraan verbonde, en 'n rustelose werkkrag wat dit alles laat uitgroei in simboliese taal.
Die Hollandse binnenshuis-roman word gekenmerk deur die omslagtige indringing. Dit pas seker by die Hollandse volksaard, maar dit is nog vér te verkies bokant die vlotte, papiervullende geskryf, vol openinge en hiate, wat ons so dikwels in Suid-Afrika kry. Voordat ons nie die essensiële in styl en stofbehandeling kan waardeer nie, sou dit ook noodlottig wees om tot die „saaklikheid” van die allerjongste Nederlandse roman oor te gaan. Die liriek en kritiek (die letterkundige essay) het in Holland sedert 1880 merkwaardige hoogtes bereik. Die roman het ontwikkel van enge naturalisme na 'n ruimer realisme, wat veral die maatskaplike lewe omvadem (die huislike lewe in die stad, die boerelewe, die sielkunde van die kind).
Maar die jongste geslag prosaskrywers in Nederland het moeg begin word vir die draderige ontleedkuns en die voorbeeld van die nuwere prosa in ander Wes-Europese lande probeer navolg. Nou nie meer die realisme wat na haarklowery lyk nie, maar die essensiële detail, soos ons dit kry in die beste moderne rolprente. (113)
Dat die jongste romanskrywers egter baie deur die mat geval het met hul proefnemings, moet ons dadelik erken as ons na sommige van hul pogings kyk. 'n Gemaakte effekbejag, stompstert woorde en sinne, koddige beelde spook deur baie bladsye. Maar dan is daar ook die geslaagde proefnemings, soos in die werk van Maurits Dekker, Johan Fabricius, Constant van Wessem, Den Doolaard, Albert Kuyle en De Vries. Ons kan nie juis sê dat hulle 'n omvangryke aantal meesterwerke geskep het nie, maar 'n nuwe, lewendige prosa, wat so nou in verband staan met die onrustige geesteslewe van ná die oorlog, het hulle seker gegee, al is dit nog baie fragmentaries, en dit kan tot 'n belangrike prosavernuwing lei as dit op maatvolle, subtiele wyse ontwikkel word. (114)