Afrikaner-Volkseenheid/Spioene en Lokvinke

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Ondergrondse Aktiwiteite Afrikaner-Volkseenheid
Spioene en Lokvinke
deur D. F. Malan
Die Sogenaamde ,,Duitse Dokumente”


Suid-Afrika het veral tydens die oorlogsperiode veelbewoë tye deurgemaak. Die verskil tussen die voorstanders van deelname aan hierdie, en by implikasie dan ook aan enige oorlog, waarin Engeland betrokke was, of sou wees, en dié wat neutraliteit bepleit het, was diep en heftig. En die teenoormekaar staande lande van Europa het vanselfsprekend belang daarby gehad. Ons land was daarom 'n aangewese terrein vir spioene en lokvinke. Dat ook ek as leier op een of ander wyse met hul te doen sou kry, was daarom onvermydelik. Tussen die twee het ek geen verskil gemaak nie, en dit het ek ook nie nodig geag nie. Vir iedereen immers was my pad duidelik, of moes dit ook so wees. Ek was teen ons deelname aan die oorlog, maar waar deur parlementsbesluit, ten goede of ten kwade, daar daartoe besluit was, het ek my daarby neergelê, en enige daad van militêre aard in stryd daarmee het ek dan ook as verraad beskou. Waar ek my ondervindings hier boekstaaf, is dit daarom alleen van historiese belang vir dié wat daarin belangstel as deel van die gebeurtenisse van daardie tyd.
Op 'n seker dag meld 'n onbekende persoon - of hy ’n spioen of 'n lokvink was laat ek daar - hom by my aan. Hy het voorgegee om in diens van die Duitse regering te wees. Hy deel my toe mee dat Duitsland van plan was - vermoedelik met die oog op 'n opstand - om wapens en ammunisie in Suid-Afrika te land. Aangesien die beoogde doel nou sou saamhang met die gesindheid van die binnelandse bevolking, wou hy van my weet waar die mees geskikte plek daarvoor sou wees - aan die weste- of aan die oostekant van, sê maar, Mosselbaai. Met so 'n saak egter wou ek begryplikerwys my nie inlaat nie. Maar ek noem dit hier omdat die nasleep interessant was. Die betrokke persoon, wat hy owerigens ook al mag gewees het, was blykbaar geen lokvink nie, altans nie willens en wetens nie. Hy het uiteindelik hom bevind in Londen, en wel in die tronk, van waaruit hy deur die Britse Regering later oorgelewer is aan die Nederlandse Regering wat hom, vir 'n tyd lank altans, gevange gehou het. Volgens sy skriftelike verhaal daarna aan my moes hy in die Londense gevangenis 'n sel deel met 'n ander persoon, wat voorgegee het om ook 'n gevangene te wees, maar wat blykbaar daarop uit was om alle moontlike inligting van hom te verkry, wat bedoel was om sekere persone in Suid-Afrika, veral O.B.-leiers en Nasionale Party-voormanne te inkrimineer. Na sy loslating het hy 'n brief aan my geskrywe, waarin hy sy verdere ondervindings aan my meegedeel het, maar waarin hy veral ook my nederig om vergiffenis gevra het vir sy poging om my in 'n strik te lei. In wie se diens hy op daardie tyd werklik was, bly vir my nog altyd 'n onopgeloste raaisel. Al wat ek nou nog op ontwyfelbare gesag kan sê, is dat daar werklik 'n strik vir my gespan was. Die res moet owerigens nog maar oorgelaat word aan die verbeelding van die leser, net soos van myself.