Jump to content

Afrikaner-Volkseenheid/Die Sogenaamde ,,Duitse Dokumente”

From Wikisource
Spioene en Lokvinke Afrikaner-Volkseenheid
Die Sogenaamde ,,Duitse Dokumente”
deur D. F. Malan
Die Denk-episode


Die einde van die Tweede Wêreld-oorlog het gekom deur die val van Berlyn en sy inbesitneming deur die Geallieerde troepe. Beslag is daar toe gelê op belangrike dokumente rakende die geskiedkundige verloop van sake in ons eie land. Onder die titel van ,,Die Duitse Dokumente” is dit toe eers oorhandig aan genl. Smuts, wat toe Eerste Minister was, en daarna aan my, wat hom opgevolg het. Na ek behoorlik van die inhoud kennis geneem het, het ek dit, soos ook te verwag was, toevertrou aan ons staatsargief te Pretoria, waar volgens die gewone reël, dit eers na 'n seker aantal jare vir die algemene publiek toeganklik gestel sal word. Die tyd is nog nie verstreke nie. Waar ek van die inhoud nou gebruik maak, sal ek dit daarom doen met die nodige diskresie, en waar wenslik, ook met die weglating van sekere bepaalde name.
Soos reeds gemeld, was daar vanuit Suid-Afrika kontak met oorlogvoerende Duitsland. Dit het geskied oor ons Noordoostelike grens en via Lourenco Marques, en die Duitse Konsulgeneraal daar. 'n Sekere handelsfirma daar was ook vir dieselfde doel beskikbaar.
Die Duitse dokumente openbaar o.a. die volgende: 'n Vooraanstaande O.B.-lid in Kaapstad stuur langs die gewone O.B.-kanale berig na die Noorde omtrent die aanwesigheid en bewegings van skepe in Tafelbaai. Daardie informasie gaan dan oor die grens na Lourenco Marques en van daar per radio na Berlyn, van waar die Duitse duikbote om ons kuste dan hul orders ontvang. Talle skepe is so gekelder geword.

In O.B.-kringe self het dit ook nie altyd so broederlik toegegaan nie. Teen die Nasionale Party en sy leiers het hul wel 'n verenigde front getoon, en het hul Zeesen (die Duitse radio) versoek om sekere O.B.-leiers met propaganda aktief te steun teen die erkende N.P.-leiers, soos dit dan ook gebeur het. In die O.B.-kringe was daar egter heelwat onderlinge suspisie en tweedrag, en selfs ook nog veel erger. Die doodskiet van Lotter een aand voor sy eie deur in die omgewing van Pretoria deur iemand uit 'n daarna wegjagende motor was maar een voorbeeld uit meer. Wie die moordenaar was, het ek uit die dokumente later te wete gekom. Bandeloosheid het in sommige kringe so toegeneem dat een tamelik vooraanstaande O.B.-leier, vresende vir sy lewe, van die inwendige gebeurtenisse 'n volledige geskiedenis geskrywe het, en dit in die muur van 'n vriend se woonhuis laat inmessel het, waar dit op aanwysing van daardie vriend self later ook gevind is. Dat dit alles, en nog meer, eenvoudig maar net op rekening van die O.B. as organisasie gesit kon of moet word, wil ek vir geen oomblik beweer nie. Maar die gevaar daarvoor was tog altyd daar met 'n organisasie soos die O.B., wat op militêre lees geskoei was, en in die hande van één enkele persoon was, aan niemand anders verantwoordelik nie, en daarby die natuurlike produk van die Nasionaal-sosialistiese gesagstaat-idee. Dat heel aan die begin by sy stigting ek daaraan my seën kon gee, maar alleen onder die uitdruklike voorwaarde dat hul van enige geweldpleging of ondergrondse of ondermynende aktiwiteite hul sou onthou, was daarom alleen verstaanbaar. Die Cradock-ooreenkoms waarin daardie eis gestel was, was nodig. Die gegewe erewoord het ongelukkig egter geblyk geen genoegsame en veilige waarborg te wees nie. Maar tog as party in 'n plegtige kontrak het dit my die reg gegee om op te tree as dit geskend sou word, soos ek ongelukkig dan ook moes doen.
Die ondergrondse kommunikasies tussen Suid-Afrika en oorlogvoerende Duitsland is in Berlyn getrou aangeteken en bewaar, en as die sogenaamde ,,Duitse Dokumente” aan die end van die oorlog deur die Geallieerdes aan die Unie-regering oorhandig. Dit is buitengewoon volledig. Geen boodskap daarheen of terug is blykbaar uitgelaat nie. Die prentjie is kompleet, en is ook so tot beskikking gestel van die Smuts-regering hier met Harry Lawrence as Minister van Binnelandse Sake, en soos gewoonlik het my vriend Harry hom nie onbetuig gelaat nie. Maar hoe? Ook so kenmerkend! Van al die belangrike gegewens in die ,,Duitse dokumente” soos ek hier later sal meedeel, het hy aan die Volksraad niks te vertel gehad nie, behalwe één, en, met sy oog triomfantelik op die voorste Opposisiebank gerig, het hy daarmee dan ook te voorskyn gekom. Ek sou dan agteraf en op my eie, met die vyand onderhandelings gehad het. Ek sou met ander woorde sedisie gepleeg het by wyse van 'n onderhoud met 'n afgesant van die Duitse regering, te wete mev. Denk van Suidwes-Afrika. Dit was klaarblyklik 'n beskuldiging van die allerernstigste aard, wat ek vir geen oomblik daar kon laat nie. Ek het daarom onmiddellik opgestaan en 'n parlementêre Gekose Komitee geëis om die saak te ondersoek, getuienis in te win, en daaromtrent te rapporteer. Dit kon natuurlik nie geweier word nie. Dis toegestaan. Die Gekose Komitee se rapport met die gedrukte getuienis daarby, is toe as 'n parlementêre dokument beskikbaar gestel. Genoeg vir my om hier te sê dat Harry Lawrence, wat nog altyd 'n vriend van my is, daar stelselmatig nooit enige melding van maak nie, en klaarblyklik ook nie daarvan hou dat enigiemand anders, en ek self allermins, hom daaraan herinner nie. Ek in ieder geval het hom lank reeds alles broederlik vergewe en blykbaar waardeer hy dit.