Afrikaner-Volkseenheid/Hereniging of Vereniging

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die Kongresse se Besluit Afrikaner-Volkseenheid
Hereniging of Vereniging
deur D. F. Malan
Die Nuwe Partybasis


Na die De Aar-kongres het die fundamentele verskil tussen die twee teenoorgestelde standpunte 'n meer konkrete vorm aangeneem. Die Smelters, op voetspoor van generaal Smuts en Hertzog, was vir ,,vereniging”, dit wil sê ten gunste van die samesmelting van die twee groot politieke partye as sodanig, ten spyte van die feit dat diepgaande politieke verskille geopenbaar was en nog onveranderd bly voortbestaan het. Die Nasionaliste, daarteenoor, was vir ,,hereniging”, dit wil sê ten gunste van eenwording op die grondslag van gemeenskaplike politieke oortuigings en beginsels. Albei was vir volkseenheid as 'n ideaal, maar die een wou dit verkry deur die tot stand bring van 'n uiterlike, kunsmatige samevoeging, en die ander deur die opbou van 'n innerlike, maar dan ook meer egte en standhoudende eenheid, op persoonlike sowel as gemeenskaplike oortuiging gegrond. By die volgende Kaaplandse Kongres op 5 Oktober 1933 in Port Elizabeth, het dit op hierdie punt tot 'n kragmeting gekom waarby met 140 stemme teen 30 ’n besluit geneem is ten gunste van ,,hereniging” en teen samesmelting. Genl. Hertzog het hierdie kongres ook bygewoon en toegespreek, maar was klaarblyklik nie op sy gemak nie. Die ontwikkelende prinsipiële verskil tussen die twee seksies in die Nasionale Party het daar 'n hele ent verder gevorder. Elf dae daarna is die posisie ook nog vererger deur 'n verklaring van genl. Hertzog, naamlik dat hy bereid was om saam te smelt, selfs al sou maar net 'n deel van die Nasionale party bereid wees om hom daarin te volg. Hy sou met ander woorde selfs skeuring nie ontsien nie. Soos dit later geblyk het, het hierdie verklaring in 'n skrille teenstelling gestaan met genl. Smuts s'n ten opsigte van sy volgelinge, te wete dat hy vir samesmelting, hoe gewens dit andersins ook al mag wees, geensins te vinde sou wees as sy oud-Unioniste buite gelaat sou word nie.
In ieder geval het die Kaaplandse N.P.-hoofbestuur op sy beurt nou weer verklaar dat hy met geen partyreëlings iets te doen wou hê waar die hele N.P. hom nie mee kon vereenselwig nie. Ter wille van 'n nuwe, kunsmatige eenheid met 'n ander party was hy nie bereid om sy eie, aaneengeslote party te skeur nie.