Afrikaner-Volkseenheid/Die Kongresse se Besluit

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
My Manifes Afrikaner-Volkseenheid
Die Kongresse se Besluit
deur D. F. Malan
Hereniging of Vereniging


Daar die Party op 'n federale basis ingerig was, en die hoogste gesag daarom in ieder geval by die betrokke provinsiale kongres berus het, moes elke provinsie nou vir homself oordeel. Met aansienlike meerderhede, en op voetspoor in ieder geval van die provinsiale leier, het Transvaal, die Vrystaat en Natal die koalisie toe aanvaar. Die minderhede het hulle onmiddellik afgeskei in besliste anti-koalisie-groepe. Die eintlike stryd het egter plaasgevind in Kaapland, waar die anti-koalisiekragte die sterkste was. Die eerste kongres, en wel die Kaaplandse, wat spesiaal daartoe opgeroep was om te beslis, is op 15 Maart 1933 gehou op De Aar. Genl. Hertzog met etlike van sy sterkste luitenante uit die ander provinsies was persoonlik ook daar om sy saak te stel, en ook agteraf propaganda te maak. Ek was ook daar as Kaaplandse leier om die teenoorgestelde kant te bepleit. Die Generaal het niks minder geëis nie as goedkeuring van die koalisie. Met my uiteensetting daarteenoor het hy ongeduldig geword, en onmiddellik verklaar dat die vergadering nou maar moes kies tussen hom en my. Die poging om die stryd op persoonlike grondslag te voer, was blykbaar verkeerde taktiek aan sy kant, wat 'n mate van onstuimigheid veroorsaak het, maar gelukkig sonder wanordelikheid. Dit het egter die Generaal se saak nie bevorder nie. Die besluit, wat met vrywel eenparige stemme toe aangeneem is, het as volg gelui, en is deur myself voorgestel:
,,Hierdie Kongres, hoewel hy nie sy goedkeuring aan koalisie as sodanig uitspreek nie, lê hom egter neer by die ooreenkoms, soos getref tussen generaals Hertzog en Smuts, en verwag dat die Nasionaliste van Kaapland die saamwerkende regering in goeie trou sal ondersteun, solank as wat die saamwerkende regering die Nasionale Party-beginsels handhaaf, beskerm en behou.
,,Die Kongres spreek sy volle vertroue uit in genl. Hertzog as hoofleier en dr. Malan as provinsiale leier van die Nasionale Party.”
Ter wille van die behoud van ons N.P.-eenheid het Kaapland hom dus by die koalisie neergelê, maar nie onvoorwaardelik nie. Skeuring is so toe voorkom, maar die Nasionale Party-beginsels moes die grondslag bly.