Jump to content

Afrikaner-Volkseenheid/Ernstige Begripsverwarrings

From Wikisource
Negentienhonderd Ses-en-twintig Afrikaner-Volkseenheid
Ernstige Begripsverwarrings
deur D. F. Malan
Die Statebond


Die Lloyd George-verklaring omtrent ons volle selfbeskikkingsreg was niks minder nie as die toekenning aan ons van al die magte van 'n vrye, onafhanklike land. Beide deur die Britse en die Suid-Afrikaanse parlement is daarop hul stempel van goedkeuring afgedruk. Dit was egter op sigself niks meer as bloot ’n magstoekenning nie. Die uitoefening daarvan was in ons eie hande. Of ons 'n republiek wou word of by ons bestaande status en konneksies wou bly, of enigiets anders wou word, was nou ons eie saak en vrye keuse - geen ander land het, sonder ons eie toestemming, daar iets mee te doen gehad nie. Lloyd George kon daaromtrent nooit duideliker gewees het as hy was nie.

Dat in sulke omstandighede die kwessie van 'n republiek op die voorgrond moes tree, was daarom nie alleen vanselfsprekend nie, maar was selfs onvermydelik. Wat die grootste gedeelte van ons blanke bevolking betref, die Engelssprekendes nie uitgesluit nie, sit die vryheidsliefde in hul bloed, want van sy agtergrond kan geen volk hom ooit heeltemal losmaak nie. Tagtig jaar lank het die één seksie se Nederlandse voorouers onophoudelik ’n vryheidstryd volgehou teen Spanje, wat toe die magtigste volk in Europa was, en ten slotte het hulle oorwin, terwyl die voorouers van dié van Hugenote-afkoms weer vir 'n vryheid wat nog dieper wortels gehad het, selfs die brandstapel verag en getrotseer het. In Suid-Afrika self het hulle as Voortrekkers om die vryheid hul eie woongebied prysgegee, die woeste en moorddadige barbaredom die hoof gebied, republieke gestig en opgebou, en toe dit van buite bedreig en aangeval is, dit tot die dood en verwoesting toe verdedig. Die Engelssprekendes aan hul kant weer is afgestam van 'n dergelike vryheidliewende volk wat nie alleen daarop geroem het dat Britte nimmer, nimmer self slawe sal wees nie, maar wat vryheid ook so geredelik aan hul eie onderhoriges toegestaan het as geen ander opperheerskappyvoerende volk dit ooit gedoen het nie. Met minder as volle onafhanklikheid kon nòg hulle nòg hul afstammelinge ooit tevrede wees. Gepaard hiermee was daar natuurlik ook ander faktore wat selfs sonder die hulp van enige propaganda '’n magtige invloed ten gunste van 'n republiek moes uitoefen, en wat, na ek glo, uiteindelik ook onweerstaanbaar sal blyk te wees. Dis slegs 'n kwessie van tyd, geduld en staatsmanskap. 'n Groot en ryk land, ver verwyderd van die bakermat van sy bevolking en van die setel van die moederlike opperheerskappy waaronder hy nog staan, moet selfstandig word en staatkundig ook afskei, tensy sy groeiende eie nasieskap verdwerg bly, of selfs in sy dop versmoor. So byvoorbeeld was daar in die geval van die Verenigde State 'n innerlike noodsaaklikheid, deur sy omstandighede geskep, wat sy geskiedenis bepaal het. Met of sonder George Washington sou hy in ieder geval 'n vrye en onafhanklike republiek geword het. So, glo ek, sal dit ook in die geval van Suid- Afrika wees.

Afgesien hiervan pas 'n instelling soos dié van die koningskap in Suid-Afrika stellig nie. As hoof moet die Koning één wees met sy volk, moet hy hulle ken en deur hulle geken word, en moet hy lief en leed met hulle deel. In 'n land soos Engeland pas die instelling uitstekend, en met die geesdrif wat dit wek, versterk dit geweldig die volkstrots en die volkseenheid. Met 'n hoof sesduisend myl ver verwyder, en wat hoogstens een maal in 'n leeftyd in persoonlike kontak kan kom met die volk waaroor hy regeer, is die posisie egter anders. Hoof en liggaam is in daardie geval vreemdes vir mekaar. Die koningskap soos dit ten opsigte van Suid-Afrika nou bestaan, pas wel by die koloniale status. By 'n vrye en soewerein onafhanklike land soos Suid-Afrika, pas die republiek.

Oor die algemeen was daar onder republikeinsgesindes ten opsigte van ons toekomsbeleid geen fundamentele meningsverskille nie, ook nie in Kaapland nie, waar die Afrikaners nie, soos in die gewese republieke, 'n republikeinse agtergrond gehad het nie. Aan hul eenheidsgevoel met hul republikeinse volksgenote in die donker dae van die Tweede Vryheidsoorlog kon daar nooit vertwyfel word nie, getuie die duisende wat as rebelle by die Boerekommando's aangesluit het, die 33 wat almal soos Jopie Fouries gesterf het, (het hul volk hulle vergeet?) en die talle wat met die vredesluiting onbeskerm gelaat was en vir veiligheid en moontlik ook vir hul lewe die vlug moes neem na die woestyngebied oorkant die Oranjerivier. Wat republikeinse gevoel betref, was daar daarom ook nooit enige verskil tussen die Kaaplandse Afrikaners en hul noordelike volks- en taalgenote nie. Toe hulle in hul eie Nasionale Party- afdeling daarom oor die aanname van die republikeinse doelstelling moes besluit, was hulle eenparig en geesdriftig.

Die wanbegrippe wat daar ongelukkig ontstaan het, maar wat gelukkig betyds verwyder is voordat dit te ver gegaan het, was in verband met die selfbeskikkingsreg, wat ons toe alreeds, ook kragtens internasionale erkenning, besit het, en in verband met die draagkrag en plek wat dit in ons republikeinse strewe moes inneem. Die eerste het dit hom geopenbaar in die Nasionale Party se Federale Raad, wat in 1935 vergader het om in die lig van die nuwe konstitusionele ontwikkelings die Party se Program van Beginsels te hersien. My konsep, wat toe ook aangeneem is, het ons republikeinse doelstelling onomwonde aanvaar, maar het dit laat voorafgaan deur die beklemtoning van ons selfbeskikkingsreg as 'n vrye en onafhanklike volk. Waar dit nie meer betwis kon word nie, sou dit dan ook ons beste beskerming wees teen inmenging van buite. Ons onafhanklikheid gee ons, met ander woorde, die volste reg om op ons eie tyd en wyse 'n republiek te verklaar. Dis nie die republiek wat aan ons ons onafhanklikheid gee nie, maar omgekeerd. Strydom wou met hierdie sienswyse egter nie saamgaan nie en het gestem teen my formulering, wat aangeneem is, en wat as volg gelui het en in ons Program van Beginsels vandag nog so staan:

1. ,,Die Party grond hom op die ondubbelsinnige erkenning dat Suid-Afrika volgens wet 'n soewerein onafhanklike staat is, en dat hy daarom alle regte besit en op eie gesag alle staatsfunksies mag uitoefen wat deur daardie uitdrukking in sy volle internasionale betekenis aangedui word.
2. Hy onderneem om hierdie onafhanklikheid getrou te handhaaf, om enige vertolking, rigting, optrede of politiek wat daarmee in stryd is, of daarop inbreuk maak, met alle geoorloofde middele te bestry, en om alle nog bestaande konstitusionele ongerymdhede te verwyder.
3. Die Party erken onomwonde die reg van die volk om te eniger tyd, as hy dit in die belang van die land ag, sy regeringsvorm langs konstitusionele weg te verander.
4. Die Party is daarvan oortuig dat die republikeinse staatsvorm, afgeskei van die Britse Kroon, hom die beste aanpas by die tradisies, omstandighede en aspirasies van die Suid- Afrikaanse volk, en daarom sal hy die republikeinse ideaal beskerm en hom beywer om 'n republiek in Suid-Afrika tot stand te bring.’’

So sterk het die Transvaalse leier hieroor gevoel dat hy kort daarna 'n brief aan my rig om my mee te deel dat daar ,,geen die minste kans bestaan dat die Transvaalse Nasionale Party die Program van Beginsels van die Federale Raad sal aanneem nie’’. Toe die genoemde kongres daarna bymekaarkom, het dit ook geblyk die geval te wees. Hy het die bogenoemde formulering verwerp en sy eie, wat 'n blote beklemtoning van ons republikeinse strewe was, in die plek daarvan gestel. Maar hy het nog verder gegaan. Hy het besluit dat hierdie resolusie van hom nie verander mag word anders as met 'n twee-derde-meerderheid van die kongres nie.
Hierdie besluit het 'n ernstige situasie in die lewe geroep. So het ek dit beskou, en daarby ook besef dat, tensy dit dadelik en met 'n vaste hand gehanteer word, noodlottige gevolge vir die Party daaruit moes voortvloei. Aangesien dergelike neigings hom van tyd tot tyd weer geopenbaar het of verder hom ook nog mag openbaar, laat ek my antwoord aan Strydom hierop volg:

,,Amice,
Dit spyt my diep om uit jou brief van 2 September l.l. te verneem dat daar ,geen die minste kans bestaan dat die Transvaalse N.P. die Program van Beginsels van die Federale Raad sal aanneem nie’. As dit so is, dan is ons ongelukkig vlak voor ’n krisis binnekant ons eie geledere, en dit in die aangesig van ons politieke opponente, en dan mag ons weer vernietig sien alles wat ons met soveel stryd en opoffering opnuut opgebou het.

,,Ek dink dat die Transvaalse metode volstrek onverdedigbaar is. Dit staan in skerpe kontras tot die metode wat die regte is, en wat ons hier in Kaapland konsekwent gevolg het. Hoewel ons die enige afdeling van die Nasionale Party was wat ons party-organisasie ongeskonde bewaar het, en hoewel ons in die bekende korrespondensie met Hertzog reeds die republikeinse ideaal en vrye propaganda daarvoor spesiaal onder ons beskerming geneem het, het ons tog op ons Somerset-Wes-kongres geweier om die Party as geheel voor ’n voldonge feit te plaas. Inteendeel, ons het getrou die weg gevolg wat ons ook vroeër van Hertzog geëis het. Ons het naamlik die masjinerie wat die Party self vir die behartiging van sy federale belange daargestel het, behoorlik in ag geneem en geëer. Ons wou niks besluit wat die Party as geheel sou bind sonder voorafgaande raadpleging in en deur die Federale Raad nie.

,,In Transvaal is daar ongelukkig anders gehandel. Wel wetende dat die Federale Raad bymekaar sou kom om die Program van Beginsels op te stel, en terwyl 'n Kommissie van die Raad reeds daarmee besig was, het die Hoofbestuur daar ’n eie program gaan opstel, dit deur die Transvaalse Kongres laat goedkeur, en daarby selfs laat bepaal dat dit nie verander mag word anders as met 'n twee-derde-meerderheid van die Kongres nie. Boweop is die hande van die afgevaardigdes na die Federale Raad ook nog deur hul Hoofbestuur gebind. Met ander woorde die houding is opgeneem dat die Nasionale Party in sy geheel die weg moet volg en selfs die presiese bewoording moet aanneem, wat één Provinsie sonder voorafgaande raadpleging met die ander aanwys, of anders gaan daar geen samewerking en geen algemene Nasionale Party wees nie. En nou kom dit nog daarby dat die Hoofbestuur die Federale Raad se aanbevelings verwerp, ’n ander formulering in die plek daarvan stel, en hierdie feite dan wêreldkundig maak voordat een enkel ander afdeling van die Nasionale Party, of selfs 'n enkel ander hoofbestuur, in kennis daarvan gestel geword is.

,,Ek stel, dink ek, die posisie volkome korrek.
,,Nou eers wat myself betref. Jy weet dat ek altyd bereid was en nog is om baie ver te gaan ter wille van eenheid en samewerking. So alleen, voel ek, kan jy 'n party bymekaarhou en ’n volk opbou. Ek vrees dat hierdie eenheidsbesef by my selfs só prominent is dat dit ander wat vir die eenheid van ons Afrikanervolk bitter min omgee, soms aanmoedig om dit vir hul eie doeleindes te probeer eksploiteer. Maar jy weet ook dat ek juis as gevolg van daardie selfde eenheidsbesef my aangesig altyd gesit het, en nog sit, teen provinsialisme in enige vorm, en dat ek separatisme beskou as net so ’n gevaarlike vyand van die nasionalisme as die imperialisme of kapitalisme.
,,Solank as ek hoofleier bly, sal ek my daarom ten ene male versit teen die veronagsaming van ons partymasjinerie of teen eiehandige optree of teen skokmetodes. Dis ondemokraties. Dis ’n gevaar vir die reg van die afsonderlike provinsies en bereken om ons Nasionale Party innerlik te verdeel en op te breek. Vir geoorloofde verskille op non-fundamentele vraagstukke is ons Party-konstitusie trouens rekbaar genoeg.

,,Sover as dit die Kaaplandse deel van ons Nasionale party betref, is daar duidelik waar te neem 'n groeiende ongeduld met die metodes wat ek hier aangedui het. Ek het al ernstig daarmee te doen gehad, en ons sal versigtig moet wees. Sover as ek kan oordeel, sal ons Kongres aanstaande week die Federale Raad se Program van Beginsels aanneem. Ons Hoofbestuur was op sy laaste vergadering baie beslis en volkome eenstemmig. Ek glo ook nie dat daar enige moontlikheid bestaan om die formulering van die onafhanklikheidsbeginsel opnuut weer op die lange baan te skuiwe nie. Dit sou alleen bereken wees om meer verwarring te skep en om direk in die hande van die vyand te speel. Die Nasionale Party is ten slotte nie alleen 'n organisasie om die volksideale en die volkswil te vertolk nie, maar dis ook 'n leër wat die stryd moet voer met één wil en één plan. Ons kan nie in aparte leërs opbreek wat onafhanklik van mekaar veg nie, en ons kan nie gedurig op ons eie spore heen en weer loop nie. Ons is dan gedoem.

,,As daar, soos voorgegee word, geen prinsipiële verskil tussen die Transvaalse Party en die Federale Raad bestaan nie, kan ek al hierdie moeilikheid oor die formulering nie verstaan nie. Dit skyn my egter of daar wel deeglik ’n prinsipiële verskil besig is om te ontwikkel, en as dit so is, dan mag dit uiteindelik blyk onoorbrugbaar te wees, tensy dit tydig uit die weg geruim word. Die Federale Raad wil klaarblyklik en openlik die konstitusionele weg na 'n republiek volg deur gebruikmaking van ons soewerein onafhanklike regte. Op daardie pad lê die verwydering van al die bekende en nog bestaande ongerymdhede, die verdwerging en moontlike algehele uitskakeling van die Imperiale Konferensies, die ontwikkeling van 'n eie onafhanklike buitelandse beleid, die nasionalisering van die noodsaaklike institusie van 'n staatshoof, en gepaar daarmee dan ook die afskaffing van die koningskap. Op daardie pad, as jy effektief wil optree, mag jy jou soewereine regte nie kleineer nie, maar moet jy daarop aanspraak maak in al die volheid van hul betekenis. Dis die weg wat Ierland volg en dis die konsekwente voortsetting van die weg wat die Nasionale Party in sy beste dae nog altyd gevolg het.

,,Die Transvaalse Party skyn die ander weg te wil volg van ons soewereine regte te wil verkleineer, en ons onafhanklikheid te wil ontken. Daaruit volg logies dat die republiek verkry moet word ten spyte van die feit dat ons die konstitusionele reg daartoe nie besit nie, met ander woorde langs die weg van revolusie. Dit beteken verder die erkenning van ’n nog altyd bestaande Britse of ander Ryksgesag oor ons. Daarin 1ê ook opgeslote die verwerping van ons hele Nasionale Party-beleid van die laaste twintig jaar.

,,As hierdie weg die regte moes wees, dan was dr. De Wet ook heeltemal reg toe hy oorspronklik, net soos Hertzog, die Nasionale Party beskryf het as uitgedien en verrot, en dit daarom vernietig wou sien. Dan is hy ook nou weer reg om, blykens sy brief in die ,,Republikein’’, die Transvaalse Party heeltemal 'n ander naam te wil gee. Logies behoort hy egter nog verder te gaan, en saam met Smuts en sy Unioniste te sê dat die Kroon nie gedeel (of deelbaar) is nie, en dat ons derhalwe nòg die reg van afskeiding nòg die reg van neutraliteit besit.

,,Die N.P.-kongresse sal tussen hierdie twee wee moet kies, en ek dink dat uitstel ons daarin nie kan help nie.
,,Oor hierdie sake het ek uitvoerig en openhartig aan jou geskrywe in die hoop dat dit sal help om die posisie op te klaar. As ek my miskien onhandig uitgedruk het, moet jy my dit maar vergewe. Alleen deur openhartigheid en wedersydse vertroue tussen die leiers en deur die gewilligheid van almal om hulle volle verantwoordelikheid op hul te neem, kan die Nasionale Party oor sy moeilikhede heen gehelp word, en tot die oorwin- ning gelei word.

Ná vriendelike groete,

Die uwe,

D. F. Malan.’’

Hieruit blyk dit genoegsaam dat die standpunt wat Strydom en sy Transvaalse Kongres in daardie tyd ingeneem het, presies dieselfde was as dié van genl. Smuts, te wete dat Suid-Afrika ’n volkome onderhorige land is en daarom geen konstitusionele vryheid of reg het om oor sy eie lot te beslis nie. Daarmee is dan ook die geldigheid ontken van Lloyd George se versekering aan die Onafhanklikheidsdeputasie in 1919, sowel as dié van die Britse parlement self deur die Statuut van Westminster, en van ons eie Parlement by die aanvaarding daarvan deur middel van ons eie Statuswet.
Gelukkig was my brief aan Strydom effektief met die gevolg dat die Transvaalse N.P.-kongres die volgende jaar die Federale Raad se formulering met eenparige stemme aanvaar het, wat hy die vorige jaar eers verwerp het. Die krisis wat gedreig het, was nou verby.