Afrikaner-Volkseenheid/Die Statebond

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Ernstige Begripsverwarrings Afrikaner-Volkseenheid
Die Statebond
deur D. F. Malan
Die Kroon


Die ontwikkeling van die Unie van Suid-Afrika tot 'n soewerein onafhanklike land kan niemand verstaan sonder dat hy behoorlik in ag neem die plek wat die Statebond daarby ingeneem het nie. Suid-Afrika het opgegroei in en tesame met 'n bepaalde gemeenskap. Soos lede van 'n familie het die Statebondslede, verskillend van mekaar soos hulle in baie opsigte ook al mag wees, in dieselfde kring beland, en deel hulle daarom in grote mate ook dieselfde lotgevalle. Dit op sigself skep aan alle kante 'n gevoel van samehorigheid wat samewerking vergemaklik. Maar wat belangriker is, is die feit dat met uitsondering van Engeland, almal van hulle in mindere of meerdere mate nog besig is, of was, om die proses van volle nasiewording deur te maak. As sodanig moes elkeen van hulle, tesame met sy samehorigheidsgevoel, ook ontwikkel en beklemtoon dit wat spesifiek sy eie is. Hul gemeenskapsgevoel moet met ander woorde verenigbaar wees met hul groeiende nasionalisme. Met uitsondering van die voorgenoemde een, naamlik Engeland, was al agt tans bestaande Statebondslande tevore kolonies, dit wil sê onderhorige gebiede wat besig was om deur innerlike drang en deur hul gesamentlike, sowel as deur hul individuele krag, op te klim tot die posisie van soewerein onafhanklike state. Hul probleme in hierdie opsig was daarom dieselfde en hul oplossing daarvan gemeenskaplik.

Wat genl. Hertzog in 1926 by die destyds sogenoemde Imperiale Konferensie verkry het, naamlik volkome gelykheid in status tussen die selfregerende kolonies en Engeland, tesame met die Statuut van Westminster, wat daarop gevolg het, was van toepassing op en met die medewerking verkry van al die ander lede van die Statebond. Die eerste voorwaartse stap wat hierop gevolg het, was dat die benaming ,,Britse Ryk’’ opgehou het om van toepassing te wees op die Statebondslande. Dis beperk geword tot die Verenigde Koninkryk en sy kolonies. Suid-Afrika, tesame met die ander dominiums, sou voortaan dus nie meer tot die Britse Ryk behoort nie. Van die Britse Ryk is ons nou in werklikheid, sowel as in naam dan ook afgeskei.

Die tweede voorwaartse stap is gedoen in 1949, en uit die oogpunt van ons republikeinse strewe was dit, met uitsondering van die besluite van 1926, verreweg die belangrikste, en as die destydse Eerste Minister en leier van die Nasionale Party was ek bly om dit te kon bywoon en om daaraan deel te neem. Die Statebondskonferensie van daardie jaar was byeengeroep spesiaal om oor één vraag te beslis, te wete of daar voldoen kon word aan die versoek van Indië om tot die Statebond te bly behoort ten spyte van die feit dat hy in ieder geval nou ’n republiek sou gaan word. Die vraag was 'n gewigtige en sy implikasies verreikend, nie alleen omdat dit tot ’n voorbeeld vir ander Statebondslede kon strek nie, maar ook en veral omdat dit die posisie sou raak van die Kroon. Die Kroon, immers, was volgens die Statuut van Westminster die onmisbare vereiste van daardie ,,common allegiance’’, wat self ook weer aangedui was as die eenheidsband tussen die wydverspreide lede van die Statebond. Tot die verrassing van almal is geen moeilikheid daarmee ondervind nie. Indië se versoek is eenparig toegestaan. Wat meer sê, toe Pakistan onmiddellik daarna vra of dieselfde vergunning in dergelike omstandighede ook aan hom toegestaan sou word, was die antwoord onmiddellik:

,,Ja, stellig, want om dit aan Pakistan of aan enige ander lid van die Statebond daarna te weier, sou onlogies wees.’’
So is dit toe genotuleer, en so is dit ook uitgevoer. Met hierdie besluit is die basis van die Statebond breër gemaak om ook republieke in te sluit, en gevolglik is vandag behalwe Indië ook die twee nuwe republieke van Pakistan en Ceylon ingesluit, en vir ander wat mag volg, is die deur wyd ope gemaak.

Soos ek so-ewe aangemerk het, was die implikasies hiervan verreikend - in die algemeen, maar meer besonderlik ook vir Suid-Afrika. Vir ons het dit niks minder beteken nie as die begin van ’n belangrike nuwe hoofstuk in ons politieke geskiedenis. As ons in die toekoms sou besluit om ’n vrye republiek te word, sou die Statebond ons nie meer daaroor in die ban kon doen nie. By voorbaat, immers, het hy ons al verseker dat hy dit nie sal doen nie. Inteendeel, tensy ons selfanders verkies, bly ons, ook as republiek, binnekant die Statebond, en hoef ons nie langer, soos Indië moes doen, verlof daarvoor te kom vra nie. Tensy ons self daaruit tree, bly ons lid van die Statebond. Vir ons as republikeinsgesindes was die grootste voordeel egter nog daarin geleë dat baie teenstanders in ons eie land voortaan baie gewilliger sou wees om hulle met ons republikeinse doelstelling te vereenselwig, noudat hulle weet dat dit nie isolasie sal beteken nie, en veral ook dat ons vriendskaplike betrekkinge met die ander Statebondslande nie daardeur verbreek sal word nie. So sal ons baie gouer ons republiek kry, en stellig ook baie meer met die goeie wil en samewerking van albei seksies van ons blanke bevolking.

My verslag aan die Parlement onmiddellik ná my terugkoms van die statebondskonferensie is goed ontvang. Strydom het egter die geleentheid waargeneem om te verklaar dat hy met geen republiek genoeë sal neem wat nie, soos dié van Ierland, buitekant die Statebond sal staan nie. Dat dit dadelik ’n opskudding moes verwek, was begryplik, en dat daar in ons eie geledere verwarring sou ontstaan, was ook alleen te verwag. Verskuiwings na die twee teenoormekaar gestelde kante het dan ook dadelik begin, en by die meer onverantwoordelikes is selfs die verklaring gehoor van: ,,Ons wil geen ,Koelie’-republiek hê nie.’’ Daar moes dadelik gehandel word, en ons het ook. Die formule wat ek as oplossing voor die Partykoukus gelê het, was as volg:

,,1. Ons verklaar opnuut ons gehegtheid aan ons republikeinse partybeleid, soos dit neergelê is in ons Program van Beginsels, insluitende die voorwaardes en prosedures daarin vervat.
,,2. Ons aanvaar ten volle die standpunt dat Suid-Afrika ’n soewerein onafhanklike land is, en dat hy derhalwe alle funksies mag uitoefen en alles mag doen waartoe enig ander sodanige staat in die volle internasionale betekenis van die woord die reg besit.
,,3. Eweneens aanvaar ons die standpunt dat Suid-Afrika hierdie status besit en sodanige reg mag uitoefen, ongeag of hy al 'n republiek is of nie, en ongeag of hy nog ’n lid is van die Statebond of nie.
,,4. In die lig van die Londense Verklaring van 1949 en die gevolglike verandering van die struktuur van die Statebond self, beskou ons die verklaring van Suid-Afrika tot ’n republiek en sy uittree uit die Statebond as twee afsonderlike vrae wat nie op dieselfde tyd beantwoord behoef te word nie, en dat oor die laaste van hierdie twee daar op enige bepaalde tydstip geoordeel en beslis moet word uitsluitend met die oog op die dan heersende omstandighede, sowel as op Suid-Afrika se belang en op sy posisie in die internasionale wêreld."

Hierdie uiteensetting van ons posisie is eenparig goedgekeur, en ook Strydom het hom daarby neergelê. Daarmee was die strydpunt opgelos, en die dreigende krisis verby. Ons bly met ander woorde dus binnekant die Statebond, tensy Suid-Afrika se belang te eniger tyd dit van ons mag vereis om daaruit te tree – ’n reg wat in enige omstandighede ongeskonde bly.
Ek mag hieraan toevoeg dat die Statebond 'n bloot adviserende liggaam is wat hom op generlei wyse met die inwendige sake van enigeen van sy lede mag bemoei nie, en dat sy besprekings beperk word tot sake van gemeenskaplike belang, meer besonderlik in verband met die algemene wêreldsituasie. Dat genl. Smuts dit wou gebruik tot bevordering van sy rykseenheids- en superstaat-idee, ly geen twyfel nie. Só aangewend kon dit beslis vir ons ’n gevaar word. Aan die ander kant moet egter ook erken word dat, mits teen daardie gevaar behoorlik gewaak word, die Statebond 'n kragtige middel kon wees en was om die pad vir ons oop te maak na ons huidige posisie van ’n vrye en soewerein onafhanklike volk. Dis dáár waar genl. Hertzog verkry het die erkenning van die gelykheid in status van alle ledestate, onder andere Engeland self, en gepaar daarmee ook hul eie beheer oor hul uitwendige sowel as oor hul inwendige sake. Dis dáár waar die Britse Ryk, waartoe Suid-Afrika met 'n destydse koloniale status behoort het, omgeskep is in 'n vrye gemeenskap van onafhanklike susterstate. En dis ook dáár waar sy poorte wyd oopgegooi is, nie slegs vir gebiede onder die Kroon nie, maar ook vir republieke. By dit alles het die soewereiniteit van elke individuele ledestaat onaangetas gebly.