Afrikaner-Volkseenheid/Die Oorlog Breek Uit en Hereniging is Daar

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die N.P. Bly Voortbestaan Afrikaner-Volkseenheid
Die Oorlog Breek Uit en Hereniging is Daar
deur D. F. Malan
Generaal Hertzog en Ek Verklaar


Op 3 September 1939, om een-uur namiddag, is daar oorlog tussen Engeland en Duitsland verklaar. Dit was nie onverwags nie. My mede-Nasionaliste en ek het daarom ons optrede en beleid vir so 'n geval klaar oorweeg gehad en die eerste stappe tot uitvoering daarvan was al gedoen. Van my huis, te wete Brandwag in Seepunt, het ek aan die Eerste Minister die volgende brief geskrywe:

Seer geagte Generaal,

Môre of oormôre sal u u gewigtige verklaring in die Parlement maak oor Suid-Afrika se houding in die Europese oorlog.
Wat die inhoud daarvan sal wees, weet ek nie, maar as dit sal beteken dat Suid-Afrika in daardie oorlog ingetrek sal word, al is dit ook maar indirek of geleidelik, sal dit tot gevolg hê dat die Europese rasse in ons land vir baie jare uitmekaar gehou en verder uitmekaar gedryf sal word, en dat die alreeds bestaande verdeeldheid tussen ons Afrikaanssprekendes dieper bitterder, en miskien geheel onherstelbaar gemaak sal word.
Vir jare het u en ek albei ondubbelsinnig die standpunt ingeneem dat Suid-Afrika die reg het om hom in 'n internasionale sin neutraal te verklaar, wat die posisie van Engeland of ander Vrygeweste ook al mag wees. Ek wil u op hierdie kritieke tydstip in ons volksgeskiedenis in bedenking gee of met die oog op die aard en die omstandighede van die oorsese stryd, sowel as met die oog op ons Suid-Afrikaanse belange, dit nie ons dure plig is om daardie reg nou ook prakties uit te oefen nie.
Met die oog op die verdeelde menings in ons land besef ek goed wat 'n verklaarde beleid van neutraliteit vir u as Leier moet beteken, en hoe die oorweging hiervan vir u nie onverskillig kan wees nie.
Eenparig daarin gesteun deur my party-koukus het ek u daarom alreeds 1.1. Saterdag die skriftelike versekering gegee dat as u 'n beleid van neutraliteit aanvaar, u op ons heelhartige ondersteuning sal kan reken.
Waar ek u nogmaals nader met die ernstige versoek om langs die weg van 'n gesamentlike poging Suid-Afrika onsydig te hou, daar wil ek daarby nou ook nog dit voeg, dat as ons die versekering van u verkry, waarop ons hoop, die weg myns insiens geopen sal wees vir vrugbare besprekings oor die moontlikheid van 'n wyere samewerking op vaste grondslag, wat deur die Eeufees-jaar geopenbaar geword is as die diepste verlange van ons volk.
As u dit wenslik ag om verder met my op hierdie saak in te gaan, sal ek my graag te eniger tyd tot u beskikking stel.

Hoogagtend die Uwe,
D. F. Malan

Hierdie brief het die gewenste uitwerking gehad. Die volgende aand, terwyl 'n aantal Parlementslede by my aan huis besig was om met my die posisie te bespreek, word ek van Groote Schuur af per telefoon opgelui met 'n boodskap van genl. Hertzog dat hy sy motor stuur om my daarheen te bring. Die opgewondenheid onder my geselskap was groot en was begryplik, en niemand wou weggaan voor my terugkoms nie. Groot dinge was nou blykbaar besig om te gebeur. Dit was ook so. Met my terugkeer kon ek meedeel dat ek ontvang was deur genl. Hertzog met etlike van sy ministers, onder andere Havenga, Pirow, Fagan en Fourie, dat hulle my meegedeel het dat die Koalisie-kabinet klaar uitmekaar gespat het, met genl. Hertzog aan die een en genl. Smuts aan die ander kant, en dat genl. Hertzog die volgende dag die Volksraad sou vra om sy neutraliteitsbeleid goed te keur. Soos dit daarna geblyk het, het genl. Hertzog die Goewerneur-generaal (sir Patrick Duncan) gevra om die Volksraad te ontbind ten einde hom in staat te stel om 'n beroep op die land te doen, maar dat hy geweier het en hom verwys het na die Parlement, wat toe net in sitting was. Met 'n minimum van tyd tussenin het dit toe ook gebeur. Dwarsdeur die nag was daar koorsagtige bedrywigheid en is daar gewerf en op lede druk uitgeoefen. Vir genl. Hertzog was die uitslag van die verdeling noodlottig. Hy het met 'n meerderheid van 13 teen hom verloor, wat beteken het dat sy Smelters, vir wie hy soveel opgeoffer het, hom op ’n kritieke tydstip in die steek gelaat het. Sy bewering dat by Samesmelting hulle ,,bekeer” was, het nou geblyk ongegrond te gewees het. Vanselfsprekend moes hy nou as Eerste Minister bedank. Sy enigste troos was nou die geweldige reaksie van die volk in sy guns, en die aanskoulike bewys daarvan, naamlik dat ook daardie deel van sy ou Nasionaliste wat oor Samesmelting met hom verskil het, hulle geredelik weer met hom versoen het. Sy vertrek na die Noorde was 'n triomftog, en feitlik sonder voorafgaande organisasie is hy ingewag en geesdriftig verwelkom op Monumentkoppie by Pretoria deur ’n reuse-skare van 70,000.

Die vraag is geopper, en tereg ook, of die Goewerneur-generaal nie onkonstitusioneel gehandel het deur die versoek van sy Eerste Minister om die Parlement te ontbind, te weier nie. So het ek self en my mede-Nasionaliste in die algemeen ook gedink, en ons was selfs bereid om die Goewerneur-generaal openlik oor sy handelwyse aan te val. Genl. Hertzog het ons egter weerhou. Die loop van sake, soos ek later alle rede gehad het om te glo, was egter dit: Toe genl. Hertzog die vraag van ontbinding met hom bespreek, het die Goewerneur-generaal hom daarop gewys dat hy (genl. Hertzog) homself voor die volk alreeds diep gekompromitteer het. Deur die leier van die Opposisie (ek self) is op publieke vergaderings gedurig daarop aangedring dat hy in hierdie tyd van dreigende oorlog die volk in sy vertroue moet neem en moet verklaar wat Suid-Afrika se posisie gaan wees as Engeland ook daarin betrokke sou wees. Sy antwoord was toe deurgaans ontwykend deur te sê ,,die Parlement sal besluit”. Wel, ,,die Parlement is nou in sessie”, só was die Goewerneur-generaal se finale antwoord, en ,,indien gewens, kan sy besluit reeds môre (Maandag) verkry word.”
Genl. Smuts as 'n staatsman en 'n konstitusionele regsgeleerde het oor hierdie kwessie later ook sy sienswyse gegee. Dis interessant, en daarom gee ek dit hier weer. Volgens sy verklaring moes genl. Hertzog, om sy doel te bereik, die volgende weg gevolg het: Nadat die verskil tussen hom en die Generaal ontstaan en onoorbrugbaar geblyk het te wees, moes genl. Hertzog sy bestaande Kabinet ontbind het deur self te bedank. Daarna moes hy dit weer hervorm het, maar met uitlating van homself (genl. Smuts). Daardie kabinetskrisis sou hom dan die reg op 'n ontbinding gegee het, en die Goewerneur-generaal sou dit dan nie kon geweier het nie. Wel, daar was nou geen ontbinding nie, en wat die uitslag daarvan sou gewees het, bly daarom vandag nog 'n raaisel.
Die oorlog was daar, en dit op sigself was 'n ramp. Maar daarteenoor was daar ook 'n gejuig, omdat dit weer bymekaar gebring het wat op politieke gebied deur innerlike oortuiging bymekaar tuis hoort. Hereniging, al was dit dan ook langs daardie weg, was uiteindelik tog daar. Dit was 'n groot gebeurtenis.
Aan ons innerlike gevoel het ek in die pers uiting gegee op die volgende wyse:
,,Suid-Afrika is opnuut besig om geskiedenis te maak. Dis nie ons deelname aan die Europese oorlog wat ek bedoel nie. Daardie oorlog is veraf en vreemd, en word gevoer om ander belange as ons s'n. En só betreklik nietig sal selfs ons allergrootste bydrae wees tot die beslissing daarvan dat dit in twintig jaar tyd begrawe sal wees en vergeet.
,,Maar uit daardie oorlogsverklaring is daar as 'n Godsdaad iets van blywende betekenis gebore. Dis die bymekaar bring van alle Nasionaalvoelende elemente in Suid-Afrika, of anders uitgedruk, die politieke eenwording van die Afrikanerdom.
,,Die ware, innerlike betekenis van hereniging blyk die beste daaruit, dat dit nie die vrug is van toevallige omstandighede of van politieke manipulasie nie, maar dat dit uit die volk gebore is. Agter daardie daad lê daar 'n diepe sielsverlange van 'n geskeurde, verlamde en vernederde volk. Bewys daarvan was nie alleen die Eeufeesjaar nie, maar ook die welsprekende feit dat selfs te midde van stryd die Afrikanerdom sy verlore eenheid nie kon vergeet nie. Dit het gedurig opgedoem as 'n verwyt uit 'n groot verlede of as 'n soete droom van die dag wat nog sal kom. Geen wonder daarom dat uiteindelik die nuutgebore hoop die wanhoop moes verdrywe en magteloosheid plek moes maak vir die Afrikanerdom se vasberade wil. Hereniging moes kom. En omdat hy moes kom, het hy ook vir goed gekom.
,,Suid-Afrika se tragedie is nie dat hy groot, ingewikkelde of onoplosbare vraagstukke het nie. Sy tragedie is dat hy dit so dikwels probeer oplos het - te laat ! Maar waarom te laat ? Om geen ander rede nie as dat die Afrikanerdom dit keer op keer toelaat dat sy nasionale kragte verbrokkel en gebreek word deur die politieke spel van sluwe teenstanders.
,,Hereniging is die samevoeging en die nuwe besieling van daardie verbroke kragte. Dis die wederopstanding van die Afrikanerdom. Hereniging kan en sal ook nou beteken die end van Imperialistiese oorheersing en uitbuiting, die veiligmaking van Suid-Afrika vir ons blanke ras en beskawing; die omskepping van ons land in 'n ware vaderland en 'n tehuis vir sy eie kinders, en die weiering om dit langer 'n toevlugsoord en 'n jagterrein te laat wees vir vreemdes en uitbuiters. Hereniging sal beteken die onmiddellike aanwending van alle beskikbare middels om nou eenmaal 'n end te maak aan daardie groot, dreigende armeblanke-vraagstuk in stad en op boereplaas wat in hierdie ryk land van ons ons nog altyd met vermoeide oë aanstaar as 'n ewige verwyt.
,,Maar hereniging kan en moet ook uit die aard van die saak oneindig verder gaan, omdat dit self ontsaglik meer beteken as 'n blote, sentimentele opwelling. Dit staan vir ons eie Suid-Afrikaanse nasieskap sonder dubbele sentimente of lojaliteite, vir die selfrespek en nasietrots en aspirasies van 'n volk wat nie gaan rus voordat hy sy hoogste bestemming sal bereik het nie. Dit vertolk die Afrikanerdom se siel. Hy moet daarom sy oog konstant gerig hou op daardie dag wat alleen vir Suid-Afrika se hele bevolking veiligheid en waaragtige, blywende eenheid sal bring. Dis die dag wanneer Imperialistiese oorwegings Suid-Afrika nie meer in Britse oorloë sal trek nie, wanneer vreemde belange sal ophou om - soos in die laaste honderd jaar - ras teen ras op te sweep en Afrikaner teen Afrikaner in die harnas te ja; wanneer daar alleen sal oorbly die saambindende, onweerstaanbare krag van 'n eie, enige, gemeenskaplike vaderlandsliefde - één volk, één vaderland, één burgerskap, één vlag, één volkslied, één onverdeelde trou en liefde, één volkome, onbetwisbare en eie vryheid. Dis die dag van 'n vrye, onafhanklike, Suid-Afrikaanse republiek, afgeskei van die Britse Kroon !
,,Hereniging vra die volle toewyding van u hart en u kragte !
,,Suid-Afrika het u nodig!”