Afrikaner-Volkseenheid/Die N.P. Bly Voortbestaan
←Die Nuwe Partybasis | Afrikaner-Volkseenheid Die N.P. Bly Voortbestaan deur D. F. Malan |
Die Oorlog Breek Uit en Hereniging is Daar→ |
Op 25 Julie 1934 het die volgende, en daarby ook die gewigtigste, stap gevolg. Die Kaaplandse Nasionale Party, wat nou deurgaans die leiding geneem het, het op Somerset-Wes vergader.
Tussen die Smelter- en die anti-Smelterkant is daar toe opnuut, maar nou dan ook finaal, slag gelewer. Aan die Smelterkant was minister Fourie die hoofverteenwoordiger en
kampvegter. Bv die verdeling aan die end was die uitslag vir die Smelterkant verpletterend. Met 'n meerderheid van 164 teen 18 het die kongres besluit teen Samesmelting en ten gunste van die voortbestaan van die Nasionale Party, ten
minste in Kaapland. Kaapland het dus nooit gesmelt nie. Die minderhede in die ander provinsies het hulle hiermee vereenselwig, met die gevolg dat, hoewel verswak, die Nasionale Party oor die hele Unie weer in sy vorige gedaante en organisasie uit sy verbroke toestand herrys het. Soseer was dit die geval dat hulle in die Parlement daarna, hoewel slegs 19 in getal, as die offisiële opposisie kon fungeer, en as sodanig deur
die Speaker erken is.
Die N.P.-opposisie was klein, maar hy het beslis geskiedenis gemaak. Met 'n beleid, duidelik verklaar, en op suiwere Suid-Afrikaanse Nasionale beginsels gegrond, het hy geweet wat hy wou hê en het hy met moed en krag die stryd gevoer. Hy het in sy saak geglo. Algemeen het die gedagte dan ook posgevat, by vriend sowel as by vyand, dat dit die beste opposisie was wat die Parlement ooit geken het. Hierby moet ek egter voeg dat geen innerlik verdeelde party, soos daar toe op die regeringsbanke gesit het, die aanslae van 'n aaneengeslote, doelbewuste en vaderlandsliewende opposisie sou kon weerstaan het nie. Van die 19 was 14 uit Kaapland, 4 uit die Vrystaat en 1 uit Transvaal.
Intussen het die Nasionale Party stadig maar seker in krag toegeneem, soos sy verteenwoordiging in die Volksraad deur die twee agtereenvolgende verkiesingsuitslae bewys het. In 1933, dit wil sê onmiddellik ná Samesmelting was die getal gekose Nasionaliste maar 20 teenoor 117 vir die Verenigde Party. In 1938 was dit 27 teenoor 111. En in die volgende jaar het 'n gebeurtenis plaasgevind wat as met 'n towerslag die hele politieke situasie radikaal verander het.