Afrikaner-Volkseenheid/Die Krisis-kongres

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die Hertzog-ondersoekkommissie 1940 Afrikaner-Volkseenheid
Die Krisis-kongres
deur D. F. Malan
Ondergrondse Aktiwiteite


,,Dis ons volk se krisis-uur! Staan bymekaar!” Met hierdie woorde het ek my openingstoespraak afgesluit by geleentheid van die hou van een van die belangrikste kongresse in ons Afrikanerdom se hele politieke geskiedenis. Met al sy inwendige woelinge het Suid-Afrika nou op die tweesprong gestaan. Hy moes nou koersvat, en daarmee sou hy dan ook sy eie toekoms bepaal. Daarvoor was die Nasionale Party se Uniale Kongres byeengeroep te Bloemfontein, waartoe ook uitgenodig was, nie alleen die gewone afgevaardigdes nie, maar ook alle Volksraads- en Provinsiale Raadslede van die Nasionale Party.
Die Uniale Krisis-Kongres, wat op 3 Junie 1941 by Bloemfontein vergader het, was byeengeroep deur die Party se Federale Raad en het deurgaans onder my leiding gestaan. Sy doel kon hy klaarblyklik alleen bereik as hy teenoor die voorafgaande ,,monstervergaderings” die gesonde volkstandpunt getrou en moedig sou verklaar, daarby sou handel met die aktiewe ,,Nuwe Orde”-propaganda en terselfdertyd dan ook 'n duidelike en koersvaste toekomsbeleid sou aankondig. Die resolusies wat ek self vooraf opgestel het, is eenparig aangeneem.
Die vroeëre monstervergaderings was min of meer lokaal van aard, en van uitkyk ook stellig lokaal. Die Kongres moes nou spreek namens Suid-Afrika as geheel. In verband met die verhouding tussen die Engels- en Afrikaanssprekende taalgroepe was daardie vergaderings beslis op 'n dwaalweg. Nasionalisme was vir hul nie identies met voluitgeleefde Suid-Afrikaanse vaderlandsliefde nie, maar was inteendeel beperk tot één bepaalde ras met een bepaalde taal. Indien dit deur die Party aanvaar was, sou die ideaal van 'n verenigde Suid-Afrikaanse volk verlore gegaan het en sy politieke lewe ontaard het in 'n nimmer eindigende rassestryd tussen Afrikaans- en Engelssprekendes. Die Kongres het die idee van twee blanke volke in Suid-Afrika verwerp en het gelukkig in die plek daarvan aanvaar die ideaal van een Suid-Afrikaanse volk met twee tale, offisieel op volkome gelyke voet met mekaar.
Die desbetreffende Kongres-resolusie het dan ook as volg gelui:
1. Ons aanvaar ondubbelsinnig die beginsel van gelyke regte vir die taal en kultuur van albei seksies van die blanke bevolking.
2. Ons eis derhalwe vir elke burger in al sy betrekkings tot die staat die vrye en onbelemmerde uitoefening van sy eie taal- en kultuurregte en omgekeerd eis ons ook weer van die Staat dat in al sy betrekkings tot sy burgers hy hom sal bedien van daardie besondere offisiële taal, wat aan iedere indiwiduele burger eie is.
3. Met die oog hierop herhaal die Raad dat die Republiek tot stand gebring kan word, soos neergelê in Art. 12 van die Program van Beginsels, alleen met die getroue inagneming van gelyke taal- en kultuurregte van die twee seksies van die blanke bevolking.
4. Ons erken verder die noodsaaklikheid van 'n breër volks-eenheid, insluitende onder andere die politieke samewerking van Afrikaans- en Engelssprekendes, maar ons is nie bereid om sulke samewerking met enige seksie van die bevolking te soek ten koste van nasionale beginsels en Afrikaner-volksideale nie.
5. Ons verwerp dan ook beslis die sogenaamde 50-50 grondslag in sover as dit die opoffering of die verwatering van sulke nasionale beginsels en volksideale eis, soos byvoorbeeld die instandhouding van die Britse konneksie, die inruiming van 'n plek in ons landsbestuur vir die Engelse vlag, en die Engelse volkslied naas ons eie.
6. Ons maak verder daarop aanspraak dat die Afrikaanssprekende deel van die bevolking, as die skepper en draer van ons eie Suid-Afrikaanse nasieskap, 'n onbetwisbare reg besit, beide op sy eie voortbestaan as volksdeel en op sy besondere eenheid, sonder dat hy daarmee die beskuldiging van ,,rasse-haat” of ,,rasse-politiek” in enige opsig behoef te verdien. In gelyke mate word dieselfde aanspraak ook aan die Engelssprekende seksie ten opsigte van hul taal en kultuur nie ontsê nie.
7. Gevolgelik beskou ons die behoud en bevordering van ons eie Afrikaanssprekende volkseenheid as 'n doel op sigself, sowel as 'n noodsaaklike voorwaarde vir enige gesonde politieke samewerking met ander bevolkingselemente.
In hierdie verklaring is daar ten opsigte van die blanke bevolking die volgende grondbegrippe opgeslote:
a) In Suid-Afrika bestaan daar twee afsonderlike taalgroepe, die Afrikaanse en die Engelse, ieder met sy eie en gelyke bestaans- en erkenningsreg.
b) Tesame vorm hierdie twee elemente maar één volk, met één gelyke burgerreg en met één gelyke trou aan Suid-Afrika as hul eie en gesamentlikc vaderland.
c) Suid-Afrika as volk kan daarom gevoeglik beskryf word as 'n eenheid sowel as 'n tweeheid, dit wil sê as 'n nasionale twee-eenheid.
d) Met hierdie algemene volkstrou is die besondere gehegtheid en trou van iedere afsonderlike taalgroep aan wat meer spesifiek sy eie is, nie onverenigbaar nie. Dit kan en mag op sigself daarom in geen enkel opsig as ,,rassehaat” aangemerk word nie. Egte Suid-Afrikaanse Nasionalisme is in sy wese en karakter nie verdelend nie, maar omvattend en samebindend.
Die Switserse tipe is hier ons beste voorbeeld.
Behalwe die onderlinge verhouding van die twee taalgroepe tot mekaar was daar ook nog ander uiters belangrike aspekte van ons toekomsbeleid, in verband waarmee daar van die Kongres leiding verwag kon word. Daar was 'n wêreldoorlog aan die gang, waarin ook ons eie Suid-Afrika betrokke was, en waar alles in die smeltkroes was. Meer besonderlik het die ,,Nuwe Orde”-propaganda die Party voor 'n keuse gestel, wat hy nie kon ignoreer nie, en veral nie nadat dr. Van Rensburg as hoof van die O.B. en adv. Pirow, albei Nasionaal-sosialiste, blykbaar hul kragte bymekaar gegooi het. Die duidelikste het dit op die vooraand van die Kongres geblyk uit die opsienbarende Elsburg-toespraak van dr. Van Rensburg, waarin hy Pirow onder sy beskerming geneem het, en die Party by voorbaat van ,,ketterjag" beskuldig het. Hierdie feit het dit des te meer noodsaaklik gemaak dat die Party sy toekomsbeleid in duidelike taal moes verklaar. Dit het hy dan ook sonder versuim gedoen, en in die volgende hoofpunte saamgevat:
1. Die Party sal sy onderneming om 'n republiek tot stand te bring, getrou nakom. Dit mag geskied onder gunstige omstandighede, wat daarvoor deur die afloop van die oorlog geskep mag word, maar wat stellig dan ook alleen moontlik sal wees as die Afrikanerdom sal geleer het om by mekaar te staan, en om sy leiers te vertrou. As hierdie weg gesluit bly, sal dit moet geskied langs die enige ander moontlike weg, naamlik dié wat Ierland gevolg het, dit wil sê kragtens sy eie bestaansreg as volk en langs konstitusionele weg.
2. Behalwe op één punt, naamlik die verwerping van die demokrasie en die aanvaarding van die Nasionaal-Sosialistiese stelsel in die plek daarvan, vereis die ,,Nuwe Orde” geen spesiale bespreking met die doel om voorligting en leiding aan die Party te verskaf nie. Met hierdie uitsondering is alles daarin reeds openlik of by implikasie inbegrepe in ons Party se Program van Beginsels en van Aksie, of vloei dit vanselfsprekend voort uit die daadwerklike stigting van 'n republiek, wat die doelwit van die Party se strewe is, of volg dit noodwendig op die val van die Kapitalistiese stelsel, waarop hierdie oorlog moet uitloop, ook in lande waar dit nie alreeds geskied het nie.
Die demokratiese regeringstelsel word egter ook nie sonder meer aanvaar nie. In sy Britse parlementêre gedaante ontbreek dit aan vastheid, en is die lotgevalle van die volk te veel oorgelewer aan toevallige en verbygaande omstandighede. Die Kongres het daarom die voorkeur gegee aan die stelsel van die gewese Boere-republieke. Dit was uit die Suid-Afrikaanse volk self gebore; dit was in volle mate volksverteenwoordigend; dit het indertyd die lof verdien van vooraanstaande staatkundiges in ander beskaafde lande; en met die nodige waarborge teen manipulasie deur die georganiseerde geldmag en pers, kon dit ook die nodige vastheid besit. Behalwe dit het die Suid-Afrikaanse stelsel van volksregering die reg van protes ook nie uitgesluit nie, en waar Geus en Hugenoot en Voortrekker die ruimste gebruik daarvan gemaak het, daar moet erken word dat sonder dit, met ander woorde onder 'n gedwonge éénpartystelsel, daar vandag stellig geen Afrikanervolk sou gewees het nie.
As gevolg van hierdie Kongres het die volk sy verlore ewewig op politieke gebied herwin. Die taalgelykheid, wat vir volksvrede en vir volkseenheid te alle tye, maar veral ook in die heersende onstuimige wêreldtoestande, só essensieel was, is gered geword. Die Nasionaal-Sosialistiese vloedgolf in die res van die wêreld het met die dood van Hitler sy krag verloor.
Die Eenheidskomitee by ons het verval, omdat op die gebied waarop hy hom beweeg het, hy nie meer nodig was nie. Dat daar op 'n ander en uiters belangrike gebied nog altyd 'n ernstige gaping was, het egter spoedig geblyk en wel op baie aanskoulike wyse. In werklikheid was ons begeerde Afrikaner-volkseenheid nou nog verder weg as ooit tevore.