Afrikaner-Volkseenheid/Die Hertzog-ondersoekkommissie 1940

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Daardie Vyftiende Dag van April Afrikaner-Volkseenheid
Die Hertzog-ondersoekkommissie 1940
deur D. F. Malan
Die Krisis-kongres


MY SKRIFTELIKE GETUIENIS[edit]

Aan Prof. J. C. van Rooy,
Potchefstroom,
Voorsitter.

Die Mond,
Hermanus,
17 Desember 1940.

Seer geagte Vriend,
Volgens die persberigte was die onmiddellike oorsaak van die breuk tussen genl. Hertzog en die Vrystaatse Kongres van die H.N.P. of V. die feit dat daar twee programme van beginsels vir goedkeuring voorgelê was, en dat die Kongres toe dié van die Federale Raad as basis van bespreking aangeneem het en nie dié van genl. Hertzog nie.
Ek verstaan verder dat genl. Hertzog sy opposisie teen die Federale Raad se program gebaseer het onder andere op a) sy nie-erkenning van die Agerende Federale Raad handelende in opdrag van die Kongresse, b) sy standpunt dat die Federasie, waartoe daar ooreengekom was, geen gemeenskaplike program van beginsels veronderstel nie, en dat hy daarom as Vrystaatse leier geregtig en verplig was om as sodanig 'n eie Program vir die Vrystaatse Party op te stel, en c) sy bewering dat hy tot hierdie standpunt gedrywe was deur die verbreking van die oorspronklike ooreenkoms tussen hom en my, te wete dat die organisasie van die Herenigde Nasionale Party of V. op Uniale grondslag sou geskied en die in-die-plek-stelling daarvan van 'n beweerde nuwe ooreenkoms, aangegaan op 15 April 1.1., beogende organisasie op federale grondslag soos dit deur hom vertolk word, en d) sy bewering dat oorsaak van hierdie verbreking en grondslagverandering die poging van Kaapland was om die Beyersfondse van die Kaaplandse Party te behou. Aangesien ek 'n leidende aandeel gehad het aan alle gevoerde offisiële onderhandelings in die opstelling van die Parlementêre Ooreenkoms, van die ander stukke, wat daarna deur albei kante voor die aparte gesamentlike Kongresse gelê was, van die besluite van die Kaaplandse (De Aar) Kongres, en van die Konsep-programme van Beginsels en van Aksie van die Federale Raad, kan van my met reg verwag word om getuienis af te lê voor die Kommissie van Ondersoek, waarvan u Voorsitter is, en dat ek my vir ondervraging beskikbaar sal stel, soos ek hiermee nou ook doen.
Op grond hiervan en in ooreenstemming met die kennisgewing wat ek namens die Koukus-komitee op 9 deser gepubliseer het, wens ek u mee te deel dat ek bereid is om my getuienis af te lê op enige tyd en plek wat gerieflik mag wees. Dit sal die volgende strekking hê:

DIE FEDERALE GRONDSLAG[edit]

1. Dat daar nooit te eniger tyd 'n ooreenkoms aangegaan was, hetsy direk of by implikasie, dat die H.N.P. of V. op ,,Uniale’’ grondslag sou organiseer nie.
2. Dat die vraag op watter grondslag daar georganiseer sou word, nooit tussen genl. Hertzog en myself, of op enig ander manier tussen die twee onderhandelende kante, bespreek geword is voordat die Parlementêre Ooreenkoms eers klaar afgehandel en publiek aangekondig was nie.
3. Dat die Parlementêre Ooreenkoms self van die duidelike veronderstelling uitgaan dat die organisasie op federale grondslag sou geskied.
4. Dat met die oog op die kongresse, wat met en om die Paasvakansie gehou sou word om hereniging in beginsel sowel as aanvanklik in die praktyk goed te keur, daar tussen genl. Hertzog en myself ooreengekom is omtrent twee stukke vir voorlegging aan daardie Kongresse, te wete (a) 'n Samevatting van die punte van substansiële ooreenstemming tussen die beginsel- en die aksieprogram van die Nasionale Party en die Volksparty van Transvaal onderskeidelik en (b) die prosedure wat enersyds die doel en gebruik van hierdie Samevatting moes verklaar, en andersyds bedoel was om die gelykstemmigheid van optree aan die kant van die Kongresse te verseker.
5. Dat in daardie Prosedure dit duidelik neergelê is dat die Herenigde Nasionale Party of V. sou organiseer op die federale grondslag ,,soos dit nou by die Nasionale Party die geval is”, en soos hier ook nog bygevoeg kan word: ,,Soos dit die geval was ook gedurende die Party se hele bestaan sedert sy oorspronklike stigting.”
6. Dat genl. Hertzog by ons besprekings en onderhandelings oor hierdie twee genoemde stukke nooit daarop aangedring het dat die bepaling in die vorige paragraaf genoem, geskrap of gewysig sou word nie, en dat hy dit ook nooit te eniger tyd daarna, en vóór die hou van die Kongresse, gedoen het nie.
7. Dat die bewuste onderhoud van 15 April, wat plaasgevind het ná die Kongresse reeds hul goedkeuring aan hereniging gegee het, nooit bedoel was om 'n ,,nuwe” ooreenkoms aan te gaan in die plek van die vroeër bestaande nie, en dat dit ook in geen enkel opsig daardie effek gehad het of kon gehad het nie, maar dat dit enkel en alleen bedoel was om genl. Hertzog as hoofleier in te lig omtrent die stappe wat die twee kante in Kaapland gesamentlik besluit het om te doen tot uitvoering van die herenigingsooreenkoms daar.
8. Dat hierdie bedoelde stappe in stryd was nòg met die herenigingsooreenkoms, soos dit voor die Kongresse gelê was, nòg met die voorgenome organisasie van die H.N.P. of V. op federale grondslag, soos in die bogenoemde Prosedure bepaal was.
9. Dat genl. Hertzog se opvatting van die federasie wat ooreenkomstig die beweerde nuwe ooreenkoms van 15 April tot stand moes kom, in stryd is met die opvatting van die Nasionale Party soos hy bestaan het beide vóór en ná 1933, dat dit geen analogie vind by enig ander politieke party wat sedert Unie bestaan het nie, en dat, indien dit deur die H.N.P. of V. aanvaar sou word, dit noodwendig tot onoorkomelike moeilikhede en verbrokkeling moes lei.
10. Dat op grond van sy eie opvatting genl. Hertzog nie as voorsitter die Agerende Federale Raad wou saamroep om in opdrag van die Kongresse 'n gemeenskaplike Program van Beginsels en van Aksie op te stel nie, en dat die byeenroeping en gevolgelik die opstelling van die bekende Federale Konsepprogramme toe geskied het op inisiatief van die Hoofbestuur van die H.N.P. of V. van Transvaal met die daaropvolgende medewerking van die Koukuskomitee.


DIE BEYERS-LEGAAT[edit]

11. Dat reeds voor die herenigingsonderhandelings in Pretoria in November van verlede jaar genl. Hertzog op sy eie versoek persoonlik deur my ingelig is omtrent die bepalings van die Beyers-testament en omtrent die wenslikheid van pogings om die fondse vir die Party te behou.
12. Dat tydens die Parlementêre Ooreenkoms-onderhandelings in Kaapstad die saak toe weer te berde gebring is deur my in my besprekings met genl. Hertzog, na sekere handeling aan my kant wat sowel my optree in die saak as dié van die Kaaplandse Party vergemaklik het, en dat genl. Hertzog toe die versekering gegee het van medewerking van sy kant om die fonds te behou, indien moontlik, en dat hierdie versekering toe onmiddellik daarna deur my bekend gemaak is aan die Koukus van die Nasionale Party vir die oorweging van die verdere stadiums wat die onderhandelings in die algemeen in daardie stadiums bereik het.
13. Dat die Parlementêre Ooreenkoms self voorsiening maak vir die wyse waarop die hereniging werklik in Kaapland plaasgevind het en
14. Dat die behoud van die N.P.-identiteit in Kaapland, wat noodsaaklik was vir die beveiliging van die legaat, plaasgevind het met die volle inwilliging en medewerking van die Kaaplandse Hertzog-groep, dat daardeur op geen enkel punt in die herenigingsooreenkoms inbreuk gemaak is nie, en verder,
15. Dat nòg die verhouding van die H.N.P. in Kaapland tot die H.N.P. in die ander provinsies nòg die federale grondslag nòg die gemeenskaplikheid van die Beginsel- en Aksieprogram van die Party in enige opsig daardeur gewysig of nadelig beïnvloed geword is nie.
Ek is verder bereid om aan die Kommissie die volgende stukke voor te lê:

1. Kopie van die Parlementêre Ooreenkoms, insluitende enige bestaande korrespondensie tussen genl. Hertzog en my oor bepaalde punte.
2. Kopie van die Voorgestelde Prosedure en van die Samevatting van die punte van Ooreenkoms tussen die Program van Beginsels en van Aksie van die Nasionale Party en die Volksparty onderskeidelik.
3. Korrespondensie (a) tussen wyle dr. N. J. van der Merwe en genl. Hertzog oor die federale grondslag en die voorneme van genl. Hertzog om 'n Program van Beginsels op te trek vir die Vrystaatse Party alleen.
4. Korrespondensie tussen myself en genl. Hertzog oor die byeenroep van die Federale Raad, die federale grondslag en die beweerde nuwe ooreenkoms van 15 April.
5. My memorandum aan genl. Hertzog wat die onderhoud van 15 April moes voorberei en die aard daarvan aandui.
6. Kopie van die Kaaplandse herenigingsbesluit, geneem op die De Aar-kongres tydens die Paasvakansie.
7. Kopie van die herenigingsbesluit van die Vrystaatse Hertzog-groep teen dieselfde tyd gehou, en deur die sekretaris aan my gestuur op las van genl. Hertzog.
8. Kopie van die Prosedure en Samevatting vir die Kongresse bedoel, deur dr. Jan Steyn getik op las van genl. Hertzog en aan my oorhandig vir die informasie van my party.

Indien u oor enige saak in aanraking met my wens te kom, sal u my tot 15 Januarie eerskomende in Hermanus vind, en daarna by my huis in Seepunt.

Met vriendelike groete,
D. F. Malan.