Die liefde is lankmoedig/Hoofstuk II

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Hoofstuk I Die liefde is lankmoedig
Hoofstuk II
deur T. C. Pienaar
Hoofstuk III


II.

Dis laat die middag van die derde dag nadat die polisieman aan die deur geklop het. Die hele dag het die wind oor die kaal vlaktes gehuil en stofwolke opgejaag en die mense het gewonder wat die wind gaan uitwaai. Teen sononder, toe Meneer oor die onderdeur gaan kyk of Ben nog nie aankom nie, kom daar weer 'n kolossale stofwolk met die pad af; maar dit kon nie die wind wees nie want die wind het gaan lê.

Hy kyk en kyk om te sien wat dit is.

Hester en Juffrou sit soos gewoonlik voor die stoof en naaldwerk doen en hulle merk aan sy houding dat hy iets sien.

"Is dit Ben?" vra Hester bly.

"Dit lyk meer na ou Niek", antwoord Meneer twyfelagtig. Die twee vroue kom staan saam met hom en kyk oor die onderdeur. Daar kom 'n motorkar aan. Dit mag die predikant wees wat kom huisbesoek doen; dit mag 'n spekulant wees wat slagvee opkoop, of dit mag die skoolinspekteur wees wat nie weet waar hulle loseer nie, en van plan is om hulle vroeg die volgende more by die skool te verras.

Die motor hou stil by die werfhek. Nou kyk hulle gespanne, en sien dit is waaragtig Ben wat daar uitklim en die hek oopmaak. Daar is nog iemand in die motor. Dit kan nie 'n persoon wees wat hom net opgelaai het nie, want dis 'n dame. Sy bestuur deur die hek. Ben klim weer op en sy hou vlak voor die agterdeur stil!

Nou skuil Hester en Juffrou vinnig weg in die skaduwee van die kombuis. Op Meneer se gesig is daar 'n verslae glimlag waarvan hy self nie bewus is nie. Dit amuseer hom dat Ben so rats uitspring om gou die deur anderkant vir die dame te gaan oopmaak - Ben wat sommer die draaghout laat sak terwyl Hester besig is om die hoë trappe van 'n perdekar af te klim, of by Hester en Juffrou verby druk by 'n deur!

"Sy is deksels jonk. Amper nog 'n pure kind volgens die gesiggie, maar die houding en figuur is bepaald dié van 'n dame wat die wêreld ken", oordeel Meneer terwyl sy afklim en wag.

"Kom maar nader", nooi Ben beskeie en Meneer haal die werwel van die onderdeur af. Toe steek hy sy hand uit en groet.

"Luderitz", sê hy met soveel waardigheid dat vermaak nou weer in Ben se oë vonk.

"Aangename kennismaking", antwoord die dame en stap na binne.

Hester en Juffrou staan naby die kamerdeur net asof hulle daarheen die wyk geneem het, maar dit nie kon haal nie. Die plotselinge verskynsel oorbluf hulle totaal. Die eenvoudige vrou voel altyd klein in die teenwoordigheid van 'n deftig geklede dame, en die meisie wat daar staan, lyk soos 'n pop uit 'n modeboek. Haar jas is van pels, en op haar goue krulle sit 'n swart dotjie wat lyk soos 'n geplakte miskoek. Sy is lank en fier gebou, en haar groot, hemelsblou oë kyk hulle koel en gevoelloos aan.

Juffrou raak bewus van haar eie verslete tweedjassie wat lossies oor haar benerige liggampie hang. Hester se vingers gaan onwillekeurig na die knoop in haar voorskootbande. Dis 'n ou vuil voorskoot wat sy net aangesit het om die melk af te room en toe vergeet het.

Ben groet hulle en hulle sien die rouband om sy hoed en regterarm.

"Dis oorlede Diederik se dogter, Esme. Hy het haar aan my afgegee en sy gaan nou by ons bly", kondig hy aan en hy kyk uitdagend na 'n bepaalde hoek van die kombuis. Maar wat hy verwag het, is nie in daardie hoek nie. Verskrik soek sy oë 'n uitleg, eers by Meneer. Die verstaan nie sy vraag nie want hy vermaak hom so aan die verslaenheid van Juffrou en Hester, wat mekaar vol ongeloof aankyk, dat sy mond eintlik oopgaan. Hy staan met sy rug teen die deur die spulletjie en aanskou.

Juffrou kom die eerste oor haar verbasing. Sy groet en sê werklik net so deftig as wat enige dame dit sou sê, "Aangename kennismaking".

Hester stuit voor die probleem wat haar verwantskap oplewer. Hoe om so 'n mens te soen? Sal sy self die sluier lig wat oor haar gesig hang: moet sy, Hester, dit doen, of soen 'n mens sommer bo-op die ding net soos sy ook met handskoene aan gegroet het?

Dis of Ben haar moeilikheid raai want hy sê: "Groet maar met die hand, ou vrou. Die stadsmense soen nie,"

Hester volg die wenk, maar nie sonder 'n skewe kyk aan Ben nie. Om haar waardigheid dadelik te herstel, nooi sy die dame vorentoe, want so 'n mens hoort nie in 'n kombuis me.

Die kombuis word sommer leeg, kompleet soos 'n fietsband wat afblaas. Ben kyk weer ernstig na die hoek en toe weer na Meneer om 'n verklaring. Dié wys net met sy duim na die ou vrou se kamer en Ben gaan daarin .

Vol nuuskierigheid stap Meneer vorentoe, maar steek in die middeldeur vas. Die dame is besig om Hester en Juffrou te ondervra. Wie is Hester? Wie is Juffrou? Wat doen sy? Waar is die skool? Is dit ver? Is dit lekker om skool te hou? Waar woon juffrou Boyer se ouers? Waarheen gaan sy met die vakansies? Gaan mev. Bosman soms met haar saam Strand toe? Sy is verbaas om te hoor dat mev. Bosman nog nooit by 'n strand was nie en dat boere nie vakansie hou nie. Die manier waarop die verwondering op haar gesig aangegee word, is vir Meneer té oulik. Dis asof sy haar groot, blou oë 'n paar keer draai agter die wimpers wat soos oulike harkies lyk, en dan knip sy die ooglede terwyl sy die mondjie op 'n tuit trek.

Onbewus skuif hy nader en gaan staan agter Juffrou se stoel met albei sy hande in die sakke van sy sportbaadjie. Sy oë bly op die dametjie.

Juffrou voel ongemakliker, beklemmend bewus van haar eenvoudigheid en van hom agter haar stoel. Soos 'n muisie glip sy in die vrykamer om te sien of dit aan die kant is, want hy slaap al drie nagte daarin. Sy trek skoon lakens oor die bed, stof weer af want die wind het baie gewaai, en toe bring sy waswater in die kamer.

Intussen kom Ben in die middeldeur staan en die verbystering op sy gesig herinner Hester aan die ou vrou. Sy spring op om hom gou eers te gaan vertel wat gebeur het.

Toe gaan Meneer sit.

Hy geniet die persoon van die jong dame van haar kop tot haar tone. So 'n oulike voetjie het hy nog nooit gesien nie; en so 'n kuit .... Mapstieks, maar haar rokkies is kort. Sou sy kouse aanhê of nie? Hy kyk en kyk .... Ja, hoog bokant die knie kan 'n mens sien waar die kous ophou. Dis jammer sy het so 'n lelike, lomp jas aan. Môre sal 'n mens seker kan sien hoe haar lyfie lyk. Hy verlustig hom in die gesiggie, so rond soos 'n waspop s'n met 'n vel so fyn en sag soos roosblare; en die lippies, vol en rooi. Ai, maar hulle sal lekker soen!

Hy gee 'n sug vol van 'n salige gevoel.

Esme geniet die manier waarop die ou kêrel met sy aperige gesig en yl tande haar bewonder. In die stede het sy soms hoor praat van "plaasjapies" en dis nogal 'n interessante ondervinding om nou so van naby met een kennis te maak.

"En as jy my nou só beskou ....?" vra sy uit die hoogte, met die voorneme om hom sommer meteens uit die wind te slaan.

Maar hy is nie vandag se kind nie en sy lewenservaring en mensekennis is nie net tot Groenvlei beperk nie. Hoewel hy baie lank gelede laas met die tipe kennis gemaak het, is sy hom darem nie heeltemal vreemd nie. Hy voel glad nie haar mindere nie, al dra hy 'n ou vaal broek sonder 'n plooi in. Inteendeel kan hy haar miskien nog 'n lessie of meer leer.

"Soos 'n ou bok 'n groen blaart?" vra hy terug, en sy bloos.

Hy lag heerlik en sê, net asof hy al haar gedagtes gelees het: "Dit moet 'n besondere ondervinding vir 'n stadsdametjie wees om so meteens tussen so 'n klomp plaasjapies in te val?"

Sy bloos nog meer en kyk hom vererg aan. Ai, as hy haar darem nou kan beetkry en karnuffel. Wangetjies soos bloedrooi rosies! Dis wat 'n boer sal noem 'n volbloed-versie.

"Ons mag plaasjapies wees, juffroutjie - of ek sal liewer dadelik met Esme begin, soos Ben gesê het, want ons noem die onderwyseres Juffrou - ja, ons mag plaasjapies wees, maar jy sal baie gou uitvind dat plaasjapies nie plaasapies is nie, en dat 'n mens nie die een hoender van die ander kan ken wanneer die vere uitgepluk is nie!" sê hy oortuigend, maar sy gedagtes loënstraf sy woorde: want sal hy vir Juffrou en Esme, ontbloot van hul vere, dan nie dadelik uitmekaar ken nie? - Dit wil darem sê as die vergelyking letterlik en nie figuurlik toegepas word nie. As Juffrou moet weet wat in sy gedagtes omgaan, sal sy die duiweltjies met horings en varkstertjies in werklikheid sien ronddans in sy hart.

"Wie is u eintlik?" vra Esme danig beslis terwyl sy ernstig vooroor buig, en haar hande saamvou op haar knie.

"Hermanus Petrus Luderitz, M. A., en hoof van die plaaslike IVB-skool", antwoord hy droog asof hy die inligting in die hof gee.

Sy sak agteroor, glimlag en ontspan.

"Wat 'n verligting", spreek hy haar gedagtes uit. "Ja, dit moet 'n verligting wees as 'n mens jou voorgestel het dat jy in die grammadoelas tussen 'n klomp torre beland het, en jy vind uit .... wel .... jy ontdek dat dit darem nie so erg is nie".

Esme lag, en sy is vir hom nog mooier as sy lag.

"Mnr. Luderitz, u is kostelik", sê sy. "Weet u, ek het gedink dat u my oom se plaasbestuurder is!"

"En dan was ek niks minder as wat ek nou is nie", antwoord hy. "As ek vandag die kennis gehad het om bestuurder van 'n welgestelde boer se plaas te word, het ek dadelik vaarwel gesê aan my betrekkinkie. En jou oom is taamlik welgesteld al lyk dit nie vir jou so nie. Twee duisend morge mieliegrond, en 'n delwery op jou plaas is nie te versmaai nie, as julle liewe Heertjie maar net die reën en diamante op die regte tyd wil gee."

Juffrou verskyn in die kamerdeur. Dit gebeur selde dat mnr. Luderitz so onderhoudend gesels, en sy kyk hom bestrawwend aan met die kykie waarmee sy die stoutste skoolseun laat tjoepstil sit in die klas.

Toe sy sy gedagtes weer mooi op die regte plek het en hy besef dat hy 'n eenvoudige, beskeie mens, 'n geswore oujongkêrel is, wat net by geselskap soos hare en die Bosmans s'n pas, sê sy bedaard: "Mnr. Luderitz, sal jy asseblief mej, Bosman se bagasie van die motor gaan afhaal?"

Hy gehoorsaam gedwee en sy neem die dame kamer toe om haar tuis te maak.

In die kombuis vertel Hester en Ben aan mekaar wat gebeur het.

Die ou vrou het nog nie weer 'n woord gepraat vandat hy weg is nie, maar dit lyk darem asof sy kan sien en hoor, en sy eet as Juffrou haar voer. Dit lyk asof sy lam is, want sy verroer geen spier nie. Hulle moet liewer nie dat sy vir Esme sien of van haar hoor nie, want dan kom sy dalk nooit weer reg nie. So praat hulle, en stem saam oor die saak.

Toe vertel Ben haar van Diederik. Dié kon nouliks nog 'n paar dinge sê. Hy het gepraat van 'n vrou wat hom in die steek gelaat het en ook van sy deel van die erfenis, wat Ben aan sy dogter moet besorg wanneer sy trou of mondig word. Hy het nie 'n woord gepraat van die ou vrou nie en moes gereken het dat sy al dood was. Die man en vrou sien egter nie kans om 'n deel van die erfenis af te staan nie. Dis hulle twee wat vir alles gewerk het wat die ou vrou besit, wat vir haar gesorg het en sal moet sorg tot haar dood, en hoe kan die goed gelykop verdeel word tussen hulle en 'n vreemde wat nooit 'n strooi daarvoor gebreek het nie?

Diederik het sy bord lensiesoep verruil vir die voordele van die groot wêreld; hy het sy ma met die tienjarige Ben alleen laat aansukkel met volk, en hoe kan hy nou aanspraak maak op 'n erfenis vir sy kind? Hulle kan haar in die huis neem en beskerm omdat hulle die enigste familie is, maar meer ....? Maar sover hulle weet, is daar geen testament nie en in so 'n geval word alles gelykop verdeel tussen die kinders of hul erfgename. Hulle sal moet sorg dat daar 'n testament kom voor die ou vrou se dood - 'n testament waarin alles aan Ben bemaak word. Maar die ou vrou kan nie meer praat of skryf nie!

Ben vertel hoe Diederik-hulle soos ryk mense geleef het, maar volgens sy prokureur sal sy krediteure nie 'n halfkroon uit 'n pond kry nie. Die motor behoort darem aan Esme, en dis ook al wat sy besit en sal kry, behalwe 'n wavrag klere. Hulle sal verplig wees om vir haar te sorg totdat sy trou.

"Maar hoe op aarde sal sy hier getroud kom?" wil Hester weet.

Net toe kom Meneer van buite af met twee swaar reissakke waaraan hy steun-steun dra.

"Wat sou alles daarin wees?" wil Hester weet.

"Seker klere", meen hy.

"Liewe vader!" roep Hester uit en slaan haar hande saam.

"Dis nie al nie", antwoord Meneer. "Die motor is nog vol tasse, hoededose en allerhande goed."

"En waar gaan sy alles beland?"

"Seker in die kamer", antwoord Meneer droogweg. Hy het self al aan die vraagstuk gedink, want hy ken die vrykamer en weet dat dit net 'n bed, wastafel en gewone tafel met 'n kleedjie oor en los spieël bevat. Geen kas, geen laai....

"Maar daar is geen pak- of hangplek nie! Ek het lankal gesê dat ons 'n kamerstel vir die vrykamer moes koop", verwyt Hester erg ongeduldig.

"Kamerstel se verstand! Nie dit ook nog nie", brom Ben, terwyl hy 'n koletjie uit die stoof haal om sy pyp aan te steek.

Meneer stap bekommerd vorentoe met die tasse.

Hester begin soos gewoonlik tafeldek in die kombuis.

"Ek dink jy moet liewer voor dek, vrou", raai Ben suig-suig aan sy pyp om dit aan die brand te kry.

"Voor dek?"

"Jy dek tog altyd voor as hier mense is, en ek se jou die meisie is dit goed gewoond, alles van die beste. Oorlede Diederik-hulle het soos hoë mense gelewe."

Hester kyk hom op en neer en Ben sien nou raak hoe grof haar vel en groot haar neus is, en hoe toutjiesrig haar hare lyk. "Hoë mense? En is hoë mense nie ook gewoond aan kamerstelle nie?" troef sy hom.

Meneer kom terug.

"Nog steeds die kamerstel?" spot hy, en bied toe sy kamerstel vir die dametjie aan. Ben kan dit vroeg die volgende more met die wa laat haal.

Hester het koppig klaar gedek, maar begin weer afdek om voor te gaan dek.

"Wat maak jy noú, Hester", vra Meneer verwonderd. "Ben sê ek moet voor gaan dek."

"Voor? Ag nee wat", help Meneer haar. "Ons eet maar soos elke aand hier in die kombuis. Jy het mos nie een wat by die tafel kan bedien nie en dis nader by die kos en die borde vir jou. Anders moet jy net heen en weer hardloop. Dis ook warmer hier. As sy vyf jaar hier gaan bly, gaan julle tog seker nie altyd voor eet niel"

"Vyf jaar? Die liewe Vader behoed ons!" Hester sug. Meneer voel innig jammer vir haar. Dis of hy ook nou eers haar lelike vel raaksien, die uitstaan-wangbene en swak mond. En hy het ook nie tevore opgemerk dat haar voorkoms verwaarloos is nie. Sy was net 'n goeie, sagsinnige vrou in sy oë, een wat nie genoeg waardeer word deur haar man nie.

Ben dink dis net omdat dit sy familie is dat Hester snaaks voel. As dit vir haar te veel word om sy ma in haar eie huis te verdra noudat sy siek is .... En watter verskil sal Esme in die huis maak? Sy het klere genoeg vir minstens vyf jaar, en die bietjie kos wat sy sal opeet, sal niemand armer maak nie.

Meneer kom terug van die motor af met meer tasse en hoededose.

"Liewe vader!" sê Hester net, en gaan aan met brood sny.

Hy stap verby kamer toe met 'n droë laggie en dink as die spul bagasie hóm wat die wêreld ken al so verbaas, hoc moet dit nie wees vir die arme Hester, wat net één deftige rokkie besit vir kerk en kuier nie. En as ou tant Bet dit moet sien ....!

Waar die groepie altyd saans voor die stoof gesit en elke ou gedagtetjie wat opgekom het, gewissel het met die ander, om die lang stiltes te onderbreek, is daar die aand aan tafel en ná ete geen stilte tussen hulle nie. Daarby het elkeen nog baie gedagtes wat hy of sy verplig is om vir die ander skuil te hou.

Ben en Hester is vol bekommernis omdat ou tant Bet geen testament gemaak het nie. Hulle kan die saak nie met Juffrou en Meneer bespreek nie omdat hulle dalk sal dink hulle wil 'n weeskind van haar regmatige erfdeel beroof. Hulle gewete is ook nie al te gerus omtrent hul besware en wense nie. Dit lyk nie reg dat Esme gelykop moet erf nie, maar sal dit reg wees as hulle die ou vrou beweeg om die testament net in hulle guns te maak?

In Meneer se hart en liggaam is daar gevoelens en gewaarwordings wat verspot lyk vir 'n oujongkêrel van in die veertig jaar. As die ander dit moet raai, gaan hulle hom gaar spot, of baie swak van hom dink. Oor 'n paar dae sal hy wel weer regkom as hy begin gewoon raak aan die poppie; tot dan moet hy versigtig wees, en niemand laat agterkom nie.

Hy praat soveel moontlik met Ben oor algemene sake. Die oes, hoe die oesvolk gevorder het in sy afwesigheid, oor die dorsmasjien en wanneer dit beskikbaar sal wees. Hy vra Esme uit omtrent Johannesburg en wat haar pa daar gedoen het.

So leer die huismense dat oorlede Diederik 'n man van vele neringe was; dat daar min stede en groot dorpe in die Unie is waar hulle nie 'n tyd lank gewoon het nie; dat Esme se moeder 'n Engelse dame was wat nie Afrikaans kon praat nie; dat Esme oral op skool was, soms in kloosters en dan weer in Afrikaanse skole, maar nêrens vir 'n lang tydperk nie en dat sy haar daarom glad nie kon bekwaam vir 'n bepaalde taak, rigting of beroep nie. Haar pa het gemeen dat sy voor sy dood met 'n ryk man moes trou. As dit waarlik sy ideaal was, dink Meneer, dan het hy haar daarvoor uitstekend bekwaam. Die raamwerk van die feite wat Esme hulle so naïef, trots meegedeel het, deurweef elkeen met sy eie lewensbeskouing en ervaring. Ben kom tot die slotsom dat sy 'n ervare en ontwikkelde familielid is waarop enigeen kan trots wees; Hester vrees dat so 'n mens onmoontlik gaan wees in 'n plaashuis; Juffrou is oortuig dat sy 'n totaal bedorwe kreatuur is. Net Meneer kan nie tot 'n besluit kom oor wat sy is en wat van haar verwag kan word nie. Waar Juffrou alle kanse vir die goeie gehad het en gevolglik seker die hoogste vroulike deugde kan besit, is dit met Esme anders. As sy alleen in 'n stad moes bly, sou hy gevrees het vir 'n snelle ondergang, maar nou bejammer hy haar net so wel.

Van algar stel Juffrou die minste belang in Esme en wat sy te vertel het van haarself; maar nie uit jaloesie of afguns, soos 'n mens miskien sou verwag nie. Dis omdat daar ander dinge is wat haar aandag so sterk aftrek dat sy Esme nie soos die ander kan beskou nie. Juffrou is baie sensitief en heldersiende en gevolglik sterk bewus van die vreemde gevoelstrome in die huis dié aand. Sy is bekommerd oor die ding wat vir Ben en Hester so ontstel, iets wat so ernstig is dat Hester dit nie eens vir haarself durf fluister nie. Sy het ook raakgesien dat die geswore oujongkêrel sy voete verloor het, en sy wonder wat die liewe Here se bedoeling daarmee kan wees. Waarom hou Hy 'n man veertig jaar lank gevoelloos teenoor die bekoring en deugde van 'n vrou en maak hom dan die slagoffer van so 'n skepsel?