Die liefde is lankmoedig/Hoofstuk I

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Inhoud Die liefde is lankmoedig
Hoofstuk I
deur T. C. Pienaar
Hoofstuk II


I.

Dis skemer. Die groepie mense voor die stoof in die kombuis steur hulle nie daaraan nie. Hester, die vrou van die huis, sit met haar naaldwerk op die skoot, en haar hande vou slap daarop. Sy het gewerk totdat dit te donker was om te sien, en dit is nog te lig om die lamp aan te steek en die werk van die aand te begin. Nou sit hulle sommer.

Naaste aan die stoof sit Meneer, die plaaslike onderwyser. Hy is 'n oujongkêrel wat alleen in die skoolhuis woon, maar 'n mens sou sê dat hy een van die Bosmans se huisgenote is, so dikwels kry 'n mens him daar of in hulle geselskap op ander plekke. Meestal kom sit hy daar sonder om te gesels want hy is stil van geaardheid. Hy sit dan en rook, en Hester en Juffrou doen naaldwerk.

Juffrou is sy assistente, en sy loseer by die Bosmans. Sy het sewentien jaar tevore op Groenvlei begin skoolhou, twee jaar voor Meneer. Anders as hy, is sy spraaksaam, en dis gewoonlik sy wat die groepie aan die praat hou wanneer hulle saam voor die vuur of op die agterste stoep sit. Sy is nie mooi nie, ook nie aantreklik nie. Klein en vaal, met 'n skerp gesiggie en wakker ogies, gee sy die indruk van 'n muis. Vanaand het sy nie vir Hester met haar naaldwerk gehelp nie; sy sit met 'n boek, waaruit sy vir hulle voorgelees het, toegevou in haar skoot.

Meneer lig die stoofplaat op. Uit 'n sak langs die stoof vul hy die vuurmaakplek weer met mieliestronke. Vir 'n rukkie hou hy die vuur dop terwyl dit smeul en rook; dan trek hy 'n vuurhoutjie en hou dit voor die rooster, en die stronke slaan aan die brand met 'n harde slag. Die vlamme dreun in die skoorsteen op en die ketel begin te sing.

Die agterdeur gaan oop en Ben, die man van die huis, kom in met 'n emmer melk wat hy op die tafel neersit. Daarna was hy sy hande in 'n skottel water wat daar staan en hy droog dit aan die kombuishanddoek agter die deur af.

Ou tant Bet staan sukkel-sukkel op en loer vrekkig in die emmer om te sien hoeveel melk daar gekom het. Sy het eenkant langs die tafel in die hoek van die kombuis gesit. In die skemer kon 'n mens haar nie daar sien nie, maar die huismense is altyd bewus van haar teenwoordigheid daar in die stoel in die hoek. Uit daardie stoel kan sy alles sien wat gedoen word in die kombuis, en op Groenvlei is die kombuis die plek waar alles gedoen word en waar alles gebeur.

"Elke aand word die ou druppeltjie melk minder", brom sy. "En nou dat botter 'n prysie het...."

'n Harde geklop aan die deur val plotseling deur die stilte.

Vir 'n oomblik wag die vyf mense in die kombuis roerloos. Die klop het deur hulle jarelange saamwees geval en mense wat so diep in hulself lewe soos hulle, kan so iets sommer voel.

Dis al vyftien jaar dat die groepie so saam is, daarom sou 'n mens verwag dat hulle mekaar deur en deur ken en dat die een alles sou weet van die verlede en toekomsverwagtings van die ander, maar die klop sou aan elkeen op sy eie manier openbaar dat dit nie die geval is nie.

Die Bosmans en Juffrou weet wel dat mnr. Luderitz in Suidwes-Afrika gebore is, in die Kaap gaan leer het vir onderwyser, en later in Transvaal op Groenvlei begin skoolhou het. Hulle weet ook dat, hoewel hy nie in God of Sy gebod glo nie, hy 'n goeie mens is wat niemand ooit sal kwaad doen nie, een wat beter is as hulle wat glo, en daarom voel algar, behalwe Juffrou, onwaardig om met hom oor dié dinge te stry.

Van juffrou Boyer weet die ander dat sy 'n weeskind is wat in 'n weeshuis opgegroei het en met 'n lening studeer het vir onderwyseres. Sy is 'n ernstige mensie, koud en afsydig; een wat geen vyande het nie, maar ook min vriende. Niemand word vir haar kwaad of voel vir haar jammer nie. Die meeste wat 'n mens vir haar kan voel, is dankbaarheid en daar is baie op Groenvlei wat veel te danke het aan haar.

Aan die ander kant voel Juffrou en Meneer innig jammer vir die arme Hester, wat al agtien jaar getroud is en nog nie die voorreg gehad het om baas te wees in haar huishouding nie. Skreiend moet sy gebuk gaan onder 'n skoonma aan wie die huis en huishouding, volgens háár, sal behoort tot haar dood, al moet Ben vir alles sorg en Hester al die werk doen. Niks kan geskied sonder die ou vrou se toestemming nie. Ben is, sover hulle weet, haar enigste kind. Hy is 'n groot, fris man naby vyftig jaar, ru en sterk; genadeloos teenoor hulle wat vir hom moet werk, en hard en liefdeloos teenoor sy vrou en kinders, maar onderdanig en vol ontsag vir sy ma.

Die ou vrou is al swak, moet meestal in die stoel bly sit en het nog net 'n tong wat vrees inboesem. Dis 'n tong waaraan Ben hom selde blootstel, waarteen Juffrou se persoonlikheid haar gepantser hou, maar wat Hester gedurig met géselslae kasty. Vanaf die eerste jare het die onderwysers opgemerk hoe daardie tong die liefde in die huis soos 'n vretende gif verteer. Maar dis beter nou dat daar geen liefde meer is nie, want dis of Hester deesdae nie meer so seer kry nie, net so koud en hard word soos die ander. Vroeër was dit jammerlik: Juffrou weet dit die beste. Sy het by die Bosmans kom loseer toe hulle 'n jaar getroud was. Sy weet alles van hulle eerste kind se geboorte en dood en van Hester se smart. Sy het die ander twee wat later gekom het, help grootmaak. Dikwels het Meneer haar gehelp want Ben het hom nooit aan die kinders gesteur nie. Met die twee Bosmantjies, Klein-Ben en Sannie, op die skoot het Juffrou en Meneer saans voor die stoof gesit, terwyl Hester haar naaldwerk doen en Ben sy koerant lees, totdat die ou vrou uit haar stoel aankondig dat dit slaaptyd is. Juffrou en Meneer het later vir die kinders skoolgehou, vasgestel waarvoor hulle aanleg het, en dis hulle twee wat vir die kinders betaal nou dat hulle op hoërskool is, want die ou vrou wil nie toelaat dat Ben 'n pennie vir sulke onnodighede uitgee nie.

Op daardie manier is die vyf mense in die kombuis aan mekaar verbind soos één gesin, en dis duidelik dat daar niks met die een kan gebeur sonder dat die ander ook daardeur geraak sal word nie, of dit nou al ten goede is of nie.

Vir die tweede maal kom die klop aan die voordeur.

"Gaan kyk wie daar is, Ben", sê die ou vrou.

Ben gaan, en die ander sit en wag en luister.

Die deur gaan oop. Hulle hoor Ben iemand naand sê. 'n Yskoue winterlug waai dwarsdeur die voorhuis tot in die kombuis.

"Laat die mens binnekom, en maak die deur toe, Ben; 'n mens sterf van koue", skree ou tant Bet, terwyl sy rillend van koue 'n kombers om haar onderlyf slaan en weer op haar stoel gaan sit.

"Kom binne", hoor hulle Ben sê, en die voetstappe kom reguit na die kombuis, waar die vuur in die stoof 'n dowwe lig deur die skemervertrek gooi.

Die late besoeker is 'n geregsdienaar. Dit sien hulle dadelik aan sy uniform, al is dit te donker om sy gesig te erken, Hy groet met die hand soos dit op plase die gewoonte is, waar die polisie die mense persoonlik ken.

"Naand, Juffrou; naand, Meneer; naand, Hester; naand, tant Bet", sê hy omslagtig en bly toe stil.

"Sit maar", sê Ben en skuif vir hom 'n stoel nader.

"Nee, dankie. Ek is haastig", antwoord hy. Die lig van die vuur skitter op die blink knope van sy uniform. "Ek bring net 'n boodskap vir jou, Ben". sê hy verder. "Ons het 'n telefoniese berig ontvang van die Algemene Hospitaal in Johannesburg dat jou broer Diederik daar op sterwe lê en jou vir laas dringend moet spreek."

"Diederik?" vra Ben verskrik, en kyk na sy ma.

Net 'n skuifeling word gehoor in die hoek waar die ou vrou sit.

Dis die eerste maal dat Hester en die ander twee van Diederik hoor. Hulle het gedink dat Ben haar enigste kind is.

Die konstabel weet nie wat die boodskap beteken vir iemand in daardie huis nie. Hy dink dis maar 'n gewone doodstyding, soos dié wat hy uit die aard van sy werk ook al tevore aan ander mense op verafgeleë plase moes oorbring.

Daar kom 'n stilte, 'n stilte vol gedagtes.

"Hier is iets waarvan Hester nie weet nie", besluit Juffrou en Meneer dadelik. As Hester geweet het van Diederik sou sy Juffrou van hom vertel het, en as Juffrou geweet het, sou sy Meneer vertel het. Dis bepaald nie iets gering nie. Die bestaan van 'n broer wat verswyg word, selfs vir dié wat die naaste aan jou is, is nie 'n klein sakie nie. Daar moet 'n rede voor wees, 'n groot rede.

Vir Ben het die oomblik aangebreek waarin hy 'n besluit moet neem, nie net sonder sy ma nie, maar ondanks haar, Dit maak hom plotseling stom. So bleek soos hulle hom nog nie gesien het nie, bly hy botstil staan.

Die stilte groei aan.

In die oomblik van hoë spanning sien Ben weer die afgryslike toneel voor hom. Dis kompleet soos 'n werklikheid en wurg hom met angs. Hy sien dit soos dit was byna veertig jaar tevore in daardie selfde kombuis. Dit was dieselfde tyd van die aand, byna al net so skemer. 'n Mieliestronkvuur het in die stoofpyp gedreun en deur die oop rooster 'n gloeiende lig op die aaklige gesig op die vloer gegooi. Hy was 'n seuntjie van tien jaar en het in die middeldeur gestaan toe hy dit gesien het. Niemand het dit ooit te wete gekom, dat hy daar gestaan en dit gesien het nie: nie eens sy ma nie, want hy het dadelik gevlug en van angs in die bed gaan kruip en aan die slaap geraak. Presies waar die sersant staan, het sy vader se lyk gelê. Iemand het hom met 'n strykyster teen die hoof gegooi en hy het dood neergeval. Net sy ma en Diederik was in die kombuis toe dit gebeur het en Ben het gesien wie dit gedoen het. Hulle was so verskrik dat hy ook beangs geraak en gevlug het. Die volgende more het daar 'n opgesaalde perd op die werf rond gewei en sy ma het vreeslik te kere gegaan toe sy dit sien en gesê dat hulle pa dalk verongeluk het, want hy was met daardie perd dorp toe. Sy het vir Diederik en die Kaffers gestuur om te gaan soek na hom. Hulle het huis toe gekom met die lyk, wat hulle in die veld gevind het en vertel dat die perd hom afgegooi en hy met sy hoof teen 'n skerp klip geval het. Ben het gewonder, want hy was baie seker dat hy sy vader in die kombuis gesien het.

Sy ma en Diederik het daarna baie rusie gemaak en kort daarna is Diederik weg. Hulle het nooit weer van hom gehoor nie. Nou lê Diederik op sterwe en hy laat hom roep. Natuurlik het sy broer baie om mee te deel voor hy kan sterf, en daarom moét hy gaan. Sy ma sal hom belet uit vrees dat hy sal hoor wat sy meen dat hy nie weet nie. Hy moet gaan ondanks haar verbod, en dis nie maklik nie. Soveel jare het sy oor hom geregeer dat hy byna geen wil meer van sy eie het nie.

Die ou vrou sit en wag. Sy wil sien wat Ben gaan doen. As hy wil gaan, sal sy hom belet. Dit sal die end wees. Met Diederik in die graf sal sy eindelik vrede kan vind.

Dis die geregsdienaar wat die stilte verbreek. Hy meen dat Ben geheg is aan die broer en nou swaar getref word deur die tyding. Simpatiek plaas hy sy hand op die ander se skouer en sê: "Ek is jammer, ou vriend. Miskien bereik jy hom nog eer dit te laat is. Die trein kom gewoonlik om negeuur op Soekmekaar aan, en 'n goeie perd sal die stasie haal".

"Jy gaan nie!" gebied die ou vrou staalhard uit die hoek. Ben het dit verwag. Dis dít wat hom laat aarsel het, maar dis juis ook die woorde wat hom dwing om te besluit.

Met dieselfde beslistheid as hare draai hy hom na die hoek en verklaar: "Ek gaan!" Dit verbaas die drie wat hom ken, veral toe hy byvoeg: "Hester, kom gee my klere!"

Alleen die ergste kon toe gebeur; dit het die wat die huis ken, verwag. Vinniger as wat hulle in die skemer kon waarneem het die ou vrou opgespring om Ben oor sy kop te slaan met haar kierie. Die ander het niks gesien nie, net die kierie hoor kraak. Ben was op sy hoede; hy het die kierie gegryp eer dit hom kon tref en toe breek hy dit middeldeur oor sy knie en skiet dit terug na die hoek.

Daarop snel hy na die kamer wat links uit die kombuis gaan en skree opgewonde: "My klere, Hester, my, klere! Maak gou!" Uit die kamer roep hy weer bewend van haas: "Meneer, saal tog asseblief gou vir Kolbooi op!"

Meneer hoor hom nouliks want 'n snaakse wurggeluid in die hoek het hom en Juffrou daarheen laat spring. Die ou vrou lê stuiptrekkend op die vloer.

'n Verskriklike verwarring het plotseling in die skemerhuis ontstaan. Dis asof daar 'n spookagtige warrelwind binnegekom het wat elkeen laat klappertand van vrees, Die konstabel dink dis net omdat daar 'n familielid op sterwe lê. Maar die hyggeluide van die ou vrou op die vloer is darem te aaklig om aan te hoor, kompleet asof iemand besig is om haar te verwurg. Hy is 'n geregsdienaar en word nie sommer bang nie, maar die atmosfeer gee hom koue rillings.

"Die lamp, Juffrou .... in vadersnaam, die lamp!" hoor hy Meneer hees uitroep en daar is soveel angs in die stem dat die konstabel sommer by die agterdeur uitglip. Hy sal maar Ben se perd gaan opsaal, dan kan hulle hom nie kwalik neem dat hy nie gehelp het nie,

Eindelik brand daar lig en Juffrou en Meneer dra ou tant Bet in die ander kamer wat regs uit die kombuis gaan. Daar lê hulle haar met klere en al net so op die hoë verebed neer en staan haar en aankyk.

"Sy drink nie medisyne nie", sê Juffrou naderhand net om iets te sê, want Meneer weet hoe die ou vrou daarop roem dat sy nie aan medisyne glo nie.

Eindelik hoor hulle die agterdeur toeklap, en die galop van perdepote dreun vinnig weg in die nag.

Hester kom die kamer binnegestorm. Sy is verskriklik ontsteld, meer as wat Ben se vertrek haar kon maak. Terwyl hy aangetrek het, het hy haar alles vertel. Hy kon nie anders nie. Die wete het hom meteens met 'n wurggreep vasgevat en dit moes uit, of hy sterf. Nou het dit háár beet en só oorweldig is sy dat sy vir 'n oomblik die ou vrou vergeet het. Toe sien sy haar daar op die bed lê en deins verskrik agteruit. Juffrou en Meneer slaan gelyktydig hul arms om haar om haar te steun. Saam aanskou die drie die vermaerde, vertrekte blou-bleek gesig op die kussing. Dis 'n harde gesig, sonder 'n lyntjie van teerheid, vol venyn en inhaligheid. Die oë is wydstarend maar dof en hulle wonder of sy hulle kan sien en hoor,

"Ben het haar kierie gebreek", verduidelik Juffrou aan Hester. Al drie weet dat hy ook nou die septer van Groenvlei gebreek het.

Hulle kyk mekaar aan.

"Dis beroerte", fluister Hester. "Die mense het altyd gesê sy sal eendag beroerte kry van boosaardigheid".

"Kan 'n mens nie iets vir haar doen nie?" vra Juffrou. Meneer trek net sy skouers op. Hester meen dat sy wel vanself weer sal regkom want sy was nog nooit in haar lewe siek nie, en sy maak haar net warm toe.

"Sy is bewusteloos, anders sal sy nie stilbly nie", fluister Meneer, en Juffrou druk 'n vermanende vinger voor sy mond.

"Kom ons gaan sit liewer weer voor die vuur", meen Hester en Meneer vat die lamp.

"Nee, laat die lamp vir haar bly", keer Hester. Maar Meneer meen dat die lampolie wat verniet sal uitbrand haar te veel sal hinder en hy neem die lamp. Toe gaan Juffrou 'n kers hy haar sit en hulle geniet die lamplig in die kombuis.

Meneer maak weer vuur want die kombuis is groot en hulle voel algar bewerig.

"Wat is dit, Hester?" vra hy toe die vlam in die pyp dreun, want hy merk dat erger dinge as die ou vrou se beroerte haar ontstel.

"Kyk in die houtkis is gesteekte kraalmis", antwoord Hester. "Dit brand langer." Toe vertel sy hulle wat Ben haar vertel het.

Lank sit hulle sprakeloos, Dis asof hulle die lyk van die vermoorde nou agter hulle voel lê op die vloer.

"Dat sy veerlig jaar lank elke aand in die hoek kon sit en kyk daarna....!" sê Hester.

"God is voorwaar lankmoedig", meen Juffrou.

"Maar eindelik het die dag van vergelding vir haar aangebreek", vervat Hester.

"Ja, wonderlik hoe anders as die mens God die dinge reël", praat Juffrou verder.

Meneer bly stil en hulle raak daarvan bewus dat hy nie so oor die dinge dink soos hulle nie. Hy begin sy pyp uitkrap en stop, en hulle wonder wat hy gaan sê.

"As julle my vra", begin hy, "dan het God niks met so 'n smerige spulletjie te doen nie. As dit waar was dat God Hom bekommer oor elke veertjie wat van 'n mossie se rug afval, sou Hy hom ook bekommer het oor Hester. En as Hy so magtig is dat Hy berge kan versit, sou Hy die ou vrou se tong laat biltong word het in haar mond die dag toe haar seun met 'n goeie vrou getroud is."

Die woorde bring 'n sagte uitdrukking op Hester se gesig. Sy weet dat Meneer altyd vir haar partydig is en dit het haar al baie moed gegee,

Maar Juffrou se ogies word donker van ontsteltenis wanneer hy hom so ligsinnig oor die Opperwese uitlaat. Wanneer sy haar kan bedwing, argumenteer sy liewer nie met hom oor die dinge nie, want dit lok net godslastering uit. Sy bid liewer vir hom, en dis al vyftien jaar wat sy bid.

Die eerste dag toe hy by die skool gekom het, het hy haar gevra of sy nie maar die godsdiensoefening van die hele skool sou waarneem nie. Die Departement van Onderwys verlang dit nou eenmaal dat 'n mens die dag moet begin met 'n les in huigelary, en vroumense kan dit beter doen as mans.

Eers was sy geskok. Toe het sy met hom geredeneer en gou het sy besef hoe waar dit is dat geloof nie met geld, goeie werke of 'n groot verstand verkry kan word nie, maar dat dit alleen 'n genadegawe van God is. Van toe af het sy gebid om die gawe vir hom. Sy wag nou al vyftien jaar .... Maar as God veertig jaar kan wag ....

Hester gooi die emmer melk ongeroom in 'n pot en kook dit om vir hulle koffie te maak, en die twee besef dat daar ook 'n keerpunt in haar lewe gekom het.

Nadat hulle koffie gedrink het, wil Meneer huis toe gaan, maar die vroumense haal hom oor om die nag daar te slaap. Weerskante uit die voorhuis gaan ook twee slaapkamers. Die een is die vrykamer waar hy kon slaap en die ander is Juffrou se kamer. Hulle sê vir Hester nag en sy vat die lamp en gaan kamer toe.

In die voorhuis gaan die twee staan, elk met 'n brandende kers in die hand. Albei voel dat hulle nog iets moet sê oor die groot gebeurtenis van die aand, iets wat nie eintlik voor Hester gesê kon gewees het nie. Maar hulle weet nie wat nie.

Meneer kyk Juffrou aan. Sy is altyd die een wat woorde vind by sulke geleenthede.

"Is dit nie verskriklik nie", sê sy. "Maar dis net wat 'n mens kon verwag".

"En tog het ons so iets nooit verwag nie", opponeer hy haar droogweg. "Al die jare was die vertrek waar 'n man vermoor is die geselligste wat ons kon vind om te sit en gesels. Dit wys jou darem hoe vol verbeelding 'n mens is. As ons dit by voorbeeld geweet het...." Hy lag sy gebruiklike droë laggie wat net maar 'n geluid en vertrekking van die mond is.

"Maar Ben het dit geweet, en die ou vrou...."

"Die ou vrou het hare op haar tande, dis seker. Om so iets só te oorleef .... Ek haal my hoed vir haar af."

"Jou hoed? Noem jy dít durf! Ek glo nou regtig dat julle albei van die duiwel besete is, want net die satan maak jou so dapper dat jy die sonde nie vrees nie."

Hy beskou haar soos 'n mens na 'n kind sou kyk wat jou uitasem in alle erns kom vertel dat hy 'n kabouter gesien het. Juffrou, 'n klein wesentjie altyd gloeiend van geloof; een vir wie God die begin en einde, en die volheid van die lewe is; een wie se lewe so gevul is met vertroue in die goedheid van die Hemelse Vader, dat sy ryk is ondanks die armoed van haar aardse lewe. Vir 'n man soos hy, wie se geloof saam met sy kinderlike verbeelding gesterf het, en iemand wat 'n sin het vir die tragiese sowel as die humor van die lewe, is sy waarlik komieklik wanneer sy so oorloop van geloof, want volgens hom het sy niks ontvang om haar Skepper voor dankbaar te wees nie. Hy vermaak hom daarom dikwels daarin om haar uit te lok en te trotseer met sy ongeloof. Maar dit gebeur selde dat Juffrou hom die kans gee. Dis net wanneer haar senuwees hoog geprikkel is, soos nou, dat sy nie kan help om iets te sê nie. Sy weet presies wat in sy gedagtes omgaan toe hy haar aankyk, en vervat: "Dis vir jou die bewys waarom hier geen liefde en geluk in hierdie huis is nie, want Satan en liefde...."

"Kom, kom, Juffrou", tem hy haar drif kastig ernstig. "Ek begeer soms regtig jou verbeeldingsvermoë. Jy gee 'n mens die indruk dat jy Satan kan sien as 'n klein kêreltjie met 'n krul-varkstertjie en 'n lang horing op die kop, en dat Liefde 'n fraai boepens-seuntjie is. Ek kan glo dat dit miskien aan die teenwoordigheid van daardie kêreltjie te wyte is dat die seuntjie nie van my hou nie. Maar sê my waarom die knaap dan vir jou op die vlug bly? Daar is tog seker nie...."

Sy gee hom 'n venynige kyk, swaai om en verdwyn in die kamer sonder om nag te sê. Dis die één sakie waaroor 'n mens nie met haar moet praat nie. Hy die minste van alle mense.

"So maak vroumense as 'n mens hulle oortuig", dink hy. "En dan wil hulle so graag stry...."

Eerdat Juffrou inkruip, kniel sy by haar bed. Dis oneindig jammer dat Meneer haar nie kan sien waar sy so in haar lang wit nagrok kniel nie, met haar haarvlegsels oor die skouers, en haar gesig, nou sag, opwaarts met geslote oë in volle oorgawe. As hy kon, sou hy nie weer dink dat sy niks van die Hemelse Vader ontvang het om voor dankbaar te wees nie. Sy bid egter nie vir haarself nie, ook nie vir die man wat in Johannesburg op sterwe lê, of die huisgenote wat blykbaar van die duiwel besete is nie. Nee, wanneer Juffrou só ernstig bid, is haar hele wese net op één saak gekonsentreer. Dan bid sy vir die man wat so na aan God lewe dat hy net maar sy hand tot geloof moet uitstrek om 'n voorbeeld vir elke Christen te word. Sy bid vir die man wat sy liefhet met 'n liefde wat min vroue het om te gee, 'n liefde wat die volheid van haar aardse lewe is. Sy bid dat sy oë mag oopgaan sodat hy God kan raaksien - God, die barmhartige Vader van almal wat Hom liefhet .... die lankmoedige Koning .... die regverdige Rentmeester! "Openbaar Uself kenlik aan hom", smeek sy. "Maar op U eie wyse en tyd."

Toe sy in die bed is, lê sy nie en dink aan die besondere voorval van die aand, soos 'n mens sou verwag nie. Nee, haar laaste gedagtes is aan die stil man met die yl rooi hare. En sy wonder hoe God haar gebed gaan verhoor; ja, wanneer en op welke wyse Hy dit sal doen, want dat dit sal gebeur, glo sy vas.