Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine II/Die kortverhaal in die roman

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die kortverhaal as satire Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine II
Die kortverhaal in die roman
deur T.J. Haarhoff


Die kortverhaal in die roman

Die tafel van die ryk man[edit]

(Petronius, Satyricon 31.)

Die Satyricon van Petronius is een van die interessantste verskynsels in die Latynse letterkunde.

Wat die taal betref, vind ons daarin die eerste spore van die opwaartse beweging van die volkstaal, wat na 'n paar eeue, toe die Westerse Ryk ondergegaan het, die basis gevorm het van die Romaanse tale - van Frans, Italiaans, Spaans, Portugees en Roemeens. Wat die vorm betref, is dit die eerste poging in die Latynse letterkunde in die rigting van die roman: 'n waardiger voorloper van die moderne roman as die latere Griekse samestellinge van Longus en Heliodorus, waarvan dit verskil vernaamlik deur raakheid van karaktertekening. Dit bevat 'n frisheid van segging en siening wat eg Romeins is en kenmerkend van 'n taal wat, soos Afrikaans, die krag en die frisheid van 'n oorgangstadium besit.

Die verhaal is fragmentaries (ons besit slegs 'n (131) deel van die 15de en die 16de boek), en dit is moeilik vir ons om oor sy eenheid te oordeel. Maar daar is een beskrywing wat 'n eenheid vorm - die verhaal van die feesmaal deur Trimalchio gegee. Hy is 'n miljoenêr, 'n nouveau riche, wat soos baie Romeine in sy tyd - die eerste eeu na Christus - skielik ryk geword het en graag 'n rol in die samelewing wil speel. Sy inherente vulgariteit word gedurig gesien deur die mantel van kultuur wat hy wil dra, en die humor van die boek bestaan grotendeels in die manier waarop Trimalchio keer op keer deur die mat val. Sy pogings om oor Griekse mitologie te gesels, sy aanhalings uit die drama, sy skaamtelose naäpery en sy oordrewe gulhartigheid lei tot 'n lagwekkende verwarring. Die wêreld waarin hy woon, tintel van lewe en is vol van die energie van gierigheid. Mense word miljoenêrs „met Amerikaanse snelheid" (soos 'n skrywer van ons tyd sê), en onder die gaste van Trimalchio is iemand wat nog seer skouers het weens die swaar dragte hout wat hy moes aandra as slaaf.

Trimalchio self is 'n Asiaat: hy stel die klas voor wat meer en meer in Rome ingedring het en deur hul slim besigheidsbeleid vir hulself 'n plek in die samelewing verower het. Hulle het geen deel aan die stoere deugde van die ou Romeinse boer gehad nie - pietas, simplicitas, virtus, gravitas[1] was die teenoorgestelde (132) van hierdie mense se grondkarakter. Dit is dan ook verstaanbaar dat daar baie dele van die boek is wat alleen in Latyn gedruk kan word - „in the decent obscurity of a classical language."

Petronius self is bekend uit die Annales van Tacitus en uit die roman Quo Vadis? Hy was die Arbiter Elegantiarum, die Beoordelaar van Smaak aan die hof van Nero, deur wie hy uiteindelik gedwing is om selfmoord te pleeg. Hy het 'n werklike belangstelling in styl en letterkunde besit. In die artistieke berekening van weelderigheid was hy sonder weerga. „Ander," sê Tacitus, „het beroemd geword deur die sweet van hul aanskyn: Petronius het lui-lui sy beroemdheid verower." Tog was daar iets van die ou Romein in hom. Toe sy uur gekom het, beveel hy sy slawe om sy are oop te sny en laat hulle weer toebind, terwyl hy aangenaam met sy vriende gesels en sonder heroïese sentimentaliteit na speelse liedjies luister. Toe het hy gaan dineer en geleidelik lomerig geword, sodat sy dood, ofskoon gedwonge, tog die skyn van natuurlikheid sou vertoon.

In wat hier volg, is daar eers 'n beskrywing deur een van die gaste van die gasheer en sy fees ('n skets - nie 'n kortverhaal in die moderne sin nie) en dan twee stories wat vertel word deur die gaste gedurende die maaltyd.

Eindelik het ons dan gaan sit, en Alexandrynse (133) slawe het water wat met sneeu verkoel is, oor ons hande gegiet, terwyl ander volg en voor ons neerkniel en ons naels met groot fynheid begin afknip. Selfs hierdie onaangename taak het hulle nie laat swyg nie, maar al werkende sing hulle. Ek wou uitvind of al die slawe kon sing en vra iets om te drink. 'n Slaaf staan klaar en vang my bestelling op in dieselfde skril sing-toon, wat ook die laaste een van hulle doen as jy hulle iets vra. Dit was meer soos 'n akteur wat voordra as 'n bediende in die eetkamer van 'n burger.

Maar besonder ryk voorspyse word nou ingebring. Almal het al gaan sit[2] behalwe Trimalchio self, vir wie die eerste plek volgens die nuwe mode oopgehou word. Op die buffet staan 'n esel van Korintiese brons met aan elke kant 'n mandjie vol olywe, die ligte soort in die een en die donker soort in die ander. Twee skottels verberg die esel, op die rande waarvan Trimalchio se naam gegraveer is en ook hul gewig in silwer. Daar was ook klein bruggies aan die skottels vasgesoldeer waarop slaapmuisies, besprinkel met heuning en papa- wersaad, hul bevind. Dan was daar warm worste op 'n silwer-rooster en onder die rooster pruime en granaatkorrels.

Onderwyl ons besig was met hierdie lekkernye, is Trimalchio binnegedra onder begeleiding van (134) musiek en omring deur die kleins moontlike kussinkies, sodat dit die onversigtiges gedwing het om te lag. Sy kop was geskeer en het uit 'n skarlaken kleed gesteek, en bo-oor die opgehoopte klere om sy nek het hy 'n servet met 'n breë rand gesit, met fraiinkies wat aan albei kante afhang. Aan die pinkie van sy linkerhand het hy 'n tamaai vergulde ring gehad, en op die boonste lid van die volgende vinger 'n kleiner ring wat my heeltemal van goud gelyk het, maar in werklikheid was dit goud beset met vonkelende ster-agtige puntjies van yster. En om te wys dat sy besittings nie hiermee uitgeput was nie, dra hy op sy kaal regterarm 'n armband van goud en 'n armring van ivoor met 'n plaatjie van blink metaal. Toe krap hy in sy tande met 'n silwer-veer en sê: „Vriende, dit was nog nie geleë vir my om eetkamer-toe te kom nie, maar ek het my eie plesier totaal opsy gesit, sodat ek julle nie langer laat wag deur my afwesigheid nie. Maar julle sal seker nie omgee as ek eers my spel klaarmaak nie." 'n Slaaf volg hom met 'n tafel van terpentynhout en dobbelsteentjies van kristal; en toe let ek op die fynste punt van alles: want in plaas van wit en swart stukke, het hy goue en silwer-muntstukke gebruik. Terwyl hy speel, gebruik Trimalchio allerhande vulgêre uitdrukkings, en ons was nog besig met die voorspyse, toe 'n skinkbord ingebring word met 'n mandjie (135) daarop waarin 'n hen sit met haar vlerke uitgesprei, soos hulle maak wanneer hulle broeis is. Twee slawe kom meteens te voorskyn en, deur die musiek begelei, begin hulle rondvroetel in die strooi en haal pou-eiers uit wat hulle onder die gaste verdeel.

Trimalchio draai om en sê: „Vriende, ek het beveel dat pou-eiers onder 'n gewone hen gesit word, en, wragtie, ek vrees daar is nou al kuikens in. Maar laat ons sien of 'n mens hul nog kan suig." Ons gryp lepels, minstens 'n halfpond in gewig, en slaan op die eiers, wat vol fyn meel was. Ek het amper myne weggegooi, want ek het gedag dat daar reeds 'n foutjie binnekant was. Maar toe hoor ek 'n geskoolde feesganger sê: „Hier moet iets goeds wees," en ek steek my vinger deur die dop en kry 'n vet glaasogie[3] omring deur gepeperde eier-geel.......

Toe kom daar glaskruike, sorgvuldig met gips toegesmeer en met etikette bo-aan wat lui: „Falerniese wyn van die jaar van Opimius, [4] honderd jaar in die kruik." Terwyl ons die etikette deurlees, klap Trimalchio sy hande en roep: „So lewe wyn dan langer as 'n mensie! Laat ons dus vrolik wees: wyn is lewe. Ek verskaf ware wyn uit die (136) jaar van Opimius. Gister het ek slegter wyn voorgesit; ja, en die geselskap was van baie hoër stand."

Ons drink en bewonder al die besonderhede van sy weelderigheid, toe 'n slaaf 'n silwer-geraamte inbring, so gemaak dat bene en ruggraat in alle rigtings kon beweeg. Hy plak dit een- of tweemaal op die tafel neer, sodat die beweeglike lede verskillende figure vertoon, en Trimalchio voeg daaraan toe:

„Sterflik, helaas is ons almal! Hoe is die ou
mensie tog niks nie!
So sal ons almal wees as eenmaal die Dood ons
vervoer het.
Laat ons dan lewe so lank as dit goed met ons
gaan op die aarde."

Na hierdie begrafnisrede kom 'n gereg binne, nie so groot as ons verwag het nie, maar die nuwigheid daarvan het alle oë getrek. Daar was 'n ronde skottel met die twaalf sterre van die Diereriem in volgorde, en op elkeen het die kunstenaar 'n toepaslike spys geplaas: op die Ram se kop „ramsertjies", op die Bul beesvlees, op die Tweeling niertjies, oor die Krap 'n kroon, oor die Leeu 'n vy van Afrika,[5] oor die Skaal 'n weegskaal met 'n tert in die een pan en 'n koek in die (137) ander, oor die Skerpioen 'n klein seevissie, oor die Boogskutter 'n skyfkol, oor die Steenbok 'n Kreef, oor die Waterdraer 'n gans, oor die visse twee rooistompneuse ¹). In die middel was daar 'n heuningkoek op 'n grasgroen stuk turf........

Trimalchio kras ook self 'n teaterliedjie uit in 'n allerellendigste stem......

„En nou," sê Trimalchio, „laat die dinee begin. Hier is die sous daarvoor." Toe hy dit sê, kom vier bediendes aangedans, begelei deur die musiek en neem die deksel af. Ons sien toe onder in die skottel vet hoenders en sog-mage, en in die middel 'n haas wat van vlerke voorsien is om soos Pegasus te lyk. Ook sien ons in die hoeke van die skottel vier Marsyas-figure[6] wat uit hul wynsakke gepeperde sous oor die visse laat uitloop, sodat hulle as 't ware in 'n sterkstromende see-engte swem.

Die slawe begin die applous en ons volg, en al laggende val ons met die lekkernye weg. Trimalchio was ook baie ingenome oor sy streek en sê: „Snyaar!" Die man kom dadelik na vore, en met gebare wat tyd hou met die musiek, werk hy die diere so uitmekaar dat jy sou dink 'n gladiator veg in die arena begelei deur 'n water-orrel. En altyd hou Trimalchio maar aan ewe sag met: (138)

„Snyaar, Snyaar!" Ek vermoed toe dat daar 'n grap geleë moes wees in sy herhaling van die woord en verstout my om die man naas my te vra wat die toespeling is. „Sien jy die vent wat die vlees sny?" antwoord hy. „Nou ja, sy naam is Snyaar. Sodat Trimalchio, wanneer hy die naam uitspreek, tegelykertyd ook die bevel gee - Snyaar, sny aar!"[7]

Toe ek nie meer kon eet nie, wend ek my tot my buurman om soveel nuus as moontlik op te vang. Ek begin vèrgesogte stories opspoor en vra wie die vrou is wat oral rondhardloop. „Sy is Trimalchio se vrou, Fortimata," sê hy, „en sy tel haar geld by die mud. En net 'n rukkie gelede - wat was sy? Jou beskermgees[8] sal my verskoon as ek sê: jy sou nie graag 'n stukkie brood uit haar hand geneem het nie. Nou, waarom weet nugter, het sy tot in die hemel gestyg en is vir Trimalchio die heelal. Met een woord, as sy hom sê dat dit donker is in die helderheid van die dag, sal hy haar glo. Hy self weet skaars wat hy besit, so geweldig ryk is hy; maar hierdie wolfoog-vrou sien alles vooruit, ook waar jy dit nie sou dink nie. Sy is nugter en self-beheers en gee goeie raad, maar sy het 'n skerp tong en sit lelik op sy kop. As sy (139) van iemand hou, hou sy van hom; wie sy verfoei, verfoei sy. Trimalchio se lande strek uit sover as 'n kraai kan vlieg; hy rol in die geld. In die kamer van sy deurbewaarder lê meer silwer opgehoop as waaruit ander mense se hele fortuin bestaan. En sy slawe - moenie praat nie! Wragtie, daar is nie een in tien wat sy baas ooit gesien het nie.... En jy moenie dink dat hy ooit iets koop nie: alles word tuis geproduseer: wol, sitroene, peper - jy kan hanemelk kry as jy dit sou vra! Toe sy wol nie bevredigend was nie, koop hy ramme uit Tarentum en skop hulle so onder sy kudde in. Hy het bye van Athene laat kom, sodat hy Attiese heuning tuis kon hê: en, tussen hakies, die Italiaanse bye sal 'n bietjie verbeter word deur die Griekse. En kyk, in die laaste paar dae het hy geskrywe om saad van eetbare paddastoele uit Indië.... Moenie die ander, wat net soos hy vrygemaakte slawe is, verag nie: hulle is baie sappige kêrels: hierdie een het sy agduisend pondjies. En eers was hy niks: nog onlangs het hy vragte hout op sy nek gedra. Maar soos hulle sê (ek weet niks, maar ek het gehoor) hy het die kabouter se mus afgetrek en 'n skat ontdek.[9] Wel, ek beny niemand as die god hulle 'n geluk gee nie...."

Trimalchio onderbreek hierdie plesierige praatjies. (140) Die vlees is nou afgedra, en die gesellige gaste begin hul aandag aan die wyn en aan algemene gesprekke gee. Die heer lê op sy elmboog en sê: „Laat hierdie wyntjie nou gesellig by jul kele afsak: Visse moet mos iets hê om te swem. Maar ek vra julle, het julle gedink dat ek tevrede was met daardie dinee wat julle bo-op die skottel gesien het?"

„Só, dan het jul Ulysses toe geken?"[10] .... „Nou ja, 'n mens moet selfs by 'n dinee sy kultuur nie vergeet nie..... Die hemel hier (in die skottel) waar die twaalf gode[11] woon, verander in eweveel sterre en word op 'n sekere tyd 'n ram. En iedereen wat onder daardie ster gebore is, het baie kuddes en wol en 'n harde, skaamtelose voorhoof en skerp horings. Baie pedante professore en jong rammetjies word onder hierdie ster gebore. Ek is onder die Krap gebore, en dus het ek baie bene om op te staan en baie besittinge op land en ter see; onder die Boogskutters word skeel mense gebore wat die spek steel solank as hulle na die groente kyk; onder Aquarius, hotelhouers en mense met water op die brein. So draai die wêreld soos 'n meul en bring altyd een of ander kwaad tot stand, die geboorte van mense of hul (141) dood. Julle het die groen turf in die middel van die skottel gesien en die heuning daarop: ek doen niks sonder 'n rede nie. Moeder-Aarde lê in die middel van die heelal, rond soos 'n eier, en in haar is alle goeie dinge, soos in die heuningkoek."

„Pragtig!" roep ons almal uit, en met hande omhoog gehef na die dak, sweer ons dat Hipparchus en Aratus[12] nie met hom te vergelyke is nie. Toe kom die bediendes en bedek elke rusbank met 'n kleed waarop 'n net geskilder was en met jagters wat lê en wag met spere en al die toebehore van die jag. Ons wis nog nie wat ons eintlik moes verwag nie, toe 'n groot rumoer buitekant die eetkamer ontstaan, en daar kom Spartaanse jaghonde binne wat om die tafel begin rondhardloop. Daarna word 'n skinkbord ingebring waarop 'n wildevark van die eerste grootte rus. Hy dra die mus van vryheid[13] en twee klein mandjies geweef met palmtakkies wat van sy tande afhang vol dadels, die een Egipties, die ander Siries. Rondom is klein speenvarkies van soetkoek gemaak wat aan die tepels lê en suig, om 'n sog aan te dui: hulle was presente vir die gaste om huis-toe te neem. Snyaar, wat die pluimvee uitmekaar gewerk het, moes nou plek maak vir (142) 'n groot takhaar-kêrel met bande om sy bene en 'n gespikkelde jagtersbaadjie, wat sy jagmes uitgetrek en die sy van die wildevark 'n geweldige steek toegedien het. Daarop vlieg daar 'n klompie vinke[14] uit; maar voëlvangers staan klaar met lymriete en vang hulle gou-gou terwyl hulle in die eetkamer rondfladder. Toe beveel Trimalchio dat elke gas sy porsie moet kry en sê: „Julle sien ook watter mooi akkers hierdie bosvark gevreet het;" en dadelik nader die slawe die mandjies wat van die tande afhang en deel Egiptiese en Siriese dadels aan die gaste uit op die maat van 'n vasgestelde ritme.

Intussen het ek in my afgeslote hoekie my gedagte in allerhande rigtings laat gaan en myself afgevra waarom die vark met 'n vryheidsmus ingekom het. Na allerhande dwase spekulasies verstout ek my om daardie kêrel wat my tevore reggehelp het, te vra omtrent die saak wat my hinder. En hy sê: „U dienswillige dienaar kan ook dit verklaar; dis nie 'n raaisel nie, dis heeltemal duidelik. Gister het hy by die vernaamste gereg verskyn, en die gaste het hom sy ontslag gegee en daarom kom hy terug na die dinee vandag as 'n vrygelatene." Ek vervloek my onnoselheid en stel toe geen vrae meer nie, uit vrees dat dit sou blyk dat ek nog nooit met ordentlike mense gedineer het nie. (143)

Onderwyl ons gesels, bring 'n skone jongeling wat Bacchus voorstel, nou as die besetene, nou as die bevryder, nou as aangeroep deur sy dienaars, druiwe in 'n klein mandjie rond en dra die gedigte van sy baas in 'n baie hoë stem voor. Toe Trimalchio hoor, draai hy om en sê: „Dionysus, wees vry!"[15] Die jongeling gryp die mus van die wildevark se kop af en sit dit op sy eie. „Julle sal nie ontken nie," gaan Trimalchio voort, „dat die god van vryheid my vader is. . . . "

„Ja," sê een van die gaste, „niemand gee om hoe die prys van koring ons kwel nie. Ek sweer ek kon nie 'n mondvol brood vandag kry nie. En die droogte wil maar nie ophou nie. Die hele jaar is daar al hongersnood. 'n Vloek op die regering wat 'n sameswering met die bakkers het en die spelletjie speel van: ,Help my, dan help ek jou.' En so word die volk vertrap, want die kakebene van die rykes vier maar gedurig Kermis.[16] Maggies, as ons daardie ou snare gehad het wat ek hier gekry het toe ek uit Asië gekom het! Hulle was leeus! Dit was 'n lewe! As die meel nie van die fynste was nie, het hulle daardie regeringsmomparas gemoker dat hulle hik, en die vrees van die hel by hulle ingeja. Ek onthou nog (144) Safinius: toe ek 'n kind was, het hy by die ou triomfboog gewoon. Hy was meer 'n peperpot as 'n man: waar hy loop, skroei hy die grond. Maar hy was eerlik, jy kon hom vertrou - 'n ware vriend met wie jy morra[17] in die donker kon speel. Hoe het hy hulle tog in die raadhuis opgedons, een vir een, nooit met omhaal van woorde nie, maar padlangs! Gevolglik was kos toe spotgoedkoop. 'n Brood het 'n trippens gekos en was meer as genoeg vir twee. Vandag sien jy 'n mosbolletjie groter as die brode wat hulle bak. Maggies, dinge word erger by die dag. Hierdie dorp loop afdraand soos 'n kalf se stert. Maar hoekom verdra ons 'n burgemeester wat nie 'n bokstert werd is nie en meer daarvan dink om 'n trippens in sy sak te steek as om ons lewe te red? Daar sit hy tuis, hoog in sy skik, en maak meer geld in een dag as ander mense in 'n erfenis het. Ek weet reeds waar hy 'n duisend goue stukke raakgeloop het. As ons enige manlikheid gehad het, sou hy minder tevrede met homself wees. Nou is mense leeus tuis, maar op straat jakkalse.... Wat moet gebeur as nòg mense nòg gode hulle oor hierdie dorp ontferm? So waar as ek hoop om plesier van my kinders te hê, ek glo al hierdie (145) dinge kom van die gode af. Want niemand glo nou meer aan die hemel nie; niemand vas nie; niemand dink vir 'n oomblik aan godsdiens nie.

Almal sluit net hul oë en tel hul bankrekening na. In die ou dae het die moeders in hul Sondagsklere die heuwel beklim met kaal voete en los hare, rein van hart, om reën van die hemel af te smeek. En toe het dit dadelik emmersvol gereën; dit was toe of nooit; en hulle het almal tuisgekom soos verdrinkte muise. Maar nou hoor ons nie die gode naderkom nie[18] weens ons ongeloof. Daarom lê ons velde verskroei ...." ,Ag, wat," sê Echion, die kombersmaker, „moenie so treurig praat nie. Dis nou op, en dan weer af, soos die boer gesê het wat sy gespikkelde vark verloor het. Wat vandag nie kom nie, kom môre: so strompel ons een skof na die ander van die lewe deur. Daar's nie 'n beter land as hierdie nie: dis die mense wat die moeilikheid is. Nou gaan dit maar broekskeur hier, soos in ander lande ook. Ons moet nie te kieskeurig wees nie: ons het almal 'n plek onder die gewelf van die lug. As jy êrens anders was, sou jy sê dat gebraaide speenvarkies hier in die strate rondloop. En kyk, ons gaan oor drie dae mos 'n pragtige skouspel kry op die feesdag: nie beroepsgladiatore nie, maar 'n hele klomp vrygelatenes...." (146)

„Wel, Agamemnon," (sê hy tot die professor van Retoriek) „my seuntjie word nou al 'n volgeling van jou. Hy kan al deel-sommetjies maak; as hy lewe, sal jy 'n gedienstige dienaar hê. Elke oomblikkie wat hy kry, sit hy met sy neus op die lei. Hy's slim en van goeie stoffasie, al is hy te lief vir sy voëltjies. Die ander dag het ek sy drie Kaffervinke[19] doodgemaak en vir hom gesê dat die kat hulle gevang het. Maar hy het 'n ander stokperdjie gekry en skilder nou met groot lus.

„Hy het 'n goeie skof van sy Grieks agter die rug en begin al 'n mooi smaak vir Latyn ontwikkel, al is sy meester so met homself ingenome. Die kind is rondspringerig en kom na my toe om hom skryfwerk te gee, en tog wil hy nie gestadig werk nie. Ek het 'n ander seun ook wat nou nie juis 'n wonder is om te leer nie, maar baie nuuskierig: hy kan jou meer vertel as wat hy self weet. En so kom hy altyd huis-toe met die vakansiedae en is tevrede met alles wat jy hom gee. Ek het die kind nou die dag 'n paar boeke gekoop met die hoofstukke in rooi letters aangekondig. Ek wil hom so 'n smakie van die wet gee vir gebruik tuis: daar sit geld in. In letterkunde het hy al genoeg rondgespeel. As hy teenstribbel, sal ek hom 'n ambag laat leer - hy kan 'n haarsnyer of 'n (147) afslaer word of minstens 'n advokaat,[20] iets wat die dood hom alleen van kan ontroof. Ek hou dus elke dag by hom aan: ,Primigenius, hoor wat ek sê: wat jy leer, leer jy vir jou eie beswil. Kyk na Phileros, die advokaat: as hy nie gewerk het nie, sou hy vandag honger ly. Dis nie so lank gelede dat hy koopware op sy rug rondgesmous het nie, en vandag meet hy hom selfs met die ryk Norbanus.

Ja, opvoeding is 'n skat; kultuur sterf nooit nie.' "Praatjies van dié aard het rondgevlieg tot Trimalchio inkom en die sweet van sy voorhoof afvee en sy hande in laventel was......

„,Ja, my vriend," sê hy tot een van die gaste, Habinnas, die steenbouer, „ek smeek jou om aan die voet van my grafmonument my klein hondjie te plaas en 'n paar kranse, en vase met reukolie en al die gevegte van die gladiator Petraites.... en ek wil hê dat die monument 'n honderd voet van voor moet wees en tweehonderd voet lank.... en sit skepe met gevulde seile daarop, en myself in my offisiële gewaad op 'n verhoog, sittende met vyf goue ringe, terwyl ek geld uit 'n sak vir die volk uitdeel. Aan my regterhand laat daar 'n standbeeld wees van my geliefde Fortunata met 'n duif op haar hand, en laat haar 'n hondjie lei met 'n maagband om.... en laat daar 'n gebroke (148) kruik uitgebeeld wees met 'n knaap wat daaroor ween; en 'n sonnewyser in die middel, sodat enigeen wat kyk hoe laat dit is, my naam sal lees, of hy wil of nie; en oorweeg tog ernstig, of hierdie opskrif heeltemal toepaslik vir jou lyk:

„Hier lê Gaius Pompeius Trimalchio, vrygelatene van Maecenas. Die derde graad van Priester van Augustus is hom in sy afwesigheid toegeken. Hy kon in Rome op die staf van enige hoë beampte gewees het, maar hy het geweier. Godvresend, dapper, getrou, het hy sy lewe met baie min begin en dertig miljoen nagelaat. Hy was nooit op 'n universiteit nie. Vaarwel, Trimalchio: en u, vreemdeling, wat dit lees, vaarwel!'"

Die weerwolf[edit]

(Petronius, Satyricon, 61.)

Trimalchio kyk vir Niceros en sê: „Jy was altyd geselliger by ons partytjies as vanaand: nou sit jy oor iets te broei en brom. Maak my nou gelukkig, ek smeek jou, en vertel wat jou wedervaar het."

Niceros was verheug oor die gemoedelikheid van sy vriend en sê: „Mag ek nooit weer 'n oulap wins maak nie, as ek nie al lank verruk is van vreugde om jou in so 'n (149) stemming te sien nie. Nou ja dan, net vir die grap - ofskoon ek vrees daardie geleerde mense sal my uitlag. Ek gee nie om nie: watter kwaad kan uitlag my doen? Dis beter om uitgelag as om publiek bespot te word."

So spreek die held en so is sy verhaal.[21]

„Toe ek nog 'n slaaf was, het ons in 'n nou straatjie gewoon, waar die huis van Gavilla nou is. Daar, soos die gode gewil het, raak ek verlief op die vrou van Terentius die hotelhouer: julle het haar geken, Melissa van Tarentum, 'n mooi ronde dingetjie. Maar dit was nie haar uiterlike skoonheid waarop ek verlief was nie, dit was haar edele karakter. Alles wat ek gevra het, wou sy my gee. As sy 'n oulap maak, kry ek 'n stuiwer. Alles wat ek verdien, het ek in haar sak gesteek en sy het my nooit bedrieg nie.

Eendag sterf haar man op die landgoed van sy baas. En ek het gewerskaf en prakseer hoe om haar op een of ander manier te bereik. Soos julle weet, daag vriende op in tyd van nood. My baas moes toevallig na Capua om sy ou sakies in orde te bring, en ek gryp die kans en vra 'n gas in ons huis om saam met my tot by die vyfde mylklip te gaan. Hy was 'n soldaat, - so dapper soos die hel. Teen hanegekraai trap ons twee: die maan skyn soos middag. Die pad lei tussen grafstene (150) deur,[22] en my maat gaan na die stene toe, terwyl ek liedjies sit en sing en die graftombes tel.

Toe ek omkyk, het my vriend hom uitgetrek en al sy klere langs die pad neergesit. My hart was in my mond, ek staan daar soos 'n dooie man. Die vent maak 'n waterkring om sy klere en verander skielik in 'n wolf. Moenie dink dat ek die gek skeer nie; g'n geld in die wêreld sou my oor hierdie saak laat lieg nie. Soos ek sê, hy verander in 'n wolf en loop huilend die bosse in. Eers het ek skaars geweet waar ek was; ek loop na sy klere toe, maar hulle het in 'n klip verander. Ek was so amper morsdood van skrik. Maar ek trek my swaard en veg met die skaduwees die hele pad tot ek die huis van my geliefde bereik. Ek het soos 'n spook binnegegaan en byna die gees uitgeblaas: die sweet loop by my bene af, my oë was dof, ek kon skaars weer bykom.

My liewe Melissa was verwonderd dat ek so laat uit was en sê: "As jy nou eerder gekom het, kon jy ons ten minste gehelp het: 'n wolf het op ons landgoed gekom en al ons skape aangepak en soos 'n slagter hul bloed laat vloei. Maar die lag was nie heeltemal aan sy kant nie, al het hy ontsnap: want ons slaaf het hom met 'n speer in die nek gewond." (151)

Nadat ek dit gehoor het, kon ek nie rus nie, maar met dagbreek loop ek na die huis van my baas Gaius, haastig soos 'n besteelde hotelhouer, en toe ek by die plek kom waar die versteende klere gewees het, kry ek niks behalwe 'n dammetjie bloed nie.

Maar toe ek by die huis kom, lê my soldaat soos 'n gevelde os daar in sy bed, en die dokter verbind sy nek.

Toe verstaan ek dat hy 'n weerwolf was, en daarna kon ek nooit meer met hom aan tafel sit nie, al slaan jy my dood.

Ander mense kan hieroor dink wat hulle wil; maar mag al julle beskermgeeste 'n wrok teen my koester as ek lieg."

Ons was almal stom van verbasing, maar Trimalchio sê: „Ek wil jou storie aanneem. Glo my, die hare het penorent op my kop gestaan: want ek weet Niceros vertel nooit onsin nie."

Psyche en Cupido[edit]

(Apuleius, Metamorphoses IV - VI.)

Apuleius, ons Afrikaner uit die Noorde, het in die tweede eeu na Christus geleef. Sy geboorteplek was Madouna (nou Mdaurusch) in Oos-Algerië, 'n voorspoedige Romeinse kolonie. Hy het 'n goeie (152) opvoeding geniet in Karthago en in Athene en het baie rondgereis. In Karthago was hy later baie beroemd as professor en filosoof. Hy het vreemde ondervindinge opgedoen: hy is byvoorbeeld deur teleurgestelde erfgename voor die hof gebring en daarvan beskuldig dat hy gebruik gemaak het van toormiddels om sy huwelik met 'n ryk weduwee te bewerkstellig. En die onderwerpe waaroor hy geskryf het, was soms nie minder vreemd nie, b.v. hoe om 'n papegaai af te leer om te vloek. Maar die vreemdste van alles was die avonture van Lucius, wat hy in sy Metamorphoses (of Gedaanteverwisselinge) beskryf.

Lucius reis op 'n dag deur Thessalië,'n land wat soos Noord-Afrika beroemd was deur sy toordery, en kom te lande by die huis van 'n dame wat 'n heks was. Haar diensmeisie, Fotis, onderneem om sy nuuskierigheid te bevredig en hom te wys hoe haar meesteres te werk gaan. Deur 'n skrefie in die deur aanskou hy hoe die dame 'n misterieuse salf oor haar liggaam smeer, plotseling in 'n uil verander en by die venster uitvlug. Nou wil hy ook so maak. Fotis bring 'n potjie salf. Hy smeer, verwag om te vlieg, maar vind dat al wat hy wil doen, beperk word deur die uiterlike gedaante van 'n esel. Fotis het hom die verkeerde salf gegee! Maar sy weet wat hy moet doen: as hy rose vreet, sal hy sy menslike vorm terugkry. Dit gaan egter nie so maklik om rose te kry nie, en die lewe word nou vir hom baie druk. Eers skop sy (153) eie perd hom amper dood in die stal; dan kom rowers en voer hom saam na die berge toe. Voor sonop gaan die rowers op hul strooptog, maar kom teleurgesteld terug - hul hele buit bestaan slegs uit 'n jong dame. Haar oorhandig hulle aan die ou vroutjie wat vir hulle huishou in die berggrot. Om haar te troos, vertel die ou vrou die storie van Psyche.

Die Metamorphoses, waaruit hierdie verhaal geneem is, vorm saam met die Satyricon van Petronius die enigste reste van die Romeinse roman. Die kiem van die antieke roman is waarskynlik te vind in die Stories van Miletus, sewe boeke van gewaagde liefdesverhale deur 'n sekere Aristides uit ongeveer die tweede eeu v. Chr., wat nou verlore is. Daar was ook 'n stel wat deurgegaan het onder die naam van Boeotiese Verhale. Die langer Griekse romans wat ons besit, dateer uit die vierde en die vyfde eeu na Chr. Hulle kan nie met die werk van Apuleius of Petronius vergelyk word wat betref karaktertekening en kleur en tegniek nie.

Die storie van Psyche is miskien te verstaan as 'n simbool van die menslike siel in sy worsteling met die liefde.

I.

„Ek sal," sê sy, „om jou treurigheid te troos, vir jou sommer van 'n vermaaklike ouvroustorie vertel." En sy begin aldus: (154)

„In 'n sekere stad was daar 'n koning en 'n koningin. Hulle het drie baie mooi dogters gehad. Die oudste twee was buitengewoon aantreklik, so egter dat dit moontlik was, sonder onpaslikheid, om hulle met menslike prys te vereer; maar die armoede van aardse spraak kon geen uitdrukking of genoegsame lof vir die uitmuntende en skitterende skoonheid van die jongste vind nie. Eindelik het baie burgers en 'n massa vreemdelinge byeengekom, aangevuur deur die gerugte, om haar wonderbaarlike skoonheid te aanskou, en, verstom deur haar weergalose bekoorlikheid, het hulle die regterhand met die voorvinger op die duim aan hul lippe gebring en haar op godsdienstige wyse vereer, asof sy die godin Venus self was. En nou gaan die gerug rond in die naburige stede en streke dat die godin, wat uit die diep blou see gebore is en met die dou van die skuimende branders gevoed is, nou met mense op aarde omgaan; of anders het die aarde en nie die see nie deur 'n nuwe invloed van die sterre 'n ander Venus laat voortspruit in die bloei van maagdelike skoonheid.

Gevolglik het niemand meer die tempels van die godin in ag geneem of Paphos of Knidos of die eiland Kytehra nie. Haar plegtighede word verwaarloos, haar heiligdomme lê onversorg, haar dienste vind nie meer plaas nie, haar standbeelde mis hul kranse, haar altare is vuil en die (155) as daarop koud. Almal dien nou die jong dogter. Hierdie onbetaamlike verandering, die diens van 'n menslike maagd in plaas van 'n godin, het die woede van die ware Venus geweldig gaande gemaak.

„Wat," sê sy, „ek, die oudste moeder van die aarde, die eerste begin van die skepping, ek, wat die hele wêreld groeikrag gee.... ek moet voorwaar my eerbewyse met 'n mensekind deel! Maar sy sal netnou spyt hê van haar ongeoorloofde skoonheid."

Toe roep sy haastig haar gevleuelde seun, Cupido, hy wat so astrant is en deur sy slegte gewoontes die goeie orde in die samelewing verag en, gewapen met vurige pyle, deur ander mense se huise snags rondgaan en allerlei kwaad aanrig. Hom neem sy en wys vir hom Psyche - want dit was die meisie se naam - en vertel hom die storie van haar mededinging en sê met knersende woede:

„My seun, ek bid jou, as jy jou moeder liefhet, neem weerwraak om my ontwil en bring 'n sware straf op die weerspannige skoonheid."

Toe gaan sy na 'n naburige strand en vaar met haar rosige voete oor die bewende water, en toe word die dieptes kalm en stil. En op haar wens en asof sy reeds lank die bevel gegee het, kom haar seedienaars voort. Daar kom die dogters van (156) Nereus,[23] met hul koorsang, en Portunus[24] met sy groen takhaarbaard. Hier blaas die een saggies op sy welluidende skulp; daar sprei 'n ander 'n weefsel van sy teen die brandende hitte van die son; 'n derde hou 'n spieël voor sy meesteres se oë, en ander, twee aan twee, swem onder die wa van Venus deur.

Intussen het Psyche, ten spyte van al haar erkende bekoorlikheid, geen vrug van haar skoonheid geproe nie. Almal aanskou haar, maar nooit het daar iemand, koning of prins of selfs minnaar uit die volk, vorentoe gekom met die begeerte om met haar te trou nie. Hulle het haar goddelike skoonheid bewonder, maar soos mense 'n pragtig afgewerkte standbeeld bewonder. Lank gelede al het haar susters, wie se skoonheid meer alledaags en nooit deur die hele wêreld beroemd was nie, verloof geraak met konings wat hulle kom vra het, en gelukkige bruide geword.

Maar Psyche sit tuis alleen en ongehuud en, siek in haar liggaam en gewond in haar gees, betreur sy haar uiterste eensaamheid, en ofskoon dit onder alle volke byval gevind het, haat sy haar eie skoonheid.

Daarom het haar vader baie treurig geword en, denkende dat die gode kwaad was en uit vrees vir (157) hul woede, doen hy navraag by die oudste orakel van die god van Miletus en versoek die magtige god met gebed en brandoffer om 'n man te gee aan die maagd wat deur almal vermy word. En Apollo, ofskoon hy Ionies was en 'n Griek, om nie die verteller van hierdie Milesiese verhaal verleë te maak nie, gee toe sy antwoord in Latyn:

Stel nou die dogter, O Koning, daar ginds op die
bergtop se steilte,
Stel haar gekleed soos 'n bruid, bruid voorberei vir
die Dood.
Wag jy dan nie vir 'n skoonseun, gebore uit menslike
ouers,
Wag maar net vir die slang - woes is hy, giftig en
wreed.
Hy wat vlieg deur die hemel met vlerke en alles
oorweldig,
(Vuur gebruik hy en swaard), een vir een maak hy
hul moeg.
Juppiter self is bevrees, en die gode is bang vir sy
magte,
Ja, die riviere en selfs Hel met sy duisternis beef.

En die Koning, voorheen gelukkig, gaan, toe hy die orakel van Apollo hoor, skoorvoetend en treurig huis-toe en verduidelik die bevele van Apollo aan sy vrou. Toe begin hulle rouklag te maak en dae aaneen te ween en treur. (158)

Maar die afskuwelike vervulling van die orakel kom nou nader. Nou word maatreëls getref vir die begrafnis-huwelik van die ongelukkige meisie. Nou brand die fakkels[25] flou met donker roet en as; die melodie van die huweliksfluit word verander in die treurige, Lydiese wysie, en die vrolike klank van die troulied eindig in 'n triestige gehuil, en die bruid vee haar trane met haar huweliksluier af.

So beween ook die hele stad die treurige lot van die swaar beproefde huis, en gevolglik word al dadelik alle openbare sakeverrigtings op bevel gestaak.

Maar die noodsaaklikheid van gehoor te gee aan die hemelse bevele het die arme psyche tot haar reeds vasgestelde lot gedwing. En toe die plegtigheid van die noodlottige huwelik met groot verdriet volbring is, het die hele volk die lewendige lyk begelei en die wenende Psyche nie na haar troufees nie, maar na haar begrafnis vergesel.

Toe kom hulle by die rots op die berghoogte en plaas haar op die toppunt en verlaat haar. Die fakkels, wat hulle voorgelig het, is met hul trane geblus en daar gelaat. Met geboë hoofde het hulle huis-toe gegaan, en die arme ouers, moeg van al hul rampe, het hulle teruggetrek in die donkerheid van hul opgesluite paleis en hulself oorgegee aan die eindelose nag. (159)

Intussen sit Psyche, eensaam en bevrees, op die hoogte van die rots en ween, toe daar skielik 'n sagte windjie met die asem van die Weste kom en haar kleed heen en weer waai en die voue oor haar boesem laat swel. En toe word sy langsaam opgelig en geleidelik afgedra op die stille lug langs die steilte van die rots en geplaas op die blomryke gras in die boesem van 'n diep vallei."

II.

Soet lê Psyche en rus in die sagte weivelde op gras nog fris van die dou. Haar wilde geestesangs het bedaar en sy raak sag aan die slaap. En toe sy deur die slaap verkwik was, staan sy op met vrede in haar siel.

Daar sien sy 'n bos van groot en hoë bome, sien 'n waterfontein, deurskynend soos glas, in die middel van die woud. Naby die voortglydende fontein staan daar 'n paleis, deur geen menslike hande gebou nie, maar deur die vernuf van 'n god. Die plafonne, sorgvuldig uitgewerk in sandelhout en ivoor, is ondersteun deur suile van goud, en die mure is bedek met wilde diere van die veld, in silwer uitgegraveer: hulle staan jou en aankyk as jy binnekom. Die plaveisel was van edelgesteente, klein gesny en gerankskik om allerhande patrone te vorm. Die res van die huis in alle rigtings was (160) kosbaar bo berekening. Die mure is gebou van massiewe goudblokke en skyn met 'n eienaardige glans en maak daglig binne die huis, al sou die son nie skyn nie.

Aangelok deur die bekoorlikheid van die plek, kom Psyche nader, kry meer en meer moed en gaan eindelik binne. En eerlang dring die genot van soveel skoonheid haar om alles in besonderhede te ondersoek, totdat sy in 'n ander deel van die huis 'n hoë kamer sien, opgehoop met 'n mag van skatte. En wonderlikste van al, daar was geen ketting of grendel of bewaarder om daardie wêreld van skatte te verseker nie.

Terwyl sy hierdie dinge opgetoë bekyk, klink daar 'n liggaamlose stem:

„Waarom, meesteres, is u verbaas oor al hierdie rykdom? Alles behoort aan u. Gaan nou na u slaapkamer, verdryf u moegheid met rus en bad as dit u behaag. Ons, wie se stemme u hoor, is u dienaresse. Ywerig sal ons u dien, en as u verkwik is, sal ons u dadelik 'n koninklike maaltyd voorsit.

Psyche voel die geluksaligheid van goddelike Voorsienigheid toe sy die geestelike stemme hoor en die raad wat hulle gee, en eers met rus en toe met 'n bad verdryf sy haar moegheid. Toe sien sy meteens by haar 'n halfronde rusbank en 'n tafel, vir 'n maaltyd gereed gemaak, en sy gaan gretig aansit by 'n dis wat sy geskik ag om haar te (161) versterk. En dadelik word wyne, fyn soos nektar, ingebring en baie geregte van verskillende soorte, nie, egter, deur enige persoon nie, maar deur 'n geheimsinnige wind, want sy kan niemand sien nie, maar net woorde hoor val; en stemme alleen was haar dienaresse. Na die pragtige maaltyd kom iemand binne en sing ongesien; 'n tweede speel op 'n harp, ook sonder om sigbaar te wees. Toe bereik die gesamentlike stem van 'n singende menigte haar ore sodat, ofskoon sy geen mens kon sien nie, dit gelyk het asof sy haar in die teenwoordigheid van 'n koor bevind.

En nou is die vermaaklikhede oor. Die dag daal. Psyche voel lus om te gaan slaap. En toe die nag reeds ver gevorderd was, kom daar 'n strelende geluid na haar ore toe, en sy was bang en vol vrees. Toe kom haar onbekende man na haar bed en maak haar sy vrou en staan in die môre voor dagbreek op en verlaat haar.

Intussen het haar vader en moeder oud geword van al hul onophoudelike verdriet, en die gerug daarvan is ver versprei, en die twee susters hoor van alles en haastig verlaat hulle hul huise, vol sorg en kommer, en kom, die een gouer as die ander, om hul ouers te sien en met hulle te praat.

Daardie nag spreek die man van Psyche haar aan: „Psyche, my soet geliefde, my teer beminde vrou, 'n wreder noodlot bedreig jou met 'n (162) dodelike gevaar, waarteen ek jou raai om met groter sorg as voorheen te waak. Jou susters, onthuts deur jou gewaande dood, is op jou spoor en sal netnou by daardie rots wees. Maar as jy hul rouklag hoor, antwoord hulle nie en moenie eens in hul rigting kyk nie. Anders sal jy vir my 'n sware beproewing, vir jou die uiterste ramp voorberei."

Psyche het ingewillig en belowe om te doen soos haar man verlang. Maar toe hy haar met die verbygaan van die nag verlaat, het die arme kind die hele dag in trane en gejammer deurgebring. Nou, herhaal sy teen haarself, is sy hopeloos verlore, want sy word gevange gehou in haar weelderige tronk, beroof van omgang met mense - sy mag nie eens haar susters troos, wat haar beween nie, hulle selfs nie eens sien nie, so het sy aanhoudend getreur.

Na 'n ruk kom haar man skielik enigsins vroeër as gewoonlik tuis en neem haar, nog vol trane, in sy arms.

„Psyche, liefling," sê hy, verwytend, „was dit jou belofte? Nag en dag martel jy jou gees af, selfs wanneer jou man jou omhels. Kom, laat dit wees soos jy wil, gehoorsaam jou hart, al bring sy raad 'n ramp. Maar onthou net, as jy te laat begin berou kry, my ernstige waarskuwing aan jou."

Hy gee haar toe verlof om haar susters soveel (163) goud en juwele te gee as sy wil, maar hy waarsku haar herhaaldelik in woorde wat haar met bewing vervul, om nooit toe te laat dat haar susters met hul rampsalige planne haar uitvra hoe haar man lyk nie. As sy aan 'n onheilige nuuskierigheid sou toegee, sal sy val van die hoogtepunt van geluk wat sy nou bereik het, en nooit meer deur haar man omhels word nie. Opgebeur nou, bedank sy haar man.

„Liewer," sê sy, „sou ek honderdmaal sterf as om van jou soete gemeenskap beroof te word. Wie jy ook al is, ek bemin jou hartstogtelik soos my eie lewe. Vergeleke by jou, is Cupido self soos niks nie. Maar ek bid jou, staan my dit ook toe: gebied jou dienaar, die Westewind, om my susters hierheen te bring net soos hulle my gebring het."

Oorwen deur die mag van haar liefde-fluisteringe, gee haar man toe, ofskoon onwillig, en beloof hy om alles te doen wat sy vra. En toe die daglig nader, vertrek hy van haar sy.

Intussen het die susters navraag gedoen omtrent die rots waar Psyche gelaat is, en haastig daarheen gegaan en rouklag gemaak totdat al die rotse antwoord gegee het. En Psyche, opgewonde en mal van blydskap, kom by die paleis uitgehardloop en roep:

„Kyk, hier is ek wat julle beween. Hou op (164) met treur, want op hierdie oomblik kan julle haar omhels vir wie julle rouklag gemaak het." Toe roep sy die Westewind, en op die vleuels van sy sagte asem bring hy hulle veilig in die vallei af. Toe omhels die susters mekaar met trane van vreugde. En Psyche sê:

„Kom nou in die paleis wat my tuiste is, en verkwik jul verslae harte aan die teenwoordigheid van jul eie Psyche."

Toe wys sy hulle al die skatte van die goue paleis en laat hulle die stemme hoor wat haar dien, en verkwik hulle met baie en met die smaaklikhede van daardie goddelike tafel, totdat hulle 'n diepe afguns in hul binneste begin te koester. En eindelik het een van hulle onophoudelik en met die grootste noukeurigheid begin uitvra wie dan die eienaar van hierdie hemelse paleis was en wie haar man was en hoe hy lyk.

Maar Psyche het nie haar man se bevel op enige manier geskend of uit die geheime plekke van haar hart verdryf nie, maar voetstoots voorgegee dat hy 'n skone jongeling was wat groot behae in veld en bergjagte skep. En sodat sy nie deur verder te praat sou struikel en haar verborge gedagte verraai nie, hoop sy goud en halssnoere van edelgesteentes op hulle en sê vir die Westewind om hulle huis-toe te bring.

Daarna gaan die geagte susters huis-toe, en die (165) gif van afguns begin geweldig in hul harte te kook. En die een sê:

„Kyk nou hoe verarm en wreed en onregverdig is die noodlot! Hier lewe Psyche soos 'n godin en het die winde selfs om haar te bedien, terwyl ek 'n man getrou het wat so kaalkop soos 'n pampoen is en die hele huis toesluit met grendels en kettings."

En die ander antwoord: „En ek is getroud met 'n man wat die jig het en wat krom loop, en ek brand hierdie fyn hande van my met stinkende pappe en vuil lappe en onaangename pleisters. Laat ons nou teruggaan, maar sterker terugkom en haar hoogmoed straf."

So besluit die twee. Hulle begrawe die skatte wat Psyche hulle gegee het, en trek hul hare uit en besmeer hul gesigte en stort weer hul krokodiltrane oor Psyche. Op dié manier het hulle die leed van hul ouers verdubbel.

Intussen het Psyche se onbekende man haar weer gewaarsku en met haar in die donker van die nag gepraat.

„Sien jy," sê hy, „hoe groot die gevaar is wat jou bedreig? Daardie valse wolwe van susters span hulle in om 'n goddelose komplot teen jou te smee, waarvan die doel is om jou te beweeg om my gesig te sien. En soos ek jou gesê het, as jy dit eenmaal sien, sien jy dit nie weer nie. As hulle dus hierheen kom - en ek weet hulle sal - moet jy (166) glad nie met hulle praat nie, of ten minste nie iets aanhoor of sê wat op jou man betrekking het nie. Binnekort sal jy 'n moeder word; as jy my geheim oppas, sal die kind goddelik van natuur wees - anders sterflik en aards."

Nou begin Psyche te snik en te pleit - in onsekerheid.

„Lank reeds het jy bewyse gekry van my getrouheid en my geheimhouding. Gebied tog nou jou dienaar, die Westewind, dat hy doen wat hy tevore gedoen het sodat, as ek dan nie jou heilige gestalte mag sien nie, ek ten minste die gesigte van my susters mag aanskou. Ek bid jou nederig by al jou bekoorlikheid om aan die gebede van my ontruste gemoed nog hierdie keer gehoor te gee."

En haar man, bekoor deur haar woorde en haar liefkosing, beloof wat sy verlang; en voordat die dag daar is, vertrek hy.

Die twee susters kry nou hul planne agtermekaar en kom by die rots en spring roekeloos af. En die Westewind, gedagtig aan die goddelike bevel, vang hulle in sy boesem op (ofskoon teen sy sin) en sit hulle ongedeerd in die vallei neer. Sonder versuim gaan hulle na hul suster toe en verberg hul verraderlikheid onder 'n glimlaggende masker en vleiende woorde. „Psyche, jy word al 'n moeder. Wat 'n vreugde (167) tog vir ons! Hoe gelukkig sal ons wees om hierdie gulde kind te sien groei. As hy, soos dit moet wees, na sy ouers lyk, sal daar werklik 'n Cupido gebore word!"

Deur middel van hierdie voorgewende liefde, praat hulle Psyche so stadigaan om. Terwyl Psyche hulle vermaak en onderhou, vra hulle weer ewe listig wie haar man dan is; en sy in haar eenvoudigheid vergeet dat sy al tevore van haar man gepraat het, en versin 'n nuwe antwoord: hoe dat haar man 'n handelaar, 'n groot man van sake is en van middelbare leeftyd. Toe laai sy hul hande vol van die rykste presente en vra die Westewind om hulle weg te dra. Maar op hul reis huiswaarts begin hulle met bittere aanmerkings oor die leuen wat Psyche hulle vertel het:

„Daar is net twee moontlikhede," sê hulle, „òf die ellendeling lei ons om die tuin, òf sy weet nie hoe haar man daar uitsien nie. Ons moet 'n plan beraam om haar van haar geluk te beroof. Sy is seker met 'n god getroud en dan sal haar kind 'n god wees - maar mag die Hemel dit verhoed!"

Koorsagtig van woede het hulle slegs 'n hooghartige groet aan hul ouers gebring en die nag slapeloos en omgekrap deurgebring. Die volgende môre reis die ellendelinge haastig na die rots toe en vlieg vinnig af soos tevore met die hulp van die (168) Westewind. En toe, met gemaakte trane, gee hulle voor dat hulle vir Psyche innig jammer voel en vertel haar dat hulle te wete gekom het wie haar man regtig was. Hy is 'n groot en giftige slang!

„Dink," sê hulle, „aan die orakel van Apollo! Baie van die mense wat hier woon, het hom in die water van 'n naburige stroom sien swem as hy saans terugkom van sy weiveld. Sal jy by hierdie monster bly om uiteindelik deur hom ingesluk te word? Moenie later sê dat ons ons plig as susters versuim het deur jou nie te waarsku nie!"

Toe sy hul triestige woorde hoor, word die arme Psyche (want sy was eenvoudig en teer van hart) met vrees en bewing bevang. Sy beken toe dat sy haar man se gesig nooit gesien het nie en dat hy haar verbied het om dit te sien en vra hulle om in hul liefde vir haar te help. En hulle gee haar die raad om 'n lamp te neem en dit toe te dek, en dit dan te gebruik as sy met 'n skerp skeermes die monster tot sy welverdiende dood bring. Dan sal hulle haar help om die skatte te vervoer en haar aan 'n eerbare man help.

Maar toe Psyche weer alleen was, het golwe van weemoed haar heen en weer geslinger. Sy wil, sy wil ook nie; sy het moed, sy aarsel; sy wantrou, sy word woedend; in een liggaam verafsku sy die monster en bemin haar man. (169)

Eindelik daal die dag en haar man kom tuis, en nadat hy haar omhels het, raak hy aan die slaap. Toe bring Psyche (swak van liggaam, maar sterk gemaak deur die noodlot se wreedheid) die lamp te voorskyn en neem die skeermes. Maar so gou as wat die lamp die geheime van die bed aan die lig bring, sien sy die sagste en die lieflikste dier van alle wilde diere, bekoorlike Cupido self, wat daar lê en slaap. En by die sien van hom spring die vlam helder op van vreugde, en die mes kry spyt van sy onheilige skerpheid.

Toe Psyche sulke heerlike skoonheid sien, is sy verslae en verbaas, sy voel flou en swak, maar die goddelike gelaat inspireer haar weer met krag. Sy sien die goue lokke, in ambrosia gedrenk; sy sien die nek, witter as melk, die helder wange en die dou-sagte veertjies wat nà sy vlug soos glansende bloeisels oor sy skouers gestrooi is, en die buitenste veertjies, sag en teer, wat, ofskoon sy vlerke rus, bewerig sidder en rusteloos rondspeel.

Waarlik, Venus kon nooit spyt hê dat sy so 'n kind gebaar het nie! Aan die voet van die bed lê sy pylkoker en sy pyle, en Psyche, terwyl sy hul skerpte voel, verwond haar vinger aan hulle. Druppels rooi bloed kom te voorskyn, en so uit haar eie en onwetend raak Psyche nog meer verlief op die Liefde self. Meer en meer vat sy vlam, en met half-oop lippe buig sy hartstogtelik oor (170) hom heen en soen hom haastig oor en oor, sy vrees die langdurigheid van sy slaap.

Maar juis toe haar gewonde hart op die golwe van uiterste geluk gedra word, stort die lamp 'n druppel brandende olie op die regter skouer van die god. En hy, toe hy die pyn voel, spring van die bed op; en toe hy bemerk dat sy geheim laaghartig verraai is, skeur hy hom weg van die omhelsing van sy ongelukkige bruid en vlieg sonder 'n woord weg.

Tevergeefs probeer sy hom volg, en eindelik spreek die god, haar minnaar, uit 'n sipresboom tot haar:

„Helaas, Psyche, eenvoudig van hart! Ek het die bevele van my moeder dat ek jou moes verlief maak op 'n ellendige skepsel en jou met hom laat trou, vergeet en self jou minnaar geword. Dit was dwaas. Ek het my met my eie pyle gewond, net om hierdie beloning te verwerf dat jy my met staal wil vermoor. Oor en oor het ek jou vermaan en in my liefde jou gewaarsku."

Hiermee sprei hy sy vlerke uit, en vlieg weg.

III.

Sy volg die vlug van haar man met die uiterste weeklagte solank as wat sy kan, maar toe die verte hom van haar gesig verwyder, werp sy haar in (171) die rivier daar naby. Maar die sagsinnige stroom wou haar nie laat verdrink nie uit eergevoel vir Cupido. Toevallig was Pan, die woudgod, besig om die nimf Echo die note van sy musiek te leer; en by die waterkant wei die bokke en speel rond in die gras. Hy sien Psyche en spreek haar aan en troos haar.

„Moenie jouself om die lewe bring nie," sê hy, „maar probeer liewer om Cupido te wen deur sagte dienste aan hom te bewys."

Stil het Psyche verder gegaan, en na baie omswerwinge het sy langs 'n onbekende paadjie teen die aand by 'n stad aangekom waar die man van een van haar susters geregeer het. Aan haar suster vertel sy alles, maar voeg daarby dat die rede waarom Cupido haar verlaat het, was dat hy op haar, die suster, verlief geraak het. Skaars het Psyche klaar vertel, toe die suster, vol vleeslike verlange, haastig na die berg afreis en die Westewind roep om haar na Cupido toe te bring. Daarmee gooi sy haarself by die rots af - en haar liggaam is uitmekaar geskeur op die klippunte en word 'n prooi vir voëls en wilde diere.

So kom Psyche ook in haar omswerwinge by 'n ander stad, waar die tweede suster woon. Aan haar vertel sy dieselfde verhaal as aan die eerste, en ook sy gaan en werp haar by die rots af en vind 'n dergelike dood. (172)

Intussen, terwyl Psyche na Cupido soek van stad tot stad, lê hy in sy moeder se kamer en kreun van pyn soos die olie hom gebrand het. En daardie wit voël, die seemeeu, wat, gewiek op sy vlerke, oor die watervlakte sweef, duik haastig af in die diep boesem van die Oseaan. Daar vind hy Venus en vertel haar alles.

„En wie," vra Venus, „is die maagd op wie my seun verlief is?" En die praatsieke voël vertel haar dat sy, as hy goed onthou, Psyche heet. Toe roep Venus in haar woede:

„Wat! Hy bemin Psyche - die afrokkelaarster van my skoonheid, die mededingster na my roem? Wat dink die vent van my? Dit was dan deur my dat hy haar leer ken het!"

So kla sy en gaan na haar seun toe en verwyt hom met bittere woorde, terwyl hy daar gewond lê, en bedreig hom met woeste weerwraak.

IV.

Intussen slinger Psyche heen en weer in haar omswerwing en soek dag en nag na haar man met onrustigheid in haar hart, hopende dat hy haar uiteindelik op haar nederige gebede genadig sou wees. En toe sy 'n kerk op 'n heuweltop sien, sê sy: (173)

„Hoe weet ek dat my heer nie miskien daar woon nie?"

Met versnelde pas loop sy daarheen, swak en uitgeput van haar gedurige vermoeienis, maar aangespoor deur hoop en verlange.

Daar ontmoet sy Ceres, die graangodin, wat haar waarsku teen Venus se woede. Toe val Psyche op haar knieë voor haar neer en smeek haar om hulp teen die wraak van Venus. Maar Ceres antwoord dat sy nie mag twis met iemand wat aan haar met bande van bloed en vriendskap verbind is nie, en sê dat sy haar tempel moet verlaat.

Nadat sy vrugteloos oral op die aarde gesoek het, gaan Venus na die gode toe en vra dat Mercurius, die heraut, onder die mense moet rondgaan en 'n beloning moet uitloof vir die ontdekking van Psyche. En sy, deur wanhoop gedryf, gee haarself maar aan Venus oor, wat haar laat pynig en haar woes en wreed aanval. Toen neem Venus 'n hoop koring en gars en kafferkoring en papawersaad en wilde-ertjies en sê:

„Sorteer nou daardie hoop en sit al die korrelsoorte by mekaar, en sorg daarvoor dat die werk klaar is voor vanaand."

Psyche sit verstom oor die hopeloosheid van haar taak. Toe kom daar 'n mier, die klein miertjie wat in die veld woon, en bejammer die lot van (174) Cupido se bruid en loop vinnig heen en weer en roep al die mierleërs bymekaar.

„Wees jammer," roep hy uit, „julle kinders van die aarde, die moeder van alles, wees jammer vir die skone bruid van die Liefde self!"

Daarop, golf na golf, storm die sesvoetige skare toe om te help, en korrel vir korrel met die grootste bedrywigheid sorteer hulle die hele hoop en skei die verskillende soorte van mekaar. Kort daarna het hulle weer verdwyn.

Teen die aand kom Venus terug, en toe sy sien hoe deeglik die taak verrig is, sê sy net:

„Dit is nog nooit jou eie werk nie, lae skepsel."

En sy gee Psyche 'n klein korsie growwe brood en gaan slaap.

Intussen is Cupido alleen opgesluit onder toesig in 'n enkele kamer in die binneste van die huis, gedeeltelik sodat hy nie sy wond erger sou maak met uitspattinge nie en gedeeltelik sodat hy nie sy beminde sou ontmoet nie. Só dan het die twee verliefdes onder dieselfde dak van mekaar afgeskei, die nag in bitterheid deurgebring. Maar toe Aurora met haar wa deur die môrelug ry, roep Venus vir Psyche en sê:

„Sien jy daardie bos wat uitgestrek aan die kant van die rivier lê? Daar is wilde skape, blink soos goud, wat woes en vreeslik is om mense te verdelg en wat sonder wagter daar rondwei. Jy (175) moet nou daarheen gaan en my die wol van hul vliese bring."

Psyche staan op om haarself in die rivier te gooi en 'n end aan haar ellende te maak. Maar 'n groen riet, moeder van soet musiek, gee haar raad: hoe sy moet wag totdat die woede van die diere oor is wanneer die stilte van die aand hulle tot bedaring bring en dan in die bosse ingaan en die wol van die struike afhaal en na Venus toe bring.

Venus egter gee 'n skamper lag toe sy die wol sien en sê weer dat Psyche die taak nie alleen gedoen het nie.

„Sien jy die steil rots," sê sy, „wat die kruin van daardie hoë berg oorhang en waarvandaan swart water afloop? Jy moet my die ysige water gaan haal waar die middel van die fontein bo-op die rots voortvloei, en gou-gou in hierdie beker terugbring." En sy bedreig haar met nog meer wrede pyniginge.

Psyche klim toe langs die berghoogte op, moedeloos en ellendig, en sien hoe oneindig hoog, ru, glibberig en ongenaakbaar die rots is. Links en regs van die rots is daar woeste drake met lang nekke en oë wat nooit slaap nie. En selfs die water skree waarskuwing en dood.

Maar die ernstige oë van 'n goeie Voorsienigheid het die droefheid van haar onskuldige siel (176) aanskou. Die adelaar, koninklike voël van Juppiter, het die beker uit haar hande geneem, sy weg gebaan deur die woeste tande van die dood en die vol beker aan Psyche teruggebring, wat sy met vreugde haastig na Venus toe gedra het. En selfs toe is die woede van Venus nie bevredig nie.

„Jy het ewe fluks my bevele vervul," sê sy, met 'n wrede glimlag. „Dis duidelik dat jy 'n heks is. Maar jy sal nog een ding doen, my poppie. Neem hierdie kunstige kissie en gaan na die Doderyk en vra Proserpina om my 'n deel van haar skoonheid daarin te stuur. Maar haas jou, want ek moet my daarmee versier voordat ek na die teater van die gode gaan."

Toe besef die arme Psyche dat sy nou werklik na haar dood gestuur word, en sy gaan na 'n hoë toring om haar na onder te gooi (denkende dat dit die gouste weg na die Doderyk was). Maar die toring praat skielik met haar en raai haar aan om na Taenarus in Sparta te gaan, waar daar 'n ingang tot die geestewêreld is.

„Maar jy moet nie met leë hande deur die donker gaan nie," sê hy, „maar saam met jou dra koeke, geknie met gars en heuningwyn, en in jou mond twee muntstukke. En as jy 'n goeie ent van die dodereis afgelê het, sal jy 'n mank esel ontmoet wat hout dra, en by hom 'n mank drywer (177) wat jou sal vra om hom 'n paar takkies aan te gee wat van die drag afgeval het. Maar geen woord moet jy praat nie: gaan stilswygend op jou pad. En aanstons sal jy by die Rivier van die Dooies kom, waar Charon regeer en vraggeld vra voordat hy die reisiger oorroei in sy saamgewerkte boot. Aan hierdie vuil ou grysaard[26] moet jy een van die muntstukke gee: gierigheid leef selfs in die Doderyk voort. Nadat jy die rivier oor is, sal drie ou spinvroue jou vra om hulle te help, maar raak die weefsel nie aan nie: dis nie geoorloof nie. Dit is 'n plan van Venus om jou een van die koeke te laat val - en die verlies van een beteken die verlies van die daglig vir jou. Want daar is 'n geweldige hond met drie enorme koppe, woes en vreeslik, wat donder-blaf teen die dooies, al kan hy hulle nou nie meer beskadig nie. Slapeloos hou hy wag voor die drempel van Proserpina se donker sale en bewaak die leë huis van Dis.[27] Beteuel sy woede deur vir hom 'n koek agter te laat, en jy sal maklik by hom verby kom en die huis van Proserpina self binnegaan. Sy sal jou vriendelik en hoflik ontvang en jou nooi om aan 'n ryk feesmaal (178) deel te neem. Maar jy moet op die grond sit en growwe brood vra en dit eet. Vertel haar waarom jy gekom het, neem wat jou gegee word en koop die woedende hond met die ander koek om op jou terugreis. Gee dan die gierige matroos die tweede muntstuk, en nadat jy die rivier oor is, gaan langs dieselfde paadjie terug totdat jy weer gindse skaar van sterre sien. Bo alles moet jy tog nie die versierde kissie wat jy dra, oop maak om met nuuskierige oë die hemelse skoonheid te aanskou nie."

So het dit alles dan gebeur, en Psyche neem die kissie en begin haar terugreis. En sy dink: „Dwaas wat ek is! Hier dra ek die goddelike skoonheid en neem nie eens 'n bietjie daarvan nie om my minnaar te behaag nie." Met hierdie woorde maak sy die kissie oop. En daaruit kom 'n dodelike slaap wat dadelik al haar ledemate bevang en haar met 'n donker wolk omring sodat sy in haar eie spore neerval soos 'n lyk.

V.

Maar Cupido, nou weer gesond, kon nie meer die lang afwesigheid van Psyche verdra nie. Stilletjies glip hy by die venster uit en vlieg na sy Psyche toe. Hy vlieg ver en snel en eindelik kry hy haar en sorgvuldig veeg hy die slaap van haar (179) af en bêre dit weer in die kunstige kissie en wek haar met 'n skadelose prik van sy pyl en sê:

„Byna was jy alweer in die verderf, arme kind, deur te veel nuuskierigheid. Gaan nou en voer fluks die bevel van my moeder uit. Verder sal ek sorg." Daarmee vlieg hy weg, en Psyche bring Venus die present van Proserpina.

En nou verskyn Cupido, wat meer en meer op Psyche verlief geword het, voor Juppiter om sy saak te bepleit. En Juppiter, ofskoon hy sy eie klagtes teen Cupido het, beloof om sy wens te vervul. Toe sê hy vir Mercurius om die gode saam te roep.

„Gode," sê hy, „wie se name in die boeke van die Muse geskryf staan, julle weet almal dat ek self hierdie jongeling grootgemaak het. Ek het dit goedgedink om nou eindelik sy wilde jeughartstogte te beteuel en met huweliksbande te bind. Laat die vrou wat hy gekies het, syne vir altyd wees tot in lengte van dae." Toe wend hy hom na Venus toe en sê: „Moenie treurig wees nie, my dogter, ek sal toesien dat dit geen onwaardige huwelik is nie." En hy beveel Mercurius om Psyche hemel-toe te bring, waarna hy haar 'n beker ambrosia aanbied met die woorde: „Drink, Psyche, en word onsterflik; dan sal jou huwelik vir ewig wees."

Al dadelik word die huweliksfees gevier. Die (180) bruidegom lê op die ere-rusbank, en Psyche lê by hom. Juppiter en Juno is saam, en al die gode neem hul plekke in die regte orde. Die herdersknaap, wat skenker is, bedien Juppiter met nektar, die wyn van die gode, en Bacchus bedien ander, en Vulcanus kook die dinee. Die Seisoene versprei 'n gloed van rooi met rose en ander blomme, die Grasieë sprinkel laventel, en die Muse maak musiek met welluidende stemme. Apollo vergesel sy harp met gesang, en die skone Venus dans op die maat van die soet musiek. So het Psyche plegtig met Cupido getrou."

Dit het die half dronk ou mal vroutjie aan die gevange maagd vertel. En ek, arme esel, staan daar by en was nie maklik jammer nie dat pen en tablette my ontbreek het om so 'n mooi storie te boek te stel... (181)

Voetnotas[edit]

  1. Getrouheid aan godsdiens, familie, en vaderland; eenvoud; manlikheid en deug; lewenserns.
  2. Eintlik „lê", soos die Romeinse gewoonte was.
  3. let. ficedula, beccafico: vye-pikker, 'n klein voëltjie wat algemeen in Italië is
  4. Opimius was Konsul in 121 v. Chr.
  5. Afrika was beroemd vir sy leeus.
  6. Marsyas was 'n satir of bok-mens - 'n gees van die woud.
  7. Beter in Latyn - Carpe, carpe.
  8. Jou ,genius' - die gees wat jy by jou geboorte as gids deur die lewe ontvang.
  9. As jy die mus beetkry van die gees wat oor 'n skat waghou, wys hy jou waar die geld is.
  10. 'n Aanhaling uit Vergilius. Aen. II, 44.
  11. Hier volg 'n parodie in die onkundige mond van Trimalchio op die astrologiese leerstellinge.
  12. Beroemde astronome.
  13. Puntige mus wat slawe opgesit het om tydelike of permanente vryheid aan te toon.
  14. Eintlik: turdi - Holl. lyster; Eng. thrush.
  15. Liber „vry", was ook 'n naam van die wyngod Bacchus of Dionysus.
  16. Die Saturnalia. Des. 17-23, wat enigsins met ons Kersfees ooreenkom.
  17. 'n Ou Romeinse en 'n moderne Italiaanse spel. Een hou 'n aantal vingers op en die ander moet raai hoeveel. In hoofstuk 64 spring iemand op Trimalchio se rug en klap hom terwyl hy sê: Bucca, Bucca, quot sunt hic? Vg. ons Bok, bok, staan styf!
  18. Letterlik: die gode het wollige voete (woltone!).
  19. Ongeveer.
  20. Let op die humoristiese waardering van die advokaat se beroep.
  21. Parodie van die heroïese styl van die Aeneïs.
  22. Die Romeine het vooraanstaande mense naas die groot weë, soos die Via Appia, begrawe.
  23. 'n Seegod.
  24. Die god van die hawes.
  25. 'n Deel van die huweliksoptog, wat altyd teen sononder geskied het.
  26. Vgl. die beskrywing van Charon in Vergilius. Aen. VI, 298-304, en Shakespeare (Richard III): „that grim ferryman that poets write of."
  27. Pluto, god wat in Hades, die Ongesiene Ryk van die Geeste, woon. Proserpina is sy bruid, deur hom uit die velde van Sicilië gesteel.