Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997/Hoofstuk nege

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
please do not remove empty parameters (see the template documentation).
Wet op basiese diensvoorwaardes 75 van 1997 by Regering van Suid-Afrika

Hoofstuk nege: Kommissie vir diensvoorwaardes

HOOFSTUK NEGE
KOMMISSIE VIR DIENSVOORWAARDES (aa 59-62)

 

59 Instelling en werksaamhede van Kommissie vir Diensvoorwaardes

 

(1) Die Kommissie vir Diensvoorwaardes word hierby ingestel.

 

(2) Die werksaamhede van die Kommissie is om advies te gee aan die Minister-

 

(a) oor sektorale vasstellings ingevolge Hoofstuk Agt;

 

(b) oor enige aangeleentheid betreffende basiese diensvoorwaardes;

 

(c) oor enige aangeleentheid wat uit die toepassing van hierdie Wet voortspruit;

 

(d) oor die uitwerking van die beleidsrigtings van die regering oor indiensneming;

 

(e) oor tendense in kollektiewe bedinging en of enige van daardie tendense die doel van hierdie Wet ondermyn;

 

(f) en die Minister vir Welsyn en Bevolkingsontwikkeling oor enige aangeleentheid rakende die indiensneming van kinders, met inbegrip van die hersiening van artikel 43;

 

(g) en die Minister vir die Staatsdiens en Administrasie oor enige aangeleentheid rakende basiese diensvoorwaardes in die staatsdiens.

 

(3) Die Kommissie kan reëls opstel vir die hou van sy vergaderings en openbare verhore.

 

(4) Behoudens die wette wat die staatsdiens beheer, moet die Minister die Kommissie voorsien van die personeel wat die Minister nodig ag vir die uitvoering van sy werksaamhede.

 

(5) Die Minister moet die Direkteur-generaal gelas om die navorsing te onderneem wat vereis word om die Kommissie in staat te stel om sy werksaamhede te verrig.

 

(6) Die uitgawes van die Kommissie moet gedek word deur geld wat vir daardie doel deur die Parlement bewillig is en wat onderworpe is aan ouditering deur die Ouditeur-generaal in artikel 188 van die Grondwet bedoel.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 59: 21 Maart 1998.]

 

60 Samestelling van Kommissie

 

(1) Die Minister moet, na oorleg met NEOAR, drie persone wat kundig is aangaande die arbeidsmark en diensvoorwaardes, met inbegrip van die diensvoorwaardes van weerlose en ongeorganiseerde werkers, as lede van die Kommissie aanstel en een van hulle as voorsitter aanwys.

 

(2) Die Minister moet daarby op die Kommissie aanwys-

 

(a) een lid en een alternatiewe lid wat deur die stemgeregtigde lede van NEOAR benoem word om die georganiseerde arbeid te verteenwoordig;

 

(b) een lid en een alternatiewe lid wat deur die stemgeregtigde lede van NEOAR benoem word om die georganiseerde besigheid te verteenwoordig.

 

[Sub-a. (2) vervang by a. 12 van Wet 11 van 2002.]

 

(3) Die voorsitter en lede van die Kommissie-

 

(a) moet burgers of permanente inwoners van die Republiek wees;

 

(b) moet onpartydig optree wanneer hulle enige werksaamheid van die Kommissie verrig;

 

(c) mag nie betrokke raak by enige bedrywigheid wat die integriteit van die Kommissie kan ondermyn nie; en

 

(d) moet hulle onttrek aan advieslewering aan die Minister oor enige aangeleentheid ten opsigte waarvan hulle 'n regstreekse finansiële belang of enige ander botsing van belange het.

 

(4) Die Minister moet-

 

(a) die ampstermyn van die voorsitter en lede van die Kommissie bepaal, wat nie meer as drie jaar mag wees nie;

 

(b) met die instemming van die Minister van Finansies die besoldiging en toelaes wat aan lede van die Kommissie betaal moet word, bepaal; en

 

(c) enige ander voorwaardes van aanstelling bepaal waarvoor daar nie in hierdie artikel voorsiening gemaak word nie.

 

(5) Die Minister moet 'n lid aanstel om as voorsitter op te tree telkens wanneer-

 

(a) die voorsitter buite die Republiek is of van diens afwesig is of om die een of ander rede tydelik nie in staat is om die werksaamhede van voorsitter te verrig nie; of

 

(b) die amp van voorsitter vakant is.

 

(6) Iemand wie se ampstermyn as voorsitter of lid van die Kommissie verstryk het, kan weer aangestel word.

 

(7) Die voorsitter of 'n lid van die Kommissie kan skriftelik bedank.

 

(8) Die Minister kan die voorsitter of 'n lid van die Kommissie van sy of haar amp onthef omrede-

 

(a) ernstige wangedrag;

 

(b) permanente ongeskiktheid; of

 

(c) deelname aan 'n bedrywigheid wat die integriteit van die Kommissie kan ondermyn.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 60: 21 Maart 1998.]

 

61 Openbare verhore

 

Die Kommissie kan openbare verhore hou waarby hy lede van die publiek kan toelaat om mondelinge vertoë oor enige aangeleentheid wat die Kommissie ingevolge artikel 59 (2) oorweeg, te rig.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 61: 21 Maart 1998.]

 

62 Verslag deur Kommissie

 

(1) Die Kommissie se advies aan die Minister moet in die vorm van 'n skriftelike verslag wees.

 

(2) Die Kommissie moet, wanneer hy enige ander werksaamheid ingevolge artikel 59 (2) (b) tot (e) verrig, die oorwegings uiteengesit in artikel 54 (3), in soverre dit toepaslik is, in ag neem.

 

(3) Die lede van die Kommissie moet poog om 'n eenparige verslag aan die Minister op te stel. Indien die lede nie in staat is om 'n eenparige verslag op te stel nie, is elke lid daarop geregtig om sy of haar standpunte in die verslag weer te gee.

 

[Datum van inwerkingtreding van a. 62: 21 Maart 1998.]