Trekkerswee/Silwer Strale

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
'n Woord van Inleiding Trekkerswee
Silwerstrale
deur Totius
Goue Gode



Silwer Strale
Verlore-klein lê op die Rand / hul huisie in die trekkersland

I

Dis heuwels, heuwels, heuwels net
sover 'n mens se oog kan speur;
grasheuwels waar ook riwwe gaan,
met enkele stroompies tussendeur.

Daar is geen hoë berge nie,
want hoog is daar die wêreld self;
en luggies waai daar dun en fris,
of dit stroom uit die blou gewelf.

Die baie dale en klowe wat
die hoogland kruis en dwars deursny,
bied winterskuiling vir die vee
wat anders al te koud sal kry.

En as die eerste rypies val
trek bosveld toe wat kan,
om daar in lekker warrem son
hul winterlaers uit te span.

Maar somers is dit heerlik op
die Rand; dan lê in sonnegewaad
die heuwels soos ramme te sluimer-slaap
langs strome wat lag en praat.

Dan reën die wolke somaar as
hul swaar skuif oor die hoë land,
en die dak van Transvaal se geute spuit
die water weg na alle kant.—

Dáár in die hoë wildheid met
sy huppelende heuwelskoon
het jarelank 'n trekker met
sy vrou en kind alleen gewoon.

II

Verlore-klein lê op die Rand
hul huisie in die trekkersland;
dit is 'n stip net in die wei—
die rietedak en muurtjies van klei.

Daarlanges lê die beestekraal,
waar smiddags doodse stilte daal
as kalfies, in die son gebraai,
die vlieë van hul kop lê waai,

so dom-gerus; en bly-ontsteld
eers opspring as uit ruie veld
die koeie aandraf wat met hul
geloei die awendstond vervul.

'n Bietjie verder van die huis,
waar mielieblare helder ruis
as windgeroer hul sanggeluid
hef bo die dowwe velddreun uit,

lê laer af, 'n klein vierkant,
die rooi geploegde akkerland
waaruit die boer by goeie jaar
sy mielies, ál sy graan vergaar.

'n Enkele perske, aan die lug
gewénd, dra daar sy goudgeel vrug,
en bied, gedroog, in wintertyd,
'n skaars-verkrygbre soetigheid.

Dit is die plasie wat daar leg,
só rustig in die wydte weg—
'n koninkrykie op homself
waaroor 'n helder hemel welf.

III

Nou ry 'n ruiter oor die rant.
Die bodeur 's oop al as hy kom;
net die onderdeur se werwel draai
'n vrouehand by die aanklop om.

Sy groet as sy hom binnelaat,
en vra hom wat sy wense is:
hy moes maar bietjie sit as sy gaan
om pa te sê dat daar mense is.

Sy skuif verby met mooie buig
en stap met ligte voetstap weg.
Die vreemdeling sien skrams nog net
haar volle wese en hare-vleg.

'n Glimp, 'n glans, 'n gouigheid,
nes of 'n gees verskyn.
Maar nooit sal in sy lewenstyd
dié ligbeeld uit sy siel verdwyn.

So half-verleë, asof bespied,
laat sy haar hande strelend gly
oor halme wat in volle saad
hul hooghef aan haar wedersy,

en saai 'n handvol grassaad heen,
denkend so in verbygaan dat
by seëning van wind en reën,
'n enkele wel sal wortel vat.

Intussen kom haar moeder met
'n lekker koppie koffie aan;
sy sit gesels en sien haar kind
al verder na haar man toe gaan.

IV

Hoe lyk dit of die plasie so
allénig in die wêreld leg?
Is daar geen ander plase omheen—
naby en verderweg?

Ek sien daar nog geen telegraaf
of kronkelende spoorwegbaan;
geen stofferige heuwelpad
wat na die trekkerswoning gaan.

Net oor die werf, met kweek deurwas,
lê duidelik in kronkelspoor—
so loop die mens se voet altyd—
die voetpad na die watervoor.

En verder, aan die werf se kant,
juis waar die hoë halme waai,
sien ek 'n tweelingstrepie wat
bevallig deur die velde swaai.

Die tweeling-spoortjies, so gering,
met die maanhaar tussenbei,
is die kompas wat trekkersboer
deur skraal bewoonde streke lei.

Dit is sy seker spoorwegbaan,
meteens sy wisse tel'graaflyn,
waarlanges gaan sy tripp'laar en
sy stadige ossewa-trein.

Wanneer die land kom in gevaar,
dan sien jy langs die lyntjies gly
'n wakker stoet van burgers wat
op wakker perdjies ry.

V

Die moeder kyk maar al weer uit,
die tyd begin nou lank te val;—
daar is haar dogter by haar man,
en ja, daar kom hul al!...

"Dag neef! Is dit die oudste seun
van buurman Koos miskien?
Ek het hom so 'n dag of wat
vir die eerste keer gesien."

"Oom ja, en pa laat vra om saam
in een geselskap op te trek:
alléén sal ons te vreemd ons voel
op Perdekraal se saamkomplek."

"Sê vir jou pa dis goed, my neef.
Kom maar die middag bietjie vroeg,
dan ry ons nog 'n aandskof en
is daar die môre vroeg genoeg.

"Kyk, daar is Perdekraal,
daar waar die laaste heuwels rys."
Oom buig hom oor die onderdeur
terwyl sy vingers wys.

"Wel, oom, dis goed, ons sal so maak."
Dan sal hy ook maar weer vertrek.
Hy gooi die teuels oor sy perd
en ry weer oor dieselfde nek.

Bo-op die nek loer hy verlaas
versigtig nog na agter om,
of hy nog iets kan sien, maar nee,
die nôi het nie weer uitgekom!

VI

o, Die eensaam-huiswaartse rit,
en die eerste gedagtes aan haar!
Dit is die eerste keer dat hy
die uitdraai-paadjie nie gewaar...

Hy is verdwaald, en dis al aand...
Sy droomgedagte is skielik weg,
maar nou sit hy 'n plan te maak—
wat, tuisgekom, te seg.

Sy mense sit aan tafel as
hy inkom met 'n stram gesig
en kort en goed sy boodskap doen
met oë op sy bord gerig.

"Maar, Willem," vra sy suster hom,
"wat kom jy dan vanaand so laat?
Het jy heel-middag daar gesels
en so jou tyd verpraat?

"Ma, hoe lyk Willem vir my so snaaks?
Hy is tog dalk nie doodgegôi
geraak nie in die stilligheid
op die Transvaalse takhaarnôi?"

"Bly stil!" so sê hy nukk'rig-kort,
"Die oom daar was eers vér opsy,
en by die huistoe-kom het ek
verkeerde pad gery."...

Nou word dit langsaam stil aan tafel,
stil word die borde- en messeklank.
Die vader lees 'n stukkie nog,
en sluit met lof en dank.

VII

Die donserige maanlig-nag
die daal so sag, so sag
al op die huis en werf en plaas
waar net maar één hou wag.

Oom Koos se huisgesin het weer
van werf en werk teruggekeer;
en maanlig-nag lê van sy pluim
op elke oog 'n donse-veer.

Die mense-gees, vry in sy lug
van onbegrensde wêreldvlug,
keer in die donker liggaamshuis
ook weer terug.

Dan gaan die deurtjies almal dig;
dan worstel daar by halwe lig
die hart wat waak
en wat die droomwerk moet verrig.

Net Willem slaap vannag nie gou.
Hy loer hoe deur sy raampie nou
die maan 'n sagte lig laat val
of buite lag oor trane-dou.

So voel hy hom: weemoedig-bly.
En ook so rein, so rein daarby,
soos maanlig wat met blanke voet
oor pêrels van die dounag gly.

In slaap sink hy dan eind'lik weg;
hy hoor die woord weer wat sy seg;
hy sien haar gaan weer oor die veld;
hy sien ook weer haar harevleg.

Sy slaap duur tot die son hoog skyn,
die maan laag aan die lug verkwyn,
beeld van sy droombeeld wat
nou bleekrig weer verdwyn.

VIII

o, Die oggendstond op 'n boereplaas!
Daar trek al op die eerste rook.
Hul het gistraand die vraag beslis
wie se beurt of dit môre is
om ketel te kook.

Die môrester het opgegaan;
daarbinne roer al een;
daarbuite bly die rokie draai,
omdat daar nou geen windjie waai
deur vroeë môrewêreld heen.

Die haan het op sy beuel geblaas;
hy spring al van sy tak;
'n mens sal sê dat hy die baas
(so stap hy) is van werf en plaas,
en die transport dra in sy sak.

Hom volg sy vriend, die kallekoen,
'n oue towenaar:
hy worstel met sy slange wat
hy nukk'rig teken in die pad
se stof, met duister vlerkgebaar.

Die kraalvee is al moeg gelê;
hul rek die groot, stram lywe uit.
Daar kom die Kaffer ook al aan
wat koulik oor die douveld gaan
en eers die kalwerhok ontsluit.

Sy emmer ruis van pure musiek,
so vloei dit nou uit volle speen;
musiek ook vir die kalfie als
hy kort-kort om sy moeder wals
op nog onvaste horrelbeen.

Maar kyk hoe staan die osse met
groot oë na die hek te tuur,
totdat die laaste hinderpaal
word uit die mikstok uitgehaal
waaraan hul saans hul lywe skuur.

Die son gaan op, die vee verdwyn.
Net in die onverstoorbre vert'
'n ossespan stap voor die ploeg,
en agteraan die man wat swoeg
by 'n rukkerige stert.

Die môre smelt weer met die dou,
die vrede alleen bly soos dit was.
Net 'n hen spring van haar eiers af
met groot geraas, en die brakhond blaf
vir die enkele kuiergas.

IX

Binne die huis is dit vandag
nie al te rustig, want
moeder en dogters moet bak en slag
vir die groot fees van die land.

En dan—die Kaffers is so baar!
"Daar staan die brood al uitgerys
en die oond is koud! Dis werklik waar,
'n mens moet hul ook alles wys."

"In die ou Kolonie had jy nog
oorlamse skepsels wat gou-gou leer.
Wat het my man met die lang tog
in vredesnaam makeer?"

Maar die dogters staan hul moeder by
met opgestrookte arm:
dit knee die deeg en maak pastei;
en die oond is ook al warm.

Die jong goed kan nie so ernstig wees
of 'n grap word tussendeur gegôi.
"Hierdie tert is nie vir die fees,
maar vir Willem se takhaarnôi."

Net sluip weer Willem deur die kombuis
langs 'n skemerdonker hoek.
"Willem, wat loop jy so deur die huis
nes 'n hoenderhen wat lêplek soek?"

Hy swyg; verdwyn weer ongemerk;
hy's met die saak verleë:
die vrouens wat die wee bewerk
(so dink hy) spot daarmee.

X

Die tyd van trek die kom weldra.
Daar gaan oom Koos se ossewa,
blou-bont geskilder; hoor hoe raas
die wiele op pad na oom Gert se plaas.

Al dadelik van die staanplek af
dril die osse-lywe soos hul draf.
Die vrouens roep: hul skud uit lid,
só ruk en rammel dit.

"Hôi, Willem, hou nou op met klap!
Wat wil jy?... Laat die osse stap."
So roep oom. "Watter haas is daar?
Die middagson sit nog wie weet waar."

Dit help so effentjies, maar dan
praat Willem weer bo die rooibont span,
en die ossedier, so stroef en stil,
voel gou-gou wat sy drywer wil.

So kort-kort teen 'n opdraand blyf
die kettingtou nog taamlik styf,
maar anderkant-af swaai dit somaar slap
as die osse weer raak uit maat en stap.

Hul is te veel, maar oom wil tog
ook bietjie met sy beeste spog.
En dan, dis so armoedig om
met so 'n paartjies daar te kom;

dáár by die plaas, daar by die fees
waar soveel mense saam sal wees.—
Oom Gert se plasie haal
hul as die son nog wakker straal.

XI

Ek hoor van vreemde lente melde
as sangtyd wat genaak,
wanneer die voëls in bome-velde
singend hul nessies maak.

Maar hier's geen sang in hoë twyge
as skat van lentetyd,
maar oral diep en ernstig swyge
van velde kaal en wyd.

Ek hoor van vreemde lente melde
as tyd van blommegeur,
wanneer veldblommetjies die velde
versier met tint en kleur.

Maar hier bloei hul in klein alleenheid,
in aarde dor en vas;
by ons is dit àl golwende eenheid
van velde enkel gras.

Só stil eenvoudig in sy worde,
so sonder klank of praal,
kom hier die lente in ryp-verdorde
geweste neergedaal.

Tog is ons lief sy eerste sprietjies,
die grassies aan ons voet;
tog leer dit ons weer nuwe liedjies
van taaiheid en van moed.

XII

So het eenselfde lentelewe,
eenvoudig, diep en waar,
twee stille wesens sag omswewe—
vir Willem en vir haar.

Daar was geen danse of sangerskore,
geen klank of kleure-gloed;
net liefde stil dié dag gebore
by simple boere-groet—

Nog gaan in droomnag stil sy skrede
na simple boerehuis;
oom Gert se plasie is sy Eden—
sover haar voete ruis.

Die kalwerhok is dan die plekkie
waar hy so graag sou staan
om, loerend deur die klipkraal-hekkie,
haar heeldag ga te slaan.

En nou ... hy kan dit skaars gelowe,
sien hy haar wese weer,
net soos 'n lenteson daarbowe
skaamrooierig en teer.

En nou ... sy gaan met hulle same,
sit op die voorste wa,
terwyl hy roep die osse-name
met sweepslag agterna.

En nou ... hy sien haar liewe kappie,
gestik van enkel sis.
En straks ... doen hy 'n klein vriendskappie
as hul gelaer is.

XIII

Die vuurtjie brand
hoog langs die heuwelrif.
Die duisternis bedek die land,
maar dis 'n duisternis waardeur
die maan se melkies sif.

Die vlamme dans
vrolik in vuurge kring.
Die mense sit 'n krans
en luister swygend na
die keteltjie wat sing.

Dit is die trekkersboer
se late lied wat wek
sy hart en diep hom roer.
Dit is sy vroeë môresang
wanneer hy verder trek.

Geen dans in woel'ge saal,
geen lied van danseres
bied hom 'n blye onthaal
wanneer hy eensaam is—
geen drank uit volle fles.

Sy vlamme dans en spring
al rond die ketel-boom;
sy ketel praat en sing
en skink hom in die drank
wat die ure laat verdroom.

Sy keteltjie is swart
al in sy diens gebrand:
die trooster van sy smart
die bly hom trou wanneer
hy soek 'n vaderland.

Die spoor lê oral in
die ronde hopies as;
en telkens as die dag begin
dan swaai dit by die voorwiel, met
'n voorslag-riempie vas.—

Die vlamme dans
nou rond in vuurge kring.
Die mense sit 'n krans
en luister swygend na
die keteltjie wat sing.

Hul aandag span
nog meer wanneer oom Gert
vertel die storie van
Hendrik en Lettie en
hoe gou hul twee geskeie werd.

XIV

"Hul twee is lammers van een jaar,
hul huppel op een werf,
tot arm sy vader trek vandaar
en swerf.

"Beloftewoord, en dan niks meer.
En ... harte in pyn en hoop,
wyl ryke minnaars kom maar weer
om haar hart te koop.

"Die jaartal skuif so traag.
Gerug van sonde tot haar kom.
Totdat hy bewend waag...
hy is weerom.

"Hul leed blyk dan 'n wolk so rein.
Op huweliksdag
'n soete oorwinningsvrede skyn
in purperprag.

"Maar—die oorlogswoord roep haastig rond.
'Ag, Hendrik, hoe's ons droom so kort!'—
Liefs kort gedroom, as Britse grond
en slawe word.'

"Sy swyg. Sy perdjie huppel al
na Laingsnek weg.
Hy sink met wein'ge in Natal
om ver te veg.

"Dis duisternis en stille nag.
'My vriend, ek sterf by die eerste lig,'—
so spreek hy sag,
'maar Lettie wag haar eerste wig.

"'Laat sy my verre graf hom wys
en eewge trou laat sweer.'
Hy sterf—die dure prys
van vaderland en eer.—

"'n Moeder veeg haar trane af.
'n Kinderhand die kransie hou.
Hul staan voor 'n gesonke graf.
Dit was die eerste daad van trou."

XV

Die nag is heen, die môre is grys;
'n plaat van tente en waens wys
waar Perdekraal se steenhoop rys
                                         teen hoë hange.

Daar staan hul aan die grond gepénd
die geweltjies so mooi orent—
die eie maaksels, tent aan tent,
                                         in suiwer range.

o Trekkersvolk, my hart ontgloei!
Ek sien hoe jul die vreemde boei
verbreek het, om dan uit te bloei
                                         tot eie nasie.

Nie net 'n eie vaderland,
nie net 'n eie vlag geplant,
maar àlles maak van eie hand—
                                         geen imitasie!

Hoe lê die tentseil, baan aan baan.
Hoe wakker bly die nokke staan.
Die klappies netjies oopgeslaan—
                                         mooi eenheid same.

Sy staan daar by die wa se as,
die huis van doek, so lossies-vas,
skoon nes in môredou gewas—
                                         'n blanke dame.

Twee lang wit kappe in die veld:
'n wa en tent daarnaas gesteld,
tweeheid tot eenheid saamgesmelt
                                         in sware stonde.

Die wa—'n sterke man is hy;
die tent—'n taaie vrou is sy.
Jul het die nasie uitgelei,
                                         sy boei's ontbonde.

Lig op haar voet net soos die ree
en trekkend met die trekker mee
bied sy hom tog 'n vaste stee
                                         in angs-geweste:

as wolkbreuk beuk die witte wand,
die sonstrale op die nokke brand
of nagdier sluip oor donker land,
                                         'n veil'ge veste.

En as sy wa nie verder dring,
hoor ek by wind haar fladdering
die lied van boerbeskawing sing,
                                         stemmig-tevrede.

Dan word haar seile trou bewaar:
by feesdag net span sy 'n laer
en straal haar seile dankbaar daar
                                         van groot verlede.

XVI

Oom Gert en Koos die sluit hul waens
vas aanmekaar aan die buitekant
en in 'n lyn met al die waens
wat reeds in rye staan geskaar
uit die omtrek van die Rand.

Die lang grys wasems van die nag
lê soos 'n slangrug in die dal;
dit is die misdamp van die reën
wat in Desember langs die Rand
oorvloedig val.

Daar in die miswolk dryf die kiem
van perdesiekte, sê hul, rond,
maar mens en bees, waarvoor die Heer
die nuwe land gemaak het, is
gesond.

Reg-bo die vuurtjies van die laer
styg stil omhoog die ligblou walm,
en nou die son weer op wil gaan,
styg uit 'n tent nog hier en daar
'n laaste psalm.

Die osse word al losgemaak
en veld toe aangejaag;
'n Kaffer stap hul agterna
wat aan 'n stok sy velskoene en
'n haarge knapsak draag.

'n Enkele hamerslag weerklink
van die wat laat kom, maar
die meeste burgers is gereed
en staan die landsaak te bespreek
in klompies bymekaar.

Die vrouens maak die brekfis al—
die tweede ketel sing;
hul loop tent in tent uit en koes
gramstorig vir die braaivleis-rook
wat trane in hul oë bring.

Straks gaan hul, of dit kerk is, in
hul Sondagspak geklee
na die vermaarde steenhoop heen;
'n ieder neem sy kerkboek en
sy riempies-stoeltjie mee.

Die predikant laat sing; hy lees
en hou 'n nasionale preek.
Dan vra hy ook nog vir oom Gert
wat oral saamgetrek het, om
die landgenote toe te spreek:

XVII

"My landgenote, julle weet
hul het in Kaapland, vroeg en laat,
'n valse vryheidsleer verkondig;
jul weet die Kafferbendes het
met roof en moord en skelmery,
die grensbewoners daar versondig.

"Ons het getrek, eers na Natal,
tot aan die see wat vir ons was
'n tweede en wilder Onbekende;
maar nooit het trekkers moed of lus
gehad om na die wildernis
hul dapper trekkersvoet te wende.

"Hul het daar deur die duinsand heen
hul waens gedryf, en tot vandag
staan daar die boerenaam geskrywe.
Ons vyande 't ons daar gevind,
ons uit-oorlê of aangeval,
en uit dié Kanan weer verdrywe.

"Ons laat aan Kaffervolk en Brit
die mooiste deel van Afrika
wat slinger langs die strande.
Ons het gekies, om vrede vir
ons voet te vind, die wildernis
en altyd skraler binnelande.

"God het ons eers gelouter en
laat wraak neem op Dingaan
se duisternis van Soeloe-horde,
dat ons daar in die nuwe land,
nes uit 'n smeltkroes voortgekom,
'n Gode-dankbaar volk sou worde.

"En later toe die Engelsman
ons weer gedreig het en gedruk,
het ons die steenhoop dáár vergader.
Hier van Transvaal se hoogaltaar
het ons ons harte opgehef
tot God Almagtig, onse Vader.

"Jul weet hoe God gered het. Dink
aan Laingsnek, aan Ingogo en
aan Amajuba's hoë kranse.
Wee ons as ons weer God vergeet,
soos Israel by Sinaï,
met wilde afgodsdanse!

"Dan sal die steenhoop ons verkla.
Ek roep tot my getuie aan
die hemel en die heuwelrande!
Dan sal ons hiér moet kerm en klaag,
en rondom hiérdie heil'ge plek
die tekens sien van al ons skande!"

XVIII

Die fees het weer verbygegaan—
na alkant sien mens waens, soos
die boere in klompies weer vertrek...
Hoe wakker staan die swepe-ry!
hoe daal hul, en die voorslag klap
om die osselywe op te wek!

Nie lank nie of daar is weer fees;
nou in oom Gert se huisie, waar
Willem en Dina samestaan...
Voordat die mense skei, vra nog
die predikant dat hul sal hoor
hoe hierdie bruilofsliedjie gaan:

XIX

Bruidegom

"Ek is 'n boerebruidegom
wat uit die ou Kolonie kom.
Ek is geen kind nie van die Trek,
maar my hart sit op die regte plek;
daarom het ek my vasgebind
aan 'n egte, egte trekkerskind.

Bruid

"Ek is die egte boerebruid,
uit die egte takhaarwêreld uit.
Maar ek kon my tog so goed gedra
dat 'n kolonis my hand kom vra!
Ja, die ou Transvaal is nie so sleg
as wat die mense dink en seg.

Bruidegom

"Ek is 'n boerebruidegom
wat met my ganse rykdom kom.
Ek het geen geld nie op die bank;
maar het 'n wa met suiwer klank,
twaalf rooies, jukke en rieme klaar,
en ek makeer nog net vir haar!

Bruid

"Ek is maar net 'n boerebruid,
en gee my vir niks anders uit;
geen jongman hoef hom te vergis,
want ek is net maar wat ek is.
Maar 'k het twee arrems, rond en sterk,
wat regstaan vir die huishou-werk.

Bruidegom

"Ek is 'n boerebruidegom
wat net maar na die bruilof kom
met stewels, en ook net dan dra
die laken-pak en keil van pa.
Anders is hul my lyf te veel
en is dit velskoen en ferweel.

Bruid

"Ek is maar net 'n boerebruid.
Ek dra 'n kappie met 'n tuit.
Ek knip die tabberds wat ek dra—
maar bietjie mooier!—moeder ná.
Net die één waar ek vandag mee loop
het vader by die smous gekoop.

Bruidegom

"Ek is 'n boerebruidegom
wat met lees en syfer klaar kan kom,
en die kaart ken van Suid-Afrika
wat ek daarso in my koppie dra.
Wat anderkant die water, in
die wêreld is, raak my maar min.

Bruid

"Ek is maar net 'n boerebruid,
ek laat nie my geleerdheid uit.
As hul oor politiek begin
dan luister ek en hou my in.
Maar 'k sal my kinders eendag wel
die storie van Transvaal vertel!"