Trekkerswee/Groue Grawe

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Goue Gode Trekkerswee
Groue Grawe
deur Totius


Groue Grawe
Dié vaal-wit hopies dek hul bei, / vader en dogter, sy aan sy!


I

Dis heuwels, heuwels, heuwels net
sover 'n mens se oog kan speur:
maar heuwels sonder struik of gras,
en droewig-vaal soos as gekleur.

Langes die heuwels staan 'n ding
soos die houtgeraamte van 'n huis,
waarbowe rust'loos wiele draai
wat die waentjies optrek met die gruis.

Die heuwels is party al oud;
verlate en vasgereën party,
en storms het baster-klofies in
hul naakte ribbes ingesny.

Die ander is nog in die maak
van poeiergrond of gruis nog grof;
en as die wind die fynes vat,
dan trek daar tuite stof.

Die heuwels lyk soos duine wat
in blankheid rys aan verre strand—
dáár rys hul uit die blou-diep see,
hier uit die aard se ingewand.

Hier's ook 'n dreuning soos die dreun
van sagbewoë wêreldsee,
en winde wend, dan hier, dan daar
die dowwe dreuning met hul mee.

Maar waarom is die heuwels dan
so hoog en ook so bleek?
En waarom is die dreun so diep,
so droef nes een wat smartlik smeek?...

Hul sê die duine aan strand is die
grafheuwels van wie sterwe in see;
en daardie droewe dreuning is
die klag van wees en weduwee.

Maar hiérdie heuwels, heuwels dan
wat ook so hoog is en so bleek?
En hiérdie droewe dreuning dan
wat klaag soos een wat smartlik smeek?...

II

'n Agtal jare is weer verby.
Die boereplase is opgebou,
die platjies is weer huise nou,
die woeste leegte 'n landery.
Gou ruk weer alles in verband—
Suid-Afrika's 'n wonderland!

Maar net oom Gert se lewe kwyn.
Sy hart is nie meer in die werk,
sy wank'le bene is al onsterk,
en ook die plasie word te klein.
Die lewensreggie, kort van duur,
wag net nog op sy sterwensuur.

Wanneer hy die omtrek saans beskou,
hoedat die huis-tal groter word,
die vrydom steeds word ingekort—
dan sê hy: "Ja, daar is dit nou!
Die vroeëre boere-paradys
is nou één molshoop, groot en grys.

"Hier bly net hope en holtes lê:
die vreemd'ling kraak die neut in twee
waarvan hy ons net doppe gee,
maar al die neutvet dra hy weg.
Ons goud gaan na 'n vreemde strand—
Transvaal bly lê: 'n armmans-land!

"Die voorpos van die armes woon
in Blikkies-dorp se kronkel-sink
wat ver soos bottelstukke blink.
Hul lewe van 'n hongerloon
in huisies aanmekaar gepas
en jaartjies vol van steenkool-as.

"Ag, arm Transvaal, waarvoor ek vrees,
jy't Afrika voorheen geroer
tot wakkerskudding van die boer—
sal jy nie nou die laaste wees?
Jou heil'ge eersgeboorte-reg
word op die mark te koop geleg."

III

Oom Gert het min verwagting meer.
Nog één ding hou hom aan die loop,
dit is die vleugie van 'n hoop
dat eens sy dogter weer sal keer.
Die droewe en tog verbede dag,
daar bly sy siel nou stil op wag.

Sy hopie word hom aangesterk
deur 'n storie in 'n boek gelees:
"In Skotlands berge is 't gewees,
en 't was ook daar 'n stad se werk.
'n Eenge dogter in haar fleur
is uit die vadershuis geskeur.

"Nie wetend waar sy swerwend gaan,
kon haar vader net nog bid.
Geen grendel is snags opgesit,
maar deur die deur wat opestaan,
flikker 'n kersie heelnag lang,
wat haar by weerkoms moet ontvang.

"En ja, sy het eennag gekom!
Die trekking van die ver-oop deur,
en kersgeflikker deur die skeur,
die stille bede-heiligdom—
ja die gebed nog allermees—
was 't vir haar hart te sterk gewees?...

"As sy haar vader wenend kus,
bars die oue ook in trane uit:
'My kind, die deur was nooit gesluit
en daardie kersie nooit geblus;
dáár het ek biddend, nag aan nag,
geduldig op jou koms gewag.'"

Maar ag, oom Gert se hart is bang;
want as die jaartal al maar slyt,
dink hy: "My hoop is ydelheid,
my wagte duur tog al te lang;
my lewensdaggie's netnou om,
en dan het sy nog nie gekom."

Die mense vier al Unie-fees!...
Hy, arme, sal ook maar gaan kyk
hoedat die nuwe wêreld lyk—
wie weet, miskien sal sy daar wees!
Sy eensaamheid verlaat hy dan
en kyk die vreemde wêreld an:

IV

Hoe mooi het al die stad geword!
Hoe slinger, soos 'n krans, omheen
die villatjies in keur van steen
en wisseling van boumodel!

Hoe mengel hulle kleuretint,
van helder-wit tot donker-dof,
omlaag, omhoog; dis alles of
'n kunst'naarshand hul plek bepaal.

Hoe groei die bome in die rots
en bloei die blomme in kleure sag,
vlak teen die rant se wilde prag,
asof dit nooit nie anders was.

En dan, die golwende verskiet
van bulte en bosse, al deureen,
totdat die oë vasslaan teen
Magaliesberg, die groot blou reus.

('n Bietjie goud maak baie mooi,
en—dis maar krummels van die groot,
uit louter goud gebakte brood,
wat na Europa word vervoer!)

Ook saans nog wyk die mooiigheid
nie heeltemal nie, want dan blink
'n see van liggies; mens sal dink
die sterre 't uit die lug geval.

Die stad self lyk nou een en al
koopmanspaleise opeengehoop,
waartussen al die mensies loop
wat vreselike drukte maak.—

Oom Gert sien niks van al die skoon.
Die agterbuurt, daar dink hy aan
waar die blikhuisies almal staan,
en alles vuil-armoedig is;

bedink maar hoe die mense woel
waar huise en stof die son versper,
waar sawends skyn geen maan of ster,
en net die lampeskynsels blink.

Hy sien skoorstene en steenkoolrook;
hy hoor die treine met hul haas;
hy hoor die myn se toeter blaas,
en 't gaan asof die aarde brul.

Hy dink dan aan die myn-graf waar
die mense lewendig in kruip,
om soos erdvarke rond te sluip
vir bietjie geld en—longekwaal.

Hy dink aan ander duisende
van mense, voorheen eerbaar-braaf,
vir wie die skandgraf word gegraaf
wanneer die goud rys uit die grond.—

Maar—daar is fees bo-op dié graf!
Nes die ou tyd waar oom Gert van lees,
dat mense hou 'n dansersfees
wanneer die "swarte dood" verwoes.

V

Die môre van die Unie-fees

Oom Gert sien die soldate
in kakie langs die strate.
Hy sien die oorlogslans
se lintjies vrolik dans,
die sabels en gewere,
kanonne en helmet-vere,
op die paradebaan.
En agteraan?...

Hy sien die oorlogs-wees
wat deelneem aan die fees—
'n kinder-keurkommande
met skewe hoede-rande;
'n ganse skaar kadette
met roer en bajonette—
al agteraan
op die paradebaan.

Die môre-godsdiens

Vroom geklank!
Mense dank,
almal mede,
vir die vrede
'n Opperwese.
Want genees is
en verbonde
is al die wonde;
rassevete<dup>[B]
's al vergeet.
Met veréénde klank
rys die vreugdedank!

[B] Rassetwiste.

Die middag

Hy hoor die geluid van juublend gesketter,
die vrolike klank van simbaal en trompetter,
gedra op die dreun van die oorlogstamboer
wat dond'rend soos onweer die harte kom roer.
Daar's wapenbeweeg wat yslik weerklink;
kanonwaens kom aan en kettings rinkink.
En hy hoor daarna:
Hoera! Hoera!

Hy hoor die tred van die oorlogswees,
sy voete gedril vir die Unie-fees!
Hy hoor 'n gesang van sy lippe weerklink
as hy bly en verruk uit die feesbeker drink.
'n Hosanna gaan op uit die kindermond,
en die skare juig saam in die vrolike stond;
En hy hoor daarna:
Hoera! Hoera!

Die aand

Vreugdevure deur die land...
Mense juigend om die brand!
Vreugdepyle gons omhoog
en ontplof hoog aan die boog;
bly-verwonderd bly die skaar
na die skitterkleure staar.

Oom Gert gaan vroeg die aand na huis,
want een ding staan by hom nou vas:
dat hy nie in dié wêreld pas.
Hy het 'n beter dag geken
en is te oud om nog te wen
aan al die vreemdigheid
van nuwe koers en tyd.

Hy slaap laat in met diep gesug,
en in sy droom kom weer terug
die wese op die paradebaan,
die kinders wat hosanna sing,
die mense wat mekaar verdring
om rond die vreugdevuur te staan.

Ook kom hom deur sy droomnag speel
'n enk'le krygs- en kamptoneel;
'n moeder by haar kind aan waak,
'n stryder sterwend vir sy saak.

En as hy opstaan kom die vraag:
My Dina, ja, was sy
ook dalk daarby?...

VI

Dina se lewe val haar swaar.
Helaas, sy was die laaste tyd
haar blosende gesondheid kwyt,
en moes gedurig drankies koop.

Sy het in 'n café gedien
waar sy gedurig reg moes staan,
die wit-gestyfde voorskoot aan
en haardos ydel opgetooi.

Sy moes haar aangesig verkleur;
want al die glans van vel en oog
het met die jare weggedroog—
só was haar blommesteel geknak!

Sy moes daar staan en vriendlik wees
vir iedereen, al oor en oor,
ook as die kêrels met haar skoor
en stilletjies haar dinge sê.

Saans word sy dikwels uitgevra
om na die bioskoop te kyk;
dan moet sy weer so sinlik lyk,
dat sy die jonkmans kan bekoor.

Dan kry sy volop lekkers en
'n sitplek in die voorste ry;
dan is daar volop gekkerny
op die toneel en in die saal,

totdat 'n ander lewensdag
in sondenag word uitgeblus;
die liggaam weer na late rus
moet deur die vroeë more heen.

Hoe sweef dan om haar koors-gesig
die kuisheid van die môredou;
hoe pynig haar 'n naberou
wat al maar met die môre kom!

Haar leë hart het sy so lank
uit singenot se kelk laat drink,
dit word haar aldeur volgeskink
en—tot die prys van hande goud.

Tog bly haar hart gedurig leeg...
Sy sal die fees dan ook maar my...
Oom Gert soek haar vergeefs daarby...
Skyn-vrolik is sy nou nie meer!...

VII

Ja, Dina was dié dag nie by
en ook nie bly...
God het haar eind'lik stil laat staan!
En omgewend?...

Die aand versprei sy duister skerm
wanneer sy op die rante kerm
in haar ellend:

"Ag, kon ek nog my sondedaad
as sondesaad
weer in my donker hart
terugontvang,
dan was my vrees,
my angs by awendswart
wis minder bang
gewees.

Maar nou, nou het voorheen my hand
dit uitgeplant,
die eerste korrel van die kwaad.
En ieder jaar vermenigvuldig
die boom so kwaad
die sondesaad,
en maak my siel doodskuldig.

Teen awendgrys
verrys
nou boom op boom, hul bly
soos donker plekke,
soos pikswart vlekke
dwars-teen my vinnig-aan
wegdonkerende hemel staan.

En waar ek nou al dolend gaan,
hul staar my aan,
die bome; deur hul blare
hoor ek die nare
geruis van doem en dood—
oneindig ver van my
en altyd naderby!

Ek vlug verdwaald, verdwaas van sin,
benard, benoud
my donker woud
al dieper, dieper in!"

VIII

Sal God dan Dina so laat staan?...
Sy wend haar voetstap al maar aan
op agterbuurtse sinkgebou
waar awenddienste word gehou...
Net kwyn sag weg 'n lied van dank
as sy gaan sit op verste bank.

Wanneer die laaste galm verruis,
spreek sag die leraar van 'n Huis
daarbowe, wat veel wonings het,
die toevlugsoord van wat belas,
gedruk, verlaat, verlore was.

Wees nie ontroer, voeg hy daarby,
as jul nog sondesmarte ly,
want daar hou juis die eng'le fees
om wie verlore hier mag wees.

o Die oue, oue Bybeltaal,
by haar al lank verouderd al—
dit sink soos eerste druppels reën
wat op 'n ou pad val.

(Wat hoor sy nou! "Wees nie ontroer!"
Het God haar voete hier gevoer?...
Wat hoor sy! "Daar is baie plek."
Ook vir 'n sondares soos ek?...
Wat!... dat daar om verlorene fees
sal wees!)

Dan volg 'n laaste smeekgebed
dat God barmhartiglik mag red
deur altyd-nuwe wekgeluid;
en daarmee gaan die kerkie uit.

Sy stap die duisternis weer in,
maar dis vir haar 'n dagbegin;
dis of die sterre almal wink,
of die aandster bo die woning blink
waarin haar vader op haar wag.

Dieselfde nag het sy besluit
om na haar vader terug te gaan.
Want as God haar nie weg wil wys,
dan neem 'n eie vader wis
sy enige dogter aan.

IX

"Wie kom so laat nog na my huis?...
Ek hoor daarbuite 'n voetstap ruis."...
Die bo-deur swaai sag aan die kant.
Is dit die wind se onsigbre hand?...

'n Kersie wikkel—hoe die deur
al saggies word opsy gebeur—
en wend lig-golfies daar en hier
langs langvergane muurpapier.

"Wie kom nou na my huis? Dis nag!"
Die grysaard nou geboë wag
en kyk, maar kan geen wese ontdek—
totdat 'n stem kom: "Pa, dis ek."

Dan doem traag uit die duisternis
'n beeld wat hom nóg eie is.
"My kind!... Oplaas!" en dan niks meer.
Sy val hom aan die voete neer.

'n Vaderhart se medely—
wat kom Gods liefde naderby?
God wat alreeds te wagte staan
as die "verlore seun" kom aan!

Hy blik haar in die skuldige oog...
Die trane-sout 't al vasgedroog.
En sinlikheid aan 't wisselwyk,
van ver deur dowwe sluiers kyk.

"My kind, dáár het ek neergekniel,
snags uitgestort my bitter siel;
dié deur het nooit nie dig gegaan,
en daardie kersie 't daar gestaan.

"Nou kan ek sterf, my oog het nou
jou saligheid, my kind, aanskou."
Hy sien haar aangesig is bleek—
'n skone spieël gekraak, gebreek.

"Hoe is jou skoonheid van weleer
deur Gods geregtigheid verteer—
die vlam wat ons nie sien nie, maar
waarvan ons net die as vergaar!

"My kind, meteens my profesie,
van wat my oog gewislik nie
meer sal aanskou: die wederkeer
van al my volk tot God en eer.

"Lê op my graf geen sooi met gras,
maar dek dit met die heuwel-as;
want daarso lê begraaf jou eer
en van die boervolk van weleer.

"Ja, daarom is die heuwels hoog,
en dáárom is hul skynsel bleek,
en daarom is die winddreun diep,
so droef soos een wat smartlik smeek!

"Maar eens herleef die nasie weer,
waarvan ek sterwend profeteer.
Eens word die grys-blou heuwels klein
as God alleen weer groot verskyn!"

Hul staar mekaar nog vraend aan
wanneer die dag al op wil gaan...
Dan sien sy hoe sy vinger wys
waar Perdekraal se heuwels rys!

Die digter het sy taak volbring.
Die sanger het sy lied gesing,
en wil met enk'le woorde nog
vermeld van stille beevaarts-tog;

van hoe sy voet eerbiedig stand
hou by twee graftes op die Rand.
Dié vaal-wit hopies dek hul bei,
vader en dogter, sy aan sy!—