Jump to content

Oom Gert vertel en ander gedigte/Vrede-aand

From Wikisource
My nuwe Vaderland Oom Gert vertel en ander gedigte
Vrede-aand
deur C. Louis Leipoldt
Die ou Blikkie


Vrede-aand.

        Dis vrede, man; die oorlog is verby!
Hoor jy die mense skreeu die strate vol?
Sien jy, die hele wêreld is op hol?
Kom, hier 's 'n bottel soetwyn; laat ons drink!
Ons het ons nasie in die see gesink;
Ons het geen land meer nie: dis klaar met Kees!
Dis vrede nou: kom skreeu—of is jy hees
Van lag? Nou, lag maar, want die storie 's uit:
Ons nasie 's weg, ons kan daarnaar maar fluit!
Drink, drink jou glas! Die son skyn deur die wyn:
Is dit te soet, of smaak dit soos asyn?
Nou ja, dan kom hier by die venster staan
En skou met my al die gedoente aan.
Daar waai die vlag, daar word hoerê geskree:
Die aandeelmark rys weer, en ons daarmee!
Wat is ons land teenoor die aandeelmark?
Wat 'n kanarievoël teenoor 'n vark?
'n Lelieblom teenoor 'n stronk tabak?
Ons nasie, wat so wild was, is nou mak
En kan getrein word soos 'n jong bobjaan,
Wat, as hy steeks is, jy weer goed kan slaan.
        Hoerê! hoerê! Skreeu saam met my:
        Dis vrede nou; die oorlog is verby!

        Dis vrede, man; die oorlog is verby!
Hoor jy daaragter, hoe die mense huil?
Hoor jy 'n sug, 'n klag?—Dis maar 'n uil:
Die voëls is orals rond, selfs in die stad,
En orals skreeu hul, orals om ons pad:
Hul weet, ons was ook uile! Ons hou saam
'n Bondskongres hier, net soos dit betaam;
Passeer mooi resolusies; maak geraas,
En groot lawaai; en trek dan soos 'n haas,
Wat bang is vir die roer, weer in die hol,
En sit daar van die bewerasie vol!
Nou is die storie uit: die leë glas
Staan droog, wat vroeër so vol met water was;
Die put, wat eenmaal water het gegee,
Is vol met trane, souter as die see—
So brak as ooit 'n pan in die woestyn,
Waarop die son al dae helder skyn—
En bitter net soos gal, want in die put
Het al ons volk hul trane afgeskud;
En ons moet daarvan drink, die jare deur,
Al sal die smaak ons hart en siel verskeur.
        Nee, boetie, nee, kom skreeu hoerê met my:
        Dis vrede nou; die oorlog is verby!

        Dis vrede, man; die oorlog is verby!
Sien jy die strate vol? Ek sien 'n ramp,
'n Kerkhof by 'n konsentrasiekamp
Met duisend graffies, elk waarvan bewaar
'n Skat, wat alles was, wat God aan haar
Gegewe het om eenmaal aan ons land,
In tyd van nood, toe te vertrou as pand:
Sy was die sterkste van ons almal, sy
Die met gebed en hoop het meegestry!
Sy het die swaarste deel van onse lot
Gedra, gehelp, getroos, gesteun deur God:
En as jy daaraan dink, dan moet jy glo—
Al twyfel jy—, daar is tog Iemand bo,
Die so 'n vrou tot yster maak en staal,
Met soveel troos haar steun en hoop betaal;
Maar dan weer dink jy aan haar smart en aan
Die graffies, wat daar op die kerkhof staan,
En voel weer twyfel, want 'n mens is swak!
Waarom het Hy die boom gesnoei, die tak
So afgekap tot aan die stam? Waarom
Het Hy haar lot so skeef gemaak en krom?
        Nee, boetie, drink met my; skreeu saam met my:
        Dis vrede nou; die oorlog is verby!

        Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Hoor jy die mense skreeu hoerê? Ek hoor
'n Dof gekerm en steune in my oor.
Ver oor die vlakte dryf die wolke neer;
Daar slaan die blits, daar dreun die donderweer.
Die hael, elk korrel as 'n kersiepit,
Maak die Karooveld net soos marmer wit,
En dek die kaal graf van ons laaste kind;
En deur die haelbui huil die noordewind.
Hoog was ons hoop, hoe laag ook was ons hart!
Ons land is duur: die prys—verdriet en smart!
En meer as ons, het sy haar deel gegee,
Haar siel ontroof van liefde om daarmee
Ons borg te staan; sy het vir ons gedra
Die skuld van gister en die dag daarna;
Op rots het sy gebou, en nie op sand—
Heldin en vrou! Die beste, wat ons land
Nog voortgebring het! Skreeu hoerê vir haar,
As jy moet skreeu—maar liewers, man, bedaar,
En skink weer met my in 'n glas vol wyn:
Dit sal nie ditmaal suur smaak soos asyn,
        Maar heuningsoet, as suiker—en met my
        Drink op haar naam: die oorlog is verby!

        Dis vrede nou; die oorlog is verby!
Dis vrede, ja! Wat sal ons nou begaan?
Sal ons die vrou daarbinne weer laat staan
Om kos te kook, te braai, te stoof, te smoor?
Nie meer haar steun verlang nie? nie meer hoor
Haar stem, wat in die onweer het geklink?
Sal ons haar siel laat roes? Dié het geblink
Tot aan die kruis-ster, toe die donker nag
Rondom ons was, en niemand van ons dag
Verwag het nie: toe het haar lig gestaan
As lei-ster vir ons, ligter as die maan,
En as 'n son geskyn—toe was dit nood!
Dis vrede, maar dié siel is nog nie dood:
Dit lewe nog om ons te lei, en maak
Die swaar, swaar vrede plig; die harde taak,
Wat voor ons lê, die lewe, wat ons wag,
Ons donker pad, so helder as die dag.
Waak oor die stem; let op die siel; behou
Die beste, wat ons nasie het—die vrou!
Gooi neer die glas; die stukkies skop opsy:
Daaruit sal ons geen ander heildronk drink
        As dié aan haar! Maar roep, man, tot dit klink:
        Dis vrede nou; die oorlog is verby!