Oom Gert vertel en ander gedigte/Slampamperliedjies

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
'n Praatjie oor die Trougees Oom Gert vertel en ander gedigte
Slampamperliedjies
deur C. Louis Leipoldt
Die Einde


Slampamperliedjies.



I |II | III | IV | V | VI | VII | VIII | IX | X | XI | XII | XIII | XIV | XV | XVI | XVII | XVIII | XIX | XX


I.

Boomsingertjie, jy fluister
       Die liewe lange dag
Geheimpies aan die keurbos,
       Waaroor die miere lag.

Jy sanik so jou deuntjies
       Eentonig op; jy sing
Van son-op, tot die son verdwyn,
       En skemer ons omring.

Boomsingertjie, ek wonder,
       Ken jy ook my geheim?
Vertel jy dit die keurbos,
       Die miere ook, op rym?

II.

Daar, waar die uitspan by die waboom
       So kaal staan op die veld,
               Daar lê 'n half-verskroeide blom,
               Bleek deur die son, verdor en krom:
       Jy 's nie daarop gesteld.

Daar, waar die kruispad langs die waboom
       Verbygaan oor die veld,
               Daar lê 'n uitgedroogde mol,
               Half sonder vel en sonder wol:
       Jy 's nie daarop gesteld.

Hier in die dorp, waar ons nou lewe,
       So ver nie van die veld,
               Daar 's baie uitgedroog en dom,
               Daar 's baie bleek, verdor en krom:
       Jy is daarop gesteld!

III.

Van Noodt, Van Noodt, ek sê vir jou,
       Die mense pla my met jou storie;
Vertel my, ag, jy was so hard,
       En nie geraak deur 'n memorie.

Ek weet nie, of die mense lieg—
       Dis alles uit die ou swart dosie!
Maar jy is tog—miskien onreg—
       Vir al ons mense nog 'n josie.

Van Noodt, Van Noodt, jou tyd kom weer!
       Al het jy ook maar net 'n greintjie
Van goedheid in jou, dis tog werd
       'n Lofspraak, is dit maar 'n lyntjie.

Daar is geen mens so aaklig goed,
       Daar is geen vent so vals en swart,
Of in sy bors klop daar nog deur,
       'n Brokkie van 'n mensehart.

Van Noodt, Van Noodt, daar in jou graf
       (Waar het die mense jou begrawe?)
Daar kan jy deurslaap tot die dag,
       As die geskiednis jou kom lawe

Met lof en prysgeskal, en jou
       Gedoentes nie meer as misdade
Gereken worde, goewerneur,
       Met al jou papbroek-hemerade!

IV.

Gee vir my 'n trouring;
       Gee vir my 'n vrou;
Gee vir my 'n babetjie:
       Neem die res vir jou!

Wat wil jy met trouring?
       Wat wil jy met vrou?
Wat wil jy met babetjie?
       Jy, nog in die rou?

Neem die werk as trouring;
       Neem jou land as vrou;
Die toekoms as jou babetjie:
       Dis genoeg vir jou!

V.

                              Krulkop-klonkie,
                                      Waarvandaan
                              Kom jy hierso
                                      Gou-gou aan?
Van die hemel, krulkop-klonkie, van die sterre, van die maan?

                              Krulkop-klonkie,
                                      Is jou hart
                              Nog nie klaar nie,
                                      Nog nie swart?
Of is dit al lank verdor al, grysgemaak deur al die smart?

                              Krulkop-klonkie,
                                      As jy lag,
                              Vlug die donker
                                      Uit die nag
Deur die agterdeur na buite, en dit skyn hier as die dag.

                              Krulkop-klonkie,
                                      Wat wil jy
                              Op die wêreld
                                      Hier by my
Nou kom haal of lewer, klonkie? Wat is hier te gee of kry?

                              Krulkop-klonkie,
                                      Slaap gerus,
                              Van die drome
                                      Onbewus:
Vroeg genoeg kry jy nagmerrie; wie sal jou dan, klonkie, sus?

VI.

Jy sê vir my: "Ou boetie, wat moveer jou?
        Dink jy, die mense lees jou versies? Glo,
Ons het nog ander goed om oor te babbel,
        En hou nie van slampampertjies hier bo."

Nou goed, ou boet; ek skrywe nie vir jou nie:
        Die windswaal sing—nou, waarvoor moet hy sing?
Vir jou en my? Nee, wragtie, vir homselwe,
        Net om hy iets moet sê, iets, iets, moet bring!

En ek ook, soos 'n windswaal, maak my versies
        Nie maar vir jou—nee, glad nie; want ek weet,
Jy hou mos nie van versies, jy, wat trots is,
        Omdat jy dink, jy het die wysheid beet.

Ek sing net vir myself: uit puur verstrooiing
        Maak ek slampamperliedjies net soos dié:
'n Mens moet huil of lag, moet loop of stil sit,
        En ek moet versies maak, of praat met—wie?

VII.

Ek sing van die wind, wat tekeer gaan;
        Ek sing van die reën, wat daar val;
Ek sing van ons vaal ou Karooland;
        Van blomme, wat bloei by die wal;
Van water, wat bruis oor die klippe;
        Van duikers, wat draf oor die veld;
Van voëls, wat daar sing in die bossies—
Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!

Vir my sing maar liewers van blomme;
        Van al, wat die vlei laat verkleur;
Van al, wat die sonskyn laat spartel;
        Van voorjaar en najaar se geur;
Vir my sing maar liefs van die water;
        Van duikers, wat draf oor die veld;
Van rotse en branders en wolke—
        Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!

VIII.

"Ou boetie, slaan jou kop nie teen die prikkels;
        Neem, wat die lewe gee, en maak ekskusie:
Want anders word jou beste vrind jou vyand,
        En broei jy net maar stryd en rusie."

Ag nee, ou boetie, laat my maar slampamper:
        Somtyds is oorlog nog die beste vrede.
Diep in die klei daar steek die diamante:
        'n Mens moet grawe—dis die rede!

IX.

'n Skoenlapper die vlieg daar bo
        En fladder oor die rose daar:
        Ek sien hom en ek word gewaar,
Die son die skyn daarbuite, glo.

Netnou was dit nog wolkerig,
        En outa Adam het gesê:
        "Kleinbaas, ons sal weer donder hê;
Ja waarlik, basie, kyk hoe dig!"

Nou is die wolke weg: die straal
        So geel as goud, lê oor die rooi,
        Die skoenlapper die speel weer mooi,
En vlieg weer op om neer te daal.

So is dit in ons wêreld: nou
        Is alles weer so wolkerig,
        Die toekoms swart, met donker dig;
Dan somaar speel die son om jou.

X.

Sekretarisvoël met jou lange bene,
       Met jou penne agter die ore styf,
               Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?

Sekretarisvoël met jou lange bene,
       Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,
               Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?

XI.

Weer hoor ek iemand vra:
       "Wat meen jy dan daardeur,
Om sulke versies op te maak,
       So sonder smaak of geur?

Wat het ons met 'n voël,
       Met blou of geel of groen—
Met sulke vrae, wat het ons,
       Of jy ook, dan te doen?

Vertel ons iets wat deug,
       Iets, wat 'n mens onthou,
Iets, wat 'n mens van nut kan wees,
       Wat beter pas vir jou."

Ek het jou al gesê,
       Ou boet, ek sing alleen:
Verstaan jy daarvan niks—nou ja,
       Jy is nog nie gespeen.

XII.

Kriekie, jy, wat op die solder sanik,
       Wat het jy tog vir ons te vertel?
Glo jy ouderwetse ou geheimpies?
       Is daar iets, waarop jy agting stel?

Of moet jy, dag in, dag uit, maar sanik,
       Kriekie, tot ek dol word van jou dreun?
Is jou lofsang maar 'n kriekie-klaaglied,
       En jou deuntjie, kriekie, maar 'n kreun?

XIII.

Klossies, jul bewe en bibber:
       Is dan die aandlug so koud?
Moet julle so teen die westewind koes?
       Sal hy vir julle die blou en die goud,
                      Alles verwoes?

Klossies, jul bewe en bibber:
       Drink maar die son, en wees bly!
Goud, blou en rooi is die lewe; en sag
       Waai ons ou westewind koel oor die vlei:
                      Nog is dit dag.

XIV.

Twee dinge sê ek vir jou, ou boetie—die een is: "Vergeet, wat jy kan!"
Die ander: "Onthou, wat jy moet, ou boetie!" Is dit nou te veel vir 'n man!

Twee dinge sê ek vandag vir myselwe—die een is: "Onthou, wat jy kan!"
Die ander: "Vergeet, wat jy moet!" Dis amper te veel om te verg van 'n man!

XV.

Gistraand in die maanlig daar buite
        Het ek stil op die seestrand gestaan,
En die weerlig het bo op die ruite
        Van die vensters geel vonke geslaan.

En ver, waar die see maar 'n lyn was,
        Waar die hemel en sterre hom soen,
Waar die vloed kristalhelder en rein was,
        En die branders half wit en half groen,

Het ek weerlig gesien op en neer gaan,
        As silwer en goud in die lug,
As siele, wat bo na die Heer gaan—
        Stil, sonder 'n klag of 'n sug.

XVI.

Nie maanlig meer, maar wolke orals rond;
       Die branders groot as berge; en die see
              Kook oor en raas; die hele lug is swart,
Swart as 'n kool, of diepswart as die mond
       Van 'n spelonk by nag gesien; en hard
              Slaan teen die see die donder en raas mee.

Hier staan ek aan die strand, en om my woel
       See, donderslag en bliksem. Daar 's 'n lig,
              Dig by die rotse: dis 'n skip se vuur;
Want op en neer dans hy daar—en ek voel,
       My hart het jammer vir die see se plig
              En vir die skip se prys: dis tog so duur!

Vanmôre was die see weer stil; die strand
       Gestrooi met seegras, maar met meer as gras;
              Want daar was een—hy het sy prys betaal,
En lê bankrot en brandarm op die sand,
       Half met sy hand nog aan 'n houtblok vas—
              'n Lyk met ope oë, doodsbleek en vaal.

XVII.

Dingaan, die Soeloe, was 'n duiwel:
       Handlanger van die hel was hy!
Hy het ons mense hard geteister,
       Windmaker in sy dwinglandy.

Dingaan, die Soeloe, was 'n duiwel,
       Maar hy is lankal dood, en nou
Het ons geen mens, wat ons kan teister—
       En tog sit ons nog in die rou!

XVIII.

Klim op, klim op, met die slingerpad!
       Klim op, klim op, tot jy staan daar bo,
Waar jy al ons land in 'n oomblik vat,
       Van die Suurveld af tot die kaal Karoo!

Klim op, klim op, langs die slingerpad!
       Klim op, tot jy bo-op staan; en kyk,
Hoe mooi ons wêreld is! Dan weet
       Jou siel die waarheid—want jy is ryk!

XIX.

Die see het juwele, robyne,
        So rooi as 'n korrel granaat;
Die see het sy lyke, geraamtes,
        Van elke verdrinkte Janmaat.

Die see het sy skulpe, wat, mooier
        As ooit ook 'n mens dit kan maak,
Daar pronk in paleise van seegras,
        Waar ewig die branders om kraak.

Die see het 'n hart: in die diepte—
        Waar selfs nie 'n kreef kan bestaan,
Waar lewens nog laer as muggies
        Gebore word om te vergaan—

Daar setel sy siel, en dit uiter
        In elke verandring sy wil!
Verslinger die rotse die branders,
        Die see sal daar nimmer van gril;

Want ewig en altyd onsterflik
        Is diep in die diepte sy krag,
En laag in die land van sy lewe
        'n Siel, wat vir ewig kan wag.

XX.

Die see is wild, die see is blind:
        Hy slaan so oor die rotse grof;
        Veraf nog dreun sy donder dof,
En oor hom huil die noordewind.

Die wind is wild, die wind is kwaai:
        Hy gons die bome deur en breek
        Die takke van die stam, en steek
Die haelbui aan met sy lawaai.

Die hael is wild, die hael is sterk;
        Hy maak die see se branders glad,
        En stamp die koringvelde plat,
En breek die sekretaars se vlerk.

Nog wilder as die see en wind,
        Nog strammer as die haelstormsnood,
        Nog blinder as die drie—die Dood,
Wat op jou voorkop sit, ou vrind!