Oom Gert vertel en ander gedigte/Op my ou Karoo

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Op 'n Leiklip Oom Gert vertel en ander gedigte
Op my ou Karoo
deur C. Louis Leipoldt
My nuwe Vaderland


Op my ou Karoo.

Hier wil ek rus, op ons vaal Karoo,
       Hier, waar die veld 'n leegte is,
       Hier, by die slang en die akeldis,
Hier, met die hemel blou daarbo.

Grawe hier, boetie, 'n graf vir my:
       Hier is ek tuis, my land is hier;
       Hier, waar die korhaan bruilof vier—
Hier wil ek lê in ons grougeel klei.

Stel nie 'n klip of 'n kruis daarbo,
       Skrywe geen teks, wat 'n mens kan lees;
       Sê net: "Hy slaap, waar hy wou wees—
Hier in die skoot van ons vaal Karoo.

"Rond oor die wêreld het hy gereis:
       Nêrens was uitkoms vir sy hart;
       Orals was donker, die wolke swart,
Orals die wêreld vaal en grys.

Nou lê hy diep hier in die sand;
       Nou slaap hy vas, want hy rus in sy graf:
       Was hy 'n sondaar, dan is sy straf
Lank afgewerk in 'n vreemde land.

"Praat van hom nie as 'n skuldenaar nie:
       Hy het betaal tot die laaste toe;
       Hy het gely—ja ons weet nie hoe!
Broer van almal, en maat van—wie?"

Dit is jou rede oor my lyk,
       Dit jou gedagte, as jy daar staan—
       Daar by my graf, waar die volle maan
Deur God se vensters na onder kyk.

Laat vir my slaap, boetie! ek het vaak:
       Dof is my oë, my siel is moeg;
       Gaan jy maar voort met jou land te ploeg,
Tot ook jou siel in die duister raak.

Laat my alleen op die toekoms wag,
       Hier in my graf op ons vaal Karoo.
       Dek my met veldbossies, boetie! So,
Nou sal ek rus tot die laaste dag.