Oom Gert vertel en ander gedigte/Japie

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die Soutpan Oom Gert vertel en ander gedigte
Japie
deur C. Louis Leipoldt
Op 'n Leiklip


Japie.

Vanmôre was Japie nog hier:
       Vanaand is hy dood!
Met 'n lag om sy mond het hy bruilof gevier
       Met 'n klein brokkie Engelse lood.

Vanmôre was Japie by my:
       Vanaand is hy—waar?
As 'n mens maar kan weet, waar hy eindlik sal bly,
       Wie het dan vir die toekoms gevaar?

Vanmôre was Japie my maat:
       Vanaand is hy—wat?
Sal hy nog met my lag, sal hy nog met my praat,
       Of my hand in die syne weer vat?

Vanmôre was Japie 'n kind:
       Vanaand 's hy volleerd!
Ons het baie gestry om dié waarheid, ou vrind:
       Weet jy nou, wie van ons had verkeerd?

Vanmôre was Japie—nee God!
       Hy is nog vir my!
Want die dood kan nie skei nie, al is dit ons lot
       Om alleen op die wêreld te bly.