Oom Gert vertel en ander gedigte/Die Sterretjie

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
'n Nuwe Liedjie op 'n ou Deuntjie Oom Gert vertel en ander gedigte
Die Sterretjie
deur C. Louis Leipoldt
Aan my ou Vrind


Die Sterretjie.
[edit]

               Fonkel, sterretjie, fonkel,
               Hoog in die lug so blou!
Kort is die dag, en lang is die nag;
Dood is jou skyn, eer die son jou verwag:
Snel sal jou glans in die môre verflou:
               Fonkel, sterretjie, fonkel!

               Fonkel, sterretjie, fonkel,
               Hoog in die lug so hoog!
Engele daar kan jy byna gewaar,
Onder die wolke die hemelse skaar,
Elk met jou silwerwit skit'rende oog:
               Fonkel, sterretjie, fonkel!

               Fonkel, sterretjie, fonkel!
               Lag in die lug daar bo!
Hier is dit sleg, want die dag is mos weg,
Oor al die veld het die nag hom geheg,
Tot as jy skyn—ja, dan kan 'n mens glo:
               Fonkel, sterretjie, fonkel!

               Fonkel, sterretjie, fonkel,
               Bo in die lug so blou!
Kort is die nag, en lang is die dag,
Hier, waar ons lewe en pligte verwag,
Lig van die son, maar tog swart van die rou:
               Fonkel, sterretjie, fonkel!