Oom Gert vertel en ander gedigte/Die Doringboom

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Aan 'n Seepkissie Oom Gert vertel en ander gedigte
Die Doringboom
deur C. Louis Leipoldt
Die Soutpan


Die Doringboom.

Kyk, hier is 'n ou kameeldoring, amper kaal;
       Sy blaartjies vuil en donkerbruin verbrand;
       Sy stam gestrooi met geelgrys stof en sand;
Sy dorings wit as silwer, skerp as staal.
Hier staan hy nog, hoe dor die veld en skraal;
       Hou stewig nog teen wind en storm sy stand—
       Die oudste doringboom in ons doringboomland,
Wat reeds sy bloeityd tel vir honderdmaal.
Vir jare het hy hier sy goud gestrooi,
       Die hele wêreld oor sy geur versprei,
              Voor nog 'n witmens hier was of 'n pad;
Vir jare was hy bobaas hier, en mooi
       Vol groen en goud: maar nou 's sy tyd verby—
              'n Afgeleefde doringboom, droog en glad!