Oom Gert vertel en ander gedigte/Aan 'n ou Boek

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Oktobermaand Oom Gert vertel en ander gedigte
Aan 'n ou Boek
deur C. Louis Leipoldt
In Amsterdam


Aan 'n ou Boek.
[edit]

                Op die solder, waar die rotte
                       Hulle neste het gebou,
                Waar die vlermuise en motte
                       Elke aand kommissie hou,
Het ek jou gevinde, ou maat, en jou maters lê daar nou.

                Voor ons voorgeslag gebore
                       Was, het mense jou gelees;
                Monnik, ridder, lang tevore,
                       Was met jou al maats gewees,
En hul het hul siek gelag oor al jou vuur en al jou gees.

                Baie jare al gelede
                       Lê jy op die solder daar,
                Rustig in jou rus, tevrede
                       Met jou lot, van jaar tot jaar.
Ou maat, waarom het die rotte vir ons al jou gees gespaar?