Die wonder van Afrikaans

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die wonder van Afrikaans

deur Gideon Joubert
Broninligting


Die wonder van Afrikaans

Aangebied deur die


AFRIKAANSE KULTUURVERENIGING VOLK EN VERDEDIGING


Tak: VELDKORNET THYS BOONZAAIER


Onder beskerming van die AGTERBAAISE SKAKELKOMITEE


22 - 23 Mei 1958

AGTERGRONDMUSIEK: 1e. SIMFONIE -- SIBELIUS.

GORDYN OOP.

MUSIEK DOOF UIT.

LIGSTRAAL OP STEM.

STEM: Ons vier die wonder van Afrikaans. 'n Wonder is iets wat 'n mens nie kan verklaar nie, en dus aan God toeskryf.

MUSIEK KOM OP. DOOF UIT.

WOORDE: PSALM 137: 1-4.

LIGSTRAAL OP MAN WAT LEES:

MANSSTEM: By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink. Aan die wilgerbome wat daar is, het ons ons siters opgehang. Want daar het hulle wat ons as gevangenes weggevoer het, van ons die woorde van 'n lied gevra en hulle wat ons verdruk het, vreugde, deur te sê: Sing vir ons 'n Sionslied.

Hoe sou ons 'n lied van die Here kan sing in 'n vreemde land?

STRAAL SKUIF NA VROU WAT LEES.

WOORDE: LANGENHOVEN: 8 Mei 1925.

VROUESTEM: Maar ons Afrikaners was nie weer nie, om ons heen het ons 'n skoonheid van lieflikheid gehad, heerliker as die uitnemendste van die landskappe van Babilon. Waar het óns gedigte dan gebly? Waar was óns musiek? Waarom het ons nie eens harpe gehad om aan die wilgerbome op te hang nie? Ons was erger as daardie bannelinge juis omdat ons nie bannelinge was nie. Nie vreemdelinge in 'n vreemde land nie; ons was vreemdelinge in ons eie land. Die ander vreemdes was hier tuis; hulle kon dans en speel en sing. Ons moes swyg.

»Kom sing tog met ons saam,« het die tuisgemaakte vreemdelinge ewe vriendelik aan ons gesê. »Waarom hou julle julle dan eenkant? Moenie nukkerig wees nie; neem deel aan ons vrolikheid; ons gun julle dit van harte.« En ons het begin te dink ons moet darem ook hier lewe, al is dit nou maar ons eie land. En aangesien ons met hulle moet saamlewe, kan ons net so goed die beste daarvan maak en vriendelik wees, dan hoef ons nie meer vreemd te voel nie. Toe het ons ook begin gediggies maak, op hulle manier, en wysies daarvoor gemaak volgens hulle smaak. En ons het van hulle harpe geleen en saam gesing en gespeel en gedans.

En toe eers het ons by die onderste afsaksel van die gal gekom in ons bittere drinkbeker. Want by die vorige bitterheid was daar nou die gal van verraad bygevoeg. Ons het nou nie eens meer die eers van ons slawekettings gehad nie; ons was nie eens meer vreemd met ons eie vreemdelingskap nie, maar tuis in die tuiste van die vreemdelinge. Hulle het ons in ons eie huis verwelkom as gaste. Hulle het geklap en gejuig om byval te toon vir ons liedjies, en pryse aan ons uitgedeel omdat ons so mooi kon speel en so bevallig kon dans. Maar hul hulde was die uiterste van vernedering, want al die tyd het hulle ons verag omdat ons self nie kon bemerk nie dat ons gedans en 'n kruppel gehink was, en hul harpe se snare vals klink onder ons vingers. Ons was vreemder nou as vreemdelinge in ons eie land, want ons was vreemd aan 'n erkenning van ons eie tuisbedrog.

Daardie dae is verby. Dié van ons wat verlore is, is verlore. Verlore vir ons, verlore vir hul land, verlore vir hulleself; hulle dans nog hinkend en speel nog vals. Maar óns het dié wonderlike ding ontdek dat dit al die tyd nie die vreemde indringers was wat die leed en smaad op ons gebring het nie. Dit was maar onsself al die tyd wat aan onsself ontrou was.

Met daardie ontdekking het ons begin om onsself tuis te maak in ons eie land. Dit was maar simpele ou gediggies, daardie eerste, maar daar was waarheid in, want ons eie hart was daarin. Waar daar 'n gesug en 'n geween onder die wilgers was, was nou 'n vreugdebedryf.

En na lange laaste, nou eers, op die 8ste Mei 1925, het ons bymekaar gekom en besluit: Daar is vir ons maar een manier om te speel, en dit is op ons eie harpe; en een manier om te werk, en dit is met ons eie grawe.

En die vreemdelinge was daarby toe ons die besluit geneem het, en hulle het dit toegejuig. Want hulle het begin voel hulle moet ook nou maar met ons hier saamleef. En hulle het die wilgerskaduwees begin liefkry soos ons voorouers dit in die verre dae lief genoeg gehad het om daarvoor te sterwe.

Nou sal ons dan probeer, ons wat nie meer vreemd is in ons eie land nie, en hulle wat nie meer vreemd is in hulle aangenome land nie, om 'n ander soort speletjie te speel en 'n ander soort werk te doen as dié wat tot hiertoe soveel skade en ongeluk op ons gebring het. Waar ons speel, sal ons saam speel, ons op ons harpe en hulle op hulle s'n. Waar ons werk sal ons saamwerk, hulle met hulle gereedskap en ons met ons s'n. En dit sal wees play while we play and work while we work, want aan weerskante sal ons hart en ons siel daarin wees.

STEM: Afrikaans. Die frisste en jongste van alle tale, die enigste Wes-Europese taal wat ná die Renaissance ontstaan het, die »een en enigste witmanstaal wat in hierdie land gemaak is en nie klaar oor die water gekom het nie,« soos Langehoven gesê het. Op 8 Mei 1925 is Afrikaans toe as amptelike taal deur albei die huise van die parlement erken. 1925. Sommer nou-die-dag. Nog nie 35 jaar gelede nie. Is ons taal dan so jonk?

Nee. Ons Afrikaans is minstens 250 jaar oud.

Afrikaans is 'n sustertaal van Nederlands en Vlaams. Al drie stam hoofsaaklik uit die 17de eeuse Nederlands, die taal wat Jan van Riebeeck gepraat het toe hy in 1652 aan wal gestap het. Die taal waaruit Afrikaans gebore is.

Hoe klink hierdie taal wat Jan van Riebeeck hier gebrin het?

WOORDE: Daghregister gehouden by den oppercoopman Jan Anthonisz van Riebeeck. 6 Aprillis 1652.

MANSSTEM (WOORDE VERDER SIGBAAR): Stil weder met wijnigh variable coelte; ende alsoo wij door dese dwarlwinden weynich costen advanceeren, ende vrij dicht onder de wal waren, sonden de sloep met den bouckhouder Adam Hulster ende onderstuijrman Aernt van Jeveren na den steert van de Leeuwenbergh met ordre omme om den hoeck van deselve te gaen inspectie nemen wat ende hoeveel scheepen op de reede in de Taeffelbaij mochte leggen ('twelck gevoechlijk conde geskchieden sonder haer eens met de sloep aen de aldaer vindende schepen te verthoonen) opdat wij na becomen advertentie ons ondertussen daertegen ter deffentie ofte offentie mochten prepareren.

STEM: Tekens van 'n nuwe taal wat ontstaan, blyk reeds 33 jaar ná Van Riebeeck se aankoms. In 1685 maak H.A. van Rheede tot Oudtshoorn in sy joernaal melding van die »gebroken spraak« van die Kaap.

'n Honderd jaar later het 'n nuwe volk met sy eie taal reeds hier vorm gekry. In 1802 spreek J.A. Uytenhage de Mist sy kommer uit oor die swaar taak wat voorlê »eer met de Caabenaars weder Nederlanders kan maaken.«

Taakhistorice stem saam dat Afrikaans in nie later as die begin van die 19de eeu gebore is nie.

Dit is die eerste wonder van Afrikaans: dat hy ontstaan het.

MUSIEK. MUSIEK DOOF UIT.

WOORDE: 1806

STEM: 1806. Engeland neem die Kaap in besit. Afrikaans word reeds oor 'n uitgestrekte gebied gepraat. By die verdrag van oorgawe by Papendorp -- vandag se Woodstock -- word o.m. bepaal dat:

BASSTEM: The burghers and inhabitants shall preserve all their rights and priveleges.

STEM: Vier maande ná dié plegtige belofte, word 'n proklamasie uitgevaardig dat alle stukke aan die staak voortaan in Engels moet wees.

Die eeu het begin waarin alles in die stryd gewerp sou word om die Boerebevolking te angliseer. Theal skryf:

MANSSTEM: It seemed absurd that such a small body of people should be permitted to perpetuate ideas and customs that were not English in a country that had become part of the British Empire.

WOORDE: 1814.

STEM: 1814. Lord Charles Somerset word goewerneur aan die Kaap. Hy maak Engels die enigste amptelike taal van die land. Maar nie een uit tien burgers kon die enigste amptelike taal verstaan nie.

WOORDE: THEAL:

STEM: THEAL SKRYF:

MANSSTEM: Many requests were made to the government to annul it, but to no purpose, and upon the dates named English became the official language of the country. It would have been difficult to devise a measure more calculated to irritate the Dutch inhabitants.

VROUESTEM: Die eeu van onreg het begin, 'n eeu van vernedering en verdrukking, waarná die geloof in die Afrikanerdom eers baie later, ná baie pyn, soos 'n rivier wat lank onder die sand deurgeloop het, sou uitslaan.

STEM: Engelse onderwysers word ingevoer. In staatsondersteunde skole word net twee tale onderrrig: Engels en.....Latyn.

Predikante word uit Skotland ingevoer en in die Kaapse kerk aangestel. Politieke kommissarisse woon alle kerkraadsvergaderings by. Die Engelse preek neem sy intrek in die N.G. Kerk. Die goewerneur self keer die samestelling van alle kerkrade goed ....of af.

MUSIEK.

WOORDE: 1857.

STEM: Die anglisering van die Kaap is feitlik 'n voldonge saak. Op 19 September 1857 verskyn 'n hoofartikel in die Cape Argus:

MANNSTEM: The language of the Cape! -- As if the miserable bastard jargon, which is the vernacular of this country, is worthy of the name of language at all......The language if this country is destined to become English; it is becoming more and more so every day......And you, whom fate has ordained to become liege subjects of Her Majesty of England, may as well hasten to become English in language, sentiment, and feeling, for to that complexion you must come at last.

STEM: Die tweede wonder van Afrikaans: dat hy voortbestaan het.

MUSIEK.

WOORDE: Kentering.

Wat is nou eintlik so wonderlik aan dié taal? Ons gebruik dit vandag in elke moontlike plek --- van die veekraal tot die Volksraad, meestal sonder om ooit daaraan te dink dat dit tog eintlik 'n besondere voorreg is, iets wat ons ouers miskien al geken het, maar waarvan oupa en ouma nog net kon droom.

Om iets van die wonder te verstaan, moet 'n mens jou terugdink in die buitekamer van oom Gideon Malherbe se huis in Pastorielaan in die Paarl byna 84 jaar gelede. Om presies te wees, op 14 Augustus 1875.

Op daardie Saterdagmôre het agt manne bymekaargekom om die Genootskap van Regte Afrikaners te stig, 'n vereniging wat hom ten doel gestel het om Afrikaans as skryftaal erken te kry.

Die vergadering, soos die meeste daarná, moes in die geheim gehou word, want daar was sterk verset teen die gedagte om die omgangstaaltjie wat iedereen goed genoeg geag het om in sy kombuis te praat, tot skryftaal te verhef. Ja, daar was baie plekke waar 'n mens dit selfs nie sou gewaag het om Afrikaans te praat nie.

MANSSTEM: Watter sonderlinge taalposisie het toe in die land bestaan! Vier tale is vir vier soorte van gebruik aangewend. Daar was Engels en Hollands. Dan was daar Afrikaans, goed genoeg om gepraat maar te plat om geskryf te word. En dan was daar die onvaste tussenvorm wat nie Afrikaans en ook nie Nederlands was nie. Noem dit »Laag-Hollands«, of »Hoog-Afrikaans«, nes jy wil.

STEM: Aan hierdie onnatuurlike toestand wou die Genootskap van Regte Afrikaners 'n einde maak.

Die eerste publikasie van die Genootskap was 'n Afrikaanse volkslied. Hierdie lied met sy ses strofes vertolk pragtig die ideale en strewe van hierdie manne: 'n Ieder nasie het sy Land, sy Taal, sy Wet, sy Reg, sy Tyd, om dan te eindig met die ontroerende strofe:

MANSSTEM:

Want al die nasies het een God.
Hy reël ieder volk se lot.
Hy het vir ieder volk syn taal,
Syn land, syn reg, syn tyd bepaal.
Wie dit verag sal Syn straf dra.
O God, beskerm Suid-Afrika!

STEM: Op Saterdag, 15 Januarie 1876 verskyn Die Afrikaanse Patriot, die eerste Afrikaanse koerant, uitgegee deur die Genootskap van Regte Afrikaners.

Koerant word op doek gewys.

MANSSTEM: Een Afrikaanse koerant! Wie het dit ooit gedroom! Ja, Afrikaanders, een koerant in ons eie taal! Dit het baiang moeite gekos om so vêr te kom; dit kan ek julle verseker, want die meeste Afrikaanders is nes steeks pêrde, hulle wil mos nie glo dat ons 'n ei'e taal het nie. Die ou'e Patriotte hou vas, en klou vas, an die Hollanse taal; die jong mense vind die Engelse taal weer so danig mooi, en o'ertui'e gaat net so moeilik, as om steeks pêrde te leer pronk in die voortuig. Ons wil nou met ons Patriot an die wereld wys, dat ons wel de'entlik een taal het waarin ons kan sê net wat ons wil......

STEM: En watter opskudding het die verskyning van hierdie eerste Afrikaanse koerant nie veroorsaak nie! Dit het veral die Hooghollandse gemoedere gaande gemaak. Ouers het hul kinders verbied om die Hotnotstaalblad te lees; kosgangers is gestraf omdat hulle die blad in die koshuis gebring het; onderwysers is met afdanking gedreig as hull op die blad inteken; predikante het daarteen gewaarsku. Die Kaapse Sinode van 1880 het byna twee dae gewy aan die bespreking van die blad, sy afkeuring oor die gees en strekking daarvan uitgespreek, en ten slotte duisende pamflette daarteen versprei -- 'n uitstekende advertensie vir die blad.

Ten spyte van al die teenstand en veroordeling, het die Patriot vinnig gegroei.

Die Patriot het sy lesers genooi om gediggies te stuur, en hulle het ingestroom. Hulle is in die taal en die trant van die volk, die vorm is meestal gebrekkig en die taal dikwels onsuiwer en plat. Daar is allerhande soorte versies gemaak: Byvoorbeeld komies-verhalende verse.

MANSSTEM: DIE STEWELTJIES VAN SANNIE.

Pas altyd vir 'n vroumens op;
Dit help jou net g'n stuk nie:
Steek jy jou nek eers in die strop,
Dan kan jy nooit los ruk nie.
So is dit ook met my gewees;
Ek was nie reg van plan nie,
Toen was dit al klaar met Kees:
Ek was geknoop aan Sannie.
Skaars was ek agtien jare oud,
Toen vry ek al na Sannie;
Myn sakhorlosie was van goud,
En 'k gee pad vir g'n man nie.
Haar ouers het ons uitgelag;
Hul seg ons is maar vulletjies,
En ek moet nog 'n bietjie wag
Met sulke kinderspulletjies.
Maar neef, ek moet jou tog verhaal
Hoe dit met my gebeur is;
Jou tyd die kom ook nog eenmaal
Voor jy mooi reg daardeur is.
Ek droom mos dat sy voor my staat
Met splinternuwe stewels;
Hul mag van kleine voetjies praat,
Maar Sannie het twee knewels.
Ek trek my aan die oggend vroe:
»Saal op die skimmel daar!«
Toen ry ek reguit Sannie toe
Om te hoor hoe sy nog vaar.
»Goeie môre, Tante; môre, Oom,
En waar is Sannie dan?«
Daar kom sy net soos in my droom
Met dieselfde stewels aan!
Wel, ek sal jou maar kortaf sê,
Ek het haar toen gevra
Of sy my vir 'n man wil hê:
Toen seg sy sommer »Ja!«
'n Mens die bly tog maar 'n mens,
Ek weet nie wat's die rede;
Maar soos hy kry net wat hy wens,
Dan word hy ontevrede.
Dit help nou weinig om te huil,
Al het ek spyt van Sannie;
Kon ek die ou ding maar verruil,
Dan sou ek - maar ek kan nie!

STEM: Ook liefdesgedigte, sentimentele balades, politieke en nasionale gedigte verskyn in die Patriot. Daar het ook heelwat sogenaamde volksliedere verskyn. Die mooiste hiervan is sangerige lied van Hoogenhout wat so pragtig deur Stepehen Eyssen getoonset is.

KOOR: SING DIE 1e., 2e. en laaste strofes.

STEM: Hoe profeties het daardie woorde nie geword nie! Waar Tafelberg begin, tot ver in die Transvaal, woon een verenigd volk, een algemene taal --

Ander publikasies het gevolg. Kyk 'n mens vandag na die boekies en tydskrifte wat gedurende die eerste sowat 25 jaar van die Afrikaanse Taalbeweging gepubliseer is, dan staan jy versteld oor die eintlike powerheid en armoede waarvan hulle nog spreek. Klein, verspotte, swak gedrukte boekies, dikwels so kinderlik geskryf dat selfs toe die groot massa van die volk die taal waarin hulle verskyn het al met gretigheid begin aanvaar het, het die geleerde mense, die dominees, advokate, die skoolmeesters, nog steeds daarmee gespot en, so goed of so kwaad as dit uitgekom het, maar liewer met Hooghollands deurgedruk het.

Die geskiedenis van die Afrikaanse beweging is ten nouste verbonde met die strewe om die Bybel in Afrikaans te kry. Onder aanvoering van die Patterjotters verskyn in 1893 ook die eerste Boek van die Bybel. Maar watter kinderlike, hortende, plat Afrikaans is daardie eerste Bybelboeke nie!

Jehowa is myn Herder; my ontbreek niks ni.
Hy laat my lê in 'n wy fan jeugdige gras;
Hy ly my sutjis langs water om te rus.
.....................................
Al gaan ek deur di kloof fan doodskadewe,
ek frees gen kwaad ni; want U is met my;
uw knopkiri en wandelstok fertroos my.

Watter ver pad het ons taal nie in vyftig jaar geloop nie! Watter teenstelling met die Afrikaanse Bybel soos ons dit vandag ken!

WOORDE: PSALM 104.

VROUESTEM: PSALM 104.

Die Lied van die skepping.

1. Loof die Here, o my siel! Here my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed —

2. wat Uself omhul met die lig soos met 'n kleed, wat die hemel uitspan soos 'n tendoek;

3. wat sy solders bou in die waters, wat van die wolke sy wa maak, wat op die vleuels van die wind wandel,

4. wat van die winde sy boodskapper maak, van vuurvlamme sy dienaars.

5. Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie.

6. U het dit met die wêreldvloed soos met 'n kleed oordek; die waters het bo-oor die berge gestaan.

7. Vir u dreiging het hulle gevlug, vir die stem van u donder het hulle weggeskrik —

8. berge het opgerys laagtes het weggesak - na die plek wat U vir hulle reggemaak het.

9. 'n Grens het U gestel waar hulle nie oor mag gaan nie; hulle mag die aarde nie weer oordek nie.

10. Hy wat die fonteine uitstuur in die holtes: tussen die berge loop hulle deur.

11. Hulle laat al die diere van die veld drink; die wilde-esels les hulle dors.

12. By hulle woon die voëls van die hemel; tussen die takke uit laat hulle die stem hoor.

13. Hy laat die berge drink uit sy boonste kamers; die aarde word versadig uit die vrug van u werke.

14. Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voorkom,

15. en dat wyn die mens se hart kan blymaak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk.

16. Die bome van die Here word versadig, die seders van die Libanon wat Hy geplant het;

17. waar die voëls hulle neste maak, die ooievaar wie se huis die sipresse is.

18. Die hoë berge is vir die steenbokke, die rotse is 'n skuilplek vir die dasse.

19. Hy het die maan gemaak vir die vaste tye; die son ken sy tyd om onder te gaan.

20. U beskik die duisternis, en dit word nag, waarin al die diere van die bos uitkruip.

21. Die jong leeus brul om roof en begeer hulle voedsel van God.

22. As die son opgaan, dan trek hulle hul terug en gaan lê in hul slaapplekke.

23. Die mens gaan uit na sy werk en na sy arbeid tot die aand toe.

24. Hoe talryk is u werke, o Here! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!

25. Daar is die see, groot en alkante toe wyd — daar is 'n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes.

26. Daar gaan die skepe en die Leviatan wat u geformeer het om daarin te speel.

27. Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd.

28. U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie.

29. U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hul asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof.

30. U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.

31. Laat die heerlikheid van die Here vir ewig wees, laat die Here bly wees oor sy werke,

32. Hy wat die aarde aankyk, en dit bewe; Hy raak die berge aan, en hulle rook.

33. Ek wil sing tot eer van die Here solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is.

Geloof, geloof, waar sou ons vandag gewees het sonder die geloof van 'n C.P. Hoogenhout wat 'n tagtig jaar gelede gesing het van »een verenigd volk, een algemene taal....«

MUSIEK.

MUSIEK DOOF UIT.

STEM: En toe, nouliks 25 jaar na daardie eerste probeerslae, het die oorlog oor Suid-Afrika losgebars, 'n oorlog wat baie dinge kapot gemaak het --- harte sowel as huise.

MUSIEK.

MUSIEK DOOF UIT.

STEM: Ja, oënskynlik was alles verlore. Ook die Patriot en die latere Ons Klijntji het in die politieke oorlogsgeharwar verdwyn. Die tragiese slottoneel van die oorlogsdrama was afgespeel. By Vereeniging het die gordyn geval. Die laaste stukkie onafhanklike Boerebestaan was, na 'n eeu van onreg, vernietig. Duisende krygsgevangenes het in oorsese ballingskap vertoef. Duisende vroue en kinders was soos vee in kampe saamgehok. Die van hulle wat die oordeel oorleef het. Welvarende boeretuistes was in puin en as gelê. Die land was in 'n wildernis omskep. Swaar het die stilte van die dood oor die verlate landskap gerus.......

VROUESTEM: WINTERNAG

O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.
O treurig die wysie
op die ooswind se maat
soos die lied van 'n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk' grashalm se vou
blink 'n druppel van dou,
en vinnig verbleek dit
tot ryp in die kou!