Die lig van verre dae

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search

Hoofstuk I

In die Boland

"Wil jy dan nie afsaal nie, Neef Herklaas?" vra oom Gert van die stoep af waar hy op 'n riempiesmat-rusbank sit en rook.

"Nee, Neef Gert," antwoord die ander ou wat net afgeklim het van sy pêrd. "Jy weet mos ek voer nie my pêrde by my bure nie. Ek voer hulle by my huis."

Hy trek die teuels oor die pêrd se kop en haak hulle om 'n paal wat voor die deur staan, klim die kliptrappies van die stoep op, sit sy geweer orent teen die muurm en gee oom Gert die hand.

"Dag, Neef Gert."

"Dag, Neef Herklaas. Ek is bly om jou tog weer te sien. Jy het so lank weggebly dat ek al begint te dink het om na 'n ander ou afgeleefde buurman te gaan vry vir 'n maat. Maar laat ek vir Adam roep om jou pêrd af te saal en voer te gee."

"Gert, ek het jou gesê ek voer my pêrde self."

"Nou ja, goed, Neef Herklaas. Ek veronderstel jy het jou koffie en middag-ete ook saamgebring. Die ou vrou het vandag varswater-harders en 'n duikerbout. My kind!" skree die ou na binnetoe.

"Ja, my hart," antwoord die kind uit die eetkamer uit met die stem van 'n ou dame.

"My kind, bring tog 'n lekker koppie koffie uit asseblief."

"En wil jy dan nie vandag jou koffie drink nie, my hart? Ek het mos 'n besoeker te pêrd hoor aankom. Jy moet 'n ernstige siekte onder lede hê."