Die Wonderpatroontjie/Tafelviemies

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Belgiese weersgesteldheid Die Wonderpatroontjie
Uit my dagboek
Tafelviemies
deur Tonnie
Oor modes


Tafelviemies.[edit]

12 Junie. — Toe ek een dag in Johannesburg op die mark 'n klomp duiwelsbrood (paddastoele) sien lê en iemand my vertel, dat die hoë mense die goed eet, kon ek amper nie weer ophou met lag nie. Na die tyd het ek gehoor, dat daar mense is, wat oesters somar so rou eet en ek het self baie gesien, dat mense vleis eet wat nog maar skaars van die vuur gehoor het.

Ek het myself altyd afgevra, waar mense tog aan so'n smaak kom. Hiér het ik nou die antwoord op daardie vraag gekry. Leser, jy moet kom kyk, wat hier alles geëet word. As ek nie so welopgevoed was nie, sou ek gesê het « gevreet word » : want as jy die barbaarse brousels sien, wat hier alles op die tafel verskyn, dan kan jy jou amper nie voorstel, dat dit kristenmense is, wat hulle daarmee versadig nie. (Ek praat hier van die deftige mense. Die gewone mense eet fatsoenlike kos.)

Ek het my eenkeer laat vertel, dat 'n sekere Europese vrou op 'n goeie dag in Suid-Afrika op 'n boereplaas groenmielies geëet het. Nadat sy die stronk met haar vurk gesit en kaal peusel het, gee sy die stronk aan die gasvrou terug en sê: «Dit smaak heeltemal goed; sal u dit nie asseblief weer vol maak nie ? » Toe ek die staaltjie hoor, het ek aan Danie gestamp en saggies gesê. « As ek moet lieg, sal ek nie so'n goedkoop leuen vertel nie. » Maar ek begin nou al amper daardie verhaal te glo, nadat ek gesien het, hoe hier omgegaan word met Afrikaanse vrugte, wat party mense glo maar eenmaal in 'n leeftyd sien.

Oom Dolf du Plooy het my vertel, dat hy een skoot na 'n ryk man se dogter wou gaan vry. Dit was glo eerste maal wat hy servette en klein bordjies sien. Maar alles het darem goed gegaan, totdat hulle by die lemoene kom, wat met mes en vurk geëet word. Hy het die lemoen so'n paar keer rond gerol met die vurk; toe sê hy: « Neem my nie kwalik nie, maar ek het nie nou eintlik lus vir lemoene nie ». Toe hy by die huis kom, het hy 'n sieling se lemoene gekoop en « geprektis » om hulle met mes en vurk te eet ; maar hy het darem nooit weer na die nooi toe gery nie. Nou ja, hier het ons ons ook nou die aand gesit en verkyk aan die marteling, wat iemand hom aangedoen het om 'n lemoen met mes en vurk te regeer.

« Wat 'n omslagtigheid om die lemoen op sy bestemming te kry ! » sê Danie, « dis kompleet om die arme man se hele eetlus weg te neem. »

« Ja », antwoord ek, « hy sit met die lemoen en galpeer, presies soos 'n kat, wat met 'n gekweste muis speel ».

'n Piesang eet hulle ook met mes en vurk, soos ons vanmelewe turksvye geëet het. Met die enigste verskil, dat ons somar die turksvye heel in ons mond steek en dan ons hand aan ons broek afvee (ek praat van toe ons klein gewees het, natuurlik), terwyl hulle die piesang so danig muisbekkie sit en inproe.

Maar nou kom ek eers by die kos, wat ooreenkom met die duiwelsbrood en oesters. Ons het by ons vorige losiesplek allerhande soorte kos gekry, tot selfs kaas, wat blykbaar op die ashoop opgetel is en waar die blou muf so'n pinkiedik op sit. Maar dit was nog nie die ergste nie en wat ek nou gaan beskryf sal waarskynlik ook nog nie die toppunt van tafelsotheid wees nie.

Maar afyn. Dit was dan weer een aand etenstyd. Wat sal hulle vir ons voorsit? 'n Skottel insekte. Ek kan dit nie anders noem nie. Die goed lyk op 'n haar soos skerpioene, met angels en horings en pote en al, maar net baie minder lyf as 'n skerpioen. (Laat ek weer uitdruklik sê, dat dit in 'n hotel voorgeval het. Ook die ander onkristelike kos, waar ek van gepraat het, het ons nie in ons pensioen geëet nie. Wat nou waar is is darem waar; hier kry ons niks as ordentlike kos.)

Ek en Danie kyk na mekaar (gelukkig sit ons alleen aan een tafel). Die beste sou natuurlik gewees het, om maar stil te sit, totdat die bediende die borde kom wegvat, om die volgende gereg te bring. Maar moenie glo nie. Ons is nie so dom, om die « gym » weg te gee nie; want ons is nou eenmaal in die verligte wêreld, waar dit vir onopgevoed geld, om nie aan sotheid mee te doen nie en ons het ons voorgeneem, om ons van al die ander sotheid wat hier mode is te onthou ; maar aan tafel gaan ons ons ruim opstêrs voordoen, as enigeen van die ander kosgangers. Verbrands, dis mos nie meer die dae, toe ons by vreemde mense gesê het ons eet nie vleis nie ; omdat ons nie 'n mes en vurk goed kon hanteer nie ! Net die vrugte, wat ons baie beter ken as ons ander tafelgenote, die eet ons op Afrikaans.

Nou ja, ons krap dan ook elkeen vir ons 'n klomp van die skerpioene op ons bord.

« Wat trek 'n mens alles af ? » vra Danie.

« Danie, versigtig, kêrel, » sê ek. « Moenie 'n gaai van jou maak nie. Kyk eers rond, wat die ander doen. Wat trek mens alles af ! Ek sou liewer vra wat laat 'n mense oorbly. Hou jou maar ewe aandagtig, ek sal maak of ek jou iets belangriks vertel, dan kyk jy maar na my en ek sal stilletjies rondkyk, om te sien, wat hulle laat oorbly. Toe nou maar, ek het al gesien. Jy trek hom maar middeldeur, soos 'n klapper wat nie geskiet het nie, en waarvan jy nou die puntjie van die lont soek. Die kos sit binnekant. »

« Kragtie, Tonnie, » sê Danie, « maar hier is g'n stuk kos in die ding nie. Het jy goed gekyk, moet 'n mens nie maar die hele ding eet nie ? » Nou kyk hy ook weer rond. « Tonnie, maar dit lyk kompleet soos 'n klomp kaffers wat sprinkhane vreet. »

« Was dit maar sprinkhane, dan was daar iets aan. Dit lyk vir my meer na 'n klomp bobbejane, wat uintjies vreet. »

En nou gee ek die leser te raaie, wat daar van die skerpioene eetbaars oorgebly het. 'n Ou wurmpie of 'n stukkie murg, of ek weet ook self nie. Omtrent so groot soos die derde deel van 'n naaldekoker se agterlyf, of ek sal maar sê bietjie groter as 'n rysmier. En dan kom die ou stukkie ding ook nog nie eens heel uit nie. Nee, jy moet hom by paaiementewys uitpeusel ; min of meer soos die rugstringmurg van 'n skaap, wat hulle geslag het net voordat hy self aan rugmurgontsteking dood is.

Nou sal die leser vra, waarom mense dan sulke swynedraf eet. Dit sal ek sê. Dis die sug na verandering van spys. Vir 'n kaffer smaak 'n skottel pap altyd lekker en 'n boer op 'n plaas voel heeltemal gelukkig met 'n bord boerekos. Dis die geheim van « honger is die beste kok ». Maar wat gebeur in die deftige kringe ? Dis alewig wyn of sjampanjie of allerhande prikkelende sure, wat die kos moet help smaak. Die gevolg is, dat die maagsap en verteringsspiertjies so verflou en verstomp word, dat hulle altyd meer van die prikkelende « eppetaaisers » nodig het en wanneer die « appetisers » ook nie meer wil help nie, dan moet sulke onsinnige verandering van spys die bekonkelde smaak help streel.

By ons het ek ook al mense gesien, wat in dié rigting sondig. Ek het kinders van onder die twintig jaar gesien moster en woestersous by hulle kos eet. Nou, dit kan mos nooit goeie werk afgee nie ! Die verteringsspiertjies van die maag word verstomp en die gevolg is, dat jy altyd meer moster en woestersous moet gebruik en naderhand help dít ook nie meer nie ; dan het die persoon bier of stout nodig ; later wyn en uiteindelik brandewyn.

Maak soos ons. Ek gebruik nooit prikkelende middeltjies nie. Ek drink baie water en byna niks tee of koffie nie (Danie drink glad niks as water nie ; maar ek dink dis nou darem weer te erg : een koppie flou tee of koffie in die week kan jou nie kwaad doen nie ; maar dan ook nie meer nie) en ek voel so gesond as maar wese kan. Spykers en bottelstukke is omtrent al wat my maag nie verteer nie.

En omdat ons nie ons maag met sulke rommel belaai nie, is ons baie gesonder as die lekkerbekke en baie sterker. Ons studeer 24 uur op 'n dag en die ander paar uur skryf ons boeke ; en ons word nooit siek nie : die enigste ernstige siektes, wat ek in die laaste tyd gehad het, is liddorings en heimwee.