Die Wonderpatroontjie/Sy nuwe betrekking

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Fatsoenliker verdienste Die Wonderpatroontjie
Sy nuwe betrekking.
deur Tonnie
Die verwaarloosde lord


Sy nuwe betrekking.

« Nou toe, wat se betrekking het jy vir my uitgedink? » vra hy, net toe sy oë die volgende more oopgaan.

« Danie, jong, ek het gedink en gedink, maar die enigste uitweg wat ek kan sien, is dat ons vir jou 'n bordjie moet omhang, met 'n opskrif daarop, dat jy in die oorlog van bomkoors blind of doofstom of soiets geword het en dat.... »

« Pure onsin, met jou foetery , Tonnie ! » snou hy my toe. « Ek het nou al glad genoeg 'n spektakel van myself gemaak. Eers soos 'n uilspieël in die strate staan en sing en draaiorrel speel en dit met flenters, waar ou Kiewiet nie in 'n fatsoenlike mens se kombuis mee sal kom nie; toe weer 'n kaaifoks van my laat maak in 'n hotel, waar al die mense lag en spot, omdat ek nie die barbaarse name van die kos verstaan nie en my half gaar laat verbrand van die skinkbord vol kos, wat die onhandige meid op my omgesmyt het. Dit alles is al erg genoeg; maar waar is nog die spottery, wat ek sal moet deurstaan, wanneer jy vir ál ons vriende van my wederwaardighede gaan vertel ! »

Die onhandige meid! Ek het baie lus gehad om vir hom te vra wie van hy en die meid die onhandigste was, maar toe laat ek maar staan. Ek moes hom tog 'n ou voordeeltjie gee, omdat hy so reg geraai het omtrent sy wederwaardighede, wat ek aan ons vriende sou gaan oorbriewe. Daarom vra ek maar net:

« Nou wat se fatsoenlike betrekking sal jy anders hier in 'n vreemde stad kry en dit nogal sonderdat jy die taal van die land ken ? Maar wag, nou het ek 'n plan. »

« Wat is dit ? »

« Ek sal vir jou 'n fatsoenlike, skatryk betrekking besorg, maar dan moet jy het nog een skoot die ou flenters van die eerste dag aantrek. As jy dit doen, dan sal ek waarborg, dat jy binne vier-~en-twintig uur mooier klere aan het as wat jy ooit in jou lewe gesien het. »

« Hoe sal jy dit regkry ? »

« Stem net eers toe, dan sal ek jou wys. »

« En hoe lank sal ek die flenters moet aanhou ? »

« Net 'n paar uur, altemit nog minder. »

« Nou ja, toe maar, lê uit. »

Daarop lê ek toe vir hom die plan uit. Ek het net die more in 'n ou stuk Engelse koerant, waar ons ou hopbroodjie in toegedraai was, gelees van 'n Ierse Lord, wat so verskriklik geplunder is, dat hy so te sê tot die bedelstaf gebring is. Danie sal dan die Ierse Lord wees. Die name kom ook nogal ooreen : Lord O'Smallboy is die naam van die gewese edelman.

« Reken nou net bietjie », vlei ek hom, « dan is jy nou darem weer 'n inkarnasie en dit nogal van 'n lord. »

« Nou ja, toe, vertel verder », sê hy en dit was duidelik, dat die plan hom maar half aanstaan.

« Jy gaan dan met die ou flenters in 'n kafee waar daar « English spoken » (hier word Engels gepraat) teen die deur staan en dan kom ek daarin en val byna op my rug om jou hier aan te tref en ons gesels oor hoe jy jou hele besitting en jou kasteel en alles verloor het. Jy weet self watter japsnoete die kafeebediendes is, die meisie sal dan baie gou vir elkeen, wat daar kom drink, vertel van die danige verflenterde lord en hulle sal dit weer die dorp deur strooi.

« Maar nou nog iets. Hoe deftiger ek daaruitsien, hoe meer sal hulle glo, dat jy 'n regtige lord is, as ek my verwerdig om met jou te gesels. Daarom moet ek nou vir my net so netjies aantrek, as wat ons ou geldjies dit toelaat en ek moet my ook vir 'n lord uitgee en in 'n deftige hotel somar so'n hele klomp kamers op 'n streep huur. »

« Ja, maar hoe sal ek kan Iers praat? » protesteer hy.

« Ag wat, dis maklik », verseker ek hom. « Ek het een skoot gehoor, dat ' n mens maar net moet vals sing, dan sing jy alt. Nou ja, jy praat ook maar net sleg Engels, dan is dit Iers. »

Ons het dit dan toe so afgespreek. Eers is ek na die biblioteek toe, om in 'n adresboek te sien watter lord ek nou eintlik kan wees en om in die geïllustreerde tydskrifte te kyk hoe die soort goed aantrek. Daarna het ek vir my 'n piekfyn uitrusting aangeskaf, 'n agtermekaar portement gekoop, my ou flenters daarin geprop, toe 'n stel kamers in 'n hotel gaan bespreek en adreskaartjies laat druk.