Die Wonderpatroontjie/Onder egte lords vervalle

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die verwaarloosde lord Die Wonderpatroontjie
Onder egte lords vervalle.
deur Tonnie
'n Verdaagde konsert


Onder egte lords vervalle.

Die volgende more was al die koerante vol van die geskiedenis en byna elke koerant se hoofartiekel is van voor tot agter vol verwyte aan die adres van die Paryse lords en die publiek in die algemeen, dat hulle toelaat, dat 'n edelman met 'n draaiorrel sy kos moet verdien ! Verder bevat die koerante die informasie, dat Lord O'Smallboy die gas is van Lord O'Tonnie van die Hotel de Joan d'Arc.

A nee en dit was nie hoe lank nie, of ek moes weer net regstaan om lords en goed te ontvang - egte, regtige lords (eintlik baronne, maar sê maar lords). Almal wil maar net van my weet op watter manier hulle kan help.

My advies was natuurlik, dat hulle 'n kollektelys moes open en vir die arme ongelukkige edelman 'n aansienlike som geld bymekaar maak, sodat hy tog weer behoorlik op die been kon kom. En dit wás ook so. Dit het geld en allerhande ou aandenkinkies en gedagtenissies en goed gereent van lords en lydies en goed.

Maar toe begin die ding lastig word. Almal begin toe aandring, dat Lord O'Smallboy se portret in die koerante moet kom, om nog meer belangstelling op te wek. Maar nee, daarvoor was hy dan kastig te beskeie. Die regte waarheid is, dat ons begin insien het, dat ons toe alreeds te ver gegaan het.

« Jy weet wat, Danie? » sê ek. « Hierdie ellendige koerante word in Engeland en Ierland ook gelees. Dit nie alleen nie, maar dink jy die opgeskeepte Reuter het nie nou al oor die hele wêreld kabels gestuur oor die voorval nie? En as die regte lords O'Smallboy en O'Tonnie naderhand op die toneel verskyn, wat vang ons twee aan? »

« Ja, om daardie foetery het ek nooit gedink nie. En hoe nou ? »

« Ek weet nie... » En ek weet nou ook nog nie, watter plan ons sou gemaak het nie, want op daardieselfde oomblik word daar geklop en oorhandig 'n garçon my 'n brief van 'n Franse lord, wat ons uitnodig na 'n eetmaal dieselfde aand in die Paryse Club.

Danie het toe al 'n hele handsakvol banknote gekry, wat van ooste en weste gestuur word - party sonder naam, ander met naam en pedigree van die donateur - en dan nog die bedrag van die kollektelyste van die koerante en privaat persone. So besluit ons, dat ons nou al genoeg het en die volgende dag ons tietels sou afsweer.

Hy wou hê dat ons somar dadelik al Parys moes verlaat, maar ek wou om die dood nie.

« Ek is te nuuskierig om te sien hoe 'n maaltyd van lords daaruitsien », sê ek. « Ons sal net nog die maaltyd bywoon en dan onmiddellik daarna verdwyn. Ons neem eers ons intrek in 'n ander hotel, sodat, as hulle altemit na die nagemaakte lords soek, hulle ons nie kan kry nie. »

« Ja, maar sê nou hulle weet al, dat ons verkeerde name het ? » pleit hy. « Is hierdie kastige maaltyd nie dalk maar 'n oëverblindery nie, net om ons in die publiek in die skande te steek en ons dalk nog te teer en veer ? »

« Toe maar wat, Danie », stel ek hom gerus. « Die hoop geld wat ons gemaak het is tog seker 'n ou grappie werd. Ons moet ons maar net lugtig hou en dadelik laat spaander, as ons aan hulle houding merk, dat die geheim uitgelek het. »

Wel, om 'n lang storie kort te maak, die geheim het toe nog nie uitgelek nie, maar die spreekwoord sê mos as 'n mens skurf is dan krap jy jou. Dit was dan ook die geval, toe iemand op die maaltyd vir my vra hoe die ding eintlik inmekaar sit met die motorongeluk van my, waar hy 'n paar weke tevore van in die koerante gelees het. Pleks dat ek toe somar 'n verhaal versin en sê die ding het in die koerante glad verdraaid verskyn. Nee, toe dink ek mos, dat daardie vraag 'n teken is, dat hulle ons bedrog ontdek het en dat hulle nou wil met ons begin die gek skeer, om ons dan kort daarna oop te trek en 'n loesing te gee. Daarom fluister ek net vir Danie: « Buk weg, kêrel! » en ek raps my op en waai soos 'n vel oor die tafel en die deur uit.

Vlug is 'n goeie ding, maar jy moet betyds begin.

« Wat 'n idioot! » sê Danie, kastig verontwaardig. « Verskoon my, here, ek sal hom gaan terug haal. Dis maar net senuweeagtigheid. »

Maar dit was laaste sien van ons albei. Die volgende dag het ons 'n motorkar gekoop en toe die wêreld op horings geneem, om te kyk of ons nie ergens 'n teken kon kry van die vent, wat Danie se patroontjie gesteel het nie. Want met die poliesie se soekery het dit gegaan soos dit maar altyd in daardie departement gaan : hulle beskerm die misdadiger pleks van die publiek.

Ons het ook nie 'n dag te vroeg gevlug nie, want dieselfde aand het daar berig gekom, dat Lord O'Tonnie houtgerus in Dublin sit, sodat die een van Parys 'n nagemaakte moet wees. Die poliesie het met stokke en sparre die hotel de Joan d'Arc bestorm om ons te verskeur, met die gevolg, dat hulle ons nie gekry het nie.