Die Wonderpatroontjie/'n Franse wraakmiddel

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Ons tree op Die Wonderpatroontjie
'n Franse wraakmiddel.
deur Tonnie
Fatsoenliker verdienste


'n Franse wraakmiddel.

Soos ek verwag het, sou die eienaar van die mooi woning ons gou wou kwyt wees ; maar hy was uit, toe ons konsert 'n aanvang geneem het en het byna 'n uur later eers gekom. Hy ry nie eens om na die motorstal toe nie, maar kom somar dadelik met ons 'n diskoers staan en voer.

« Non, non », « Oui, oui, monsieur » en « Sessa bon » is al wat hy eers uit ons kon kry ; maar naderhand val dit my by, dat ek mos die more vir die 5 frank, wat die kêrel my getip het, 'n Franse handleiding gekoop het. Ek pluk die boekie uit my sak en beduie vir die Fransman, dat hy nou maar net bietjie langsaam moes praat, dan sou ek in die boek opkyk wat hy wil hê.

Nou, soos ek in 'n vorige skets oor die Franse taal duidelik gemaak het, lyk die taal vir die oog glad anders as vir die oor, omdat die agterste punte van die woorde nie uitgespreek word ne. As jy 'n stuk Frans lees en jy hoor dan weer dieselfde stuk voorlees, dan is dit presies soos 'n trop lamsiek beeste, wat jy eers heel by 'n kraal sien ingaan om geënt te word en hulle dan weer anderkant sien uitkom met stompsterte. Die leser onthou mos nog die geval waar ek hoes en heeltemal met mekaar verwar het, omdat die een toux is en die ander tout en albei toe uitgespreek word?

Wel, so wil ek sê, dat ons mekaar maar kwalik verstaan het, omdat ek dan glad verkeerde woorde raaksien en dan nog party gesegdes van die Fransman, al het ek dit ook reg gehoor, gladnie in die boekie kon kry nie. Uit die volgende gesprek sal blyk hoe min ons mekaar verstaan het. Ek gee die gesprek in Afrikaans weer, met tussen hakies die Franse teks, soos ons dit werklik gevoer het :

DIE FRANSMAN :

Dis tyd vir julle om pad te gee. (Il est temps de partir.)

EK :

Goeienaand, meneer, ja, dit is so. (Bonsoir, monsieur, oui, c'est ça.)

HY :

Wat is jou naam? (Comment vous appelez-vous?)

EK :

Ja, ek verkies 'n goeie naam bokant alle rykdom. (Oui, je préfère une bonne réputation à toutes les richesses.)

HY :

Waar kom jy vandaan? (D'où venez-vous?)

EK :

Taamlik goed, en met u? (Assez bien, je vous remercie, et vous-même, comment allez-vous?)

HY :

Laat ons aangaan, ons het nie tyd om te mors nie. (Avançons, nous n'avons pas de temps à perdre.)

EK :

Ek sal baie bly wees. (J'en serais fort aise. )

HY :

Waar woon jy? (Où habitez-vous?)

EK :

Nie te danig nie. (Pas tout à fait.)

HY :

Het jy geld by jou? (Avez-vous l'argent sur vous?)

EK :

U is baie vriendelik. (Vous êtes fort obligeant.)

HY :

Hoeveel verdien jy op 'n dag? (Combien gagnez-vous par jour?)

EK :

Dis wel moontlik. (C'est bien possible.)

HY :

Jy sal jou ruineer met hierdie onderneming. (Tu te ruineras avec cette entreprise.)

EK :

Dis baie onaangenaam. (C'est très désagréable.)

By hierdie stadium van ons gesprek was dit vir die Fransman duidelik, dat ons nie in die Franse taal sou kon besigheid doen nie, daarom roep hy sy motordrywer, wat ergens 'n paar mondevol Engels raakgeloop het.

Toe kom die hele ding uit, die Fransman wou ons met 'n wye draai omkoop om voor 'n ander man se deur te gaan sing. Ons het dan ook baie gou oor die prys geakkordeer en is toe daar weg, na die aangeduide adres toe.

A nee en Danie was ook glo nog nie die vyfde of sesde keer by « mer-sie » nie, of die kêrel kom by ons. Hy betaal ons ook 'n som en stuur ons weer glad na 'n ander adres toe.

Knap was ons daar aan die gang, of die bewoner van die huis kom uit en oorhandig ons twee note van 100 frank en 'n adres op 'n stukkie papier.

Nou moet ek eers sê, toe die twede kêrel ons betaal om voor sy deur weg te gaan, het Danie (eenvoudige jong) sy verbasing te kenne gegee, dat die mense hier so medelydend is, dat hulle musikante huur om vir ander mense kunsgenot te verskaf ; waarop ek hom natuurlik ingewy het in die geheim, dat dit hulle manier is van wraakneem op hulle beste vyand. Toe die derde martelaar van ons kuns vir ons wou huur om 'n ander te gaan martel, kyk ek gou op die papiertjie en sê in Engels (hy kon goed Engels praat en die vorige wraaksugtige ook):

« O nee, meneer », sê ek, « dit sal jou minstens vier honderd frank kos, want die man van daardie adres het ons reeds drie honderd betaal om hier te kom sing. Ons sal natuurlik sy drie honderd moet gaan teruggee, voordat ons weer voor sy deur kan raas en ons moet tog bietjie profyt verdien op die heen-en-weer lopery. »

Daarop betaal hy die vier honderd met 'n paar knope en ons is reguit na 'n estaminet (losieshuis) toe, waar ons lekker geëet en nog lekkerder geslaap het. Want 'n Franse weeluis (met permissie) byt nie seer genoeg om 'n mens die nag na jou eerste handtastelike kennismaking met 'n musiek-instrument wakker te hou nie.