Die Vlakte

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die Vlakte

deur Jan F. E. Celliers


Die Vlakte
[edit]

Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
         ongesien, ongehoord,
en dof en loom in my sonnedroom,
         ongewek, ongestoord.
Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
         skuif my breedte uit,
wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur
         wat my swyend omsluit.

Jong aarde se stoot het my boesem ontbloot
         bo die diep van die meer;
en volswanger van lewe 't oor die waat're geswewe
         die gees van die Heer.
Uit die woelende nag van haar jeugdige krag
         brag die aarde voort
Lewiatansgeslagte, geweldig van kragte -
         storm-ontruk aan haar skoot.
Diep in my gesteente berg ek hul gebeente -
         die geheim van hul lewe en lot;
maar gewek uit die sode herleef uit die dode,
         na die ewig hernuwingsgebod,
die van d' verlede in vorme van d' hede,
         in eindeloos komme en gaan;
wat die dood my vertrou 't, ek bewaar dit as goud,
         en geen grein sal 'k verlore laat gaan.

As die son oor my vloer in die môre kom loer,
         en die dou van my lippe kom kus,
dan kyk ek net stom met 'n glimlag om
         en ek le maar weer stil in my rus.
Hog bowe die kim op sy troon geklim,
         is hy heer van lewe en dood;
na wil of luim gee hy, skraal of ruim,
         verderf of lewensbrood.
Uit die gloeiende sfeer brand hy wreed op my neer,
         tot my naaktheid kraak en skroei,
en my koorsige asem in bewende wasem
         al hygend my bors ontvloei.
In sy skadetjie rond om sy stam op die grond
         staat 'n eensame doringboom,
soos die Stilte op haar troon, met dorings gekroon,
         wat roerloos die eeue verdroom.
Geen drop vir die dors aan my stofdroe bors:
         my kinders versmag en beswyk[1]
en die stowwe staan soos hul trek en gaan
         om my skrale dis te ontwyk.

Soos 'n vlokkie skuim uit die sfere se ruim
         kom 'n wolkie aangesweef,
maar hy groei in die blou tot 'n stapelbou
         van marmer wat krul en leef -
kolossaal monument op sy swart fondament,
         waar die bliksem in brul en beef.
En o, met my is die windjies bly:
         hul spring uit die stof orent
en wals en draai in dwarrelswaai
         oor my vloer, van ent tot ent:
die gras skud hul wakker om same te jakker,
         tot hy opspring uit sy kooi
en soos mane en sterte van jaende perde
         sy stingels golf en gooi.
Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof,
         kom die eerste drupples neer,
tot dit ruis alom soos deur die gebrom
         en gekraak van die donderweer.
Met kloue vooruit om te gryp en te buit
         jaag 'n haelwolk langs verby,
soos 'n perde-kommande wat dreun oor die lande
         vertrap en gésel hy-
en sy lyke-kleed sien ek ver en breed
         in die awendson gesprei.

Stil in die duister le 'k so en luister
         hoe die spruite gesels en lag;
maar bowe die pak van my wolkedak
         het die maan al lank gewag:
nou breek en skeur hy 'n baan daardeur
         om te deel in my vreug benede;
hy sprei die waas van sy romig-blou gaas-
         en ek lag so stil-tevrede.
Plek op plek, soos die wolke trek,
         sweef die skaduwees onder mee,
soos eilande wyd oor die waat're verspreid
         op die boesem van die grote see.
Met 'n afskeidskus gaan die maan ook ter rus,
         en ek wag op die daeraad-
so skoon en so mooi soos 'n fris jong nooi
         wat lag in haar bruidsgewaad.

Oor die bulte se rug slaat die gloed in die lug
         van die brande wat ver-weg kwyn,
en doringbome fluister in rooi skemerduister
         van gevare wat kom of verdwyn.
Uit slote en plas, uit die geurende gras,
         styg 'n danklied op ten hemel;
en dis net of ek hoor hoe die kriekies se koor
         weergalm uit die sterre gewemel,
waar wêrelde gaan op hul stille baan
         tot die einde van ruimte en tyd.
So, groots en klaar, staat Gods tempel daar,
         wyd - in sy majesteit.


  1. Die wilde bokke, wat in klompe wegtrek by groot droogte.