Die Verdag Van Waitangi

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search

Haar Majesteit Victoria, Koningin van die Verenigde Koninkryk van Groot Brittanje en Ierland, wat die Inheemse Stamhoofde en Stamme van Nieu-Seeland met Haar Koninklike Goedgunstigheid bejeën, en begerig is om hulle regmatige Regte en Eiendom te beskerm en om te verseker dat hulle Vrede en Goeie Orde geniet, het dit nodig geag as gevolg van die groot aantal van Haar Majesteit se Onderdane wat alreeds in Nieu-Seeland gevestig is, asook die snelle toename in Emigrasie beide van Europa en Australië wat steeds plaasvind, om ‘n behoorlik gemagtigde amptenaar aan te stel om met die Inheemse Bevolking van Nieu-Seeland te onderhandel ter erkenning van Haar Majesteit se soewereine gesag oor die hele of enige deel van daardie eilande—Haar Majesteit derhalwe begerig om ‘n stabiele vorm van Burgerlike Regering daar te stel met die doel om die bose gevolge af te weer wat onvermydelik sal wees weens die afwesigheid van die nodige Wette en Instellings, insgelyks vir die Inheemse Bevolking as vir Haar Onderdane, het goedgunstiglik vir my William Hobson, ‘n Kaptein in haar Majesteit se Koninklike Vloot, Konsul en Luitenant-Goewerneur van dié dele van Nieu-Seeland soos aan haar Majesteit mag of hierna afgestaan sal word, bemagtig en volmag gegee om die Federale en Onafhanklike Stamhoofde van Nieu-Seeland uit te nooi om met die volgende Artikels en Voorwaardes akkoord te gaan.

Die Eerste artikel[edit]

Die Stamhoofde van die Konfederasie van die Verenigde Stamme van Nieu-Seeland en die Afsonderlike en Onafhanklike Stamhoofde wat nie lede van die Konfederasie geword het nie, sedeer aan haar Majesteit die Koningin van Engeland, absoluut en sonder voorbehoud, al die Soewereiniteitsregte en -magte wat die bogemelde Konfederasie van Individuele Stamhoofde onderskeidelik uitoefen of oor beskik, of aanvaar word om uit te oefen of te beskik oor hulle onderskeie Territoriale gebiede as die uitsluitlike soewereine regeerders daarvan.

Die Tweede artikel[edit]

Haar Majesteit die Koningin van Engeland bevestig en waarborg aan die Stamhoofde en Stamme van Nieu-Seeland en aan die onderskeie families en individue daarvan die volle uitsluitlike en ongesteurde besit van hulle Grondgebiede en Landgoedere, Woude, Visserye en ander eiendomme wat hulle gesamentlik of individueel mag besit vir solank dit hulle wens en begeerte is om diesulke eiendomme in hulle besit te behou; maar die Stamhoofde van die Verenigde Stamme en die Afsonderlike Stamhoofde gee hiermee aan haar Majesteit die uitsluitlike reg op Voorkoop van sulke Grondgebiede na gelang die Eienaars daarvan gewillig mag wees om dit te vervreem teen sodanige pryse soos ooreengekom mag word tussen die onderskeie Eienaars en persone wat deur Haar Majesteit aangestel is om namens Haar met hulle te onderhandel.

Die Derde artikel[edit]

Derhalwe, as teenprestasie bied Haar Majesteit die Koningin van Engeland Haar Koninklike beskerming aan die Inheemse Bevolking van Nieu-Seeland en verleen aan hulle al die Regte en Voorregte van Britse onderdane.

[Geteken] W. Hobson Luitenant-Goewerneur

Synde ons die Stamhoofde van die Konfederasie van die Verenigde Stamme van Nieu-Seeland, wat hier in Kongres te Victoria in Waitangi byeen is en Ons die Afsonderlike en Onafhanklike Stamhoofde van Nieu-Seeland wat aanspraak maak op gesag oor die Stamme en Territoriale gebiede wat gespesifiseer is by ons onderskeie name, het nadat die Bepalings van die voorgenoemde Verdrag ten volle aan ons verduidelik is, dit in die volle gees en betekenis daarvan aanvaar en as bewys daarvan het ons ons handtekeninge of merke aangebring by die plekke en op die datums soos onderskeidelik gespesifiseer. Gedoen te Waitangi op hierdie Sesde dag van Februarie in die jaar van Onse Here een duisend agt honderd en veertig.

Die Stamhoofde van die Konfederasie.