Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine II/Die kortverhaal as satire
← Die kortverhaal as geestige anekdote | Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine II Die kortverhaal as satire deur T.J. Haarhoff |
Die kortverhaal in die roman→ |
Die kortverhaal as satire
'n Waar verhaal
[edit]Lucianus is omstreeks 25 na Christus gebore, in die laat namiddag van die Griekse lettere, toe die Romeine reeds lank meesters van die beskaafde wêreld was en toe die skeppende krag begin afneem. 'n Siriër van afkoms, beskou hy die wêreld met 'n satiriese blik en sê soos Puck: „Lord, what fools these mortals be!"
Soos Cervantes die romantiese geskrifte van sy tyd in „Don Quixote" bespot het, so spot Lucianus in sy „Vera Historia" met die verdigsels van die ou Griekse digters. Sy werk kan ook vergelyk word met Swift se „Gulliver's Travels". Hy maak 'n romantiese parodie van die werk van die groot skrywers, vol sinspelinge wat nie hier, of wat glad nie, verduidelik kan word nie. Dié soort werk is soos 'n konsertina - dit kan so lank uitgerek word as jy wil, en dit kan ook (en met voordeel) verkort word. Omdat dit eintlik bestaan (122) uit 'n serie episodes, is dit miskien moontlik om dit onder die rubriek van die kort verhaal te bring. Ook hierdie verhaal getuig dat daar soiets as humor in die antieke wêreld was.
Van die „Vera Historia" sê Lucianus dat die Muse dit prettig sal vind weens die nuwigheid van die onderwerp, die humor van die opset en „omdat allerhande leuens so voorgedra word dat 'n mens hul werklik kan glo. Dan ook," gaan hy voort, „is my verhaal 'n soort komiese parodie van die antieke digters, geskiedskrywers en filosowe, wat baie geskrywe het in die rigting van fabels en wonderwerke. Hul gids en leraar in hierdie soort van bedriegery is Homerus se Odysseus, wat aan Alkinoos en sy hof omtrent winde vertel wat tot diens gedwing word, een-oog-mense, mensvreters en barbare. . . . so het hy die ongeletterde Phaeaciërs om die tuin gelei! Toe ek sulke dinge lees, het ek nie soseer met die skrywers getwis oor hul leuens nie.... maar ek het my verwonder oor hul mening dat hulle kan lieg sonder om uitgevind te word.
Dus, omdat ek verwaand genoeg was om iets aan die nageslag te wil agterlaat, en omdat ek niks had om te vertel wat waar was nie, het ek my tot leuens gewend. Maar ek is baie redeliker as hulle, want, al vertel ek die waarheid in g'n ander opsig nie, sal ek minstens die waarheid vertel wanneer ek sê dat ek lieg." (123)
Van die Pilare van Herakles[1] het ek op 'n tyd van wal gesteek en voor 'n gunstige wind weggeseil na die Westerse Oseaan. Die rede vir my reis was die bedrywigheid van my verstand en my avontuurlike neigings en die wens om uit te vind wat die grense van die Oseaan was en watter mense daar anderkant woon. Dus het ek 'n goeie voorraad voedsel en genoegsame water aan boord gebring en vyftig gelykgesinde maats sowel as 'n groot hoeveelheid wapens saamgeneem.
Teen die middag kom daar skielik 'n warrelwind op, wat die boot soos 'n tol laat ronddraai en hom omtrent veertig myl in die lug ophef sonder om hom weer op die see te laat afdaal. Terwyl hy so in die lug sweef, vang 'n wind sy seile en laat hom in volle vaart vooruitsnel. Sewe dae en sewe nagte seil ons deur die lug en op die agste dag sien ons iets wat soos 'n geweldige eiland lyk, helder en rond en vol van 'n groot lig. Daar het ons aangeland en aan wal gestap. Ons vind dat die land bewoon en bewerk is. Oordag was niks daarvandaan sigbaar nie, maar toe die nag kom, begin ons baie ander eilande digby sien, party groter, party kleiner en almal vurig van kleur. Ons sien ook 'n ander land onderkant ons, met stede daarin en riviere en see en bosse en berge. Dit, dink ons, moet seker ons wêreld wees. (124)
Hier op die maan word 'n man 'n skoonheid beskou as hy 'n algehele kaalkop is: hul haat mense met lang hare. Op die komete[2] is dit anders; daar dink hul lang hare is mooi: besoekers op die maan het ons van hulle vertel. Dan het hulle baarde wat bokant die knie groei en hulle het g'n toon-naels nie: hulle is een stryk deur een-tonig. Op elke man se rug groei 'n koolblaar, soos 'n stert, wat altyd groen is en nie afbreek as hy agteroor val nie. Uit hul neuse loop daar heuning, wonderlik skerp van geur. As hulle werk of oefening neem, sweet hulle melk oor hul hele lyf van so 'n soort dat kaas daarvan gemaak kan word, as jy 'n bietjie van die heuning daarin laat drup. Hulle het baie wingerdstokke waarvan die druiwekorrels soos haelstene is; en ek verbeel my dat die hael wat op ons val, veroorsaak word as 'n wind opkom en die wingerde op die maan rondpluk en die trosse uitmekaar skeur. 'n Mens gebruik daar jou maag soos 'n sak en sit daarin alles wat jy nodig het: want jy kan hom oop en toe maak; as dit koud is, kruip die kinders daarin.
(Daar kom oorlog tussen die Son en die Maan en eindelik word vrede gesluit op die volgende voorwaardes: 'n parodie van die geskiedenis (b.v. Thucydides V, 78) en van die politiek). (125)
Dat die Soniete die tussenmuur afbreek en die Maan se soewereine onafhanklikheid eerbiedig, en dat hul die krygsgevangenes oorneem teen 'n vasgestelde losprys.
Dat die Maaniete die sterre permitteer om onafhanklik te wees, en dat hulle nie teen die Soniete oorlog voer nie.
Dat die twee nasies mekaar help, as een van hul aangeval word.
Dat, as jaarlikse skatting, die Koning van die Maaniete aan die Koning van die Soniete tienduisend gellings sou betaal en tienduisend van sy bevolking as gyselaars oorgee.
Dat 'n gesamentlike kolonie gestig word op die More-ster, waaraan enigeen wat wil, mag deelneem.
Dat die verdrag gegraveer word op 'n plaat van silwer-goud wat op die grense in die middel van die lug opgerig sal word.
Onder eed en seël:
- Vir die Soniete. Vir die Maaniete.
- Jan Vuuren. Manie Donkers.
- Pieter Skroeier. Daan Maantjies.
- Klaas Vlammens. Boetie Blinkoog.
(Eindelik daal hulle weer op die see af).
Ons het twee dae met mooi weer geseil, en die derde dag was aan die nader, toe ons skielik teen son-op 'n klomp monsteragtige walvisse sien. Een (126) van hulle - die grootste - was eenhonderd-en-vyftig myl lank. Oop-bek kom hy op ons af; ver voor hom is die see al omgewoel, en die skuim spoel oor hom heen. Ons omhels mekaar en sê vaarwel en wag. Daar kom hy en sluk ons, skip en al, met een teug in. So amper het hy ons met sy tande vergruis, maar die boot het tussen die openinge binnegegly. Binnekant kon ons eers niks gewaar nie, so donker was dit, maar later, toe hy sy bek oopmaak, sien ons 'n geweldige ruimte, plat in alle rigtings en hoog - groot genoeg om 'n tamaai stad te bevat. En daar was visse in hom, groot en klein, en baie ander verminkte wilde diere, touwerk van skepe en ankers, mensgeraamtes en koopware. In die middel was daar land en heuwels, - gevorm, soos dit vir my lyk, deur die modder wat hy ingesluk het. Daar het wragtie 'n bos daaruit opgekom - bome van allerlei soorte, en daar was groente, en alles het mooi bewerk gelyk. Die kus van die eiland was sewe-en-twintig myl lank. See-voëls kon jy sien nes maak in die bome.
'n Jaar en ag maande het ons so gelewe; maar op die vyfde dag van die negende maand, omtrent die tweede bek-opening - eenmaal per uur het die dier sy bek oopgemaak, sodat ons op die manier die tyd bereken het, - nou ja, omtrent die tweede bek-opening, hoor ons skielik 'n groot (127) rumoer en lawaai, en wat geklink het na bevele en roeierslae. Opgewonde, kruip ons na die bek van die dier toe en loer deur sy tande na die vreemdste gesig wat ek ooit gesien het. Daar was reuse, ruim een-sestiende van 'n myl hoog, wat op eilande rondseil soos op oorlogskepe. Ek weet dat wat ek gaan sê, vir julle ongelooflik mag voorkom, maar nogtans sal ek dit vertel. Daar was eilande, lank maar taamlik laag, ruim twaalf myl in omtrek, en op elkeen was omtrent eenhonderd-en-twintig van daardie mense besig om te seil.
Sommige van hulle sit aan elke kant van die eiland in 'n ry, en roei met tamaai sipres-bome - takke, blare en al. Op die agterdeel van die boot, soos dit my lyk, op 'n hoë heuwel, staan die stuurman, met 'n brons-roer omtrent 'n drie-kwart myl lank. In die voorste deel was omtrent veertig gewapende kêrels besig om te veg; hulle was soos mense in alles behalwe hul hare, wat van vuur was en opgevlam het, sodat hul g'n helmpluime nodig gehad het nie.[3] In plaas van seile het hulle bosse gehad, digte bosse op elke eiland, waarteen die wind gewaai het, en so die eiland beweeg het waarheen die stuurman wil.
Mettertyd kon ek die lewe in die walvis nie meer (128) verdra nie en was ontevrede met die langdurigheid daarvan. Ek wou dus 'n plan maak om te ontsnap. Eers het ons besluit om deur die regter-sy 'n pad te grawe en te laat vat, en ons het begin wegkap. Maar nadat ons sowat 'n drie-kwart myl gegrawe het sonder om êrens uit te kom, het ons opgehou en besluit om die bos aan brand te steek, met die idee dat ons die dier kon dood kry en maklik sou kon ontsnap. Ons begin toe by die stert-kant ons bos-brand, en sewe dae en sewe nagte lank het die dier g'n spier daaroor verroer nie; maar op die agste en op die neënde dag kon ons sien dat hy darem begin swaar kry. Hy was luier om sy bek oop te maak, en wanneer hy dit doen, maak hy dit sommer gou weer toe. Op die tiende en die elfde dag het hy eindelik begin vrot en stink. Op die twaalfde, merk ons, skaars betyds, dat as iemand nie stutte onder sy tande sit om sy bek oop te hou wanneer hy gaap nie, ons waarskynlik ons dood in 'n dooie walvis sou vind. So het ons dan sy bek met groot balke oopgestut en ons boot klaargemaak, en al die water wat ons kon kry, en ook ander voorraad, aan boord gebring.
Op die volgende dag was die walvis eindelik dood. Ons sleep toe die boot op deur die opening van sy tande, waaraan ons hom vasmaak en saggies in die water laat afgly. Toe klim ons op die rug van die dier, wy 'n offerande aan Poseidon, (129) die see-god, en rig 'n teken van oorwinning op. Daar het ons drie dae uitgekamp (want die see was kalm) en op die vierde dag het ons weggeseil.
Sover het ek vertel wat my gebeur het voordat ek die ander wêreld bereik het, eers op see, toe onder die lug-eilande, toe in die walvis, en, later, onder die helde en die drome, die Bulkoppe en die Esel-pote.
Wat in die ander wêreld gebeur het, sal ek in die volgende boeke vertel.
(En dit, skrywe 'n Griekse kommentator, ewe wrewelig, aan die kant van sy manuskrip, is nog die grootste leuen van almal!) (130)