Jump to content

Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine I/Die kortverhaal in die retoriek

From Wikisource
Die kortverhaal as fabel Die Kortverhaal van die Grieke en Romeine I
Die kortverhaal in die retoriek
deur T.J. Haarhoff


Die kortverhaal in die retoriek.

Die eenvoudige boer

[edit]
(Dio Chrysostomos van Prusa.)

Dio Chrysostomos - Dio van die gulde tong - behoort tot ongeveer die tweede deel van die eerste eeu na Christus. Hy was 'n beroemde redenaar en 'n vertroueling van die keiser Nerva. Hy het ver rondgereis en baie wisselinge van die noodlot deurgemaak. Ons besit nog 'n tagtigtal van sy redevoeringe, en baie van hulle is meer soos opstelle en besprekinge - oor die deugde van 'n vors, oor die moeilikhede van 'n alleenheerser, oor slawerny en vryheid, oor die pad waarlangs 'n redenaar beroemd kan word, oor mitologiese onderwerpe, ensovoort; - alles baie waardig en in suiwere Attiese Grieks geskrywe, alles gepolys volgens die fynste kunste van die retoriek, maar daarby ook geweldig saai en droog. En dan, net soos die leser besluit om Dio, ten (139) spyte van sy beroemde goue tong, in die snippermandjie van vervelighede te gooi, tref hy die bekoorlike Sewende Rede aan, wat hier vertaal word.

Ek sal nou 'n persoonlike ondervinding vertel - een wat ek nie van ander mense gehoor het nie. Breedsprakigheid en 'n neiging om al die onderwerpe wat in sy gedagte kom, te bespreek, is miskien die voorreg van die ou man en van iemand wat baie rondgeswerf het. Moontlik is die rede dat hulle albei ondervindinge gehad het wat hulle by die navertel plesier verskaf.

Dit het gebeur dat ek, nadat die somer-seisoen[1] oor was, van Chios met 'n paar vissers in 'n baie klein skuitjie oorgevaar het, toe 'n storm so geweldig op ons losgebars het, dat ons met groot moeite die Holtes van Euboia in veiligheid bereik het. Die matrose het hul boot aan wal laat loop op 'n ruwe strand onder die rotse, waar dit skipbreuk gely het, en het toe hul weg gevind na 'n klompie purperskulp-vissers[2] wat hul boot geanker het by 'n uitspringende rotsrif in die buurt, en het plan gemaak om daar te bly en met hulle saam te werk. So het ek alleen oorgebly, en daar (140) ek nie van enige stad wis waar ek onder dak kan kom nie, het ek doelloos rondgeswerf in die hoop dat ek 'n boot sou sien wat verby seil of êrens geanker lê.

Nadat ek 'n hele ent geloop het sonder om iemand te sien, kom ek op 'n wildbok af wat pas van die rots neergestort het, juis waar die branders breek, sodat die golwe rondom hom speel en wat nog besig was om asem te haal. En na 'n rukkie kom dit my voor of ek die geblaf van honde daar bo hoor, maar nie duidelik nie, weens die geraas van die golwe. Ek loop vorentoe en klim met moeite by 'n opdraandjie uit en sien hoe die jaghonde hier en daar rondhardloop en nie weet wat om te doen nie. Daaruit maak ek op dat die dier, in 'n hoekie gedryf, van die rots afgespring het. Kort daarna sien ek 'n man, 'n jagter, te oordeel na sy kleding en sy voorkome: sy gesig was gesond en gebaard en sy hare nie net agter op sy kop nie. (Homerus sê mos dat die Euboiers hierdie simpele gewoonte gehad het toe hul na Troje opgetrek het, menende om met hulle die gek te skeer, soos dit vir my lyk, want terwyl die ander Achaiers 'n goeie figuur geslaan het, het hierdie spul alleen die helfte van hul koppe met hare bedek gehad.)

Hierdie man roep my toe: „Vertel my tog, neef," sê hy, „het jy 'n wildbok hier êrens sien vlug?" (141)

„Daar is hy nou, net in die branders," sê ek, en ek neem hom en wys hom. Hy sleep die dier toe uit die see uit en slag die vel met sy mes af; terwyl ek my bes doen om te help. Hy sny die agterdeel van die bene af en maak klaar om dit en die vel weg te dra; en hy nooi my om saam te gaan en saam te eet van die vlees. Sy woning, sê hy, is nie ver nie.

„Môre," gaan hy voort, „as jy by ons uitgerus is, kan jy na die see terug gaan, want nou kan jy tog nie seil nie. Maar kwel jou nie, neef; persoonlik sou ek tevrede wees as die wind eers na vyf dae gaan lê, maar dit sal broekskeur gaan as die bergtoppe van Euboia so bewolk is as wat jy hulle nou sien." En tegelyk vra hy my waar ek vandaan kom en hoe ek daar geland het en of my boot nie skipbreuk gely het nie......

Ek het hom gevolg sonder vrees dat hy 'n plan teen my sou maak, want ek het niks as 'n verslete mantel by my gehad nie. Dikwels al het ek elders ook en sekerlik hier gevind (want ek was gedurig aan die rondswerf) dat armoede inderdaad iets heiligs en onskendbaars is, en as jy arm is, rand die mense jou minder aan selfs as die heraute.[3] Dus het ek sonder aarseling gevolg en omtrent vyf myl met hom saam geloop. (142)

Op pad het hy my die omstandighede van homself en sy familie vertel. „Daar is nou twee van ons, neef," sê hy, „wat in dieselfde plek woon. Elkeen is met die suster van die ander getroud, en ons het kinders, seuns en dogters. Ons lewe van jagtogte meestal en bewerk boonop 'n klein lappie grond. Jy sien, die plek behoort nie aan ons nie; ons het dit nie geërf of deur ons eie pogings gekry nie. Ons vaders was vry, maar net so arm soos ons - gehuurde wagters wat die vee van 'n ryk man opgepas het, een van die mense wat hierlangs gewoon het...... Toe hy sterf, is sy landgoed in beslag geneem - hulle sê die Keiser[4] het hom ter dood gebring terwille van sy rykdom - en sy vee dadelik weggedryf om te slag, en buitendien ook ons eie paar besies; en wat ons huurgeld betref, niemand het dit ooit betaal nie.

Destyds, dan, het ons noodgedwonge op dieselfde plek gebly waar ons die beeste aangehou het, en waar ons 'n paar hutte gebou het en 'n kraal van pale vir die kalwers - nie alte groot of alte sterk nie; net wat toereikend sou wees vir die somer, na my mening. Want in die winter laat ons die beeste in die vlaktes wei, waar ons baie grasland gehad het en 'n hoeveelheid hooi wat ons gebêre het; maar vir die somer het ons hulle die heuwels ingeja. Dit was in hierdie plek veral waar (143) ons vaders hul hutte gebou het; want die plek loop albei kante afdraand en vorm 'n diep en skaduryke kloof, deur die middel waarvan daar 'n stroom vloei waarin koeie en kalwers op hul dooie gemak kon loop. Die water was volop en helder, en in die somer het daar altyd 'n luggie deur die kloof getrek. Dan was die boswêreld rondom sag en klam en dit het nooit 'n perdevlieg of enige ander veeplaag voortgebring nie. Om hierdie redes was dit hul gewoonte om hul vee daar te laat staan.

Ons vaders het destyds in die hutte gebly in die hoop om betaling of werk te kry, en hulle het van 'n baie klein stukkie grond gelewe, wat hulle, soos dit gebeur het, besig was om te ontgin naby die plek waar die beeste staan. Dit was toereikend en daar was volop mis. En daar hul vee nou weg was, het hulle begin jag, somtyds alleen en somtyds met honde; want twee van die honde wat agter die vee aan geloop het, nadat hulle 'n ver ent gegaan het sonder om die wagters te bespeur, het omgedraai en na die plek teruggekom. Eers het hierdie twee as 't ware sommer vir spek en boontjies saamgeloop; hulle het weliswaar as hulle wolwe sien die ondiere tot op 'n sekere punt agtervolg; maar van wildevarke en bokke het hulle geen notisie geneem nie. As hulle egter 'n beer in die oog kry, vroeg of laat, storm hulle saam en blaf en keer hom voor asof hulle met 'n (144) man veg. En so, deurdat hulle die bloed van wildevarke en bokke geproe en dikwels van hul vlees geëet het, het hulle hul gewoontes laat in hul lewe verander en geleer om van vlees te hou in plaas van garsbrood...... En so het hulle oorgeslaan van skaaphonde tot jaghonde, wat wel enigsins langsaam was en eers laat gebeur het.

Toe die winter hulle oorval, was daar geen werk vir ons vaders bespeurbaar nie, of hulle nou afkom om te soek in die stad of in die dorp. Hulle het dus hul hutte sorgvuldig versterk en die omheining digter gemaak, en hulle het so klaargekom en die plek as geheel bewerk, en die winterjag het ook makliker geblyk as verwag was. Die spoor was natuurlik duideliker, want die grond was klam, en in die sneeu was dit op 'n afstand sigbaar, sodat die jagters nie moeite met die soek gehad het nie, want jy kon sê dat 'n wa-pad hulle na die diere lei, wat ook nou langer lê en wag het en traag van beweging was. En jy kan buitendien hasies en gaselle in hul slaapplekke vang. So het ons vaders dan van daardie tyd af gelewe, en hulle het nie meer 'n ander soort lewe begeer nie. En hulle het ons laat trou - elkeen sy seun met die dogter van die ander. Die twee ou mans het omtrent 'n jaar gelede gesterf (en baie is die jare wat hulle kon tel), nog sterk en fris en aansienlik (145) van liggaam tot op die laaste. Van die moeders leef myne nog.

Wel, my maat was nog nooit in die stad nie, ofskoon hy al vyftig jaar oud is, en ek net tweemaal - eenmaal toe ek nog 'n kind was, met my vader, toe ons nog die vee besit het; en later het 'n man gekom om geld te vra, onder die indruk dat ons iets het, en hy het ons aangesê om saam met hom na die stad te gaan. Nou, ons het geen geld gehad nie en het daarop 'n eed geneem en hom gesê dat ons hom dit anders sou gegee het. Ons het ons bes gedoen om hom te onthaal en hom twee bokvelle gegee, en ek het saam met hom stad-toe gegaan, want hy het gesê dat dit noodsaaklik was vir een van ons om die saak te gaan verklaar.

En nou, soos op my vorige besoek, het ek baie groot huise gesien en 'n sterk buitemuur en 'n aantal vierkantige torings op die muur en baie bote wat volkome rustig op 'n meer, as 't ware, geanker lê...... En ek sien 'n groot gedrang van mense teen mekaar vasgedruk en verneem 'n geweldige lawaai en geskreeu, sodat ek gedink het dat hulle almal aan die baklei was. So bring hy my toe na party beamptes en sê met 'n lag: „Hier is die vent wat julle wou hê dat ek moes bring; hy besit niks behalwe lang hare en 'n hut van baie sterk hout nie." (146)

Toe gaan die beamptes die teater[5] binne en ek saam met hulle. Die teater is hol soos 'n kloof, dog nie lank uitgestrek nie, maar halfrond, en nie natuurlik nie, maar gebou met stene. Maar miskien lag jy my uit omdat ek jou dinge vertel wat jy goed weet.

Eers het die vergadering 'n geruime tyd ander sake oorweeg, en hulle skree, eers almal goedgehumeurd en opgeruimd in hul applous vir sekere redenaars, en dan weer geweldig en vol woede. Toe hulle tot bedaring kom en daar stilte was, bring hulle my voor. En iemand sê: ,Hierdie man, here, is een van die kêrels wat jare lank al gebruik maak van ons stad se land, nie alleen hy nie, maar sy vader voor hom. Hulle laat hul vee op ons land wei en boer en jag, bou baie huise, plant wingerde en geniet baie ander voorregte sonder om aan iemand rente vir die land te betaal of sonder dat hulle dit van die volk present gekry het. Waarvoor, vra ek julle, sou hulle dit ooit gekry het? En ofskoon hulle hierdie land hou en ryk geword het[6] het hulle nog nooit (147) 'n staatsdiens verrig of enige belasting op hul profyt betaal nie, maar hulle lewe volkome vry asof hulle weldoeners van die stad was. Ek glo selfs,' sê hy, ,dat hulle nog nooit eens hierheen gekom het nie.'

Ek skud my kop en die vergadering lag toe hulle dit sien. Dit vererg die redenaar, en hy begin my uitskel. Toe keer hy hom na sy gehoor toe en sê: ,Nou ja, as hierdie saak jul goedkeuring wegdra, moet ons maar almal gou-gou die stad se besitting steel, party die skatkis, soos sommige ongetwyfeld selfs nou doen, terwyl ander sonder jul toestemming weiland in beslag neem; as julle dan hierdie arm-blankes meer as 'n honderd morge van die beste grond laat behou - grond wat drie Attiese mate van koring kon lewer per man.'

Toe ek dit hoor, lag ek so hard as ek kan. Maar die vergadering het nie, soos tevore, saam gelag nie, maar luidrugtig geword, terwyl die kêrel kwaad word en met 'n woeste blik na my kant toe voortgaan: ,Sien julle die bedrog en die onbeskaamdheid van die vent en hoe voorbarig hy my bespot? Ek het lus om hom en sy vennoot tronk-toe te sleep; want ek verstaan dat daar twee belhamels in hierdie roofbende is wat byna al die bergland in beslag geneem het. En ek glo hulle neem hul deeltjie van die wrakke wat van tyd tot tyd opspoel, want hulle woon net bokant die rotse (148) van Kaap Kaphereus. Waar anders het hulle sulke waardevolle velde - nee, hele dorpe - gekry, en sulke aantalle vee en trekdiere en slawe? En julle let miskien daarop hoe armoedig sy baadjie is en die vel wat hy aangetrek het om julle te verlei met die gedagte dat hy klaarblyklik 'n niksbesittende bedelaar is. Ek glo hy flikker met ligte op die hoogtes sodat matrose op die rotse gelok word.'

Toe hy dit en nog baie ander dinge sê, word die toehoorders woes; en ek weet geen raad nie en vrees dat hulle my iets sal aandoen. Daarop kom 'n ander man na vore, 'n goeie, liewe man, te oordeel na sy woorde en sy voorkome, en vra die menigte om stil te wees. En toe sê hy ewe kalm dat diegene wat die stad se onbewerkte land ontgin en in orde bring, nie kwaad doen nie, maar inteendeel lof verdien het. Die burgers behoort nie boos te wees op diegene wat op stadsland bou en bome daarop plant nie, maar op diegene wat dit verniel...... En die menigte het hom toegejuig.

Toe vra die beampte my wat ons aan die volk sou kan gee, waarop ek antwoord: ,Vier baie mooi wildbokvelle.' Daarop het die meerderheid gelag, en die beampte was vererg op my. ,Ja, want die beervelle,' sê ek, ,is grof en die bokvelle selfs slegter as hulle; party is oud en party klein; maar (149) neem hulle ook, as u wil.' Weer word hy kwaad en skel my vir 'n hopelose pampoenkop uit. En ek sê: ,Het ek weer van lande gehoor, en nogal van jou? Hoor jy nie dat ons g'n lande besit nie?' Toe vra hy of ons sou instem om elkeen 'n Attiese talent[7] te gee, en ek antwoord: ,Ons weeg nie eintlik ons vlees nie, maar ons sal gee wat ons het. Daar is 'n bietjie soutvlees, en die res is gerook en nie baie slegter nie....'

,En hoeveel wingerdstokke het jy?' vra een. ,Twee', sê ek, ,buitekant ons deure, twintig in die binneplaas en dieselfde aantal oorkant die rivier.... Maar om jou die moeite te bespaar om elke besonderheid uit te vra, sal ek jou sê wat ons nog het: ag bokooie, 'n stomphoring-koei met 'n baie mooi kalfie, vier sekels, vier skoffelpikke, drie spere, en elkeen van ons besit 'n jagmes. Wat die breekgoed betref, waarom sal 'n mens dit noem? Ons het vrouens ook, en kinders van hulle. Ons woon in twee mooi hutte, en daar is 'n derde waarin die graan en die velle gebêre word.'

,Ja, en ek wed,' sê die redenaar, ,waar julle die geld ook glo begrawe.'

,Nou ja, kom grawe dit dan op, onnosel,' sê ek, ,wie begrawe nou geld? Dit groei mos nie.' (150)

Toe lag almal - en ek dink: ,Dis vir hom wat hulle lag.'

,Dit is wat ons besit,' gaan ek voort, ,as julle nou alles wil hê, gee ons dit aan julle sonder dwang. Ons maak ons kinders groot om jul medeburgers te wees; as julle hulle ooit nodig het, sal hulle help teen rowers en vyande. Op die oomblik is daar vrede, maar as die nood aan die man kom, sal julle bid dat die meeste soos ons is. Want julle moet nie dink dat hierdie redenaar vir julle sal veg nie - behalwe om uit te skel soos die vrouens. En dan, as ons ooit wild vang, sal ons vir julle van die vlees en die velle gee; stuur maar net iemand om hulle te kry....'

,Dan was die spreker so vermetel om ons aan te kla omtrent die skipbreuke - dis 'n afgryslike en onheilige praktyk wat hy aan ons toeskryf. Ek het amper vergeet om daarvan te praat - ek moes dit heel eerste genoem het. Maar wie onder julle sou dit kan glo? Afgesien van die goddeloosheid daarvan, is dit onmoontlik om selfs die geringste voorwerp op daardie plek te red. Al die hout wat jy daar kan sien, is ene splinters. Wat opgespoel word, is maar baie klein; en buitendien is die strand so ontoeganklik as wat jy jou maar kan voorstel....'

Onderwyl ek praat, staan daar 'n man uit hul midde op, en ek dink by myself: ,Hy's nou weer (151) een van dieselfde soort wat leuens teen my gaan vertel.' Maar hy sê: ,Ek sit al lank en wonder of ek die man ken, en ek was eers geneig om sterk te twyfel. Maar nou herken ek hom duidelik, en dit lyk my dit sou vreeslik, of liewer goddeloos wees, as ek nie sy bewerings staaf nie en met woorde dank betuig vir dade waarmee hy my die grootste dienste bewys het. Soos u weet, is ek 'n burger hier, en hierdie man ook,' sê hy (en hy wys na die man wat naas hom sit, en die man staan toe op), ,en ons twee het toevallig twee jaar gelede in die boot van Sokles geseil toe dit skipbreuk gely het by Kaap Kaphereus, en net 'n paar van ons is uit 'n groot getal gered. Purperskulpvissers het sommige van ons onder dak geneem, want party het nog geld in hul beurse gehad; maar ons wat heeltemal kaal uitgespoel het, het langs 'n paadjie aangestap in die hoop om by herders of veewagters losies te kry, want daar was gevaar dat ons van honger en dors sou omkom. En met groot moeite het ons eindelik by 'n paar hutte uitgekom en stilgestaan en geskree; toe verskyn hierdie man en bring ons binne en maak 'n vuurtjie, nie sommer 'n grote nie, maar een wat hy stadig laat aangroei het. Toe vrywe hy een van ons, en sy vrou die ander, met vet, want hulle het g'n olyfolie gehad nie. Eindelik giet hulle warm water oor ons totdat ons bykom, want ons was byna (152) verkluim. Daarop laat hulle ons neerlê en gooi om ons al wat hulle het en sit koringbrood vir ons op die tafel, terwyl hulle self mieliepap[8] eet. Hulle het ons ook wyn gegee, terwyl hulle self water gedrink het; en hulle het wildvlees in oorvloed gebraai en gekook. En ofskoon ons die volgende môre wou vertrek, het hulle ons drie dae daar gehou. Toe begelei hulle ons na die vlakte toe, en by ons vertrek gee hulle ons vlees en 'n baie mooi vel vir elkeen van ons. En toe hierdie man sien dat ek na my slegte ondervinding nog nie tot verhaal gekom het nie, neem hy 'n kleed van sy dogter en gooi dit oor my, terwyl sy 'n stuk lap om haarself gegord het. Dus, naas die gode, is ons ons lewe aan hierdie man verskuldig.'

Terwyl hy so praat, luister die volk met plesier en swaai my lof toe; en ek onthou en roep uit: ,Dag, Sotades.' En ek kom en soen hom en die ander man. Maar die volk lag hartlik daaroor. Toe besef ek dat die mense in die stad mekaar nie soen nie.

Toe kom daardie goeie man vorentoe wat in die begin ten gunste van my gepraat het en hy sê: ,Ek stel voor, mense, dat ons hierdie heer uitnooi tot 'n dinee in die stadsaal. As hy een van (153) sy medeburgers in oorlogstyd gered het deur hom met sy skild te bedek, sou hy nie baie waardevolle gawes ontvang het nie? Maar nou dat hy twee burgers gered het en moontlik nog ander wat nie hier is nie, verdien hy geen eer nie? In die plek van die kleed wat hy van sy dogtertjie weggeneem het om aan sy medeburger in sy nood te gee, laat die stad hom 'n kleed en 'n oorkleed gee, as 'n aanmoediging vir ander om goedgesind te wees en hul medemense te help. Laat die stad verder stem dat hulle die opbrengs van die grond kry, hulle en hul kinders, sonder dat iemand hulle steur, en dat aan hom 'n honderd drachmas vir uitrusting gegee word; en hierdie geld gee ek in die naam van die stad uit my eie sak.'

Hiervoor het hulle hom toegejuig en die voorstel aangeneem. Die klere en die geld is ook dadelik in die teater ingebring. Maar ek was onwillig om dit aan te neem; dog hulle sê: ,Jy kan tog nie in die vel gaan aansit nie!'

,Nou ja,' sê ek, ,dan sal ek maar sonder kos bly.'

Nogtans trek hulle my die klere aan. Toe wou ek nog my vel bo-oor gooi, maar hulle wou my nie toelaat nie. Die geld wou ek om die dood nie neem nie, en ek sweer ek sal nie. ,Maar as julle iemand soek om dit aan te gee,' sê ek, ,gee dit dan aan daardie redenaar, want hy verstaan (154) blykbaar baie mooi hoe om dit te begrawe!' En van daardie dag af het niemand ons lastig geval nie.

Hy was skaars klaar of ons kom by die hutte. Ons gaan binne en bring die res van die dag feestelik deur, uitgestrek op velle en blare, hoog opgehoop, en die vrou sit naas haar man. En 'n dogter van hubare leeftyd bedien ons en skink vir ons 'n soet, donker wyntjie in. En die seuns berei die vlees en bedien hulself sommer onderwyl hulle dit rondgee. Sodat ek gereken het dat daardie mense gelukkig was en van al die mense wat ek ken, die saligste lewe lei. En tog het ek die huise en tafels van ryk mense geken, van konings en goewerneurs sowel as van private mense; en op daardie oomblik het hulle my die gelukkigste van almal gelyk. Tevore het ek so gedink en nou nog meer, toe ek sien hoe arm hulle was en hoe vry en hoe hulle die plesier van eet en drink ten volle geniet het, sodat jy kon sê dat selfs hierin hulle beter daaraan toe was.

Ons het al genoeg gehad, toe daardie ander man binnekom. Saam met hom was sy seun, 'n mooi jongkêrel, met 'n haas in sy hand; en hy het, toe hy binnekom, begin te bloos, en onderwyl sy vader ons groet, soen hy die dogter en gee haar die haas. Die meisie hou toe op met bedien en gaan naas haar moeder sit en die jongeling bedien in (155) haar plek. „Is sy die een," vra ek my gasheer, „wie se kleed jy weggeneem en aan die skipbreukeling gegee het?"

„Nee," sê hy laggend, „daardie een is lankal getroud met 'n ryk man in die dorp en het al groot kinders."

„En help hulle vir julle as julle iets nodig het?" vra ek.

„Nee, ons het niks nodig nie," sê die vrou, „maar hulle kry wild van ons as ons iets vang en vrugte en groente, want hulle het g'n tuin nie. Verlede jaar het ons koring van hulle gekry, net vir saad, maar ons het dit terugbetaal so gou as die oestyd gekom het."

„Sê my," vra ek, „gaan julle hierdie dogter ook met 'n ryk man laat trou, sodat sy ook koring aan julle kan leen?"

Daarop bloos die twee - die jongeling en die meisie albei.

En die vader sê: „Sy sal 'n arm man trou, 'n jagter nes onsself," en hy glimlag en kyk die jongeling aan.

En ek sê: „Waarom laat julle haar nie sommer nou trou nie? Of moet die man van 'n dorp êrens kom?"

„Ek verbeel my," sê die vader, „dat hy nie so ver weg is nie, hy's sommer hier in die huis en ons sal die bruilof vier as ons 'n goeie dag gekies het." (156)

„En hoe bepaal julle 'n goeie dag?"

„As die maan oor die kwart groei en die lug helder is en die weer mooi."

Toe sê ek: „Is hy nou regtig 'n goeie jagter?"

„Wragtie," sê die jongeling, „ek kan 'n wildbok moeg loop, en voor 'n wildevark gee ek nie pad nie. Môre sal jy sien, vreemdeling, as jy wil."

„En het jy hierdie haas gevang?" vra ek.

„Ja," sê hy, en lag, „net gedurende die nag, want die lug was pragtig en die maan so groot as wat dit nog nooit was nie." Toe lag die twee mans - nie alleen die meisie se vader nie, maar syne ook.

Toe sê die dogter se vader: „Wat my betref, wil ek g'n hinderpaal in jou pad sit nie, maar jou pa wag totdat hy 'n brandoffer kan gaan koop, want ons moet aan die gode offer." Hier val die meisie se jonger broertjie hulle in die rede: „Maar hierdie kêrel," sê hy, „het al lank 'n slagoffer gekry; hulle voer hom hier agter die hut - 'n pragtige dier." Hulle vra hom of dit regtig so is, en hy sê ja. „En waar kry jy hom vandaan?" vra hulle. „Toe ons die wildevark met die kleintjies gevang het, het hulle almal ontsnap behalwe een: hulle het vinniger as 'n haas gehardloop. Maar een het ek met 'n klip raakgegooi, gevang en in my velbaadjie toegewoel. In die dorp het ek dit verruil en in die plek daarvan 'n speenvarkie (157) gekry, en ek het hom gevoer in 'n hok wat ek hier agter gemaak het."

„O, dit was waarom jou ma altyd gelag het," sê die vader, „toe ek verwonderd was om die geknor van 'n vark te hoor en omdat jy so spandabel met die gars was."

„Nou ja," sê hy, „die kastaiings was nie genoeg om haar vet te maak nie, al sou sy ook tevrede gewees het om niks anders te vreet nie. Maar as julle haar wil sien, sal ek haar gaan haal."

Hulle sê hy moet gaan. En hy sit af met die seuns, vol lewenslus.

Intussen het die dogter opgestaan en uit die ander hut wilde-appels, opgesny, ingebring, en mispels en winter-appels en pragtige trosse druiwe in hul fleur. Sy sit hulle op die tafel nadat sy die vlees-vlekke afgevee het met blare, en vars varings onder uitgesprei het. Toe kom die seuns terug met die vark, vol pret en grappe; en saam met hulle kom die jongkêrel se moeder en twee jong broertjies. Hulle bring wit brode en gekookte eiers op houtborde en geroosterde wilde-ertjies.

Nadat die vrou haar broer en haar niggie gegroet het, gaan sy by haar man sit en sê: „Kyk, hier is die slagoffer wat die jongeling lankal vir sy troudag voer, en al die ander voorbereidsels is van ons kant reeds gemaak. Die gars en die koring is gemaal; ons het net nog miskien 'n bietjie wyn (158) nodig; en dit is maklik om van die dorp te kry."

En by haar staan haar seun en kyk na sy toekomstige skoonvader; en dié glimlag en sê: „Daar is die meneer wat die oponthoud veroorsaak; hy wil glo die vark nog 'n bietjie vet maak!"

Die jongeling antwoord: „Nee, hierdie vark kan al maklik bars van die vet!"

Met die idee om hom te help, sê ek: „Pas maar op dat die jongkêrel nie maer word nie en die vark vet!"

„Dis waar wat die vreemdeling sê," merk die moeder op, „want hy is nou al maerder as wat ek hom ooit gesien het. En 'n tydjie gelede het ek opgelet dat hy snags wakker is en uit die hut uitgaan."

„Die honde was aan die blaf," sê hy, „en ek het gaan kyk."

„Watwou," sê sy, „jy het dan waansinnig op en neer geloop! Laat ons nie toelaat dat hy verder gepynig word nie." En sy omhels die dogter se moeder en soen haar, en die moeder draai om na haar toe en sê: „Laat ons doen soos hulle verlang."

Toe besluit hulle so en sê: „Laat die bruilof oormôre wees."

Hulle het my ook genooi om oor te bly, wat ek met graagte gedoen het; en ek dink tegelyk na oor die aard van bruilofte en ander dinge onder die (159) rykes - die mense wat die huwelik tot stand bring, die ondersoek na die besittinge en die geboorte van die partye, die bruidskatte en gifte van die bruidegom, die beloftes en die bedriegerye, die kontrakte en ooreenkomste, en, eindelik, die twiste en die verwyte wat dikwels by die bruilof self voorval. (160)

Voetnotas

[edit]
  1. Skepe in die klassieke wêreld het gewoonlik net in die somer geseil.
  2. Die beroemde Tiriese purper is vervaardig van 'n skulpdier in die Middellandse See.
  3. Altyd in oorlogstyd, soos gesante wat onder die wit vlag kom onderhandel by ons, as onskendbaar beskou.
  4. Die Romeinse Keiser Domitianus, 81-96 n. Chr.
  5. Vergaderings is dikwels in die teaters gehou wat uit die heuwels rondom die Griekse stede uitgekap is.
  6. Die toespraak is 'n satiriese voorstelling van die oordrywing van die retore. Die satire kom van die skrywer, nie van die boer nie. Diegene wat glo dat humor uitsluitlik 'n moderne verskynsel is, kan gerus let op die fyn humor wat in die beskrywing van die boer in hierdie verhaal te bespeur is.
  7. Die redenaar praat van 'n silwer-talent (meer as £200), maar die boer weet alleen van 'n talent as 'n gewigsmaat (omtrent 85 pond).
  8. Naastenby. Die regte mielie is eers in die 16de eeu van Amerika ingevoer in Europa, volgens die mening van die meeste outoriteite.