Jump to content

Die Afrikaanse gedagte/Die Afrikaner se Beskawings- en Kultuurvorm

From Wikisource
Voorwoord Die Afrikaanse gedagte
Die Afrikaner se Beskawings- en Kultuurvorm
deur C. M. van den Heever
Guido Gezelle en Karel van de Woestijne



Die Afrikaner se Beskawings- en Kultuurvorm.

Dit is opvallend hoe die gedagte aan die Afrikaanse kultuurstrewe ons in die laaste jare besig gehou het. En tog lyk dit of na soveel nadenking en aktiewe stryd daar nog geen helder beeld in die siel van indiwidu en volk gekristalliseer het oor die eintlike wese van ons kultuur nie, wat ons eintlik wil en waar die grense van ons beskawingslewe lê nie. As gevolg van hierdie vae verwardheid, wat so kenmerkend is in 'n jong land, vind ons dat dit onmoontlik is om 'n suiwer nasie-eenheid op te bou wat gegrond is op 'n eenheid-strewe, 'n eenheid van aspirasies en doelstellinge. Hierdie eenheid is onmisbaar as ons kultuur wil voortbring, hierdie eenheid is voorwaarde vir die nodige stuwingskrag wat daar agter die Afrikaanse gedagte moet sit om kultuurskeppend en nasievormend in die massa te kan werk. Want die eenheid word eers gebore in en uit die Idee. Sonder die idee is 'n indiwidu 'n vegeterende dier, is die nasie 'n logge menigte van wesens wat geen doel weet nie. As die idee nie ontwaak, rigting aanwys en adel nie, dan bly 'n volk hulpeloos in sy benede-kultuurlike toestand verskuil en dan kan hy nie eens merk dat daar onreg aan hom geskied nie, kan hy nie sy eie innerlike kragte ontdek nie, staan hy gevoelloos teenoor die prestasies van die verlede en mis hy die reddende van 'n geloof aan ideale. So 'n indiwidu of volk is soos 'n krap wat in enige moontlike rigting kan hardloop. En wat dit nog moeiliker maak, is dat jy nooit kan uitmaak in watter rigting hy kyk nie! In die Idee bestaan die Lewe, die vormkrag, die uitstraling. In die Idee werk die magnetisme van die geesteskrag.

Ons hoor al 'n mompeling van mense wat sê dat hierdie soort praatjies van idee, van ideale en die draagkrag van die gees hoegenaamd nie pas in ons materialistiese eeu nie. Met 'n siniese gebaar wys hulle jou daarop dat dit net dinge is (9) waaroor mense praat, maar wanneer dit moet opweeg teen die stoflike belang, dan wen laasgenoemde altyd. Ideale is goed vir die verhoog, vir die woorderyke spreker; maar hoe dit onder die massa indra dat dit 'n prakties werkende iets is wat ophef en adel? Nie algar van ons is soos 'n Gandhi wat so trou aan die Gedagte kan bly nie. Ons is baie gewillig as ons allerhande fleurige mosies indien, maar daarna is die vlees te swak. Selfs diegene van ons wat dit die beste meen, trap so maklik onklaar in die fyne drade van woorde dat ons struikel en nooit ons doel bereik nie. Die vraagstuk van ideale en kultuur hou vandag die aandag van die hele beskaafde wêreld besig, en ons stry maar net 'n stryd - weliswaar het dit hier sy besondere aspekte - wat saamhang met ons hele Westerse beskawing. Daarvan vorm ons tog 'n klein deel hier aan die verre suidpunt van Afrika. Nog altyd is geestelike strominge by ons nou verbonde met dié van Wes-Europa. Dit vat dikwels 'n bietjie lank vir weerklanke uit Europa om hier gehoor te word, maar tot die dood getrou, soos die mode, dwaal hulle hier uit. En die vraag wat hom oor en oor aan ons voordoen, is: besit ons genoeg assimilasiekrag om daardie dinge in ons Afrikaanse wese op te neem en te verafrikaans, of is die meeste van hulle te swaar en hang dit skeef soos 'n te swaar geënte loot aan die tingerige stammetjie? Hier lyk my lê die kernprobleem van baie van ons moeilikhede: die vraagstuk van assimilasiekrag en 'n gesonde innerlikheid wat vrugbaar kan opneem, wat sal verryk, of kan wegstoot wat skade doen aan die eenheidskern waaruit alle oorspronklike kultuur- en beskawingsvorme geskep word. En juis omdat ons moderne wêreld-orde so deurtrek is van internasionalisme, omdat sekere waardes baie vinnig soos gladgeslyte muntstukke van volk na volk reis, omdat ons naderhand verbyster is oor wat eie is en wat geleen, wat ons self geskep het en wat trekvoëls is, juis daarom raak die wese van wat ons kultuur-wil is, dikwels verduister. Dit kan nie so maklik gebeur met volke wat 'n groot kultuurverlede het en wat duidelike tradisie-bakens besit nie. Dit is vir ons noodlottig, want 'n gedagte, 'n idee moet deur die newels van tydelike onrus en skommelinge bly skyn, anders kan dit ondergaan; en daar is geen ondergang soos die ondergang van die Idee nie! Duisende val op 'n slagveld vir vryheid, mense ly miskenning en hoon vir 'n ideaal, hulle sterf en verdwyn; maar ná hul dood brand, soos die na-gloed van die son wat verdwyn het, die helderheid van die ideaal nog na. Ons ken daardie mag soos dit werk in die tragiese. Maar laat 'n boel mense mekaar uitmoor onderwyl hulle dronk is, veg met geesteloses (10) wat nie gedra word deur die geloof nie - soos in die Wêreldoorlog dikwels gebeur het - en die gevolg is dat alles met die liggaam sterf en 'n groue noodlotsmag jou daadloos maak. Hierdie kerngedagte, wat die kultuurstrewe moet ophef en dra, is so belangrik dat 'n skerpsinnige skrywer oor die Vlaamse Beweging - 'n beweging wat in sy wese soveel ooreenkoms vertoon met die Afrikaanse - dit as volg formuleer: „Het ontstaan van een geestelijke aantrekkingskracht, van een Waarde die tevens fierheid en liefde uitlokken kan, is, naar ons inzien, het enig element dat het ontstaan van de Vlaamsche Beweging kan verklaren.”[1]) Die skrywer sien in hierdie aantrekkingskrag, soos hy dit noem, die grondslag vir die Vlaamse Beweging. Dit is die geestelike waarde en die liefde vir dié waarde wat die vormende krag van die beweging geword het. Onder geestelike aantrekkingskrag verstaan hy: voorstellings, ideë, ideale, sisteme, teorieë, morele en intellektuele waardes, styl- en kunswaardes.

Dit is vanuit hierdie sentrale krag dat die lewe uitstraal en, soos hy sê, ter wille van dié waarde word gestry teen verfransing, word 'n program ter opheffing gemaak, word „griewe” opgesom, word „wantoestande” aan die lig gestel, wat sonder dié geestelike waarde en dié liefde normale toestande sou gewees het. Daardie geestelike waardes, wat gebaseer is op die hele volk se innerlike bou, word ontdek en ontgin deur die denker, die besinners van 'n volk; maar as hy alleen in hulle hoofde sou bestaan, sou dit geen draagwydte of ryke ontkiemingsmoontlikhede bevat nie. Dit moet die massa deurdring en hulle tot bewustheid roep. 'n Mens lewe eers in 'n kultuur as jy bewus is dat jy daarin lewe. Nou kom al dadelik die vraag by ons op: wat is die aard en waarde van die Afrikaanse kultuur en beskawing? In hoeverre is dit suiwer en kan dit „Afrikaans” genoem word? Wat is die Afrikaanse gedagte, geestelike aantrekkingskrag - laat ons dit noem soos ons wil - en hoe het dit hom gemanifesteer in die loop van die geskiedenis? Die hele vraagstuk van kultuur en beskawing hang ten nouste same met ons opvatting van die geskiedenis, die vraag of ons 'n ontwikkelde nasionale sin het om gebeurtenisse na waarde te vertolk en om hul simboolwaarde te kan verstaan. Spengler lê in sy Untergang des Abendlandes baie nadruk hierop wanneer hy die opbloei en verkwyning van kulture, wat vir hom verskyn (11) as organismes, behandel. „Wat aan hierdie vlugtige vormwêreld sin en inhoud gee,” sê hy, „en wat tot nou toe verskuil gelê het onder die moeilik ontwarbare massa datums en dade is die verskynsel van groot kulture.” [2]) Eers as 'n mens al die uiterlike gebeurtenisse - waaraan ons geskiedenis so ryk is - na hul innerlike betekenis probeer vat, as simbole sien van 'n bewegende mag daaragter, dan kan jy by die bronare van die kultuur uitkom. Dan kry veldslae, persoonlikhede en dade vir jou betekenis. Dan is hulle opgehef tot die plan van geestelike waardes waar die vormende krag van die kultuur werk. So ontdek ons die sin van die verlede, bring ons gees innerlike eenheid in die bont gebeure en bly ons teenswoordige tyd nie vir ons net 'n uitspanplek sonder 'n pad wat daarheen lei of daarvandaan gaan nie, maar word dit verhelder omdat ons dit sien deur die simboliese skoonheid van die verlede. En vreemd genoeg: daar anderkant doem dan die toekoms op, nié as vormlose vaagheid nie, maar as 'n voortsetting van geordende geestelike magte van die verlede en die hede.

Maar laat ons eers tot helderheid kom oor die begrippe „kultuur” en „beskawing” wat so baiemaal deurmekaar gebruik word en inderdaad dikwels nie maklik van mekaar onderskei kan word nie.[3]) Die woord kultuur is afgelei van die Latyn Cultura, wat betrekking het op die akkerbou, die kweking en verfyning daarvan om die beste voort te bring. Dit is later betrek op geestelike terrein om die inhoudswaarde van die gees aan te dui. Die woord beskawing spreek vir homself. Dit sien op die uiterlike afronding, gepoleerdheid, en hang nou saam met kultuur. Die twee woorde word dikwels in dieselfde betekenis gebruik. Ons kan die verhouding die beste verduidelik deur die letterkunde as voorbeeld te gebruik. Hier praat ons dikwels van inhoud en vorm, hul intieme verhouding tot mekaar, hul lewe in mekaar. Die inhoud, wat deur die Idee uit 'n onbegrensde stof gekristalliseer is en tot 'n persoonlike, indiwiduele afsonderlikheid gemaak is, vind sy uitlewing, vervolmaking, in die vorm. Inderdaad is die twee so nou verbonde dat die kunswerk se inhoud werklik in die vormlewe daarvan bestaan, net soos ons gedagtes eers gevormde werklikheid word in die taal. Nou kan ons kultuur (12) vergelyk met die inhoud en beskawing met die vorm. Dit is die ideale toestand. Ongelukkig weet ons uit die geskiedenis van letterkundige soorte hoe sekere vorme, wat eenmaal gespanne gestaan het van lewe en die simbool daarvan was, verstol en dood geraak het. En met die dooie vorm - wat in die ware betekenis van die woord dan geen „vorm” meer is nie, maar geraamte-agtige tegniek - word dan gespeel, dit word 'n gladgeslyte munt, waarvan die oorspronklike glans verdwyn het deur veelvuldige gebruik. Dit is die dorre walle van die rivier wat aantoon waar die magtige lewende stroom eenmaal langs gegaan het. En tog het vorme waarde vir die samelewing, mits dat hulie weer besiel kan word. Groot kunstenaar gebruik ou vorme en vernieu en verbesonder hulle tot openbaarders van nuwe oorspronklike krag. Swak penhanteerders hang 'n bietjie droë gedagtes - wat ook al weer geen „gedagtes” in die eintlike betekenis van die woord is nie - om die geraamte van die vorm en kul baie „kritici” wat nie fyn kan onderskei nie. Daar is niks lelikers, niks geestesdodenders as misbruik van die vorm nie. Die mode wys dit vir ons.

Kultuur vertoon inderdaad groot ooreenkoms met die kunstenaar se skepping. Uit die chaos probeer hy 'n gestalte skep wat die tekens van sy eie ervaring sal dra. So ook 'n volk wat probeer om langs die weg "van eie belewing die grens van eie geestesmoontlikhede te ontdek en die eie gees verhelder te sien in eie vorm. „Kultuur word in dié oomblik gebore,” sê Spengler, „wanneer 'n groot siel ontwaak uit die oersieltoestand van die ewig-kinderlike mensheid, hom bevry, 'n gestalte uit die gestaltelose, 'n begrensing uit die verbygaande en tydelike. Dit bloei op dit bodem van 'n nouliks afgrensbare landskap, waaraan dit soos 'n plant verbonde is.'n Kultuur strewe as die siel die volle volle som van sy moontlikhede in die gestalte van volke, tale, gelowe, kunste, state, verwerklik het en dan daarna weer na die oersiel terugkeer.” [4]) Vir so 'n kultuur om staande te bly, is nodig dat die Idee, of geestelike aantrekkingskrag, sal stry teen die omringende chaos, sal stry om sy identiteit te bewaar en om al die moontlikhede wat daarin skuil, volledig uit te lewe. Hier het ons te doen met 'n ewige wet wat op die wonderlikste manier sy werking voltooi. Gaan so Idee, so 'n kulturele dryfkrag onder, dan verdwyn die volk, die taal, die kuns - alles wat verbonde is aan die skeppende gedagte. En dikwels kan dit (13) sterwe sonder dat 'n volk, wat daarvan die draer was, goed merk wat aangegaan het. So merk 'n sterwende baiemaal nie wat plaasvind nie, omdat die helderheid van die gees geblus is. „Nie alleen die kunstenaar stry teen die mag van die stof en teen die vernietiging van die idee in hom nie,” sê Spengler, „elke kultuur staan in 'n diep simboliese en byna mistiese verband tot die uitgestrektheid, die ruimte, waarin waardeur hy hom wil verwerklik. Is dié doel bereik en die idee, die hele omvang van sy moontlikhede uitgeput en na buite uit verwerklik, dan verstar die kultuur opeens, dan sterwe dit af, die bloed verstol, die kragte verbreek - dit word beskawing[5]) So ken ons uit die geskiedenis baie ou kulture wat die toppunt van hul bloei bereik het en waarvan net die dop van die vorm oorgebly het. Eienaardig is dit hoe daardie vormgeraamte nog invloed kan uitoefen op jong wordende kulture en hoe dit dié kan strem om tot selfverwesenliking te kom, veral as die groeikrag nie sterk is nie. Ons weet uit die lewe van jong kunstenaars hoe hulle moet worstel om aan die bekoring van ander kunstenaars se vormlewe in hul kuns te ontsnap en 'n eie ekspressie te verower. Hier vloei baie lyne inmekaar, want baie vorme is oorgelewer en moet tot nuwe lewe besiel word. Daarom gaan dit nie altyd ewe maklik om die grense aan te dui van 'n kultuurlewe nie, veral in ons moderne tyd, nou dat 'n soort oppervlakkige, vlottende beskawing, wat in die negentiende eeu sy oorsprong het, voortskuim van grens tot grens. Maar vir wie sorgvuldig oplet, skuil daar onder die verwarrende vorm-oppervlakte 'n dieper nasionale eenheidsgevoel wat hom manifesteer in die kultuur. Die Duitse, Franse en Engelse kulture vorm afsonderlike eenhede, waarin ooreenkomste op te merk is - doem agter alles nie 'n mensheidkultuur op nie? - maar die afsonderlike, die kenmerkende, bly duidelik sigbaar. Trek ons die sirkel ruimer, dan kan ons praat van 'n Klassieke kultuur, 'n Germaanse en Romaanse kultuur, en as ons wil, nog ruimer: 'n Westerse en Oosterse kultuur. So splits die wêreld hom op in kultuureenhede en kultuurkringe. En in daardie bonte veelheid lê die skoonheid. In verskillende mooi ontwikkelde persoonlikhede, indiwiduele bevoegdhede in die gemeenskap, kom die dieper skeppingskrag van die lewe, die universele vormingskrag tot persoonlike uiting; en omdat ons Afrikaners nie in 'n kleurlose benede-kultuurlikheid wil bly wegskuil nie, maaf ons kultuur-persoonlikheid tot die volheid (14) van sy ontwikkeling wil bring, hier binne ons geografiese grense, daarom wil ons 'n eie Afrikaanse kultuur hê, nie 'n nageaapte vorm-dooie ding, 'n vliesdun vel wat ons oor die geraamte van 'n Wes-Europese land se beskawingsvorm getrek het nie, maar 'n eie, vollewende skepping wat die tekens van ons ervaring, ons geskiedenis dra. Hiermee het getalrykheid, landsgrootte, verbreidheid van die taal niks te doen nie. 'n Persoonlikheid kan groot, goed en sterk wees al woon hy op die kleinste dorpie. In die huis van 'n vader het alle kinders net eweveel reg, die kleintjies sowel as die grotes. Maar dit is die voorsprong in jare en ervaring wat 'n mens soms 'n bietjie aanmatigend maak!

Om te antwoord op die vraag: wat is die Afrikaner se kultuur- en beskawingsvorme, is nie so maklik nie. As ons dit helder en duidelik omlyn kan doen, dan sal baie probleme vir ons veel eenvoudiger wees. Maar as 'n mens in so 'n oorgangstydperk lewe soos ons nou, dan is dit nie so eenvoudig om 'n betroubare kultuurbeeld in jou gees te vorm nie. Miskien win 'n mens meer perspektief as jy 'n bietjie wegduik in ons volk se verlede, as jy die sin van ons geskiedenis probeer verstaan om so die langsame kultuurevolusie te ontdek wat daarin sigbaar is, want, „Culture refers to the comprehensive changes in individual and social life, due to the continued and systematic influences of mental improvement and refinement.”[6])

Die volksplanting aan die Kaap is gestig in 'n tyd toe die Hollandse kultuurlewe 'n hoogtepunt bereik het, dit aangestu is deur 'n kragtige dadedrang, 'n gloeiende geloofsywer 'n dors na vryheid. Die groepie mense aan die Kaap moes hulle aanpas by omstandighede, en alhoewel hul sentiment aanvanklik gevestig bly op die moederland, raak hulle langsamerhand vergroeid met hierdie aarde. Franse en Duitse groepe kom by, 'n eie atmosfeer word geskep, 'n eie taal ontwikkel, daar ontstaan 'n liefde vir die eie bodem, 'n eenheidskrag trek die belange van die groepe saam,'n krag wat deur die gees werk en die eie wêreld verheerlik met die skoonheid van eie ervaring.

Die Afrikaanse gedagte is gebore! Wel werk dit nog meestal versluierd, nie kragtig en bewus nie, maar dit is daar en dit vorm die Afrikaanse volkskarakter. In die sewentiende en agtiende eeu groei dit al dieper, die kolonie brei uit, die (15) skepping van eie waardes - hoe gering aanvanklik ook - word meer en meer. Letterkunde van enige betekenis is daar nog nie. Hier werk die Dietse beskawing nog na, nie in suiwer Afrikaanse vorm nie, maar in halfslagtige produkte waarin die Afrikaanse skeppingskrag nog nie gis nie, want die helder ontwaking tot besef van die Afrikaanse nasieskap val saam met 'n ontwaking tot die besef van die waarde, die kulturele waarde van Afrikaans as taal.

Met die uitbreiding kom ook die afsondering, verwyder van die beskawing, van ander van Afrikaners op die platteland. Hulle verloor heeltemal kontak met die Europese beskawingslewe, maar hulle groei vaster in die eie grond, hul Bybel hou hul lewe oop vir godsdienstige en sedelike skoonheid. Hier word die grondslag gelê vir 'n Boerebeskawing, en wanneer later die ontwortelingstroom sal begin, sal hy telkens hier gestuit word, hier waar die sluimerende mag van alle volke se kulture lê: die mens met sy gebondenheid aan die aarde, waarmee hy misties verenig is deur 'n donker liefde. Hier wortel die onuitroeibare Afrikaanse aantrekkingskrag. Hier is die kweekaarde. Daar verrys skoonheid in 'n eie boustyl, wat die aankondiging is van die massiewe bouvermoë by die volk. Aan die begin van die negentiende eeu volg die skok, die konflik waaruit spanning gebore word. Die Kaap kom in die hande van Engeland, 'n poging tot verengelsing volg en die nasionale gevoel by die Afrikaner ontwaak gaandeweg sterker. Hier het ons nou 'n belangrike verskynsel: nie net die feit dat die Nederlandse taal opsetlik onderdruk word, nie net die feit dat Hollandssprekende inwoners veronreg word op onderwysgebied en in die staatdiens, ondermyn die onafhanklikheidsgevoel, die beskawingswaarde van die Afrikaner nie: maar veel sterker as dit - alles is die aantrekkingskrag van die Engelse beskawing, wat 'n bepaalde, aantreklike atmosfeer versprei waarin veral die jeug hulle aangenaam begin tuis voel,[7]) 'n atmosfeer van stadsverfyning, van beproefde „society”-beskawing, wat in felle kontras is met die „lomp” beweginge van die plattelandse lewe, beweginge wat gaandeweg in verband gebring word met die Hollandse taal en die Hollandse leefwyse. (16)

Ons ken hierdie selfde verskynsel uit die geskiedenis van die Vlaamse volk. Daar sien ons dat die Vlaminge, wat in wese so nou verwant is aan die Hollandse volk, voor 1830, vyftien jaar lank onder direkte Franse invloed kom en sowat twintig jaar onder Hollandse invloed, wat tog so dig lê by hulle geesteswaardes. En tog, wat sien ons? Alleen die Franse periode het beskawingspore nagelaat wat nie meer uitgewis kon word nie! Die aantrekkingskrag van die Franse beskawingswaardes was in hierdie tyd op 'n hoogtepunt, terwyl dié van Engeland baie vinnig aan styg was, om teen die end van die negentiende eeu en aan die begin van die twintigste 'n ongeëwenaarde suigkrag te ontwikkel. Die Hollandse beskawing maak aan die eerste helfte van die negentiende eeu 'n tydperk van groot verslapping deur; so swak is die aantrekkingskrag dat die invloed van Frans ook daardie hoër kringe deurdring met sy aroma van fynheid. Veral die toneel - net soos die klankrolplent dit vandag by ons doen - dra die gees van Parys in alle kringe binne; en die afgod mode, wat 'n ontsettende rol in die beskawingslewe speel, doen stilswygend sy werk. Die Vlaamse stryer Snellaert moes dan ook skrywe: „De veroveringsbenden waren de Fransche acteurs, het krijgstuig de Fransche stukken, welke zij volgens de vereischte krijgslist even verleidelijk trachten op te disschen.” Ja, die mag van die mode! U kan daaroor lag en sê dit is 'n verspotte vormlikheid, maar u weet net so goed as ek dat feitlik niemand daarteen bestand is nie! Wat ons vandag oor lag en mee spot onderwyl dit nog fonkelnuut is, doen ons môre self - so werk die atmosfeer, die suggestiekrag van die massa. En wie die massa met sy beskawingswaardes kan boei en vlei, oefen die grootste invloed uit op die vrou, wat minder as iemand anders ook die lokkrag van die mode kan weerstaan; en deur haar volg die man miskien skoorvoetend en die opgroeiende jeug op 'n sukkeldraf. 'n Vlaamse advokaat, Verlooy, vertel in 'n werkie oor die minagting van sy moedertaal, wat reeds uit 1788 dateer, toe die meeste Vlaminge wanhopig sukkel om Frans te praat om in die mode te wees, en, „ander die 't alwillens kwalik spreken om in 't Frans te schrijven opgebracht te zijn, die g'in d'herbergen en kaffeehuijzen hertnekkig zult hooren Frans hakkelen, zonder eens in hunne belemmernis naer 'n Vlaems te willen keeren. Onze juffrouwen zal men nooit met eene Vlaemschen kerkboek zien, en gebeurde dit, het schaemrood zou haast zijn....” Hy vertel dat die Franse kleredrag, toneel en taal oral sy „apen en nederige groot-achters” vind. (17)

Hoef ek u verder op die mag van die mode te wys en hoe dit beskawingswaardes beïnvloed? Ten slotte is die gesegde: liewer dood as uit die mode, nie so belaglik as 'n mens aan die houvas dink wat dit op die massa het nie! En dit lyk my juis dat ons sowel as die Vlaminge hier dikwels vergeeflike foute gemaak het, ek sê vergeeflik," omdat ons so magteloos is. Diegene wat 'n besef gekry het van watter mag die groter beskawings op die volk het en hoe die kleiner beskawing dreig om te verdwyn, het sarkasties geword, die ouer beskawing uitgekoggel en bespot. Maar dit is eintlik verkeerd. Dit verraai net magteloosheid. 'n Mens moet jou eintlik verset teen alle uiterlike vorm, alle mode; en hoe magteloos skyn die meeste nie daarteen nie! Vermeylen wys in sy Kritiek van de Vlaamsche Beweging daarop hoe hierdie rammelende negativisme die volk kan verneder: al wat Frans is, die skoonheid en krag van die kultuur en letterkunde, moet bespotlik gemaak word naas al die Vlaamse prestasies. Maar, sê hy met 'n medelydende glimlag, sulke dinge maak 'n mens ten slotte senuweeagtig. Waarom? In jou siel weet jy dat daar iewers 'n skroef los is. Jou magtelose haat het jou oordeelsewewig belemmer. Uit hierdie soort geesteskompleks word die wonderlikste verhoudings en voorvalle gebore. Die mode maak van ons almal onbewuste slawe, en as ons besef hoe vas ons daarin sit, word ons nukkerig en wil die mode beledig in plaas van ons eie lamlendigheid te beskuldig. Daar is genoeg gevalle aan u bekend waar Afrikaners wat op 'n verhoog 'n stortvloed van retoriek teen die Engelse beskawing loslaat om dan die eerste die beste geleentheid te baat te neem om Engels te praat; want rondom daardie verhoog hang die dampkring van daardie beskawing wat hom tot meegaan dwing. Wel, daardie beskawingsatmosfeer het hom oor die Kaap uitgestrek en later na die noorde. Dit het nie alleen instellinge in beslag geneem nie, maar die geeste van die hoër kringe. Waarom? Omdat die Afrikaanse gedagte, wat kultuur- en beskawing-skeppend moes werk, nog te swak was, meer op die periferie van die platteland gewerk het en nie in die sentrum van die stede nie. Maar gewerk het dit tog! Eers teen die end van die eeu, toe dit deur die Afrikaanse taal begin werk en meer krag onder die intellektueles bring, word dit sterker, maar bly nog veel te swak om 'n kragtige atmosfeer te skep. Ons kan hier toepas wat 'n Vlaamse skrywer oor die stryd in Vlaandere sê: „Het ging hier niet om een strijd tussen twee talen waarbij de overwinning toebehoorde aan die taal die het bestuur in hare macht had, maar (18) om 'n strijd tussen twee cultuur-waarden, tussen twee sferen van aantrekkingskracht.”[8]) Opmerklik is dit hoe die Vlaamse Beweging, (die Vlaamse beskawing) begin vooruitgaan as die prestige van die Franse beskawing begin afneem.

In Suid-Afrika volg baie gebeurtenisse so gou op mekaar dat die Afrikaanse volk, by wie daar nog geen ware innerlike eenheid is nie, nie goed kans kry om alles deeglik in 'n Afrikaanse wese te assimileer nie. Die gevolg is dat dit begin ly aan slegte spysvertering en 'n skewe liggaamsbou gekry het! Die grootste ramp wat die volk tref, is die feit dat daar 'n belangrike ekonomiese verskuiwing plaasvind as gevolg van die ontdekking van goud en die opkomende nywerheidslewe. Die stede brei uit; wie van die land afgeskop word, struikel die agterbuurte van die stede binne. Die bronne van rykdom en beskawing is in die stede en groter dorpe te vind, waar arbeid verskaf kan word vir diegene wat as gevolg van droogte, inkrimping van grond deur plaasverdeling ens., moet vlug van die platteland om pateties te gaan kompeteer met geskoolde arbeiders in die stede. Daar is weinig dokumente uit ons volksbestaan wat vir my so ontroerend is as die verslag van die Armblanke-kommissie. Agter die getalle en sistematiese indelings doem daar die tragiek op van die ondergang van 'n belangrike deel van ons volk; op die paaie werk hulle met pik en graaf, in die stede lê hulle rioolpype aan, in armsalige agterbuurte hurk hulle bymekaar in krotte - en hulle praat Afrikaans! Wat is die gevolg? Op die platteland is 'n stuk Boerekultuur opgebou deur die jare, dit was afgesluit van vreemde invloede, hier het die taal, daardie beeld van die sielelewe, suiwer gebly en sy beelde en oorspronklike wendinge laat ontstaan in 'n veldatmosfeer. [9]) Godsdiens en gewoontes, wat vir ons almal wat daardie lewe ken, dierbaar is, het van vader op seun oorgeslaan, net soos die aarde wat hulle bewerk het. En toe kom die langsame versplintering en verbrokkeling! Daardie lewe het vinnig begin wyk vir ander beskawingswaardes. Deur die verval tot armblankes op maatskaplike gebied het hulle 'n groot deel van ons Boerekultuur tot karikatuur laat word. Besoek vandag ons agterbuurtes waar hulle woon, en juis daardie agterbuurtes wat die swakstes is in 'n stad soos Johannesburg, het iets van die ou Afrikaanse gees! Die ou Afrikaanse gees? Nee, wat kragtig en mooi (19) op die platteland gegroei het, het hier verlep tot 'n aaklige uitgediendheid. Wat elders deel was van 'n suiwer Afrikaanse wese, vorm hier rowe wat swaar afval. En nou is ons by die groot probleem. Die Romeine het gepraat van die plebs urbana toe hulle verwys het na hierdie opdrifsels van die platteland wat nie in die stedelike maatskappy op vrugbare wyse opgeneem kon word nie. Dit is 'n ou vraagstuk. En hoe tref dit ons? Daardie massa mense praat Afrikaans, ja, 'n soort Afrikaans wat onder die invloed van derde-rangse Engels tot 'n knarsige taalgemors versleg. Dit het aan die prestige van die Afrikaanse taal en ons beskawingswaardes 'n geweldige slag toegedien. Deur baie onsimpatieke buitelanders, wat die innerlike van die vraagstuk nie ken nie, word Afrikaans vereenselwig met die armblanke, met die man wat hulle vra om in die tuin te werk, met die meisie wat hul kinders oppas, met 'n klas waaruit die arbeiders getrek word. U kan dit maar net vergelyk met die Vlaamse Beweging. U sal dan die vlymskerpe, dom-astrante woorde van die Waalse aartsbiskop van Mechelen, Magister Mercier, onthou teenoor een van sy Vlaamse priesters wat om sy Vlaamse gevoelens na Holland verban is: „Ek (die Waal) is uit 'n volk geskape wat moet heers, en jy (die Vlaming) uit 'n volk wat gebore is om te dien.” En die ontwikkelde Afrikaner? In watter atmosfeer lewe hy? Die platteland het 'n Afrikaanse beskawingslewe begin ontwikkel, maar in die stede het die Engelse beskawing dadelik 'n vat gekry en begin deurwerk in alle instellinge: onderwys, handel, bankstelsel, klubs ens. Die hele maatskaplike lewe neem daardie kleur aan. In ouer Hollandse stede soos Kaapstad en in die omtrek, waar 'n gevestigde Hollandse tradisie was, werk dit so goed deur dat selfs die kerklike lewe, daardie bolwerk van Afrikaanse beskawing en kultuur, verengels raak. In 1834 kon die Kommissaris-Politiek by die sluiting van die vierde Sinodale vergadering sy genoeë te kenne gee oor die besluit wat prediking in die Engelse taal aanbeveel by die Hollandse predikante! Ek hoef nie te probeer om 'n beeld van hierdie tyd se beskawingslewe in die Kaapland aan u te skilder nie: hoe die skoollewe, die kosskool lewe, die huislike lewe, die maatskaplike vorm heeltemal ingerig was volgens Engelse beskawingswaardes. Die Groot Trek is, behalwe om ander redes, 'n reaksie teen hierdie toestand, en dit bewaar veel van die Afrikaanse tradisie wat sedert die volksplanting ontwikkel het. Maar hoe groot die uitstralingskrag van die Engelse beskawing! Dit mag baie vreemd klink om dit te sê, maar selfs in die twee Boere-Republieke, waar tog (20) Hollandse beskawingsmagte moes gewerk het, dring dit binne en vreet stilweg ou vorme weg. Die oorlog beteken weer 'n reaksie hierteen. Die beskawingsgeskiedenis van volke leer ons dat 'n volk, veral 'n jong en klein volk, op staatkundige gebied vryheid kan geniet en dat hy tog aan die halter van 'n magtige volk se beskawing gelei kan word. Beskawingsvryheid en staatkundige vryheid val nie altyd saam nie. Is België nie 'n onafhanklike land met 'n eie koning nie? En hoe diep lê die skaduwee van die Franse kultuur oor hierdie land met sy tragiese geskiedenis van innerlike verskeurdheid en rasseverdeeldheid! As 'n volk nie innerlike geestelike weerbaarheid het nie, as hy dit nie ontwikkel uit eie kragte nie, dan is hy soos 'n hanslam wat aan alle ooie drink wat hy kan bykom! Die geskiedenis van die kultuurstryd in Vlaanderde leer ons dat die geldbesitters, die rykes, die Franse beskawing aanhang en die armes bly wortel in die ou tradisies. Die rykes wat dus kan help om hul volk ekonomies op te hef, wil nie, of liewer, hulle leun aan teen ander ekonomiese en beskawingswaardes; en die armes kan nie, hoe graag hulle ook wil! „Zoo ontstond een verfranschte, liberaliseerende bourgeoisie, van het volk vervreemd, het om zijn bekrompenheid verachtende, en niet beseffende dat die achterlijkheid voor een groot deel te wijten was aan haar tekort aan leiding.” [10])

As ons nou ons blik oor die Afrikaner se beskawingslewe laat gaan en ons volg die historiese ontwikkelingslyn deur al die troebel jare heen - want het ons volk nie leer loop onder die swaarste beproewings nie? - dan kan ons eenvoudig net konstateer dat die Afrikaner in sy beskawingslewe, in die sosiale omgang, in sy waardering van omgewing en persone byna heeltemal verengels is. So erg selfs dat hy baie dinge vir tipies Afrikaans aansien wat niks anders as vermomminge van die Engelse beskawing is nie. Miskien mag my oordeel in twyfel getrek word, omdat, soos beweer kan word, ek nie helder genoeg perspektief het op toestande waarin ek self lewe nie. Maar ek sal u die objektiewe oordeel gee van iemand wat Suid-Afrika onlangs besoek het, 'n kenner van die Engelse sowel as die Nederlandse beskawingsvorme, ek bedoel prof. Barnouw van die Columbia-Universiteit. Luister hoe hy dit uitdruk nadat hy 'n tyd lank in Suid-Afrika vertoef het: „The affect of this anglicising process is a strange anomaly, of which the Afrikaners are apparently unaware. Their outlook on life, their conceptions of the world abroad, (21) their methods of Government and business administration, their ideas of sportsmanship, even their manners and forms of social intercourse, bear the trade-mark Made in England. A foreign observer will notice this similarity more easily than an Afrikaner, who, intent on being and proving himself un-English, is more keenly aware of the little differences that mark his Afrikaans individuality.” En 'n bietjie verder formuleer hy dit afdoende as volg: „As a social animal the Afrikaner belongs to the species called Briton.” [11]) Duideliker kan ek dit nie stel nie. U begryp my goed: nie dat ek die Engelse beskawingsvorm wil verkleineer nie. Ek konstateer net 'n feit. Dr. Barnouw wys ook daarop hoeveel meer aandag die Afrikaner aan sy persoon gee as die Hollander, hoe netjies die vrou gekleed gaan en hoe 'n ontwykende manier van praat ontwikkel het, waardeur alle moontlike grofheid en platheid vermy word. Dit hoef nie alles verlies te beteken nie; inteendeel, 'n mens sou verwag het dat die Afrikaner sy Dietse beskawingstradisie hier sou voortgesit het, weliswaar gewysig deur die ewolusie van omstandighede, maar tog die kern bewaar het. Inderdaad het hy net hier en daar 'n flenter oorgehou, wat ons veral merk op godsdienstige gebied en hier en daar in die sosiale lewe waar die Engelse invloed nie so sterk was nie. U het dit self al hoor beken van Afrikaanse toeriste wat van Amsterdam na Londen gaan en eerlik verklaar dat hulle in laasgenoemde stad meer tuis voel as in Amsterdam. Alle verdere kommentaar is hier ook oorbodig. Nou hoor ek u al antwoord, soos so baie Afrikaners aan my sê: „Ja, dit is alles goed, maar ons is mos geen Hollanders nie! Wat het ons met hulle te doen? Hulle manier van optree is te ,anders' vir my, dit stoot my af, en daarby het ons maar min aan die meeste Hollanders wat hier kom: hulle skaar hulle by die Engelse en praat sarkasties van Afrikaans, wat hulle ten slotte tog maar beskou as 'n onsalige verworde Nederlands! Nee, ek sê soos Langenhoven: ,Laat die Dietse sappery staan en laat ons rustig ons gang gaan'.”

Ons het daar geen die minste beswaar teen nie, en almal van ons wat dit wel meen met die Afrikanerdom, wil hier 'n eie kultuur- en beskawingslewe sien ontwikkel, sterk, gesond en lewenskragtig, van alle vreemde smette vry. Maar die saak gryp dieper. Die bande met Nederland het ons laat vaar, of liewer: ons is stelselmatig in daardie rigting gedwing sedert die Tweede Vryheidsoorlog. En nou het ons - 'n wordende (22) kultuur - te stry teen een waarvan die invloedsfeer oor die wêreld strek. Die Afrikaner het baie van sy penwortels gaan uittrek, want of ons dit wil weet of nie: die Afrikaner se beskawings- en kultuurverlede loop uit in sy Dietse verlede, en as hy sy ontwikkelingsdrade goed bymekaar vat, sal hy telkens daar uitkom. Ons wil erken dat die Afrikaner- wat ook al die faktore is wat bygedra het om so 'n toestand te skep - hier 'n belangrike deel van sy ware wese laat sterf het; maar die swakheid van die Hollandse geestelike uitstralingskrag in hierdie opsig moet u ook erken. Ek bedoel dit so: die Hollanders besit 'n kultuur so deeglik en ryk van inhoud dat dit as 'n sieraad van die Westerse beskawing beskou kan word. Maar iemand het beweer dat die Hollanders nie imperialiste, taalhandhawers, beskawings-dissipels, soos die Engelse by voorbeeld is nie, wat die wêreld deur sal probeer om met mag en oortuiging hulle kultuurwaardes te laat inwerk nie. Dr. Barnouw wys self op die volgende eienaardige verskynsel: 'n mens sou verwag dat die meeste Hollanders wat na Suid-Afrika kom om geestes- en taalaffiniteit by die Afrikaners sal aansluit, maar „There are, indeed, Hollanders, who rather than consort with Afrikaners, seek the companionship of English residents. They feel themselves close to the English as inheritors of a civilization no less ancient than that of Great Britain.” Sy uitleg lyk my alles behalwe oortuigend! Die gevolg is dat die krag wat van die Hollandse beskawingslewe - hier sowel as in Vlaandere is dit so - kan uitgaan, belemmer word en die Afrikaner nie simpatiek stem nie. Daarby moet nog opgemerk word dat die Engelse beskawingslewe en taal in ons eeu - dink net aan klankprent en sport - so 'n geweldige invloed verower het dat selfs Hollanders, al deel hulle in so 'n ou beskawing, dit dikwels, buite hulle land, net so geredelik aanhang as die Afrikaner. U begryp die moeilikheid van ons probleem. Dit word vir ons al duideliker hoe moeilik die stryd is om Afrikaans, wat tog 'n draer is van die Afrikaanse kultuur, innerlik suiwer te hou. want die gees, die denkvorme is verengels, en dan moet aan daardie Engelse inhoud 'n Afrikaanse taalgestalte gegee word. Die gevolg is dat ons taal deurtrek raak van Engelse invloed - soveel dat dit dreig om sy wese te vernietig. En hier kom ons nou by die reddende mag van die Nederlandse kultuur. Mag Nederlandse beskawingsvorme hier verdring wees deur Engelse beskawingsvorme - ons wil hoegenaamd nie aandui dat die Engelse beskawing altyd verderflik op ons ingewerk het nie; in baie opsigte het dit waardevolle verfyning gebring - die Nederlandse kultuur (23) se innerlik werkende mag deur die taal is vir ons nodiger as ooit. Ons wil van geen volk net die uiterlike beskawingsdop oorneem nie. As kultuur en beskawing, as innerlik en uiterlik verfynde kragte in ons wese geassimileer kan word om so eie vorme te skep, dan sal ons dankbaar wees, maar ons moet met alle mag beskawingskragte weer wat soos 'n te swaar loot ons hele jong volksboompie omvertrek. Dit is ons standpunt. Die fout met die Afrikaner se ontwikkeling in die verlede was dat gebeurtenisse wat sy hele sosiale en ekonomiese bou, gegrondves op 'n landelike bestaan, omvergegooi het, so snel op mekaar gevolg het, dat organiese ewolusie, waardeur suiwer Afrikaanse waardevorme uitgekristalliseer kon word, nie kon plaasvind nie. Daarom mis ons so dikwels tradisie, daarom raak ons so dikwels teleurgestel dat ontwikkelingslyne nie volgehou word nie. Daarom raak ons so dikwels verbitterd teenoor mekaar en verval in skandalige onverdraagsaamheid. Dit kry jy oral waar 'n groter beskawingsmag 'n kleinere oorskadu en leiers wat die kleinere beskerm 'n byna fanatieke ywer openbaar teen die dreigende ondergang. Met hierdie gebrek aan organiese ontwikkeling hang die grootste kultuurgebrek van ons volk saam: die afwesigheid van 'n sin vir sintese. Daar is, net soos ook oor die Vlaming opgemerk is, 'n afwesigheid van ordenende, organiserende magte, 'n gees om eenheid te skep. Prysenswaardige ondernemings word aangepak en oor 'n tydjie hoor jy dan die begrafnis. Die geesdrif bruis hoog op as toesprake gehou word en voorstelle gemaak moet word - maar waar is die rustige boukrag, die onversettelike arbeid wat 'n volk groot maak? Deur sy tragiese geskiedenis het die Afrikaanse volk tot 'n hoë mate - net soos die Vlaminge - 'n volk van „griewe” geword. En u weet hoeveel 'n werksman versit wie se hart heeldag met „griewe” gevul is. Dit ontbreek hom aan rustige innerlike vertroue, aan gestadige deursettingskrag om groot dinge op te bou, dit vul hom met wantroue teen sy leiers, dit ondermyn die kultuur-vormende magte in hom. As u 'n voorbeeld wil sien van griewende onverdraagsaamheid en gebrek aan innerlike bou-vermoë, lees dan die meeste politieke briewe wat in die Afrikaanse pers verskyn. Byna maar altyd die martelaarskompleks, die negatiewe afbreek-neiging, sonder'n positiewe wil tot kragtige strewe, sonder die manlike daadkrag wat jou jou bors laat uitstoot en jou trots laat voel op wat reeds presteer is in 'n kort tyd. Die positiewe geloof in hulself is een van die sterkste kragte wat ouer kulture beweeg. Twyfel 'n Engelssprekende ooit aan sy taal of kultuur se waarde? Van die skoenpoetser tot by die koning is daar'n rustige wete dat (24) hy in iets groots deel, iets wat 'n stilswygende mag geword het. Maar die jong volk wat worstel om tot selfverwesenliking te kom, is innerlik verbreek, sy kragte lê versplinter in onderlinge twis en verdeeldheid, want hy mis die draagkrag van eenheidsvormende magte, van geloof in homself, dinge wat gedurig verstoor word deur die tergende skaduwee van die ouer kultuur wat oor sy pad lê. As u 'n mooi voorbeeld wil hê van ons gebrek aan innerlike vormingsvermoë, aan rustige afwerkingskrag, moet u net na ons letterkunde kyk. Mooi pakkende motiewe word behandel, maar oorhaastig, sonder innerlike deurdringing, sonder konsentrasie, sonder idee-deur-lewing - en die gevolg is onvoldrae produkte. Hoe kan dit anders? 'n Volk spreek deur sy kunstenaars. 'n Volk wat waarlik kultuurbewus is, moet innerlike oordeel besit, moet weloorwoë kritiek kan duld. Hoe is dit dan moontlik dat die grootste prulwerk soveel waardering by ons kan vind en dat onnadenkendes geen enkele woord kritiek op ons volkslewe kan duld nie, maar gou senuweeagtig word en dit 'n „swart-smeerdery” noem? En waarom kan die waarlik grote en waardige nie gewaardeer word nie? Hier ontbreek die rustige selfvertroue wat gegrondves is op die geloof aan die innerlike waarde van eie volk. Dit wil geen verwyt wees nie, maar is alleen die konstatering van feite, wat almal uitvloeisels is van ons disharmoniese groei uit 'n tragiese verlede. Ek het veel nadruk gelê op die innerlike waar die kultuurkrag werk. Ek verwys weer na die taal. In Vlaandere is een van die grootste moeilikhede om eenheid te verkry, die feit dat soveel dialekte gepraat word en dat alle Vlaminge nie algemeen beskaafde Nederlands ken nie. By ons is daar wel 'n groter taaleenheid, maar deur die invreting van Engels in ons taalwese ontstaan'n mengelmoes van taal in die stede wat afgryslik in ons oor klink. Ons besef nog nie genoeg nie dat om 'n mengelmoes van taal te gebruik waarin 'n plat uitspraak hoogty vier, beteken om onbeskaafd te wees, want dit verraai dadelik op watter geestesplan die spreker staan. Ons moet maar hier weer net 'n afgeslyte waarheid herhaal: terugkeer tot die lees en studie van Nederlands en daardeur tot die Nederlandse kultuur, wat op ons, in ons wordingsperiode, 'n groot bestendigende krag sal uitoefen. Hier kan geen gevaar skuil nie, want Afrikaanse skrywers en denkers het ons afdoende die proef op die som gegee: diegene wat die beste Nederlands ken, gebruik die mooiste en mees verfynde Afrikaans, hulle leer om die innerlike vormkrag van hul taal tot volle ontwikkeling te bring en om 'n ryk-geskakeerde woordeskat op te bou. Hier lê ons belangrikste kultuurvorming op (25) die oomblik, nl. deur die ekspressiekrag van die taal; want so 'n belangrike deel van ons kultuur beweeg rondom ons taaluitdrukking. Ons woordeskat in tegniese opsig moet so aangevul word, ons taallewe moet kragtig uitgebou word, ons moet besef dat die Nederlandse letterkunde, 'n mooi stuk kultuurgeskiedenis, daar is om ons kultuur mee uit te bou en te verryk, sonder om die uitbreidingsvryheid van ons kultuurlewe in een enkel opsig te hinder. Langs dié weg sal ons innerlike taalsuiwerheid opbou; ons sal kultuurperspektief ontwikkel en veral 'n sin vir waardes kry.

Uit wat ek gesê het, moet u nie aflei dat alle hoop vir die vorming van 'n suiwer Afrikaanse kultuurlewe wat hom sal veruitwendig in suiwer Afrikaanse vorme,'n onmoontlikheid is nie. Ek het alleen maar probeer aantoon waar belemmeringe en grensbeperkinge is, waar innerlike aanvulling en uitbouing moontlik is om 'n sekere ideaal te bereik. Kultuureenheid bereik ons deur besinning, deur interpretasie van ons verlede, deur ideale gemeenskapseiendom te maak. Ek sluit nou aan by wat ek in die begin gesê het: wat ons met diepe vertroue en geloof in die toekoms van die Afrikanerdom vervul, is die Afrikaanse Idee, wat lankal terug ontstaan het en sy aantrekkingskrag op die Afrikaanse gemeenskapslewe uitgeoefen het. En as u moedeloos voel oor die Afrikaner se innerlike verdeeldheid en gebrek aan balans, die afwesigheid van waardering vir die grootse en innerlik-skone, dan moet u net vir 'n oomblik dink oor ons verlede, hede en toekoms, en u sal met nuwe moed vervul wees, nie 'n oppervlakkige optimisme nie, maar 'n diepgewortelde vertroue wat op werklikheid berus. Deur al die jare het die Afrikaanse gedagte gewerk, soms versluierd, soms byna onderdruk, maar altyd was dit daar as stuwende krag en daadskeppende drang. Daarvoor het onnoembaar veel lyding plaasgevind. Ons geskiedenis is vol ontroerende skoonheid wat spreek van lyding vir 'n Idee. So magtig is daardie Idee dat dit straal uit die innerlike van ons geskiedenisverloop: dit sit agter dade van durf en daad: agter die Voortrek, agter die stryd vir ons vryheid, agter die liefde vir ons taal. En wat ons met kragbesef vervul, is dat daardie Idee moet oorwin, want dit werk in ons soos die stem van ons gewete. Dit lewe in die hart en die hoof van ons denkendes, van ons besinners, van ons intellektuele front en dit sal in die hart van die massa ingedra word en tot kultuurbesit verinnig en eie beskawingsvorme skep en bewaar. Langsamerhand moet die besonkenheid, die assimilasiekrag werk - die tekens is reeds daar - dan sal ons ten volle verstaan hoe die Afrikaanse gedagte gewin het, hoe dit 'n aantrekkingskrag (26) gevorm het wat die Afrikaner, ryk en arm, laat deel in een kultuur en een beskawing. Dit sal versoen die teenstrydigheid van stedelike en plattelandse beskawing, deurdat dit 'n eenheid van besef, 'n gemeenskaplike trots sal skep.

Met die koms van Willem die Veroweraar na Engeland het daar 'n sonderlinge beskawings-toestand in die begin ontstaan. Deur die land se bevolking, wat gebonde was aan die grond, is Angel-Saksies gepraat. Hierdie taal word nou heeltemal op die agtergrond gedruk, as nie geskik vir die verfynde hoflewe nie, as te lomp beskou vir omgang tussen aristokrate, dit word geminag en in verband gebring met al die ruwe en onverfynde van die platteland. Frans word die taal van die heersende klasse en van die hoër maatskaplike kringe; staatsdokumente en proklamasies word daarin opgestel, dit word in die geregshowe gepraat en skep 'n Franse atmosfeer in die nuwe land wat dit binnegedring het. Engels het egter die taal gebly van die grootste gedeelte van die bevolking, en soos 'n Engelse taalgeleerde dit uitdruk, „daar was net tyd nodig om aan Engels die oorhand te gee.” Die regerende klasse, wat gewoonlik Frans gepraat het, het uitgevind dat dit betaal om Engels te leer - veral uit 'n besigheidsoogpunt. In 1204 gaan Normandië vir die Franssprekendes in Engeland verlore, en dit dwing hulle om nou nie meer twee vaderlande te hê nie, maar om hul lot in te werp met hul Engelse medeburgers wat net een vaderland gehad het, nl. Engeland. Die oorlog met Frankryk in die volgende eeu het Frans, die taal van die vyand, in onguns gebring in Engeland. Maar Engels moes tog 'n harde stryd teen Frans voer. Eers teen die middel van die veertiende eeu het Engels Frans begin verdring uit die geregshowe, in die parlement en in die „grammar schools.” In 1362 het Eduard III vir die eerste keer die Parlement in Engels geopen. Die oorwinning van Engels het saamgeval met 'n kragtige opbloei van 'n nasionale letterkunde, waartoe Wycliff, Langland, Gower en Chaucer bygedra het. Eienaardig hoe vasthoudend Frans in die hoër kringe was - weer die beskawingswerking - en tot aan die end van die sewentiende eeu is dit nog in geregshowe gebruik. Hier het die nasionale lewe wat van binne uit gegroei het, 'n eie vorm geskep en laat verdwyn wat nie binne sy assimilasieveld gebring kon word nie.

'n Baie interessante historiese parallel vir ons kultuurgeskiedenis word in die antieke wêreld gevind. Die Romeinse boer, kragtig, familievas, konserwatief, getrou, 'n lewensbeskouing toegedaan wat verwant is aan dié van ons eie boere,(27) het te staan gekom voor die vraagstuk van aanpassing by 'n ouer hoogstaande oorseese kultuur. Wat was sy houding? In die begin 'n vreesagtige - vrees vir die ou-Romeinse modes en sosiale gebruike, vrees dat hy sal ingesluk word deur die magtige en bekoorlike Helleense beskawingsvorme. So kla een van die vroeë digters dat mense na sy dood sal vergeet het om Latyn te praat. Maar die Helleense mode neem toe: alle kultuur word sinoniem met wat Grieks is. (Net soos in die Kaap voor die Nasionale Beweging, kultuur sinoniem was met alles wat Engels was). Toe kom die reaksie: Cato wil alles wat Grieks is uitsmyt: die ou boerekultuur moet herlewe. Dit was gedeeltelik 'n gesonde reaksie; maar isolasie het tog onmoontlik geblyk en, soos die toekoms sou toon, onwenslik. Want toe die twee kultuurstrome uiteindelik harmonies naas mekaar gevloei het in dieselfde persoon, was daar 'n verryking en 'n opbloei soos nog nooit tevore nie. 'n Cicero en 'n Vergilius is absoluut bodemvas, hulle behou wat kenmerkend is van die ou Romeinse boer; maar hulle voeg daarby alle Griekse kuns en wetenskap wat by die volksaard aanpas.[12]) Dit wil sê hulle is beter mense as die Romein van die ou tyd, wat dikwels kultuur ontbreek het, en die Griek, wat dikwels karakter gemis het. En is dit nie waar nie dat die beste tipe Afrikaner wat bodemvas gebly het, maar ook verruiming gesoek het, 'n kenmerkende aantreklikheid het wat hom tot 'n gesonde kultuur-persoonlikheid maak?

Laat ons net getrou bly aan die Idee, laat alle Afrikaners die werkende krag daarvan voel, dan word uit die kultuurdraende gemeenskap deur sy besinners en kunstenaars groot dade verrig, dan word hulle gedra deur 'n daadwerklike krag en skep waardes wat die stempel dra van Afrikaanse ervaring. Klink dit te hoopvol? Beslis nie. Ons het die werking van die tyd aan ons kant; maar daarby moet ons ook arbei, onafgebroke en met liefdevolle geduld. Deur die arbeid sal ons ons kultuur groot maak en dit uitstralingskrag gee. Daar is niks groters, niks wat meer verheffend is en 'n volk meer versuiwer nie as trouheid en diensbaarheid aan 'n gedagte wat gegroei het uit eie lug en aarde, uit eie leed en belewing, uit eie hoop en drome, in wat klink soos 'n dwingende oproep deur die halle van die geskiedenis. Daardie gedagte het Afrikaners van ons gemaak, ons liefde vir ons taal, vir ons velde, vir ons berge en hemel gegee, dit spreek uit die beskeidenste Afrikaanse gediggie en dit dreun in dle heldedade van ons volk. Dit is 'n magtige, lewende iets wat gevorm het en (28) sal bly vorm, selfs diegene wat vandag geen Afrikaners is nie. Dit is die waarborg vir ons geloof in die toekoms, dit is die krag wat nasies maak. Eers die verwarring en vernedering, dan die wil tot verset en drang tot skepping, dan die kragbewustheid en geestesdaad - en dan die oorwinning! (29)

VOETNOTAS:
  1. Philosophie der Vlaamsche Beweging, Max C. G. Lamberty, Brugge. 1933, bls. 12.
  2. Deel I, bls. 139
  3. In Engels is die gewone vorm Civilization; culture word selde gebruik. Ook in Frans het Civilisation gewen op Culture. So ook in Italiaans. Duits maak net soos Nederlands en Afrikaans 'n onderskeid tussen Kultur en Civilisation (beskawing)
  4. T.a.p. Bls. 142.
  5. T.a.p. Blss. 142-143
  6. Dictionary of Philosophy and Psychology, Edited by J. M. Baldwin, New York, 1911. p. 245.
  7. C. Rose maak in sy Four Years in Southern Africa reeds voor 1829 die opmerking: „Though the elder Africanders keep a sore and sullen distance, yet their sons and daughters move with the march of events (if not of intellect) and make and attempt at imitation not always unsuccesfull. It is thus that the society of Cape Town is a copy of English society.”
  8. Lamberty, t.a.p., 3 p. 31.
  9. Selfs Engelssprekende skrywers, soos die Hobsons, skrywe oor die veldlewe in Afrikaans, omdat dié taal die atmosfeer van die veld so suiwer kan suggereer.
  10. Wat willen de Vlamingen? door Mr. R. van Genechten, Amsterdam, 1925, p. 16.
  11. Language and Race Problems in South Afica. Den Haag, 1934. p. 40-41.
  12. Vgl. Vergil in the Experience of South Africa T.J. Haarhoff