Afrikaner-Volkseenheid/Voorwoord

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Inhoud Afrikaner-Volkseenheid
Voorwoord
deur D. F. Malan
Hereniging


Op Saterdag, 7 Februarie 1959, is dr. D. F. Malan heengegaan.

Daarmee is 'n lewe van diens beëindig, 'n lewe wat op onbaat-
sugtige, onvervalste wyse aan Suid-Afrika gewy was.
Daar was seker min leiers van volke wie se lewens só nou
met dié van hulle volke verknoop en ineengestrengel was soos
die lewe van dr. Malan met dié van die volk van Suid-Afrika.
Trouens, die loopbaan van dr. Malan gedurende die veertig
jaar van sy aktiewe openbare lewe, 1914-1954, verteenwoordig
in hoë mate die staatkundige en kulturele beléwenis van die
Afrikanervolk in dié tyd.
In hierdie boek volg ons dr. Malan waar hy rustig en
teruggetrek in die vrede van Môrewag op Stellenbosch, oor
die lewe terugkyk. Ons volg hom waar hy begin skryf: oor
sy vroeë politieke ervaringe, oor die jare van oorlog en rebellie,
oor die oprigting van Die Burger, Ons lees voort tot waar hy
by die laaste dramatiese slottonele kom: bondgenootskap en
eenwording, afskeid en vaarwel.
In die tyd toe dr. Malan met die laaste hoofstukke besig
was, was sy liggaamlike kragte nie meer wat dit vroeër was
nie. Dit voel ons ook aan as ons hierdie laaste hoofstukke lees.
Oor die groot dinge waarmee hy te doen gehad het, wei hy
nie meer so breedvoerig uit nie. Ons kry die gevoel dat die
werk nie met soveel besonderhede afsluit soos ons dit graag
wou hê nie. Nietemin maak ons die boek toe met 'n gevoel
diepe dankbaarheid in ons harte: diepe dankbaarheid
omdat die Here die groot, ware leier van ons volk gespaar het
om eiehandig vir ons sy herinneringe in skrif vas te lê.

In Afrikaner-Volkseenheid en My Ervarings op die Pad daarheen
lees ons dr. Malan se eie woorde. Dit is woorde van wysheid,
woorde van besieling. Daarmee sal dr. Malan, al is hy nie
meer met ons nie, vir ons in ons staatkundige en kulturele
toekoms, tot vérweg na vorentoe, nog altyd ware lig en leiding
gee.

Stellenbosch, 25 Mei 1959 H.B. THOM