Afrikaner-Volkseenheid/Nuwe Partyverhoudings Met Groot Gevolge

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Herenigingskongresse Afrikaner-Volkseenheid
Nuwe Partyverhoudings Met Groot Gevolge
deur D. F. Malan
Negentienhonderd Ses-en-twintig


Die jaar 1924 was uiters merkwaardig op party-politieke gebied,

omdat dit 'n min of meer radikale verandering in Suid-Afrika
se partyverhoudings en gevolglik ook in sy regering teweeg-
gebring het. Die Smuts-Unionistiese regering het geval, en die
koalisie van die Nasionale Party en die Arbeiders het geseëvier.
Genl. Hertzog het Eerste Minister geword, eventueel met drie
Arbeiders, Creswell, Boydell en Madeley (later Sampson), in
sy kabinet. Die ander sewe was Nasionaliste, van wie ek een
was. Hierdie kombinasie was nie toevallig of geforseer nie. Dit
het gekom as gevolg van uiters ernstige gebeurtenisse op die
Witwatersrand, wat die vernaamste vesting was van die
Arbeidersparty, maar ook van die goudmynmaatskappye en
hul magtige, met mekaar geassosieerde groot kapitaliste.
Botsings was onvermydelik, veral waar goedkoop arbeid deur
die een kant beskou was as 'n bate en deur die ander kant as 'n
gevaar, en waar dit by toeneming beskikbaar was of beskikbaar
gemaak kon word weens die aanwesigheid van 'n groot en op
lae ekonomiese peil lewende naturellebevolking. Die blanke
arbeiders het beskerming gesoek, en met behulp van hul eie
organisasie en van die Regering dit ook gevind in die bepaling
dat by die hantering van masjienewerk bokant 'n bepaalde
graad, alleen blanke arbeid gebruik mag word. Vir die druk
van die kapitalistiese groep was die Smuts-regering egter oor-
gevoelig. Die beskerming is verswak. Stakings en ander ernstige
onluste het gevolglik ontstaan. Genl. Smuts, wat nooit aan 'n

oormaat van geduld gely het nie, het die Verdedigingsmag
gemobiliseer en op die toneel gebring. Daar is geskiet en
gearresteer en bloed het gevloei. En, soos 'n eersterangse
diktator, het genl. Smuts ses Arbeidersleiers eiemagtig en
sonder verhoor op 'n skip laat sit en uit die land verban. Vir
hierdie onwettige daad moes hy later indemniteit van die
Parlement kom vra, wat hy alleen ná 'n lange en skerpe debat
verkry het. Die Nasionaliste, wat deurgaans simpatiek teenoor
die Arbeiders en hul regmatige eise gestaan het, het saam met
hulle die optrede van genl. Smuts en sy regering veroordeel.
Die politieke uitwerking hiervan kon nie uitbly nie, en dit het
ook nie. Dit het hier die fondamente van ons volksvryheid
gegeld. Die Nasionale en die Arbeidersparty het gevolglik
nader aan mekaar gekom te staan, en het uiteindelik besluit
om 'n ooreenkoms tot samewerking met mekaar aan te gaan.
Die eleksie wat gevolg het, het genl. Smuts uit die saal gelig
en sy teenstander aan die bewind gebring.
Toe die wenslikheid van 'n koalisie met die Arbeiders die
eerste geopper was, was ek beslis huiwerig, en ek het dit ook
publiek verklaar. Ek het gevoel dat so iets gemaklik tot 'n
kompromis op beginsels kon lei, en daartoe was ek nie bereid
nie. Weiering om steun van buite te aanvaar, kon moontlik 'n
lang en moeilike stryd kos voordat die oorwinning behaal word,
al sou dit uiteindelik ook seker kom, maar aan die ander kant
is die pad van 'n beginsel-kompromis gewoonlik ook die pad
van die dood. Toe ná onderhandeling 'n veilige basis vir die
ooreenkoms gevind was, was ek daarom ook tevrede. Ek het
my toe hart en siel daarmee vereenselwig, en die koalisietyd-
perk, wat ongeveer nege jaar geduur het, was vir my geluk-
kige jare. Aanvanklik was die Arbeiders se ledetal nie minder
as 21 nie. Die verhouding tussen my en my Arbeiderkollegas
was uitstekend. Hulle en hul partygenote in die Parlement
was getrou, selfs toe dit tydens die vlagstryd, veral in Natal,
waar 'n belangrike deel van hul krag gelê het, sware offers

en selfs setels vir hulle gekos het. In werklikheid sou ek sonder
hul steun die wet beswaarlik deur die Parlement gekry het.
Ter wille van die ooreenkoms is daar geen beginsel prysgegee
nie. Alleen is daar onderneem dat in die Parlement self geen
van beide kante op daadwerklike aksie sou aandring op punte
waarop hulle van mekaar verskil nie. Buitekant sou hulle aan
geen restriksies onderhewig wees nie. Vir die Nasionale Party
het dit daardie vryheid van republikeinse propaganda beteken,
binne- sowel as buitekant die Parlement, waarop hy altyd
aangedring het, maar wat die S.A.P.-ondersteuners op die
herenigingskongresse hom nooit wou gun nie. Aan die positiewe
kant is daar verder ooreengekom omtrent 'n vrugbare program
van aksie, wat onder andere ingesluit het 'n simpatieke houding
teenoor beskerming van die werksman sowel as die oplossing
van Suid-Afrika se twee mees brandende kwessies, te wete die
sogenaamde armeblanke- en die nie-blanke-vraagstuk. Die
algemene karakter van die ooreenkoms was daarom besker-
mend, opheffend en wat sy soort vraagstukke betref, ook
oplossend. Beide partye het in mekaar se rigting beslis breër
geword, veral in één besondere opsig. Die Nasionale Party,
wat vroeër byna uitsluitend belang gestel het in die armeblanke-
vraagstuk as sodanig en volkskongresse in verband daarmee
georganiseer het, en wel in sover as dit hom geopenbaar het in
die trek van die platteland na die stede, het nou begin belang
stel en aandag gee ook aan arbeidsvraagstukke. Omgekeerd
weer het die Arbeidersparty, wat uitsluitend 'n stedelike party
was, in sy insigte en optrede ook breër geword, en geleer om die
vraagstukke van werk en armoede in stad en platteland meer
as één samehangende geheel te beskou. As ons dink in terme
van volkseenheid, dan was dit stellig alles ten goede.
Vir geruime tyd het alles uitstekend goed gegaan. Die onder-
linge gees van vertroue en samewerking tussen ministers het
niks te wense oorgelaat nie. Die Arbeider-ministers - aanvanklik
twee, te wete Creswell en Boydell, en later, met byvoeging van

Madeley, drie - was bekwaam. Maar - die dood was in die pot.
Niemand het meer gedoen om die ooreenkoms tussen die
Nasionaliste en die Arbeidersparty tot stand te bring nie as
Tielman Roos, die leier van die Transvaalse Nasionale Party.
Hy het egter altyd sy eie metodes daarop nagehou. In die
Kabinet het hy meesal sy gedagtes vir homself gehou, maar
buitekant was hy met die hou van publieke en ook minder
publieke vergaderings waarskynlik die bedrywigste minister
wat Suid-Afrika nog ooit gehad het. En, tot ontsteltenis van sy
kollegas, het hy daar dikwels net die teenoorgestelde verkondig
as wat net kort tevore die oorwoë mening van die Kabinet was.
In 'n bekende kafee in Pretoria het hy gereeld sy intieme
politieke vriendekring ontmoet, wat onder ons ander bekend
gestaan het as die Roos-kabinet, en bestaan het uit 'n aantal
bedrywige Pretoriase en Johannesburgse aanhangers van hom.
Met betrekking tot politieke beleidsake was hy daar blykbaar
baie openhartig. Van my meer besonderlik, soos dit spoedig
geblyk het, was hy geen vriend nie, maar ook nie van Piet
Grobler en Kemp, die Ministers van Lande en Verdediging nie.
Elke jaar by die verkiesing van die Transvaalse Nasionale
Party-leier was die eersgenoemde, hoewel altyd sonder sukses,
sy opponent. Teen my het hy nie by name opgetrek nie, maar
toe hy op vergaderings begin te waarsku teen die invloed van
,,die Suide", bedoelende Kaapland, wat dan kwansuis ten
gunste van kleurgelykstelling sou wees, het ek dit nodig geag
om by wyse van 'n personderhoud hom openlik tereg te wys.
Daarvan is daar dan ook verder niks meer gerep nie.
Dit was egter nog nie die end van die storie nie. Roos was
blykbaar bitter ontevrede met die loop van sake in verband met
die verteenwoordiging van die Arbeidersparty in die Kabinet.
Die twee leiers, Creswell en Boydell, het na sy oordeel teenoor
sy afwykende rigtings te afsydig gestaan, en toe daar in die
Arbeidersparty 'n skeuring begin te ontstaan tussen die offisiële
(Creswell) groep en die sogenaamde Councilliete (meer linkse

seksie), het hy openlik aan die laaste sy ondersteuning gegee.
Vir homself was daardie keuse egter fataal. 'n Vakature het in
die Kabinet ontstaan as gevolg van die gedwonge uittrede van
Madeley, wat in stryd met die neergelegde regeringsbeleid, en
as Minister van Arbeid, offisiële erkenning aan 'n naturelle-
vakbond verleen het. Roos het dit toe so bewerkstellig dat die
Arbeiderskoukus 'n persoonlike vriend en bewonderaar van
hom as die nuwe Minister aanbeveel. Ongelukkig vir hom was
hierdie persoon om persoonlike redes by genl. Hertzog onge-
wild. Die aanstelling het daarop gevolg van Sampson, wat as 'n
Creswelliet bekend gestaan het. Onmiddellik het daar toe 'n
eersterangse krisis gevolg. Roos wou ten ene male bedank. Hy
het geweier, soos hy gesê het, om in 'n kabinet te sit, ,,wat deur
Creswell en Malan gedomineer word”. En dit was met moeite
dat genl. Hertzog hom beweeg het om van sy voorneme af te
sien. Nie lank daarna nie het hy om gesondheidsredes vir
behandeling na 'n bekende badplaas in Duitsland gegaan.
Daarvandaan het hy sy bedanking as Minister aan genl.
Hertzog gestuur. By sy terugkeer is hy toe as gewese Minister
van Justisie tot Appèlregter benoem - 'n pos wat intussen
vakant geword het. Daarmee het 'n kleurryke persoonlikheid
uit die politieke lewe van ons land verdwyn - maar alleen om
later weer interessante, of moet ons liewer sê, skokkende
geskiedenis te maak ! Intussen het die Arbeidersparty, wat op sy
hoogtepunt nie minder as 21 lede in die Volksraad getel het nie,
gekwyn en langsamerhand teruggesak weens sy geringe ledetal
tot 'n toestand van feitlike magteloosheid.