Afrikaner-Volkseenheid/Geloofsdrang

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Afskeid en Vaarwel Afrikaner-Volkseenheid
Geloofsdrang
deur D. F. Malan
Aanhangsel


Glo in God!
Glo in jou volk!
Glo in jouself!
Hierdie magtige wekroep is die eerste keer gehoor by daardie historiese volksfees wat op 3 Mei 1937 by Winburg gehou is ter gedagtenis aan die verkiesing van Piet Retief tot leier van die Voortrekkers op die vooraand van hul vertrek oor die Drakensberge. Daardie fees was bedoel om uitdrukking te gee aan die innerlike gees wat die Voortrekkers besiel het, en wat leiers te voorskyn geroep het van die stempel van Piet Retief, Andries Pretorius en Sarel Cilliers, leiers vir wie die Groot Trek veel meer was as 'n blote gebiedsverowering. Vir hul immers was dit ook 'n geloofsdaad, en die aanvaarding van 'n Godgegewe taak.
Daar is 'n jaarlikse feesdag wat die Suid-Afrikaanse volk as 'n plegtige nalatenskap van die Voortrekkers aanvaar het. Hoewel dit nie as 'n godsdienstige feesdag gevier word nie, dra dit tog kragtens sy naam (Geloftedag) en oorsprong 'n diep godsdienstige betekenis. Deur hierdie dag ook by die totstandkoming van die Unie te aanvaar, kan daar by die Suid-Afrikaanse volk by hierdie sy nuwe geboorte geen ander bedoeling gewees het nie as om vir alle toekomende geslagte te kenne te gee dat hy as 'n Christelike volk geken wil wees, en dat hy hom tot daardie bepaalde lewensrigting verbind het. Dis met ander woorde 'n volk met 'n roeping. Hy mag en wil dieselfde ook aan geen ander volk ontsê nie, maar in sy eie geval wil hy dit openlik erken en die verpligtinge wat daaruit voortspruit, blymoedig aanvaar.
Roepingsbewustheid, mits dit in die regte bane gelei word, is vir enige volk onontbeerlik, net soos vir enige individuele mens. Dit alleen gee aan hom 'n gevoel van eiewaarde en skep 'n innerlike krag wat berge kan versit. By Van Riebeeck en die eerste volksplanters was dit stellig nie afwesig nie, en in onse tyd, met sy meer gevorderde maar ook meer ingewikkelde toestande, mag dit stellig nie verlore gaan nie.
Agter ons Suid-Afrikaanse volksbestaan en geskiedenis sit daar 'n doel. Daarvan moet ons as volk bewus wees, en dit na die beste van ons vermoë probeer uitlewe.