Afrikaner-Volkseenheid/Die Vlagstryd

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Parlementêre Optrede Afrikaner-Volkseenheid
Die Vlagstryd
deur D. F. Malan
Ons Eie Volkslied


’n Eie kenmerkende nasionale vlag is die algemeen erkende simbool van eie nasieskap, en in die geval van ’n vrye en internasionaal erkende volk is dit onontbeerlik. Dat vir 16 jaar ná Unie ons nog sonder ’n eie vlag kon wees, kan nog verstaan word, omdat gedurende daardie tyd Suid-Afrika nog ’n onderhorige land was. Ná 1926 en veral ná die Statuut van Westminster was dit egter, indien dit te lank so sou voortduur, ’n vernedering en ’n bewys van gebrek aan nasionale selfrespek. Vir die Nasionale plus Arbeiderspartyregering, wat toe aan die bewind was, was die verkryging van 'n eie Suid-Afrikaanse vlag daarom ’n saak van eer en plig. As Minister van Binnelandse Sake in die Hertzog-kabinet het die taak daarom ook hoofsaaklik op my skouers gerus. Ek het dit blymoedig en hoopvol aanvaar, weinig beseffende dat, met myself as die middelpunt, dit ’n stryd sou beteken, na binne sowel as na buite, só ernstig as daar in ons politieke geskiedenis waarskynlik nie ’n tweede voorgekom het nie.

In hierdie strydperk was verteenwoordig sowat alle botsende standpunte op staatkundige en politieke gebied, maar vir die geskiedkundige navorser verskaf dit ook ’n waardevolle beeld van die toestande wat daar toe geheers het, en die magte, individueel sowel as kollektief, wat daarop invloed uitgeoefen het.

Ná afloop van die vlagstryd en die plegtige vlaghysing op 31 Mei 1928 het ek dit nodig geag om my ondervindings in verband daarmee te boek te stel. Alles was toe nog vars in my geheue en vir die geskiedskrywer van die toekoms, so het ek geoordeel, kon dit 'n onontbeerlike hulp wees om sy weg te vind deur die massa van tendensieuse en misleidende platformverklarings en koerantberigte uit ’n tyd van opgewondenheid en heftige partyskap. Daardie aantekeninge is die vernaamste bron van my huidige uiteensetting, wat, sover as dit te pas mag kom, dit woordeliks sal volg.

DIE EERSTE STAPPE[edit]


By die begin het ek alle rede gehad om hoopvol te wees. Die wenslikheid van 'n eie vlag was onder bespreking reeds by die herenigingskongresse wat die inswelging van die Unionistiese Party deur die S.A.P. in 1921 voorafgegaan het. By die Paarlse vergadering, waar die onderskeie partykongresse gelyktydig vergader en regstreeks met mekaar onderhandel het, was ’n eie vlag een van die punte van ooreenkoms waaromtrent daar geen verskil tussen die twee partye was nie. In daardie selfde tydperk het genl. Smuts, wat toe net Eerste Minister geword het, hom op verskillende plekke uitgelaat ten gunste van ’n eie vlag, en sowat ’n jaar later het hy op Vryheid in antwoord op vrae aan hom gestel, selfs sover gegaan om te verklaar dat hy ten gunste was van 'n ,,skoon vlag’’, dit wil sê ’n eie vlag waarvan die Union Jack geen deel sou uitmaak nie. Aan besluite ten gunste van 'n eie vlag het dit in S.A.P.-kringe in daardie tyd nie ontbreek nie. Inbegrepe hierby was selfs die Transvaalse Provinsiale Raad met ’n destydse S.A.P.-meerderheid. Die enigste party wat buite gestaan het, was die Unionistiese, maar selfs hy het nie verder gegaan nie as om ’n veelbetekenende stilswye te bewaar, vermoedelik met die oog op die toe nagestreefde reoriëntasie en amalgamasie met die S.A.P., wat later toe ook werklik plaasgevind het.

’n Eie vlag moes die simbool wees van ons eie nasieskap, maar op daardie tydstip, hoewel ons sedert 1926 reeds ’n erkende soewerein onafhanklike volk was, het ons nog geen wettelik omskrewe nasionaliteit gehad nie. Daarsonder sou ’n vlagwet sonder 'n behoorlike grondslag wees. Die wetsontwerp wat ek in 1925 ingedien het, het daarom die daarstelling van ’n eie Suid-Afrikaanse nasionaliteit beoog met die volgende klousule daarin: ,,Die Goewerneur-generaal kan by kennisgewing in die Staatskoerant ’n tekening van die Nasionale vlag van die Unie van Suid-Afrika voorskrywe.’’ Die bedoeling was om ná die aanname hiervan 'n verteenwoordigende Kommissie te benoem om die Regering te adviseer met betrekking tot 'n geskikte vlagontwerp. Die uiteindelike beslissing sou dan wel by die Regering berus, maar die gevare van ’n party-politieke benadering in en buite die parlement sou langs daardie weg vermy word, terselfdertyd sou daar egter in 'n geslote maar verteenwoordigende kring en in 'n kalmer atmosfeer 'n genoegsame mate van raadpleging wees. Die indiening van die wetsontwerp het ongelukkig egter die gevolg gehad dat genl. Smuts as opposisieleier genl. Hertzog genader het met die versoek om uitstel van die saak vir ’n jaar, met die versekering dat hy die beginsel van ’n eie vlag aanvaar en dat hy ten gunste daarvan was dat tekenings intussen gevra en ’n gesamentlike kommissie benoem sou word om 'n keuse te doen. Ek wil hierby aanmerk dat, ten spyte van wat daar later gebeur het, ek geen rede het om te glo dat genl. Smuts, op hierdie tydstip altans, besig was om 'n party-politieke spel te speel nie. Volgens my oortuiging kon aan hom niks ergers toegedig word nie as die natuurlike afkeer van 'n opposisieleier teen enige krediet wat die Regering kan verdien vir die aanpak en deursit van ’n groot en goeie saak, en die gevolglike begeerte om in so ’n groot mate as maar moontlik is, in daardie krediet te deel. Sy smalende aanmerking in een van sy toesprake oor die Regering se voorneme om deur wetgewing goeie Afrikanerskap in die lewe te roep, skyn hierdie gemoedstemming aan te dui. Maar hoewel die posisie klaarblyklik delikaat was, en vol van allerlei moontlikhede, was daar tog te min aanduiding van komende moeilikhede en was genl. Smuts self te diep gekompromitteer om die sienswyse te regverdig dat sy voorstel nie te goeder trou gemaak was nie. In ieder geval is dit ’n feit dat hy sonder aarseling sy instemming te kenne gegee het met die volgende skriftelike verklaring wat ek by die terugtrekking van die wetsontwerp in die Volksraad gedoen het, en wat ek vooraf aan hom vir sy goedkeuring voorgelê het:

,,The Government are today as deeply convinced as ever of the necessity of passing at an early date legislation for outward expression and symbol of our independent nationhood and our accepted national status. In their opinion such a measure should not be delayed longer than the beginning of next year's session of Parliament. The Government further realise that a South African national flag and the Independent Green Party of Fredericksburg Virginia is destined to be the link binding together the different elements of the population in one common South African patriotism, and that as such it must as far as possible from the commencement occupy a place above racial and political divisions. They deem it therefore of the utmost importance that before the country is committed to any particular design every possible step shall be taken to secure the greatest possible unanimity with respect to the procedure to be followed, as well as to the ultimate choice. With this end in view the Prime Minister has approached the Hon. the leader of the Opposition, who was kind enough to intimate his acceptance of the principle of a South African national flag and his willingness to co-operate in a combined effort to obtain a unanimous and nonparty decision. As a result of these conversations the government have decided to withdraw the Bill for the present in the hope that after common consultation and the taking of any other preliminary steps, which may be decided upon, it will be possible to reintroduce the Bill at the beginning of next session in a form so altered as to embody the description of the South African national flag, the design of which shall be generally accepted as the united choice of all sections of the nation through their recognized political leaders.’’

Kort ná die sessie het ek per brief genl. Smuts herinner aan ons verstandhouding om gedurende die reses geleentheid te gee vir die insending van ontwerpe; en wenke in verband daarmee wou ek nou met hom bespreek. Die korrespondensie tussen ons het egter gou aangetoon dat hy op sy beste baie halfhartig sou meewerk. Alles was vir hom ,,te oorhaastig’’. Meer tyd moes gegee word; sonder raadpleging van sy politieke vriende kon hy moeilik persone in die gesamentlike kommissie benoem; en dit kon moeilik voor die komende sessie geskied, ens. Bk was tegemoetkomend, maar het tog ook tot die besliste oortuiging gekom dat van sy beloofde medewerking daar nie veel verwag kon word nie, maar dat inteendeel ek op sy stille teenwerking voorbereid moes wees.

Intussen het die Engelse S.A.P.-koerante al duideliker laat blyk dat hulle met ’n eie vlag maar bloedmin ingenome was, en dat alleen die insluiting van die Union Jack op ’n prominente wyse daarop enige bevrediging aan Engelssprekende Suid-Afrika sou gee. Genl. Smuts se onmag teenoor pressie van daardie kant het ek maar alte goed besef. My voorstel om die keuse in die eerste instansie in die hande van 'n ekspertekommissie te stel, wou hy nie aanneem nie. Sy teenvoorstel was toe om die keuse in die hande te stel van ’n onoffisiële konferensie van partyverteenwoordigers, wat dan ’n klein kommissie van eksperte sou kon raadpleeg. Self het ek die intrek van die party-politieke element as bedenklik en gevaarlik beskou, maar om taktiese redes het ek dit aanvaar met die gedagte dat die eindbeslissing in ieder geval by die Regering sou berus.

As gevolg van genl. Smuts se stremmende houding kon die Konferensie onmoontlik voor die nuwe sessie bymekaarkom. Dit het bestaan uit die volgende parlementslede: dr. N. J. van der Merwe, Willie Rood en ekself van die Nasionale Party; Sampson en Reyburn van die Arbeidersparty; en Patrick Duncan, Joël Krige en sen. sir Charles Smith van die S.A.P. Die gees op die Konferensie was deurgaans vriendskaplik. As lede van die eksperte-kommissie van advies is benoem prof. dr. Blommaert en prof. Ritchie, albei op die gesamentlike voorstel van genl. Smuts en myself. Albei het aangeneem, hoewel prof. Ritchie te kenne gegee het dat hy van heraldiek niks af weet nie. Hierop het die S.A.P.-verteenwoordigers op die Konferensie beswaar teen sy benoeming gemaak en gevolglik is in sy plek prof. Eric Walker met eenparige stemme benoem.

Die beginselgrondslag moes nou deur die Konferensie bespreek word, en dadelik het toe aan die lig gekom die diepgaande verskil tussen die Nasionale en die S.A.P.-standpunt. Ek het voorgestel om die beginsels neer te lê dat die vlag niks moes bevat wat aan die stryd en verdeeldheid van die verlede sou herinner nie, maar dat inteendeel sover moontlik uitdrukking gegee moes word aan wat tot een gemeenskaplike vaderlandsliefde kon verenig. Om hierdie rede moes nòg die Union Jack nòg die ou Republikeinse vlae daarop verskyn. Die verteenwoordigers van die S.A.P., min of meer gesteun deur Reyburn, wou aan die ander kant in die vlag inbegrepe sien een of ander representasie van die Britse konneksie. Wat dit moes wees, het aanvanklik by die besprekings nie alte duidelik uitgekom nie. Moontlik het die S.A.P.-verteenwoordigers toe nog gehink op twee gedagtes van 'n Union Jack in 'n dominerende posisie in die bo-linkerhoek en ’n kroon, al twee waarvan op ingesonde tekenings verskyn het. Die werk van die ekspertekommissie het hom beperk tot 'n rangskikking van die betreklik klein getal insendings wat nie sodanig in konflik met die heraldiese reëls was dat hulle nie in aanmerking kon kom nie, en verder tot die verskaffing van informasie op tegniese punte aan individuele lede van die Konferensie. Tot 'n versoek aan die kant van die Konferensie om 'n aanbeveling te maak, het dit nie gekom nie. Intussen het dit egter uit private gesprekke geblyk dat uit ’n artistieke oogpunt die Walker-vlag, met of sonder die kroon, die meeste byval gevind het by konferensielede en by ander persone wat die insendings gesien het.

DIE KEUSE[edit]


’n Keuse moes nou gedoen word, en ten spyte van al ons pogings om dit te voorkom, het die sluimerende party-politieke oorwegings hulle nou laat geld. ’n Voorbeeld hiervan was die houding van mnr. Joël Krige. Privaat het hy my verseker dat hy op die beginsel dit volkome eens met my was, maar dat hy teen die gevoel van die Engelssprekendes nie kon ingaan nie. Oor die gevoel van die Afrikaanssprekendes vir wie al die vernedering en smart van geslagte deur die Union Jack gesimboliseer was, was hy blykbaar minder bekommerd. Die bespreking was grondig en openhartig, maar altyd besadig. Ten slotte het daar lig opgegaan, wat ons, myns insiens, hoofsaaklik te danke gehad het aan dr. N. J. van der Merwe. Sy suggestie was dat ons die Walker-vlag, soos dit ingestuur was, sonder die kroon moes aanneem as die vlag van Suid-Afrika, en dat ons daarby wettelik moes bepaal, dat by alle geleenthede spesifiek bedoel om uitdrukking te gee aan die Britse konneksie, ons ook offisieel die Union Jack moes hys. Dit sou dan beteken dat byvoorbeeld op ,,Empire-dag’’ die Union Jack naas ons eie vlag sou waai. Hierdie voorstel, wat ek self uiteindelik ingedien het, het dadelik die instemming verkry ook van Reyburn, en die drie S.A.P.-verteenwoordigers was daarmee blykbaar ook so tevrede dat hulle hul persoonlike instemming daarmee te kenne gegee het. Die konsessie sou dan geld ook vir Koningsverjaardag, wat alreeds 'n publieke vakansiedag was. Hulle wou nou slegs 'n bietjie tyd hê om hul hoofleiers se instemming ook te verseker alvorens die ooreenkoms finaal te maak. Hulle het selfs daarmee ingestem dat ek ons voorlopige ooreenkoms intussen in wetsvorm kon laat opstel om op dié wyse ons finale oorwegings te bespoedig.

Ons het in ons hart gejuig. Maar helaas ! Daardie raadpleging met die S.A.P.-leiers agter die skerms was fataal. Toe ons onmiddellik ná die Paas-vakansie weer vergader, was die stemming totaal verander. Die S.A.P.- verteenwoordigers wou toe niks minder hê nie as die Union Jack in 'n dominerende posisie in die vlag self, hoewel hulle op hul floue wyse daarby hul bereidwilligheid te kenne gegee het om die ou republikeinse vlae ook op te neem. Ons was nou verder agteruit as toe ons begin het. Verdere onderhandelings het nou geskyn nutteloos te wees en die Regering moes uiteindelik nou maar die volle verantwoordelikheid op homself neem. 'n Gesamentlike verklaring daaromtrent moes egter nog aan die pers gegee word tot inligting van die wagtende publiek. In verband hiermee was dit opvallend hoe angsvallig die S.A.P.-verteenwoordigers daarop aangedring het dat niks daaroor gesê moet word dat hulle op die insluiting van die Union Jack geïnsisteer het nie. Die rede hiervoor was blykbaar die vrees dat binne hul party-geledere daar ’n groot seksie was wat met die Nasionale Party-standpunt dit volkome eens was.

Ek was nou van twee dinge oortuig. Die eerste was dat volgens die meriete ’n oplossing van die vlagvraagstuk bevredigend vir alle Afrikaners, Engels- sowel as Afrikaanssprekend, heeltemal moontlik was. En die tweede dat daar binne die geledere van die S.A.P. ’n uiterste en onversoenlike seksie was wat beslistheid en krag genoeg besit het om die gematigde elemente te oorweldig. Die posisie sou uiteindelik afhang van genl. Smuts, maar ek het vermoed dat as hy enige kans daarmee sou sien om die Arbeiders, hoofsaaklik Engelssprekend, van ons koalisie met hulle afvallig te maak, hy nie sou omgee om ’n beroep op die Engelse rassegevoel te doen nie, mits dit maar op so 'n wyse gedoen kon word dat hy aan sy ekstremiste kon kapituleer sonder om sy Afrikaanssprekende volgelinge binne ons kamp te ja.

HERNIEUDE POGING[edit]


Ná die mislukking van die konferensie het ek dadelik stappe gedoen om die Vlagwetsontwerp weer in te dien, hierdie keer egter met volledige bepalings omtrent die vlag. Om taktiese redes, sowel as volgens die meriete, kon ek nou niks beters doen nie as om die voorstel wat op een tyd deur die Konferensie so goed as aangeneem was (die dr. Van der Merwe-voorstel) aan die Parlement voor te lê in die hoop dat die inherente regverdigheid en redelikheid daarvan die ondersteuning vir ons sou verwerf van alle onpartydige en regdenkende Suid-Afrikaners. Terugtrek kon ons in hierdie stadium nie meer nie, aan die een kant omdat die idee van 'n eie vlag in die onmiddellike toekoms te kan besit, die diepste snare in die volkshart geroer het, en aan die ander kant omdat selfs uitstel klaarblyklik afstel moes beteken, en buitendien nog as ’n party-politieke wapen teen ons gebruik sou word. Die dominerende seksie binne die S.A.P. wou klaarblyklik geen eie vlag vir Suid-Afrika hê nie, en as hul gedwing sou word om een te aanvaar, dan sou hulle dit alleen doen as so ’n vlag as middel sou dien om Suid-Afrika se vaskoppeling, so nie self sy blywende onderhorigheid aan Engeland te simboliseer. Om te wag op sy instemming met enige voorstel wat tegelyk ook Afrikaners sou bevredig, sou nuttelose tydverspilling wees en onherstelbare skade berokken aan ons volksontwikkeling. Buitendien was die tyd nou so gunstig vir ’n oplossing as ons dit ooit kon verwag, omdat met die samewerking van die Arbeiders ons nou alle kans sou hê op die ondersteuning van 'n aanmerklike seksie van die Engelssprekendes.

Toe ek my voorgestelde wetgewing voorlê, was die Kabinet eenstemmig daaroor, hoewel ek my nie kan herinner dat Tielman Roos iets tot die bespreking bygedra het nie. Die Nasionale Party-koukus, daarna gehou, was nie alleen eenstemmig nie, maar byna onkeerbaar geesdriftig. Die Arbeiders het eenparig besluit om by ons te staan, met uitsondering, na ek verneem het, van George Hay. Die Engelse koerante het egter nou dubbel aktief geword in hul opposisie, maar nou ook gelei deur die ,,Sons of England’’, wat hul organisasie heelhartig tot beskikking gestel het.

Onder geweldige belangstelling van die publiek het die debat in die Volksraad plaasgevind. Die stel van ons standpunt deur my is goed ontvang. Aan die Opposisie-kant is gepoog om te bewys dat die tyd vir ’n oplossing nog nie daar is nie. Maar nou het ook dit nog daarby gekom dat die voorgestelde Walker-vlag maar net ,,vermomde Vierkleur’’ sou wees om die Afrikaanssprekendes se sentiment en om sesessie te verteenwoordig. Die massa-aanval het in die komiteestadium van die wetsontwerp plaasgevind.


STERKE OPPOSISIE EN SWAKKE BROEDERS[edit]


Nog voordat die debat hervat kon word, het my moeilikhede aan ons eie kant in alle erns begin. Creswell het blykbaar swakheid binnekant sy eie geledere bespeur, en het die houding aangeneem dat met die oog op die ophitsing en wanvoorstellings aan Opposisie-kant daar eers aan ons Parlementslede geleentheid gegee moes word om sake aan hul kiesers duidelik te maak. Hy was daarom ten gunste van uitstel vir nog ’n jaar. Daarby het hy lojaal aan my die versekering gegee dat, as ons sou besluit dat dit nie gedoen kon word nie, hy en sy volgelinge getrou by ons sou bly staan. Genl. Hertzog het hom ondersteun en ook Tielman Roos, terwyl ander Ministers min of meer ook na daardie kant toe oorgehel het. Teen uitstel het ek my egter sterk verset. Dit was my uitgesproke mening dat dit ons geen duimbreed verder sou bring nie, maar inteendeel slegs verwarring en swakheid sou veroorsaak. Veral die Arbeiderlede sou in hul stedelike en meesal Engelssprekende kiesafdelings ’n seksie van hul ondersteuners vind wat uit oortuiging of vrees vir hul partybelange die volgende jaar halfhartig en swak sou terugkom. Dit kon alleen die opposisie versterk. My standpunt het ek deur etlike kabinetsvergaderings heen volgehou, totdat die wreweligheid aan die kant van die Eerste Minister baie sigbaar begin word het. Oor die kwessie van uitstel was die Parlementslede verdeeld. Die Transvaalse seksie het aparte koukus gehou, waar Tielman Roos hulle ten gunste van uitstel oorgehaal het, hoewel etlike van hulle verklaar het dat hulle deur dik en dun by my sou staan. Ook Barlow het by my kom aandring om nie toe te gee. Deur bemiddeling van Charlie Malan het ek uiteindelik daarin toegestem op twee voorwaardes, die eerste dat met die terugtrekking van die maatreël hierdie jaar die Eerste Minister self sou aankondig dat dieselfde wetsontwerp aan die begin van die volgende sessie weer ingedien sou word, en die tweede dat die Arbeiders nou definitief sou onderneem om ons dan getrou en standvastig te ondersteun en help om die maatreël onveranderd deur te sit. Dit is toe ook ingewillig, en daarmee was die krisis verby. Maar dit was nie die laaste nie.


TIELMAN ROOS[edit]


As Minister van Justisie was Tielman my kollega in die Kabinet. As Transvaalse Nasionale Party-leier was hy in ’n sterk posisie. Skerpsinnig, joviaal en uiters bedrywig was hy, en as een van die allereerste ondersteuners van die uitgesette Hertzog uit die Botha-kabinet, het hy sy prominente plek in die party verdien. Maar beginselgetrouheid en koersvastheid was stellig nie Tielman se vernaamste karaktertrek nie. Jy mag te wete kom waar hy begin, maar jy kan nooit weet waar hy gaan eindig nie. Al sou hy, soos beweer word, nie self gesê het dat die politiek vir hom ,,’n spel’’ was nie, sou iedereen wat sy loopbaan gevolg het, dit gemaklik self kon agterkom. Tielman het ook nou op die toneel verskyn.

Die sitting was skaars veertien dae verby toe dit alreeds duidelik begin te word het dat my donkerste voorafskaduwing verwerklik sou word, en dat my moeilikhede nou eers reg sou begin. Roos het die spel aan die gang gesit met die opsienbarende verklaring êrens in die Noordelike Vrystaat dat die vlag hom ,,koud laat’’ - 'n verklaring wat hy daarna met steeds stygende warmte herhaal het, en wat klaarblyklik bedoel was om met die hulp van 'n seksie van die Nasionaliste en Arbeiders die Vlagwet te laat verongeluk. Die Opposisie het natuurlik ’n waardevolle bondgenoot in hom ontdek en dadelik ook sy ,,staatsmanswysheid’’ met steeds stygende warmte begin te roem. Barlow, Tielman se boesemvriend, met die samewerking van Kentridge en ander Arbeiders, het nou skielik ’n middel ontdek om die netelige kwessie vir goed op te los en almal te bevredig. Dit was die sogenaamde tweestok-voorstel om die Union Jack altyd saam te hys met die Nasionale Vlag. Dis onnodig om te sê dat so ’n vaskoppeling aan die vlag van ’n ander land so 'n gedurige en aanskoulike vernedering vir die Nasionale Vlag en vir Suid-Afrika self moes beteken, dat die Nasionaalgesinde deel van die volk hom van so ’n reëling alleen met verontwaardiging en afsku sou afgekeer het. En erger nog, by implikasie sou die Union Jack, hoewel apart waaiende, dan verhef word tot 'n essensiële deel van ons vlag-reëling. Die voorstellers het geen gras onder hul voete laat groei nie. Die National Council - die anti-Creswell-groep in die Arbeidersparty, wat buitengewoon met Roos bevriend was, het die voorstel dadelik publiek aangeneem met onder andere ook 'n paar Transvaalse Nasionaliste wat die nouste kring om hom gevorm het.

Kort ná my terugkeer in die Unie ná ’n kort vakansie by die Victoria-waterval het ek die nuwe posisie met genl. Hertzog gaan bespreek. Hy het hom sterk afkeurend uitgelaat teen ,,daardie domme, onnosele voorstel’’. Ook Creswell en Boydell was daarteen en het die handelwyse van die ,,National Council"-seksie van hul eie party beslis gerepudieer. Toe ek daarna op ’n vergadering te Germiston die tweestok-voorstel publiek verwerp het, het ek geweet dat, behalwe Roos, ek al my kollegas in die Kabinet aan my kant het. Die einde van my moeilikhede en van die knoeiery en sameswering was dit egter nie.


GENL. HERTZOG SIT HAND BY[edit]


'n Nuwe, verteenwoordigende en, sover moontlik, ook non-politieke kommissie moes nou saamgestel word om die Regering te adviseer. In Kabinetskringe het genl. Hertzog nou die gedagte uitgespreek dat by wyse van konsessie ’n kroon in die vlagontwerp ingesluit sou kon word. ’n Deputasie onder leiding van Kentridge sou dit by hom kom bepleit het, met die versekering dat dit hulle sou bevredig. Hy (genl. Hertzog) was onder die omstandighede daarvoor, ook omdat met 'n kroon daar geen implikasie van onderhorigheid sou wees nie. Ek was weinig ingenome daarmee, maar was bereid om dit te aanvaar as dit ons eie geledere weer aanmekaar sou sluit, en ons teenstanders s'n verswak. In hierdie opsig was die resultaat teleurstellend. Nog voordat genl. Hertzog self sy plan bekend kon maak, het sommige S.A'P.-koerante dit as 'n basis van ooreenkoms verwelkom, maar weer kortom gespring en dit verwerp. Genl. Hertzog wou dit toe in die terme van opdrag aan die kommissie eenvoudig so bepaal. Tielman, van wie die gedagte uitgegaan het, wou egter dat genl. Hertzog in ’n publieke toespraak dit maar eenvoudig moes ,,dekreteer’’. Ek wou egter ons eie kommissie nie oor die hoof sien nie. Inteendeel, die verste wat ons kon gaan, was om hom in kennis te stel dat hy vry was om, maar dan alleen ook as hy dit self sou verkies, ’n kroon in te sluit. Dit is aanvaar en die opdrag aan die kommissie is gevolglik so geformuleer:

,,To advise the Government in connection with the selection of a suitable design for a South African national flag in accordance with the general principles as laid down in the South African Nationality and Flag Bill, 1926, the flag selected to be an appropriate expression of our independent South African nationhood and symbol of our accepted national status, and to be designed for the purpose of uniting the different elements of the population in a common South African patriotism by symbolising bonds of union rather than conflicts of the past.

,,To consider designs submitted from the general public in accordance with these terms of reference and report on or before December 15th 1926.

,,These terms must be read in the light of the Hon. the Prime Minister's speech to be delivered in Cape Town today.’’


Sir William Campbell, voorsitter van die B.E.S.L., is deur ons gevra om as voorsitter van die kommissie te dien. Oor ons voorstelle het hy hom tevore gunstig uitgelaat en om taktiese redes was sy benoeming die verkieslikste. Sy voorwaarde, wat deur ons aanvaar was, was dat die gekose vlagontwerp ná goedkeuring deur die Regering, vir goed- of afkeuring by wyse van referendum ook aan die volk voorgelê sou word. Hierdie voorwaarde is deur ons aanvaar, en hoewel dit ongetwyfeld tot groot moeilikhede kon lei, was dit tog 'n waarborg dat die Regering nie teen die volkswil kon indruis nie. Op die verdere loop van sake het dit ook in werklikheid ’n gunstige en beslissende invloed gehad.

By die samestelling van die kommissie het ons uitgegaan van die beginsel dat die lede in die algemeen simpatiek moes staan ten opsigte van die verkryging van 'n eie vlag, wat so ver moontlik verteenwoordigend moes wees van beide taalgroepe in ons land, en dat met uitsluiting van die uiterste politieke elemente, die verskillende politieke groepe, ook sover as moontlik, verteenwoordig moes word. Moeilikheid in verband met die benoeming het byna uitsluitend van die kant van die S.A.P. gekom. Agter die skerms is blykbaar spesiale pogings aangewend, soms met dreigemente en sosiale boikot gepaar, om persone wat genader is om te dien, te verhinder om aan te neem of om lid van die kommissie te bly. So het byvoorbeeld onder een of ander voorwendsel die volgende geweier om te dien:

Sir William Beaumont, adv. MacKeurtan en mnr. Saunders, oud-L.V. uit Natal, Lady Beck, prof. Eric Walker, prof. Fred Clark e.a. uit die Kaapprovinsie, en mnr. J. H. Hofmeyr, Administrateur van Transvaal. Die skilder Roworth en adv. Stuart Franklin het eers aangeneem, maar blykbaar onder sterke pressie later weer bedank. Intussen is 'n kampanje van verguising en haat aan die gang gesit teen sir William Campbell, wat hom van die aanvang af met ons sienswyse vereenselwig het. Dit het nie geëindig voordat hulle hom uit die B.E.S.L. se voorsitterskap uitgelig het nie. Die vlagstryd het dus ook sy martelare gehad. Ten spyte van al hierdie moeilikhede het dit my tog geluk om 'n kommissie aangestel te kry wat persone ingesluit het vir wie se kennis en oordeel die land respek moes hê, soos o.a. prof. Blommaert, waarskynlik die vernaamste outoriteit op die heraldiek in Suid-Afrika, sir George Cory, dr. Kolbe, prof. J. J. Smith, mev. E. G. Jansen, e.a.

Intussen het ander reeds bestaande moeilikhede verder ontwikkel en nog nuwes daarby gekom. Die Barlow-Kentridge-seksie, wat in gedurige kommunikasie met Tielman Roos en sy kring was, het ten spyte van hul versekerings hulle by die moontlike insluiting van die kroon nie neergelê nie, maar die tweestok-idee weer opgevat. Hulle was nou blykbaar daarop uit om met die samewerking van die S.A.P.-pers en by name die Rand Daily Mail, wat skielik 'n ondersteuner en vurige bewonderaar van Roos geword het, soveel verwarring te veroorsaak as maar moontlik was, met die doel om die terugtrekking van die Vlagwetsontwerp te verkry. Tielman het vroeg en laat sy koudheid bly adverteer. Creswell en Boydell was gretig om soveel as moontlik van die S.A.P.-argumente te verswak, en het daarom daarop begin aandring dat die dae waarop die Union Jack saam met die Unie-vlag sou waai, vermeerder moes word en om alle vakansiedae in te sluit. Hierteen het ek my verset, omdat dit minstens ongepas sou wees om die Britse vlag te hys op spesifiek kerklike en Suid-Afrikaanse geskiedkundige feesdae. Gevolglik het hulle met hierdie sienswyse ook ingestem.

In hierdie stadium was dit al volkome duidelik dat geen konsessie die opposisie teen die Vlagwetsontwerp sou bevredig nie. Wat hy nou tentatief verwelkom, verwerp hy netnou weer, en dryf dan selfs die spot daarmee. Selfs wat van sy kant self voorgestel was, soos byvoorbeeld 'n referendum, ens. was nou vir hom onprakties, en die beperking van die Union Jack tot vier feestelike geleenthede in die jaar was vir hom ’n ,,belediging’’. Hy wou nou terugtrekking, en niks minder nie. Blykbaar was hy bewus van aktiewe steun binnekant ons eie geledere.

As waarnemende Eerste Minister tydens genl. Hertzog se afwesigheid by die Statebondskonferensie in Londen was Roos in ’n gunstige posisie om kwaad te doen, en hy het dit nie nagelaat nie. Maar hoe nadrukliker hy sy koudheid en onverskilligheid verkondig het, hoe beslister het ek weer aan die ander kant herhaal dat die Regering besluit het om met die Vlagwetsontwerp voort te gaan, en dat ek van daardie besluit geen duimbreed sou afwyk nie. Ek het besef dat terugtrekking ’n onopgeloste vraagstuk sou beteken vir geslagte, met die verstoring van ons rassevrede as gevolg. Maar bowendien sou ons houding ten opsigte van die Union Jack by die ondersteuners daarvan 'n blywende grief teen ons wees, terwyl ons eie ondersteuners alle rede sou gehad het om ons van swakheid te beskuldig. Die politieke gevolge sou stellig ook vir ons noodlottig gewees het.

Tielman het sy koudheid nou begin afskud en tot aksie oorgegaan. Op ’n publieke vergadering het hy verklaar dat daar alle kans bestaan dat die Vlagwetsontwerp teruggetrek sou word, dat hy persoonlik ten gunste daarvan was, en dat ’n besluit hieromtrent net op die terugkeer van genl. Hertzog moes wag. Hoe ver daar ook in wyer kringe beraadslagings en aksie in hierdie rigting was, weet ek nie. Te oordeel na die verdere verloop van sake, kon ek alleen gis. ’n Aanduiding was in ieder geval die handelwyse van sir William Campbell, voorsitter van die Vlagkommissie, wat by geleentheid van my besoek aan Port Elizabeth in verband met die hoeksteenlegging van die Tegniese Instituut aldaar ’n dringende telegram aan my gestuur het. Daarin het hy verlof gevra om die vergadering van die Vlagkommissie uit te stel tot ná genl. Hertzog se aankoms van oorsee, wanneer dan besluit sou word of daar met die Vlagwetsontwerp voortgegaan sou word of nie. Daarop het ek onmiddellik geantwoord dat daar geen gedagte aan iets anders was nie, en dat uitstel alleen nuwe verwarring kon skep. In sy antwoord het hy hom toe beroep op Tielman Roos se verklaring en op 'n kommunikasie wat daarna aan hom gemaak sou gewees het vanweë die Ministers in Pretoria, dat ook hulle ten gunste van uitstel sou wees. My wederantwoord aan hom was dat ek juis besig was om uitvoering te gee aan ’n Kabinetsbesluit, en dat uitstel van die kommissievergadering in sy eie hande was as voorsitter. Hy het aangebly, maar die kommissie het hy ook nie byeengeroep nie.


'N KRITIEKE DAG[edit]


Vir my was dit duidelik dat die dag van genl. Hertzog se aankoms alles sou beslis. Ek moes dus beslis daar wees en betyds handel. Tielman Roos was begryplikerwys ook daar en baie bedrywig, en sou stellig vroeg opstaan. Reeds die dag tevore het hy aan die Cape Times verklaar dat genl. Hertzog nou sou beslis of die Vlagwetsontwerp teruggetrek sou word of nie. Tegelykertyd het hy aan die hand gegee dat daar dan verder 'n reoriëntering van partye moet plaasvind, aangesien alle geskilpunte tussen die Nasionale en S.A.P.-party dan nou sou verdwyn het. Ek was daarom bevrees dat genl. Hertzog by sy aankoms deur Roos beïnvloed kon word om homself te kompromitteer voordat ek dit kon verhoed, en dat dit moontlik al sou kon geskied by die burgemeestersdinee daardie selfde aand. Ek het toe vroeg opgestaan, was om sesuur die môre die eerste wat die Generaal aan boord van die skip 'n handdruk gegee het, en ek het hom toe gevra om oor die Vlagwetsontwerp vir eers niks te sê nie totdat ek die geleentheid sou gehad het om die posisie aan hom te verduidelik. Dit, en ’n verdere woordjie by Groote Schuur, was genoeg om die dag sonder skade te laat verbygaan. Dieselfde aand moes ek in die Stadhuis ’n vergadering van jong Afrikaners toespreek, en daar het ek die geleentheid waargeneem om ons veiligheid dubbel seker te maak. Nadat ek genl. Hertzog vir sy verkryging van ons onafhanklikheid tereg hoog gehuldig het, het ek in verband daarmee die verkryging nou ook van ons eie vlag in vooruitsig gestel, en nadruklik verklaar dat genl. Hertzog nog altyd konsekwent gestaan het by sy aankondiging in die Parlement dat die Vlagwetsontwerp moes deurgaan, en dat dit daarom verkeerd was om te doen asof dit vandag nog ’n ope kwessie was. Inteendeel, dit was nou nodiger en vanselfsprekender as ooit. Met hierdie pogings aan my kant om te voorkom dat die generaal hom onverhoeds sou kompromitteer, was na ek gemeen het, die slag gelewer en die gevaar verby.

Die Generaal het toe wel niks ten gunste van ’n eie vlag gesê nie, maar hom ten minste ook nie teen die voortsetting van ons Vlagwetsontwerp verklaar nie. Twee dae later was ek egter ontnugter. By ons terugkeer van sy groot ontvangs in die Paarl het hy vir Beyers en my vir aandete na Groote Schuur uitgenooi. Die gesprek het onder andere ook oor die vlagkwessie gegaan, egter meer terloops as regstreeks, maar by ons vertrek het ek aan my vriend gesê dat ons nou maar die ergste moet verwag. Daartoe uitgenooi, was ons twee die volgende dag vir middagete weer by Groote Schuur. As gas was Tielman Roos ook daar. Aan tafel het die gesprek hoofsaaklik geloop oor ons verhouding tot die Arbeidersparty. Volgens Roos was daardie party nou in werklikheid so klein en onbeduidend dat ons verder nie meer ernstig met hom rekening hoef te hou nie. Veel steun hoef ons ook nie van die Arbeiders te verwag nie. My persoonlike kennis van ons vriend het my in hierdie stadium my ore laat spits. Ek het geweet dat ons nou iets moes verwag.

Ná die ete het genl. Hertzog deurgaans die woord gevoer, terwyl Roos alleen nou en dan so iets tussenin gesê het. Die Generaal het ons toe vertel dat daar onder leiding van sir Ernest Chappell ’n deputasie by hom was wat hom te kenne gegee het dat, aangesien die statuskwessie nou opgelos en van die baan af was, hulle self, en baie ander Engelssprekendes en S.A.P.-ondersteuners saam met hulle, bereid sou wees om hul lot met ons in te werp. Sy leierskap sou hulle ook heelhartig erken. Al wat nou egter nog ontbreek, was 'n brug om die samewerking moontlik te maak. Dit moes dan wees die terugtrekking van die Vlagwetsontwerp. Heeltemal duidelik en onomwonde het die Generaal toe te kenne gegee dat hy ten gunste van hierdie gedragslyn was, en dit definitief voorstel. Roos het onmiddellik ingestem. Beyers het stellig nie ingestem nie, maar voorlopig geswyg in afwagting van my reaksie. Toe ek die woord neem, het ek daaraan herinner dat my besliste verklarings in verband met die Vlagwetsontwerp altyd gedoen was ná raadpleging met en op gesag van die Kabinet, en dat terugtrekking in hierdie stadium my in so 'n posisie sou plaas teenoor vriend en vyand dat ek met geen goeie fatsoen in die Kabinet kon bly nie. By hierdie verklaring wou ek egter die versekering gee dat, as ek gaan bedank, ek van buitekant af die Regering in sy algemene politiek van harte sou ondersteun.

Dit het onmiddellik sy uitwerking gehad. Die Generaal het dadelik geantwoord dat hy nie geweet het dat ek die posisie só sou opvat nie. Oor die aangeduide weg sal hy daarom geen woord verder praat nie. Inteendeel, nou moes ons onversetlik daarby staan dat die Vlagwetsontwerp deurgesit word, en alleen oorweeg in watter vorm dit moes geskied. Hier kon ons meer tegemoetkomend wees en oorweeg of ons nie die Union Jack in sy geheel kon insluit nie. Roos het dadelik sy instemming te kenne gegee en daarby gevoeg dat sy idee ‘n vlag was met ‘n blou agtergrond in die middel waarvan ’n Union Jack sou pryk met strale na alle kante. ,,’n Union Jack as ’n opgaande son gesien, veronderstel ek!’’ was my onmiddellike antwoord. ,,Wel, as ons ondersteuners bereid sou wees om so ’n vlag te aksepteer, sou ek my oor hul werklike gevoel baie, baie ver moes vergis het.’’ Aan so ’n voorstel kon ek vir geen enkel oomblik dink nie. Beyers het my toe sterk ondersteun. Hiermee was die samespreking dan ook afgeloop.

Een van die eerste natuurlike gevolge van die Groote Schuur-beslissing was die bedanking van sir William Campbell as voorsitter en lid van die Vlagkommissie. In hoeverre dit met daardie beslissing saamgehang het, kan ek alleen gis. Wat hy voorgegee het, was ons weiering om sy voorstel aan te neem, naamlik dat die Nasionale en die S.A.P.-party ieder ’n eie vlagontwerp moet kies, en dat die volk dan by die stembus tussen die twee moet kies. Dit sou volgens hom die kwessie dan bokant die party-politiek verhef. Nou begryp nou so iets as jy kan ! As voorsitter van die Vlagkommissie het prof. Blommaert hom toe opgevolg.

Drie ontwerpe is uiteindelik deur die Kommissie aan die hand gedoen vir die Regering om uit te kies. Die eerste twee het die Van Riebeeckvlag tot grondslag gehad, terwyl al drie ’n kruis vertoon het as sinnebeeld van ons geskiedenis en roeping. Die derde, wat die kruis van St. George vertoon het, was meer bepaald bedoel om ook die Engelse sentiment tegemoet te kom. Persoonlik was ek ten gunste van no. 1. In hierdie stadium het daar egter ’n nuwe wending gekom. Mnr. Howard Pim, die sentrale voorsitter van die Anti-vlag-organisasie, het met 'n deputasie die Eerste Minister en myself ontmoet. Ná eers ’n pleitrede vir die terugtrekking van ons Vlagwetsontwerp en daarna een vir die insluiting van die Union Jack, wat ons vriendelik van die hand gewys het, kom daar toe vir die eerste maal ’n teken dat die Opposisie sy uiterste poging aangewend het en nou bereid was om die aftog te blaas. Die uiteindelike verklaring van hul kant was dat hulle ,,in iedere geval’’ oor die vlagontwerp met ons sou wil onderhandel, en dat die insluiting van die Union Jack nie as ’n sine qua non beskou moes word nie. Hiermee het die samespreking voortgegaan in ’n gees van vriendskap en samewerking sonder bindende opdragte van enige kant. In plaas van na ’n kommissie, is die kwessie toe na ’’n konferensie van die twee vlagkommissies aan beide kante verwys.

Die Konferensie het spoedig vergader. Prof. J. J. Smith was voorsitter, wat deur sy kennis, beslistheid en beleid hom besonder verdienstelik gemaak het. Ten spyte van aanvanklik sterke verskille, het albei kante uiteindelik ontwerp no. 2 van die Regering se vlagkommissie voorlopig aanvaar aan die opposisiekant as ,,a friendly gesture’’, wat hulle bereid was om by hul ,,flag committees’’ aan te beveel. Engels- en Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners het as sodanig mekaar nou ontmoet, en wel sonder die inmenging van politieke voormanne, en die pad na ’n goeie verstandhouding en vriendskaplike samewerking het nou uiteindelik geskyn ope en effe te wees.

Die party-politieke waghonde het ongelukkig nie geslaap nie. Die S.A.P.-voormanne en persorgane het wel geen aktiewe teenstand gebied nie, maar ook niks gedoen om hierdie laaste poging om ooreenkoms te bereik, aan te moedig nie. Spoedig het dit toe ook geblyk dat die groot meerderheid van die ,,flag committees’’ niks van die voorstel wou weet nie. Verdere pogings in daardie rigting was dus nutteloos, soos prof. Smith en mev. Jansen, wat oorspronklik gevra was om die posisie vir hulle te kom verduidelik, dan ook ondervind het.


DIE REGERING KIES[edit]


Die Regering moes nou kies, en heel natuurlik moes hul keuse val op ontwerp no. 2, wat wel nie op sigself en vir hulself die verkieslikste was nie, maar wat deur 'n belangrike deel van die Opposisie onder leiding van Howard Pim tentatief aanvaar was. Die Regering het egter tegelykertyd ook besluit om ná die tweede lesing die wetsontwerp na ’n gekose komitee te laat gaan. Hierdeur sou die S.A.P.-opposisie, wat ook hierdie kruisvlag reeds met beslistheid verwerp het, ten minste gedwing word om van sy eie kant met ’n positiewe voorstel voor die dag te kom - sy drie-vlae-kombinasie op gelyke voet met mekaar, byvoorbeeld, waarvan hy gedurig gepraat het as die regte oplossing. Soos ons later sal sien, het dit in ieder geval te voorskyn gekom.

Die tweedelesing-debat was redelik gematig, blykbaar omdat die Opposisie uitgeput geraak het. Die gekose komitee was verteenwoordigend en sterk, insluitende onder andere ook genl. Hertzog en genl. Smuts. Laasgenoemde het daar nog eens probeer om die keuse op die lange baan te skuiwe deur self ’n ontwerp voor te stel wat hy dan vir beslissing in die hande wou gestel sien van die Speaker en die President van die Senaat ná deur hom vaag aangeduide verdere konsultasies. Hierdie Smuts-vlag, wat selfs deur sy eie volgelinge sonder die minste geesdrif aanskou is, en daarom ook in die gekose komitee nie ernstig oorweeg is nie, het later weer sy verskyning gemaak in die Senaat, waar die S.A.P. in die meerderheid was. Dis daar dan ook werklik aangeneem. Dit verteenwoordig genl. Smuts se idee van ’n kombinasie van die drie historiese Suid-Afrikaanse vlae - die Union Jack, die Transvaalse en die Vrystaatse republikeinse vlag. Die resultaat was ’n vlag veelkleuriger nog as Josef se rok – ’n ware afgryslikheid wat, as dit aanvaar was, Suid-Afrika stellig die spot van die hele wêreld sou gemaak het. As die destydse verantwoordelike Minister bewaar ek ’n duplikaat daarvan nog as ’n geskiedkundige politieke rariteit. Indien dit ons nasionale vlag moes geword het, sou ons teenstanders in die vlagstryd hul skitterendste oorwinning behaal het. Sonder slag of stoot sou ons eie Suid-Afrikaanse vlag homself doodgemaak het.

Die ontwerp in die gekose komitee deur genl. Hertzog voorgestel, het neergekom op die idee van die Van Riebeeck-vlag van die Regering se vlagkommissie, sonder egter die wit kruis daarop, maar in plaas daarvan ’n skild wat die Union Jack en die twee Republikeinse vlae insluit op ’n voet van gelykheid met mekaar. Die ontwerp was bedoel om te voldoen aan drie grondbeginsels, as volg omskrywe:

,,a) voornoemde drie vlae moet op so 'n wyse ingelyf wees dat te kenne gegee word dat hulle sinnebeeldig is van die geskiedenis van die samestellende dele van die Unie en

,,b) voornoemde drie vlae moet in voornoemde ontwerp op dieselfde manier voorgestel word, en op die grondslag van gelykheid en

,,c) nòg afsonderlik nòg gesamentlik mag voornoemde vlae op so ’n manier voorgestel word dat dit die Nasionale Vlag beheers.”

Met die vervanging van die Kruisvlag deur die Skildvlag en met ’n paar onbelangrike wysigings in die Nasionaliteitsbepalings het die Vlagwetsontwerp van die gekose komitee teruggekom, en, na ek gehoop het, sou dit nou in die Volksraad sonder verdere moeilikhede aangeneem word. Maar helaas, nou eers het die moeilikhede in alle erns begin.

Omtrent drie weke lank kon ek in die parlementêre wandelgange duidelik bespeur dat daar iets buitengewoons aan die gang was. Groepies het met mekaar gekonsulteer en Nasionaliste is een vir een opsy geroep. Die aksie het klaarblyklik uitgegaan van die kring in die onmiddellike omgewing van Roos, insluitende sy vernaamste aanhangers in die Arbeidersparty.

Kort voordat die wetsontwerp vir behandeling in die Komitee van die hele Huis in die Volksraad sou voorkom, roep genl. Hertzog my toe opsy en wys my ’n formule wat hy aan die hand wou doen as die oplossing van al ons moeilikhede. Dit het as volg gelui:

,,The flag of which the design is set out in section four shall be the National flag of the Union. The association of the Union with the other members of the group of nations constituting the British Commonwealth of Nations shall be symbolized by the Union Jack."

Dit was bedoel om die bepaling in die Vlagwetsontwerp te vervang wat die offisiële gebruik van die Union Jack sou beperk tot vier feestelike geleenthede per jaar, te wete die werklike en die offisiële Koningsverjaardag, Victoria-dag (24 Mei) en Unie-dag (31 Mei).

Ek het nie dadelik gereageer nie, maar hoe meer ek die voorstel oorweeg het, des te duideliker het dit vir my geword dat ons hier weer in ’n nuwe vorm te doen kry met die ou tweestok-idee van Roos-Barlow-Kentridge. My beswaar het ek die volgende dag aan die Generaal meegedeel. Hy was egter vasbeslote om daarmee voort te gaan. Nog eens het Beyers en ek na Groote Schuur gegaan om hom in ’n ander rigting te probeer beïnvloed. Al satisfaksie wat ons egter gekry het, was dat hy ons geduldig aangehoor het.

Die Roos-kring het hierdie keer sy planne goed oorweeg en sistematies uitgevoer. Niks is aan die toeval oorgelaat nie. Sy eerste stap was ’n kabinetsvergadering om die saak te beslis. Dit moes my bind, sowel as my kollegas wat dit met my standpunt eens was. Ongelukkig was Charlie Malan op ’n sending na die buiteland afwesig en Piet Grobler en Kemp blykbaar op een of ander wyse gekompromitteer. Daarop moes toe volg die koukus, wat sover dwarsdeur lojaal by my gestaan het en wat selfs aan genl. Hertzog spesiaal ’n versoek gerig het om geen verdere konsessies te maak sonder om hom te raadpleeg nie. Die koukus was nou spesiaal byeengeroep om oor die punt te beslis. Genl. Hertzog en Roos het die voorstel bepleit, terwyl Beyers en ek dit teengestaan het. My vernaamste beswaar was dat wetlike gelykheid van die twee vlae ons in dieselfde posisie sou laat beland as die geval is met dié van die twee tale. Elke landsburger sou dan die reg hê om oor die toepassing wag te staan en te eis dat die Union Jack orals op gelyke voet met die Nasionale vlag behandel sal word. Gevolglik sal die vlagstryd voortgesit word, maar nou alleen in ’n heftiger vorm, omdat dit van die algemene terrein dan verskuif word ook na tallose kleinere middelpunte dwarsdeur die land. In plaas van volkseenheid te bring, sal ons vlagreëling dan oorsaak word van gedurige wrywing en tweedrag. Hierby het ek gevoeg dat die Vlagwetsontwerp nie myne is nie, maar dié van die Regering en die Party, en dat ek my gevolglik by die besluit sou neerlê indien die Eerste Minister se voorstel aangeneem word. Al wat ek vra is dan maar net dit, dat die lede wat van my protes nou getuie was, daaraan sal dink as my waarskuwings bevestig mag word, en nie sal toelaat dat die skuld op my skouers geplaas sal word nie.

Roos het egter ’n troefkaart gehad. Hy het ’n brief van die Arbeidersparty se koukus te voorskyn gebring waarin hy die Nasionale Party vra om die amendement te ondersteun. Verder het Roos verklaar dat hy die posisie ken en met sekerheid kon sê dat daar minstens ses Arbeiders was wat teen die wet sou stem as die amendement nie aangeneem sou word nie. Dit sou dan ook genoeg wees om die Vlagwetsontwerp te laat verongeluk. In hoeverre hierdie dreigement op feite gegrond was, wil ek nie beoordeel nie. En in hoeverre lojaliteitsgevoel jeens genl. Hertzog, veral by die Vrystaters, gewig in die skaal sou gooi, kon ek alleen maar vermoed. In ieder geval het ek by die stemming maar 16 gekry om my sienswyse te ondersteun. Dit het bestaan uit die meerderheid van die Kaaplandse lede en ’n paar Vrystaters en Transvalers.

Die koukusbesluit was so direk teen my neergelegde beginsel dat, as dit alleen moes tel, ek niks anders sou kon gedoen het as om uit die Kabinet te tree nie. In hierdie stadium sou dit vir my saak egter noodlottig gewees het en daardeur sou ek net in die hande van Roos en sy seksie gespeel het. Sonder dat hulle enige verantwoordelikheid daarvoor sou dra, sou die Vlagwetsontwerp verongeluk het, wat hulle natuurlik wou hê; Roos en Hertzog sou voorgestel geword het as leiers wat met staatsmansblik onoorkomelike moeilikhede vooruitgesien het, en daarom op ‘n tydige en eervolle terugtrekking aangedring het, terwyl ek met kortsigtige styfhoofdigheid en selfs met dreigemente om te bedank, daarop gestaan het om voort te sukkel, maar waar die party nou uiteindelik in ’n onmoontlike posisie verward sit, daar gooi ek nou tou op, en hardloop weg van my verantwoordelikheid. Ek het daarom gemeen dat die beste vir my saak was om hier vir eers die party-eenheid te behou en die Vlagwetsontwerp te red, in die hoop dat met die verdere ontwikkelings iets dalk sal opdaag wat die herstel van die noodlottige fout nog moontlik sou maak. By die koukusbesluit het ek my toe neergelê, maar met die voorneme om tog te probeer red wat nog gered kon word. Die opening hiervoor is gelukkig vroeër, hoewel onbewus, deur genl. Hertzog self geskep.

Toe Beyers en ek in die koukus ons besware gelug het teen sy voorstel en veral gewys het op die gevaar dat op grond van wetlike gelykheid iedereen nou maar kon gaan eis dat die Union Jack orals saam met die Nasionale vlag sal waai, het genl. Hertzog die koukus tevrede gestel met die versekering dat die bepalings hieromtrent uitsluitend in die mag van die Regering sou wees. My taak was nou om genl. Hertzog aan hierdie interpretasie te probeer bind deur hom te kry om publiek in die Parlement te herhaal wat hy in die koukus verklaar het. As die gevreesde moeilikheid sou ontstaan, kon daar dan altyd na daardie gesaghebbende interpretasie in Hansard verwys word. Op versoek van Beyers, ook namens my, het genl. Hertzog ingewillig, en toe Strachan van die Arbeiders- party namens die Koalisie die noodlottige amendement stel, het die Generaal dadelik sy interpretasie soos beloof, daaraan gegee. Maar wat nog gunstiger was, ook genl. Smuts het dit as die regte bevestig. Selfs het hy die moontlikheid geïnsinueer dat ’n Nasionale Party-regering van sy diskresie gebruik kon maak en die Union Jack heeltemal uit die land sou kon verban. Hiermee was ek nou tevrede, en so is die Vlagwet in 1927 dan ook deur die Volksraad aangeneem. Die Senaat daarna, soos wel te verwagte was, het dit verwerp, en sy eie ,,afgryslikheid’’ wat genl. Smuts se idee beliggaam het, in die plek daarvan gesit. Onnodig om te sê dat die Volksraad op sy beurt daardie onsmaaklikheid met smaak verwerp het. Volgens parlementêre prosedure het die finale beslissing nou berus by ’n gesamentlike sitting van albei Parlementshuise. Dit was dan ook so bepaal vir November.


ROOS BLY AKTIEF[edit]


Roos se ondermynende bedrywighede het nou eers reg begin. Eers het hy weer begin met allerlei nuwe konsessies te suggereer ten spyte van sy verklaring tevore in die Volksraad dat hy nou tevrede was met die Skildvlag. Nou wou hy weer die skild vergroot hê ten einde ’n groot, maklik sigbare Union Jack daarbinne te kan insluit. Dit sou dan die Opposisie bevredig. Sonder hulself te bind, het die Opposisiekoerante dit dan ook verwelkom as ’n vriendskaplike gebaar. Gepaar hiermee het die Opposisie nou ‘n dreigende houding begin aan te neem. Daar was fluisterings van geheime organisasies en die moontlikheid selfs van bloedvergieting. Dit was bedoel om die flou- en banghartiges te laat terugdeins. Aan ons kant het dit egter die teenoorgestelde uitwerking gehad. Ongeduld het hom begin te openbaar en resolusies het ingestroom om te eis dat geen konsessies meer toegestaan of oorweeg moes word nie. Selfs was daar tekens dat die oproerigheid wat hier en daar op die vergaderings van anti-vlag-sprekers voorgekom het, sou kan toeneem.

Te midde van so ’n elektriese toestand, vol van gebeurlikhede, moes ek ’n vergadering oor die vlagkwessie gaan toespreek, op ’n plek, wat dit betref, seker die warmste plek op aarde, naamlik Durban. Dit was op uitnodiging van die Arbeidersparty, altesame 21 in getal en die sterkste verteenwoordig in Durban, en – dit sal ek nooit vergeet nie – wat getrou by my gestaan het, ten spyte van die feit dat dit vir hulle geen politieke gewin sou meebring nie, maar eerder die teenoorgestelde. Ek kon daarom nie weier nie. Hulle het daarop gestaan dat dit ’n ope vergadering sou wees, in teenstelling met genl. Smuts s’n kort tevore, wat ’n kaartjiesvergadering met geslote deure was. Maar dit was toe ook ’n vergadering om lewenslank te onthou. Vierduisend in die Stadsaal en vierduisend daarbuite, deur luidsprekers bereik. Die alreeds heersende opgewondenheid was nog aangevuur deur die gerug dat die vuur-etende kol. Molyneaux my met ‘n bende langs die weg van die trein af sou sleep, en so verhinder om vir die vergadering op te daag. Binne-in die saal was dit gelukkig ordelik. Daarvoor het die Arbeiders gesorg. Al stoornis wat daar was, het van buite gekom en van die oorblyfsel van ’n mislukte poging om die vergadering in wanorde te laat opbreek, wat, indien geslaag, die ernstigste gevolge kon gehad het.

Die stoornis van buite het gekom deur die gedurige indringing deur die ope deure van matrose van die skepe in die hawe. Hulle het egter nie verder kon vorder nie as ’n tien of twaalf tree, en is dan deur sterk arms oor die koppe van die gehoor terug getransporteer en by die ingange weer uitgegooi. Die stoornis van binne was die lui van die brand-alarmklok in die saal, wat egter maklik stilgemaak kon word. Die agtergrond hiervan was ’n komplot, soos later ontdek is, as volg: Hoog in die saal tussen die mure en die plafon was hope peper geplaas wat op die bepaalde tyd in die saal ingeblaas kon word; die elektriese lig sou dan afgeslaan word, en die alarmklok sou dan lui. Indien die komplot nie tydig ontdek en die plan verydel was nie, sou met gedagte aan brand, daar in die donker stellig ’n stormloop van die groot skare na die deure plaasgevind het, waarskynlik met noodlottige gevolge. Ná die tydige verwydering van die verstikkende materiaal en die tydige beskerming van die elektriese ligte, het gelukkig net die alarm oorgebly om die storie te vertel. Dis egter gou stilgemaak. Verder het die vergadering, wat ook deur Boydell toegespreek is, goed verloop. Of daar iemand bekeer is, laat ek daar. Die atmosfeer was daarvoor stellig nie rustig genoeg nie. Maar in ieder geval het ons aan die Arbeiders die bewys gelewer dat ons hulle nie in die steek sal laat nie. In die algemeen was die uitwerking dus gerusstellend en kalmerend.

Teen hierdie tyd het daar van binnekant die Nasionale Party meer aktiewe steun gekom, nie vir die Vlagwetsontwerp alleen nie, maar ook teen die aktiwiteite van Roos en sy kring. Die Partykongresse van Kaapland, die Vrystaat en Transvaal het al drie besluite gepasseer om te eis dat geen verdere konsessies meer aan die Opposisie toegestaan sal word nie. Dis gevolg deur talle dergelike resolusies deur plaaslike takke.


DIE SPESIALE SESSIE[edit]


Op pad na die spesiale Parlementsessie wat finaal oor die Vlagwetsontwerp sou besluit, het die volgende koerantberig in my hande gekom, wat my genoodsaak het om by my aankoms in Kaapstad die volgende brief, gedateer 13 Oktober 1927, aan die Eerste Minister te stuur:

Seer geagte Generaal,
My aandag is bepaal geword by die volgende paragraaf in ’n Reuter-telegram uit Pretoria in die Friend van gister:
,,Mr. Tielman Roos in a statement to the Pretoria News today said that when he stated that the Government would be willing to accept any reasonable proposal in regard to the size of the shield on the flag, he intended the offer to apply not only to the size, but to the component parts of the shield as well. ‘What I contemplate’, the Minister of Justice added, ‘is a reasonable suggestion by the Senate, which may even go further’.’’
Ek behoef nouliks daarop te wys dat indien die bowestaande korrek is, die Minister van Justisie hierdie aanbod in die publieke pers namens die Regering gemaak het sonder enige voorafgaande raadpleging met my as die verantwoordelike Minister of met die Kabinet, en in lynregte stryd met die politiek wat nog onlangs deur u as Eerste Minister neergelê is in publieke toesprake in Pretoria en Bloemfontein.
As hierdie sonderlike handeling aan die kant van mnr. Tielman Roos ’n alleenstaande voorval was, sou ek dit graag stilswygend verbygegaan het. U en my ander kollegas is daar egter ewe goed bewus van as ek dat ’n dergelike optree, en wel in verband met die mees essensiële aspekte van ons neergelegde vlagbeleid, al meermale voorgekom het, en bykans stelselmatig geword het. Die verwarring wat daaruit noodsaaklikerwys moes ontstaan, en ook werklik ontstaan het, met die gevolgelike voordele vir ons Opposisie, is só klaarblyklik dat ek daarop nie behoef in te gaan nie. Maar die ergste is nog dat sulke optree diep die fondamente van samewerking en gesamentlike verantwoordelikheid tref waarsonder ministeriële regering ’n onmoontlikheid moet word.
U sal met my instem dat onder sulke omstandighede dit vir my volstrek onmoontlik sal wees om my verantwoordelike taak te vervul in ’n saak wat spesiaal deur u en die Kabinet aan my opgedra geword is, sonder die nodige versekerings teen die ongeoutoriseerde optree van die kant van ’n ander Minister.
Hierdie versekerings kan alleen deur u as Eerste Minister gegee word, en ek vertrou daarom dat u daartoe in staat sal wees voordat ek verwag word kennis te gee van die indiening van die Vlagwetsontwerp.

Met hoogagting die uwe,
D. F. Malan.


Die antwoord hierop was dat hy my klagte in teenwoordigheid van Roos met my sal bespreek maar owerigens dié van ’n Eerste Minister wat wel weet wat reg en wat verkeerd is, maar wat boweal daarop uit is om die vrede te bewaar. Die kabinets-vergadering wat daarop gevolg het, was daarom ’n interessante politieke en sielkundige studie. Iedereen wis natuurlik dat my posisie as klaer onaantasbaar was. Die Eerste Minister het egter op pynlike wyse na alle kante toe rondgeval om te wete te kom wat my klagte nou eintlik was. Roos het self niks vir homself te sê gehad nie, behalwe dat as die Kabinet ’n mosie van wantroue in hom sou passeer of wat daarop neerkom, hy maar liewer sou bedank. Natuurlik het niemand dit ernstig opgeneem nie, hy self allermins. My ander kollegas se bydrae was ’n sagte teregwysing van ’n dwalende broer. Elkeen het blykbaar gevrees dat ek die saak tot die uiterste sou drywe, noudat ek in ’n gunstige posisie was om dit te doen. My hart het ek toe maar versag en ek het verklaar dat ek die saak nou maar daar sou laat in die stellige verwagting dat die bespreking vir ons almal goed gedoen het. Hierdie optrede van my het voortgespruit uit ’n steeds sterker groeiende vermoede dat daar agter die skerms en sonder my wete ’n georganiseerde poging aan die gang was om, desnoods teen enige koste, my uit te skakel by die finale beskikking oor die vlag, hoewel by die volk ek verantwoordelik gehou moes word. Hierteen moes ek my by voorbaat wapen en posisie inneem. Dit was ook hoog tyd.


’N NUWE ROOSPLAN[edit]


Wat op daardie tyd agter die skerms plaasgevind het, weet ons nou volkomelik, hoewel ons toe vrywel alles kon vermoed. Roos was opnuut weer aan die gang. Sy doel was nog altyd dieselfde, naamlik om my uitgeskakel te kry. Met die Regering waarvan hy ’n lid was, kon hy dit nie regkry nie. Hy sou nou hoër op probeer, en daar het hy werklik ook sukses gehad. Soos dit later bevestig geword is deur sy intieme vriend Arthur Barlow in sy boek ,,Almost in Confidence’’, het hy die Goewerneur-generaal genader en beweeg om hom met die vlagkwessie in te laat, en wel op hierdie wyse. Hy moes genl. Hertzog en genl. Smuts beweeg om mekaar te ontmoet, om ooreen te kom om my by die oplossing daarvan uit te skakel, en om dan self die verdere behandeling daarvan in hande te neem. Dit het werklik ook geskied. Die aandeel wat die Goewerneur-generaal se gesin hieraan gehad het, is dan ook in die Londense koerante openlik en vrymoediglik vermeld. Dit het daarna ook nie lank geduur nie voordat genl. Hertzog ons self in die Kabinet meegedeel het dat genl. Smuts hom genader het met die oog op onderhandelings, en dat hy bereid was om daarop in te gaan. Die besprekings moes plaasvind tussen hulle twee alleen, hoewel hy oor die loop van sake die Kabinet op hoogte sou hou. Omtrent hierdie ontwikkeling het hy, anders as gewoonlik, aan my as die verantwoordelike Minister niks meegedeel nie.

Toe die opening van nuwe onderhandelings bekend word, was die Nasionale kringe in rep en roer. ’n Sterk deputasie het die Eerste Minister gaan vra om geen verdere konsessies te maak nie. Hul ontvangs was koel, volgens hul eie verslag, en met vrees in hul gemoed is hulle daar weg. ’n Groot, uitstekend geslaagde vlagvergadering in die Stadhuis het gevolg, wat deur Creswell, Langenhoven en myself toegespreek is. As die verantwoordelike Minister het ek dan ook hier verklaar dat ek nie bereid was om enige verdere konsessie te aanvaar wat in stryd was met ons neergelegde beginsels nie. Die uitwerking van hierdie vergadering was byna onberekenbaar, en was my tot groot steun by die verdere ontwikkelings. En dit was nodig.


’N KABINETSKRISIS[edit]


Binnekant die Kabinet is daar nou afgespeel die vernaamste bedryf in die hele aangrypende drama. Omtrent die verloop van die onderhandelings tussen hom en genl. Smuts het genl. Hertzog drie maal gerapporteer. Die eerste was by die stadium toe hulle nog mekaar gepols het om uit te vind watter moontlikhede uitgeskakel moes word, en watter bespreek kon word. By hierdie Kabinetsvergadering het ek my van enige deelname aan die bespreking stelselmatig onthou. Vir almal was dit opvallend, maar ek het dit ook so bedoel. Ek wou die indruk wek dat die onderhandelings nie my saak was nie, en dat ek daarvoor ook geen verantwoordelikheid wou dra nie, maar dat dit my taak was om oor die resultaat te oordeel en dan na bevind van sake te handel. In ’n situasie soos hierdie het ek gemeen dat ’n veelbetekenende stilswye en ’n afwagtende houding my in die sterkste posisie sou plaas om die loop van sake te beheers. Die bedoeling van die teenwoordige aksie was om my by die onderhandelings uit te skakel, en ek was bereid om daarby te berus.

Die tweede keer het genl. Hertzog gerapporteer dat genl. Smuts bereid was om ’n kompromis te aanvaar wat min of meer dieselfde was as die Roos-vlag. Ek het natuurlik vermoed dat dit uiteindelik hierop sou uitloop, aangesien ek lank reeds daarvan oortuig was dat die voorafgaande skermutselings maar bedoel was om die skyn te bewaar. My hele belangstelling was natuurlik nou gekonsentreer op die weerklank wat dit aan ons kant in die kring van ons Ministers sou vind. Die uitsteek van voelhorings in my rigting, wat ’n tyd lank aangegaan het, het niks gehelp nie. Uiteindelik het die Eerste Minister hom verklaar en gesê dat hy bereid was om binnekant die Van Riebeeck-vlag ‘n Union Jack te aanvaar twee maal so groot as die twee republikeinse vlae en om op daardie grondslag vrede te maak. Dit sou dan die vlagreëling op ’n kwantitatiewe basis plaas, wat dan regverdig sou wees, omdat van die pre-unie-state twee (Kaapland en Natal) onder die Union Jack was, en onder ieder van die twee republikeinse vlae slegs een. Hierop moes ek natuurlik reageer, en op die onaanneemlikheid daarvan wys, omdat ons hier te doen het nie met territoriale belange nie, maar met sentiment, en dat dieselfde sentiment vir ’n baie groot gedeelte deur die bevolkings van al vier provinsies met mekaar gedeel word. Verder het ek aangetoon dat die aanvaarding van die Union Jack, soos nou aanbeveel word, in lynregte stryd sou wees met al drie grondbeginsels wat ons nog onlangs in die gekose komitee by monde van die Eerste Minister self so plegtig neergelê het as onverbiddelike vereistes aan ons kant. Sulke algehele kapitulasie was ek nie bereid om te aanvaar nie.

In hierdie stadium het genl. Hertzog opgewonde tussenbeide gekom en verklaar dat as ek die voorstel nie wou aanvaar nie, hy dan as Eerste Minister sou bedank. Hierop het ek geantwoord dat ek tot my spyt baie beslis moes sê dat ek die voorstel in geen omstandighede sou aanvaar nie, en dat na my mening die Afrikaanssprekende deel van die bevolking dit ook nie sou doen nie. En wat bedanking betref, aangesien dit die prerogatief van die Eerste Minister is om die vlagbeleid van sy Kabinet neer te lê, dit seker nie sy plig is om te bedank nie maar myne, as ek nie daarmee kan saamgaan nie.

Ná ’n paar losse aanmerkings van ander Ministers, waarby ek tot my verrassing steun gekry het onder andere van Madeley, is die Kabinetsvergadering sonder enige skynbare resultaat verdaag tot die volgende sittingsdag, dit wil sê tot Maandag. Met ons hervatting van die bespreking het die Eerste Minister ons toe meegedeel dat hy verdere onderhandelings met genl. Smuts gehad het, en hom meegedeel het dat hy sy medeministers nie daartoe kon kry om hul voorlopige ooreenkoms te aanvaar nie. Gevolglik het hulle toe voorlopig tot ’n ander ooreenkoms gekom wat genl. Smuts nou sou probeer om by sy volgelinge goedgekeur te kry. Hierdie ooreenkoms is feitlik dieselfde as dié wat nou beliggaam is in die wet. Gedurende die uitleg het ek stilgesit. Toe almal hul opinie gegee het, is myne gevra. Daarop het ek sekere besware geopper wat ek nog gehad het, soos byvoorbeeld in verband met die gebruik van albei vlae by ons buitelandse kantore, ens., wat ek beskou het as vatbaar vir ’n verkeerde interpretasie. Daarteenoor, egter, het ek my tevredenheid te kenne gegee oor die feit dat ons nou verlos was van die gevaarlike Strachan-amendement, en dat genl. Smuts in plaas van teoretiese gelykheid van die twee vlae, nou bereid was om die offisiële gebruik van die Union Jack te beperk tot sekere gespesifiseerde plekke. Ten slotte het ek verklaar dat alles in aanmerking geneem, en ten spyte van die gebreke wat die ooreenkoms aankleef ek geen genoegsame grond vind om dit te opponeer nie.

Daar was hoorbaar ’n sug van verligting by almal, myself ook daarby inbegrepe. Die Nasionale Party het die ooreenkoms sonder enige beswaar goedgekeur, en daar het ek die geleentheid waargeneem om te wys op die groot geluk wat ons oorgekom het om ’’n ooreenkoms te kry, met behulp van genl. Smuts se minder gelukkige spel, wat volgens my opvatting werklik gunstiger was as die terme wat ons, danksy die Strachan-amendement, self die vorige sessie aan die S.A.P. aangebied het.

Wat seker op sigself taktloos was, maar tog ook nie onverdiend nie, was dat genl. Smuts openlik in die Parlement hulde toegebring het aan die Goewerneur-generaal vir sy aandeel in die verkryging van ‘n vreedsame skikking. Die S.A.P.-pers weer, ten spyte daarvan dat hy met die werklike feite goed bekend was, het Roos begin te verhef tot die held van die dag, en die skikking beskryf as sy glorierykste oorwinning. Hy is selfs vereer geword met ‘n groot vredeskoek, wat hy in die Parlementshuis moes deel met die verteenwoordigers van alle partye. Hierdie lof het hom egter byna uitsluitend beperk tot S.A.P.-kringe, wat alleen langs daardie weg die skyn kon wek dat hulle in die verkryging van ’n eie vlag vir Suid-Afrika ’n aandeel gehad het. Ongetwyfeld het daarin ook die bedoeling gelê om by Nasionaliste ontevredenheid te wek deur hulle onder die indruk te probeer bring dat die vlag werklik ’n prysgee van ons beginsels was. Te midde van hierdie onegte bewieroking het Roos nou ook nog ’n kampanje begin, in die hoop klaarblyklik om daardeur wantroue en verdeeldheid aan ons kant te wek, ten gunste van ’n reoriëntering van partye. Dit sou dan die natuurlike uitvloeisel en die kroon op die vlagskikking wees.

Ons het die finale parlementêre stadiums van die Vlagwetsontwerp nou genader, en ek het my daarom daarop toegespits om Roos nou maar aan homself oor te laat. Ek wou geen inwendige stryd binnekant ons eie geledere op enige manier aanhelp nie. In die Senaat kon ek ,,vir oulaas’’ my hand nog maar sit net aan ’n kanttekening in die wetsontwerp waar verkeerdelik van die twee vlae melding gemaak was as die ,,Nasionale vlae’’. Daar was immers maar net één enkele Nasionale Vlag. So is dan uiteindelik die Vlagwet in die wetboek geplaas.

Die essensiële bepalings van die wet is as volg:
l. Die Unie het twee vlae. Die een is die Nasionale Vlag, die gebruik waarvan onbeperk is. Die ander is die Union Jack, maar in hierdie geval is sy offisiële gebruik beperk, beide wat sy betekenis betref, sowel as die spesifieke plekke waar hy gehys sal word.

2. Die Union Jack is daar uitsluitend om aan te dui ons (vrye) assosiasie met die ander lede van die Statebond. As sodanig het dit geen spesifieke betrekking op Engeland of op enige ander bepaalde Statebondsland nie, en is daar ook geen implikasie van onderhorigheid nie.

3. Die Union Jack mag alleen saam met die Unievlag gehys word, en dan alleen op sekere gespesifiseerde plekke, waar dit dan ook verpligtend is, en wel as volg:

a) die Parlementshuis

b) die vernaamste regeringsgeboue in die hoofstede van die Unie en van die Provinsies en in die Unie-hawens, en

c) sodanige ander plekke as wat die Regering mag bepaal.

Hieruit blyk dat, behalwe binne sekere bepaalde grense, die offisiële gebruik van die Union Jack slegs administratief is en in die Regering van die dag se hande.

Die eerste toepassing van die wet was in die hande van die Regering, waarvan ek ‘n lid was, en ná die geweldige emosionele stryd wat net agter die rug was, moes daar vanselfsprekend met verdraagsaamheid en takt te werk gegaan word. Die algemene reël is toe gevolg dat in oorwegend Engelssprekende streke daar ten opsigte van die Union Jack toegeefliker gehandel word as elders. Sulke streke het byvoorbeeld ingesluit Natal, met uitsondering van die dele wat vroeër aan die Transvaalse republiek behoort het, en die oostelike dele van Kaapland, in die verwagting dat die tyd wel sal aanbreek dat ook hulle in nasionale sentiment van die res van die Suid-Afrikaanse volk nie meer sal verskil nie.

Daar was egter nog één kwessie wat die gevoelens heftig in beroering gebring het. Dit was die vraag of op die Kasteel in Kaapstad slegs die Unievlag of ook die Union Jack sal waai. Hier het die vlagstryd ’n korte tyd herleef en hom gekonsentreer. Die belangrikheid van hierdie vraag het spoedig genoeg geblyk. Volgens internasionale gebruik moet besoekende of verbyvarende oorlogskepe die landsvlag salueer. Vir hierdie doel is daar sekere aangewese sogenaamde ,,saluting stations’’. Die Kasteel is een. Die kwessie was dus hier een van beginsel en van die eer van ons nasionale vlag, rakende die behoorlike erkenning daarvan deur ander lande. Hier was ek daarom onverbiddelik. Oorlogskepe, van watter lande ook al, salueer daarom nou alleen ons eie Suid-Afrikaanse vlag.


DIE LAASTE BEDRYF[edit]


Die laaste bedryf moes nou plaasvind. Dit was die inwerkingtreding van die Vlagwet en die offisiële hysing daarvan orals in die land. Die dag daarvoor vasgestel, was 31 Mei 1928. Geen geskikter dag kon daarvoor uitgekies gewees het nie as Uniedag, simbool en vertolking van Suid-Afrika se diepste aspirasie na die volle verwesenliking van sy eie nasieskap en sy nasionale eenheid.

Die reëlings by die Parlementshuis, waar die vernaamste funksie plaasgevind het, was in die hande van die Parlement self, en in teenwoordigheid van ’n groot en uiters verteenwoordigende skare. Die reëlings in die vier hoofstede was in die hande van die Regering, en op ander plekke weer in hande van die volk self. Soveel as moontlik is gesorg dat die feesviering op streng nie-party-basis sou plaasvind. Uit die aard van die saak was die reëlings in die vier hoofstede in my eie hande. Omdat ek so lank die middelpunt van die stryd was en die vernaamste mikpunt van die Opposisie se aanvalle, wou ek self nie êrens as spreker optree nie, en het om daardie rede alle uitnodigings van die hand gewys. Met my eggenote was ek op die verhoog voor die Parlementshuis. Die gedagtes het hulle in my vermenigvuldig, en in die gees het ek weer oorgeleef daardie lange, bange stryd wat ons deurgeworstel het. Toe presies om elfuur ons eie Suid-Afrikaanse Nasionale Vlag bo die Parlementshuis homself vir die eerste maal statig en sierlik ontplooi en in die windjie wapper, en toe een-en-twintig kanonskote plegtig en donderend hul ere-saluut uitbulder, was dit vir my beloning genoeg.

Suid-Afrika, ons eie vaderland, was nou in staat om onder sy eie vlag sigself te wees en te voel, en om as ‘n vrye volk as sodanig sy verskyning te maak onder die vrye volke van die wêreld.