Afrikaner-Volkseenheid/Die Via Dolorosa

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die Denk-episode Afrikaner-Volkseenheid
Die Via Dolorosa
deur D. F. Malan
Bondgenootskap en Eenwording


Die verwarring, wat daar aan Suid-Afrikaanse Nasionale kant sedert die samesmelting ontstaan het, en wel ook as gevolg daarvan, het sy hoogste (of moet ek liewer sê, sy laagste) punt bereik met die aanskoulike weerspieëling daarvan in die Volksraad in 1935. Op die Opposisiebanke het daar teenoor die imperialisties-gesinde Smuts-regeringsparty toe naas mekaar gesit drie afsonderlike party-groepe, al drie oorblyfsels van ’n vroeër aaneengeslote en sterk regeringsparty maar nou vervreemd van, en in botsing met mekaar. Die eerste en sterkste was die tradisionele Nasionale Party onder my leierskap; die tweede was die Afrikaner-Party onder leiding van generaal Conroy, en verteenwoordigende die gewese Smelter-(Hertzog)-seksie; en die derde was die Nasionaal-sosialistiese Nuwe Orde onder leiding van ds. C. W. M. du Toit.
Ek hoef nouliks te sê dat hierdie posisie ’n aanskoulike en vernederende toonbeeld was van magteloosheid - uit ons Nasionale oogpunt beskou, 'n ware lydensweg. Die enigste ligpunt daarin was die vaste oortuiging, wat dit moes wek, dat die herenigingsdrang hom by ons volk nou noodwendig kragtiger as ooit tevore sal moet openbaar, tensy ons bereid sou wees - wat ondenkbaar was - om die ondergang van ons eie Afrikaner-nasieskap met lede oë te aanskou. Uiterlik was die agteruitgang baie klaarblyklik. Die Nasionale party in die Volksraad het sedert 1933 in ledetal agteruitgegaan van 75 tot 19. Dit was die vrug van die samesmeltingsbeleid. Daarvan het die Kaaplandse verteenwoordigers 14 getel terwyl daar slegs 4 in die Vrystaat was en 1 in die Transvaal. In die noordelike dele van ons land was die Nasionale Party dus so goed as dood. En selfs in Kaapland self het byna die helfte van die Nasionale Partylede gesmelt terwyl in die Vrystaat dit vir soveel as 'n drie-kwart gebeur het.
Die agteruitgang in ledetal was egter nog lank nie die ergste nie. Veel erger nog was die ontbindingsproses wat daarmee gepaard gegaan het en wat ek reeds gemeld het. Die vreemde ideologiese invloede van die voorafgaande jare, en deur die O.B. en die verskillende hemp-organisasies verteenwoordig en gepropageer, het op politiek-staatkundige gebied hul uitwerking nie gemis nie. Die gevolg was drie aparte groepe aan Opposisiekant – al drie met dieselfde historiese en algemeen politieke agtergrond, al drie in kern en wese Afrikaans-nasionaal maar nou krities en soms selfs vyandig teenoor mekaar. Die drie groepe, eenmaal tesame een verenigde en magtige party, wat die land geregeer het, en 'n groot volk opgebou het, deur verdeeldheid nou geword 'n tragedie en 'n bespotting. Waar hul op die Opposisie-banke langs mekaar nou as drie partye gesit het, te wete as Nasionale Party, Afrikaner-party, en Ossewa-Brandwag, daar was hul 'n aanskoulike toonbeeld, nie van hul gesamentlike krag nie, maar van hul innerlike swakheid, en van die ineenstorting van hul politieke volkslewe. Dit was inderdaad die Afrikanerdom se Via Dolorosa – die pad na sy nasionale Golgota.
Indirek maar tog effektief het op hierdie ongelukkige toestand die Krisis-kongres van 3 Junie 1941 te Bloemfontein gehou, 'n sterke invloed uitgeoefen. Die ontbindingsproses is gestuit. Ná die verwerping van sy Nuwe Orde deur hierdie Uniale Kongres het adv. Pirow, wat hom toe op die Transvaalse Provinsiale Kongres beroep het, ook daar die nederlaag gely. Op die parlementêre posisie kon dit egter geen onmiddellike uitwerking hê nie. Dit kon en sou ook geskied, maar alleen langs 'n lange en pynlike weg.
Die algemene verkiesing van 1943 het vir die Nasionaal-gesinde maar verdeelde groep uitgeloop op 'n groot nederlaag. Die 68-tal in die Volksraad wat by die uitbreek van die oorlog in 1939 genl. Hertzog nog ondersteun het, was nou tot 43 verminder. Dit het my egter nie ontmoedig nie. Inteendeel, vir my was dit die teken dat die dageraad van die oorwinning aan die politieke oosterkimme begin het om deur te breek. Hierdie eleksie was immers 'n suiweringsproses, met die vooruitsig dat daar nou 'n end sou kom aan daardie vernederende skouspel van drie aparte Nasionaal-gesinde groepe op die Opposisie-banke. My boodskap aan die Nasionaal-gesinde deel van ons volk het daarom as volg gelui: ,,Die Afrikanervolk het nou self 'n geleentheid gehad om hom oor daardie vernederende en verwoestende verdeeldheid uit te spreek, en sy uitspraak was ondubbelsinnig. Die Opposisie is nou één gekonsolideerde geheel. En mag dit ook die aankondiging wees van die oorwinning wat kom!
,,En laat elke Nasionalis nou ook prakties daartoe bydra onder ander deur beslis te weier om koning te kraai oor die kleiner partye, wat parlementêr nie meer bestaan nie. Ons het alle Afrikaners nodig !”
Die vraag kan hier, en met reg ook, gedoen word of die drie Nasionaal-gesinde groepe dan nie met mekaar kon verenig of minstens 'n eleksie-ooreenkoms met mekaar kon aangegaan het in plaas van mekaar te beveg nie. Die vraag is werklik ook vóór die eleksie aan my gedoen, en wel deur Volksraadslid Tom Naudé op die Transvaalse N.P.-kongres. My antwoord daarop was as volg: 'n Ooreenkoms kan ons aangaan alleen met 'n party of partye, wat in beginsels genoegsaam met ons ooreenstem. Dit is wel die geval met die Afrikaner-Party van mnr. Havenga en daartoe is ek bereid, maar met die O.B.- en Nuwe Orde-groepe is dit nie die geval nie, soos die verlede ons ook geleer het. En op 'n gebroke fondament kan geen huis werklik of figuurlik veilig gebou word nie. Ons was nog altyd 'n beginselparty en ons heil en toekoms lê daarin dat ons dit bly. As gevolg van hierdie verklaring het samesprekings later toe ook werklik plaasgevind tussen Havenga as leier van die Afrikaner-Party en myself, eers op losse voet met die oog op 'n eleksie-ooreenkoms, wat egter op niks uitgeloop het nie, omdat eise aan Afrikaner-Party-kant in verband met die seteltoekenning buitensporig en daarom onaanneemlik was, maar wat later tog gelei het tot meer realistiese en geslaagde onderhandelings, wat dan ook in volkome eenwording geëindig het, soos dit onverbreekbaar vandag nog bestaan. Dit het plaasgevind op uitnodiging en bemiddeling van dr. T. E. Dönges in sy huis te Seepunt en wel tussen Havenga en myself. Ons doelwit is toe bereik. Ons was Nasionaal. Prinsipiële verskille was daar nie. Maar daarby was ons toe ook dit wat alleen ons Nasionalisme tot 'n lewende krag kan maak.
Die Afrikanerdom was nou weer op koers en, wat sy innerlike wese betref, nie meer op die voetspoor van 'n ander volk met 'n ander ideologie nie. Sy eie nasionale siel was gered en ooreenkomstig sy eie aard en geskiedenis kon hy homself nou weer ten volle uitlewe. Losgeruk uit die Nasionaal-sosialisme van Pirow en Van Rensburg, wat ten slotte tog ook net maar dié van Hitler was, kon hy nou op sy eie tyd en wyse sy pad bewandel na 'n eie onafhanklike Suid-Afrikaanse republiek, van vreemde bande vry. In beginsel het op 'n mosie van my selfs die Volksraad dit daarna ook alreeds twee maal aanvaar, te wete in 1942 en weer in 1953, in hierdie laaste geval selfs letterlik in die bewoording van ons eie Nasionale Party-beginselprogram, waarop later ook weer gevolg het die instelling van 'n eie Suid-Afrikaanse burgerskap met 'n eie vlag en 'n eie volkslied. In die laaste twee gevalle moes dit vanselfsprekend trapsgewyse geskied in sover as onder heersende omstandighede daar aan die twee Britse simbole nog 'n beperkte erkenning verleen moes word naas ons eie. Met 'n bevolkingsamestelling met 'n geskiedenis agter die rug, en met 'n gesplete nasionale sielkunde, soos die Suid-Afrikaanse bevolking gedeeltelik nog gehad het, sou 'n sprong in hierdie geval in plaas van 'n geleidelike voorwaartse beweging 'n skok en daarby moontlik ook nog 'n fatale een daarby, gewees het. Suid-Afrika was sielkundig nog maar op die pad na sy eie volle nasieskap, en op daardie stadium moes daarmee nog rekening gehou word. Daardie taktiek was gesond en het ook geblyk suksesvol te wees, hoewel rukke en stote nie ontbreek het nie. Die vreedsame verkryging van die republiek, wat ooreenkomstig die Nasionale Party Suid-Afrika se bestemming en doelwit is, moet noodwendig op die gevestigde volkswil berus, wat in die praktyk self weer alleen kan beteken 'n veilige meerderheid van die stemgeregtigde Suid-Afrikaanse volk, gepaar met die erkenning van die gelyke taal- en basiese kultuurregte van beide bevolkingsbestanddele. Onderlinge vertroue tussen die twee bevolkingsbestanddele is die noodsaaklike grondslag van ons nasionale vooruitgang.
Die Krisis-Kongres, wat vir die Afrikanerdom die koers aangewys het, en tegelyk deur die koördinasie van kragte 'n samehorigheidsgevoel wou skep, het tegelyk ook vooraanstaande persoonlikhede gevorm, wat soms egter gevaar geloop het om hand-uit te ruk, hul grense te buite te gaan, en wel met rampspoedige gevolge vir hulself. 'n Tipiese voorbeeld hiervan was prof. L. J. du Plessis, wat 'n prominente aandeel aan die Party se verrigtinge, en veral ook aan die Kongres self geneem het – alles op die voetspoor wat tot daartoe gevolg was, en wat selfs op die voorpunt gestaan het van haas elke beweging. Sy lidmaatskap van die Eenheidskomitee, waar hy as één van drie in 'n leidende posisie geplaas was, was blykbaar egter vir hom te veel, hoewel nie vir sy kragte nie. Eers het hy gestyg tot die Voorsitterskap daarvan, blykbaar met buitengewone hoewel self-toegeëiende magte. Daarna het hy aan die eenheidskomitee self binnekant die Party, maar ook in die volkstruktuur in die algemeen, 'n plek toegeken wat nooit bedoel was nie, maar wat selfs ook buitensporig van aard was.
Daarop het toe verder gevolg 'n landswye oproep in sy eie naam alleen, en nogal sonder voorafgaande raadpleging met enige ander voorman of liggaam, tot 'n landswye ,,Volkskongres” te Bloemfontein op 7 Oktober voormiddag, en in dieselfde namiddag dan gevolg te word deur 'n groot ,,volksvergadering” by die Vroue-monument, waar dan algemene leiding gegee sou word, maar meer besonderlik ook om die Party en die O.B. in een gesamentlike poging saam te snoer. Van hoedanig dit alles sou wees is geen verdere aanduiding gegee nie. Sy oproep regverdig hy op ,,die onvermoë van die voormanne om hul aan te pas by die nuwe eenheidsdrang wat die volk besiel”. Dat ons vriend sy boog te styf gespan het, is egter deur die resultaat bewys. Sy oproep het geen ondersteuning gekry en geen geesdrif gewek nie. Ongunstige kritiek is daar egter heelwat gehoor, hoofsaaklik weens die on- en eigenhandige wyse waarop hy te werk gegaan het en die vaagheid van sy plan. Die dubbele L. J. du Plessis-Volkskongres, hoe goed bedoel ook al, (en daaraan het ek nie getwyfel nie), het ongebore gebly.