Afrikaner-Volkseenheid/Die Hertzog-tragedie

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Vreemde Ideologieë Afrikaner-Volkseenheid
Die Hertzog-tragedie
deur D. F. Malan
Daardie Vyftiende Dag van April


Die verdere pad wat deur die nuwe herenigde party nog bewandel moes word, het die optrek van sy Program van Beginsels deur die Agerende Federale Raad ingesluit. Voordat dit egter vir goedkeuring aan al vier provinsiale kongresse voorgelê kon word, het genl. Hertzog daaroor met sy eie Vrystaatse kongres gebots en toe hy by die stemming verloor, het hy woedend die vergadering verlaat. Dit was dan ook die einde van sy politieke loopbaan. Met die oog op sy persoon, en die groot plek wat hy in die geskiedenis van Suid-Afrika ingeneem het, kan dit tereg beskou word as 'n eersterangse tragedie. Hy was ongetwyfeld een van Suid-Afrika se grootste seuns.
Die loop van sake was as volg: Die Agerende Federale Raad, waarvan genl. Hertzog lid, en tewens ook voorsitter was, maar aan die verrigtinge waarvan hy egter geen deel wou neem nie, het sy opgelegde taak vervul, en met sy Konsep-program van Beginsels te voorskyn gekom. Sonder om dit in ag te neem, het genl. Hertzog egter 'n eie Vrystaatse Program opgestel met beklemtoning van die Vrystaatse soewereine reg om dit te doen. Die feit dat die Vrystaatse Nasionale Party ook 'n lid was van 'n party-federasie met 'n federale raad om juis in verband met gemeenskaplike aangeleenthede die onderskeie kongresse te adviseer, het hy blykbaar uit die oog verloor. Sy houding was met ander woorde beslis separatisties van aard. Die gevolg hiervan was dat daar uiteindelik voor die Vrystaatse Kongres twee afsonderlike programme gelê was, die een van die Federale Raad, handelende in opdrag van die Nasionale Party as geheel, insluitende ook sy eie Vrystaatse kongres, en die ander dié van genl. Hertzog as Vrystaatse provinsiale leier alleen. Vanselfsprekend kon slegs één bespreek word. Die Generaal het egter geëis dat dit syne sal wees, en het daarvan 'n kwessie van vertroue gemaak. Die kongres het die Federale Raad se ontwerp gekies. Daarop het genl. Hertzog woedend die deur uitgestap, en daarmee het hy ook self sy eie politieke loopbaan beëindig. Die tragedie was des te groter omdat op die eigentlike punt van verskil tussen die twee programme die botsing bestaan het meer in die keuse van woorde – en geen essensiële of belangrike ook hier nie – as in die inhoud van die betrokke formule. Die werklike oorsaak van die breuk moet blykbaar daarom elders gesoek word. Dit moet sielkundig van aard gewees het of in een of ander bepaalde gebeurtenis te vinde gewees het, of albei.
Die verskil tussen die twee formules het blykbaar daarin bestaan dat die kongres namens sigself slegs wou herbevestig die bestaande bepaling omtrent gelyke behandeling van die twee offisiële tale ooreenkomstig die Grondwet, en sedert Unie beskou as genoegsame beskerming vir beide bevolkingsgroepe, terwyl genl. Hertzog weer daarop gestaan het dat ook die twee rassegroepe as sodanig daarby ingesluit moes word. Dit sou wel 'n getroue weerspieëling gewees het van genl. Hertzog se Samesmeltingsbeleid, maar sou tegelyk tog ook ingesluit het 'n nuwe beginsel van 'n min of meer politieke strekking, die draagkrag waarvan nie so gemaklik voorsien kon word nie, en moontlik vir verskillende interpretasies en toekomstige stryd vatbaar kon wees. Selfs in ,,die sewe punte van Koalisie”, die grondslag van Koalisie, was dit nie inbegrepe nie. Aan betwyfeling en nog minder aan bestryding was genl. Hertzog egter nie gewoon nie, en allermins nog in die Vrystaat, en verwerping deur 'n Vrystaatse kongres het daarom vir hom gelyk gestaan met wantroue beide in sy leiding en sy persoon. Die gevolge was dan ook noodlottig.

Sielkundig kon genl. Hertzog se geestestoestand gemaklik begryp word. Saam met genl. Smuts was hy die stigter van die samesmelting van die twee groot politieke partye, en dit wel in die aangesig van die heftige opposisie en selfs van die skeuring van sy eie party. As Samesmelting geluk het, sou dit in sy hele politieke loopbaan sy grootste prestasie gewees het. Dit het egter misluk toe die toets van die uitbrekende oorlog die bewys gelewer het dat 'n eenheid wat op fundamentele verskille berus, soos dit hier doelbewus die geval was, opgebou is op 'n wrakke fondament, en daarom noodwendig ook in duie moes stort. Standhoudende eenheid kon met ander woorde verkry word alleen langs 'n ander weg as deur genl. Hertzog self aangewys was, te wete deur bymekaar te bring alleen diegene wat deur innerlike politieke oortuiging bymekaar tuis hoort. Hereniging het later wel gekom, maar toe ten spyte van hom. Innerlik was genl. Hertzog dus 'n teleurgestelde man. Die ongeluk hiervan was gevolgelik dat hy gedurig daarop uit was om sy eie leierskap te bewys en te beklemtoon, en dit soms ook wel op onoordeelkundige wyse. Hy het verander in 'n outokraat en was daarby ook wantrouig.
By verneming van die gebeurde het ek aan genl. Hertzog die volgende telegram gestuur:
,,Ek betreur ten seerste u bedanking in pynlike omstandighede. Ondanks alles sal die Afrikanerdom vir ewig u troue en selfopofferende diens oor baie jare in dankbare herinnering hou en u eer.”
'n Gebeurtenis wat tot die tragedie bygedra het, was daar ongelukkig ook. En dit het hom verbitter. Dit was die sogenaamde ,,Vrymesselaarsbriewe”-storie, waaraan deur dr. N. J. van der Merwe in 'n toespraak publisiteit gegee was. Daar sou dan in 'n ,,Vrymesselaarskissie” briewe ontdek gewees het waarin 'n plan van genl. Smuts geopenbaar was vir die geval dat Duitsland die oorlog sou wen. Om die gebied ten noorde van die Unie, sowel as die Unie self, minstens vir Britse invloed te behou, sou hy dan die hele gebied tot 'n ,,rooi” republiek wou verklaar, strekkende tot in Midde-Afrika. Hy sou dan in so 'n geval ook verseker wees van die medewerking van genl. Hertzog en mnr. Havenga. In verband hiermee skyn dit dat iemand 'n brief uit Rhodesië sou ontvang het wat minstens aangedui het dat so 'n moontlikheid ook daar bespreek was – iets wat met die oog op die onsekere toestande nie onwaarskynlik was nie. Waarskynlik is alles ook bespreek in die lig van genl. Smuts se verklaring aan sir John Chancellor, voorsitter van die Royal African Society, dat hy ,,die toekomstige skepping voorsien van 'n groot dominium wat van Kaapstad in die Suide tot Kenia in die Noorde sal strek”. 'n Ander storie was dat alles maar 'n pure versinsel was van 'n opsetlike kwaadstoker.
Dr. Van der Merwe het in sy toespraak ongelukkig nagelaat om aan te dui of hy enige waarde aan die gerug heg of nie, en die storie is versprei, wat deur genl. Hertzog as waar aanvaar is, dat adv. Swart met kwaaie bedoelings 'n spesiale en dringende boodskap daaromtrent met 'n vertrekkende mede-parlementslid na Transvaal sou gestuur het, met die versoek om dit ook daar bekend te maak. Die implikasie sou dan gewees het dat die storie waar was, en dat genl. Hertzog en mnr. Havenga besig sou wees om met genl. Smuts en sy imperialistiese planne te heul – iets wat byna die aanskyn sou gehad het van 'n komplot teen die Nasionale Party. Sonder verdere ondersoek het genl. Hertzog die beweerde optree van sy twee Vrystaatse kollegas kwaai veroordeel, en hulle daarna persoonlik in 'n vyandige lig beskou. 'n Poging van dr. Van der Merwe om deur 'n persoonlike onderhoud met hom die posisie te kom ophelder, het hy kortaf van die hand gewys. Toe die Vrystaatse kongres gehou moes word, was die atmosfeer daarom in hoë mate alreeds vertroebel, wat nog vererger was deur die feit dat genl. Hertzog by die kongres se openingsplegtigheid ’n vry heftige persoonlike aanval gemaak het op dr. Van der Merwe, wat ongelukkig ook net 'n paar dae tevore oorlede is. Dit was op sy minste slegte smaak aan sy kant.
Die uittree van genl. Hertzog onder sulke omstandighede was 'n gebeurtenis van soveel belang dat die Nasionale Party dit nie maar net daarby kon laat nie. Die Parlementêre Koukus het dan ook daarop aangedring dat daar 'n grondige en onpartydige ondersoek ingestel moes word na al die omstandighede. Genl. Hertzog is daarom in die eerste instansie uitgenodig om in die voorgestelde kommissie van vyf sy eie persoonlike verteenwoordigers te benoem. Die voorsitter sou wees prof. J. C. van Rooy van Potchefstroom, 'n alom geëerde en hoogstaande, non-partypolitieke persoonlikheid. Die Generaal het egter geweier. Daartoe versoek, het twee vooraanstaande parlementslede en Hertzog-ondersteuners, te wete adv. Pirow en mnr. J. C. de Wet, L.V., aanvanklik ingewillig om in die kommissie te dien. Later, egter, het hulle hulle weer onttrek, vermoedelik omdat genl. Hertzog self geweier het om enige getuienis te gee, wat, as dit beskikbaar was, beslis baie waardevol en selfs deurslaggewend sou gewees het. Blykbaar het die twee onder omstandighede dit ontsien om as regters oor genl. Hertzog op te tree. Alle beskikbare getuienis en wel onder eed, is egter tog ingewin, onder andere ook van myself. Tot 'n uitspraak het dit egter nie gekom nie, en onder die omstandighede kon dit ook nie. Die getuienis is egter volledig aangeteken, en in 'n rapport gepubliseer wat by wyse van 'n aanhangsel aan hierdie verhaal vir elkeen beskikbaar gestel word. Aangesien die uittree van genl. Hertzog van die grootste geskiedkundige betekenis was, is dit van groot belang.