Wet op outeursreg 98 van 1978/Hoofstuk 5

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Hoofstuk 4 Wet op outeursreg 98 van 1978
Hoofstuk 5
Gemengde bepalings
deur Die regering van Suid-Afrika
Bylae


HOOFSTUK 5
GEMENGDE BEPALINGS (aa 39-47)


39 Regulasies


Die Minister kan regulasies uitvaardig-


(a) met betrekking tot enige aangeleentheid wat ingevolge hierdie Wet by regulasie voorgeskryf moet of kan word;


(b) in oorleg met die Minister van Finansies, wat die skaal van gelde voorskryf wat betaalbaar is ten opsigte van verrigtinge in die Outeursreghof in artikel 29 (1) bedoel;


(c) in oorleg met die Minister van Finansies, wat die vergoeding en toelae van lede van die advieskomitee in artikel 40 bedoel, en van sy subkomitees, en die voorwaardes waarop sodanige lede aangestel word, voorskryf; en


(cA) in oorleg met die Minister van Finansies, wat voorsiening maak vir die instelling, samestelling, befondsing en funksies van die insamelingsverenigings in artikel 9A bedoel, en enige ander aangeleentheid wat nodig of doenlik mag wees om die behoorlike funksionering van sodanige verenigings te reguleer;


[Par. (cA) ingevoeg by a. 4 van Wet 9 van 2002.]


(d) oor die algemeen, betreffende enige aangeleentheid wat hy nodig of dienstig ag om voor te skryf ten einde die oogmerke van hierdie Wet te verwesenlik.


[Datum van inwerkingtreding: 30 Junie 1978.]


40 Advieskomitee


(1) (a) Die Minister stel 'n advieskomitee aan, wat bestaan uit 'n regter of 'n senior advokaat van die Hooggeregshof van Suid-Afrika as voorsitter en die ex officio- en ander lede wat die Minister van tyd tot tyd bepaal.


[Par. (a) vervang by a. 4 (a) van Wet 61 van 1989.]


(b) 'n Lid van die advieskomitee beklee sy amp vir die tydperk wat die Minister bepaal en kan by verstryking van sy ampstermyn heraangestel word.


(2) Die advieskomitee het met betrekking tot getuies en hul getuienis die bevoegdhede van 'n kommissie ingevolge die Kommissiewet, 1947 (Wet 8 van 1947).


(3) Die advieskomitee kan van tyd tot tyd aanbevelings aan die Minister aangaande wysigings aan hierdie Wet asook aan die Wet op Handelsmerke, 1963 (Wet 62 van 1963), die Wet op Modelle, 1967 (Wet 57 van 1967), en die Wet op Patente, 1978 (Wet 57 van 1978), doen en adviseer die Minister oor enige aangeleentheid wat deur die Minister na hom verwys word.


[Sub-a. (3) vervang by a. 4 (b) van Wet 61 van 1989.]


(4) (a) Die advieskomitee kan subkomitees saamstel en in stand hou.


[Par. (a) vervang by a. 4 (c) van Wet 61 van 1989.]


(b) Die advieskomitee stel as lede van die subkomitees die lede van die advieskomitee en die ander persone aan, en vir die ampstermyne, wat die advieskomitee van tyd tot tyd bepaal.


(5) Die advieskomitee kan die hulp inroep van enigiemand wat hy nodig ag om hom by te staan met, of aangeleenthede te ondersoek betreffende, die werksaamhede bedoel in subartikel (3).


[Sub-a. (5) vervang by a. 4 (d) van Wet 61 van 1989.]


(6) Die Registrateur is verantwoordelik vir die administrasie van die advieskomitee en die subkomitees.


[Datum van inwerkingtreding: 30 Junie 1978.]


41 Voorbehoude


(1) Geen bepaling van hierdie Wet raak 'n reg of privilegie van die Staat of iemand anders ingevolge 'n wetsbepaling wat nie uitdruklik deur hierdie Wet herroep, gewysig of verander word nie.


[Sub-a. (1) vervang by a. 31 (a) van Wet 125 van 1992.]


(2) Geen bepaling van hierdie Wet raak die reg van die staat of van iemand wat sy titel van die staat verkry, om artikels wat ingevolge die wetsbepalings op doeane en aksyns verbeur is, met inbegrip van 'n artikel wat verbeur is uit hoofde van hierdie Wet of van 'n bepaling deur hierdie Wet herroep, te verkoop, te gebruik of andersins daarmee te handel nie.


(3) Die bepalings van hierdie Wet doen nie afbreuk aan enige regsreël met betrekking tot vertroulike of geprivilegieerde inligting, onregmatige mededinging of persoonlikheidsregte nie.


[Sub-a. (3) vervang by a. 31 (b) van Wet 125 van 1992.]


(4) Behoudens die voorgaande bepalings van hierdie artikel, bestaan geen outeursreg of reg van die aard van outeursreg anders as uit hoofde van hierdie Wet of 'n ander wetsbepaling daaromtrent nie.


42 ......


[A. 42 herroep by a. 32 van Wet 125 van 1992.]


43 Toepassing op werk voor inwerkingtreding van Wet vervaardig


Hierdie Wet is van toepassing met betrekking tot werke voor die inwerkingtreding van hierdie Wet vervaardig, net soos dit van toepassing is met betrekking tot werke daarna vervaardig: Met dien verstande dat-


(a) geen bepaling in hierdie Wet-


(i) behoudens paragraaf (d), die eiendomsreg, termyn of bestaan raak van enige outeursreg wat ingevolge die Wet op Outeursreg, 1965 (Wet 63 van 1965), voortbestaan nie; of


(ii) behoudens paragraaf (c), so uitgelê word dat outeursreg geskep word in 'n soort werk waarin outeursreg nie voor 11 September 1965 kon bestaan het nie;


[Par. (a) gewysig by a. 14 (a) van Wet 52 van 1984 en vervang by a. 33 (a) van Wet 125 van 1992.]


(b) ......


[Par. (b) geskrap by a. 14 (b) van Wet 52 van 1984.]


(c) die outeursreg in 'n rolprent voor die inwerkingtreding van hierdie Wet vervaardig, deur die relevante bepalings van hierdie Wet gereël word, onderworpe aan die voorbehoud, in die geval van 'n rolprent wat as 'n oorspronklike dramatiese werk ingevolge artikel 35 van die Derde Bylae by die "Wet op Modellen, 1916" (Wet 9 van 1916), behandel word-


(i) dat die eienaar van die outeursreg, indien aangesê, die persoon moet vergoed wat die eienaar van 'n outeursreg in daardie oorspronklike dramatiese werk vir die doeleindes van daardie Wet is, welke vergoeding, by ontstentenis van ooreenkoms, by arbitrasie bepaal word; en


(ii) dat die eienaar van die outeursreg in die rolprent of 'n persoon wat regte ten opsigte van die rolprent van die eienaar verkry het, wanneer hy daardie regte in die rolprent uitoefen, geag word nie enige regte in sodanige oorspronklike dramatiese werk kragtens genoemde Wet te skend nie; en


(iii) dat 'n handeling verrig uit hoofde van 'n lisensie toegestaan deur die eienaar van die outeursreg in 'n oorspronklike dramatiese werk kragtens daardie Wet en wat bestaan voor of ten tyde van die inwerkingtreding van hierdie subartikel, geag word verrig te word of verrig te gewees het met die magtiging van die eienaar van die outeursreg in die rolprent.


[Par. (c) vervang by a. 33 (b) van Wet 125 van 1992.]


(d) by die bepaling van die termyn van outeursreg beoog in die voorbehoudsbepaling by artikel 3 (2) (a) in die geval van 'n werk ten opsigte waarvan die outeursreg by die inwerkingtreding van die Wysigingswet op Outeursreg, 1984, verval het op grond daarvan dat die tydperk vermeld in genoemde paragraaf verstryk het, daar geag word dat, behoudens enige regte deur enigiemand verkry na verstryking van daardie tydperk en voor genoemde inwerkingtreding, die outeursreg nie op daardie grond verval het nie.


[Par. (d) bygevoeg by a. 14 (c) van Wet 52 van 1984.]


44 Tydstip waarop werk vervaardig word


(1) By die toepassing van hierdie Wet word 'n werk, behalwe 'n uitsending of programdraende sein, geag vervaardig te gewees het toe dit vir die eerste keer op skrif gestel is of opgeneem of andersins tot stoflike vorm herlei is.


(2) 'n Uitsending word geag vervaardig te gewees het toe dit vir die eerste keer uitgesaai is.


(3) 'n Programdraende sein word geag vervaardig te gewees het toe dit vir die eerste keer deur 'n satelliet oorgesein is.


[A. 44 vervang by a. 34 van Wet 125 van 1992.]


45 Reëling en beheer van verspreiding, voordrag of vertoning van werke


(1) Ondanks andersluidende bepalings van hierdie Wet kan die Minister die regulasies uitvaardig wat hy nodig ag met betrekking tot die verspreiding, voordrag of vertoning van enige werk of produksie.


(2) Sodanige regulasies kan aan 'n daarin vermelde persoon die bevoegdheid verleen om die verspreiding, voordrag of vertoning van so 'n werk of produksie te verbied of om die verspreiding, voordrag of vertoning daarvan te magtig op die voorwaardes in daardie regulasies uiteengesit.


(3) Die verspreiding, voordrag of vertoning van 'n werk of produksie ingevolge magtiging kragtens sodanige regulasies verleen, maak nie 'n skending van die outeursreg in sodanige werk of produksie uit nie, maar die outeur word nie daardeur sy reg op 'n redelike vergoeding, wat by ontstentenis van ooreenkoms by arbitrasie bepaal word, ontneem nie.


[Datum van inwerkingtreding sal geproklameer word.]


46 Herroeping van wette


Die wette in die Bylae vermeld, word hierby in die mate herroep wat in die derde kolom van die Bylae aangedui word: Met dien verstande dat 'n proklamasie, regulasie of reël wat ingevolge 'n aldus herroepe bepaling uitgevaardig is en wat onmiddellik voor die inwerkingtreding van hierdie Wet van krag is, na bedoelde inwerkingtreding van krag bly en herroep, gewysig of verander kan word asof dit ingevolge hierdie Wet uitgevaardig is.


47 Kort titel en inwerkingtreding


Hierdie Wet heet die Wet op Outeursreg, 1978, en tree in werking op 1 Januarie 1979, behalwe artikels 1, 39 en 40, wat in werking tree by afkondiging van hierdie Wet in die Staatskoerant, en artikel 45, wat in werking tree op 'n datum deur die Staatspresident by proklamasie in die Staatskoerant bepaal.