Wet op outeursreg 98 van 1978/Hoofstuk 3

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Hoofstuk 2 Wet op outeursreg 98 van 1978
Hoofstuk 2
Outeursregshof
deur Regering van Suid-Afrika
Hoofstuk 4


HOOFSTUK 3
OUTEURSREGHOF (aa 29-36)


29 Instelling van Outeursreghof


(1) Die regter of waarnemende regter wat van tyd tot tyd kragtens artikel 8 van die Wet op Patente, 1978, as Kommissaris van Patente aangewys word, is ook die Outeursreghof (in hierdie Hoofstuk die Outeursreghof genoem) vir die doeleindes van hierdie Wet.


(2) Die Outeursreghof kan gelas dat die koste of uitgawes van enige verrigtinge voor hom wat deur 'n party aangegaan word, deur enige ander party betaal moet word, en kan die bedrag van enige koste of uitgawes takseer of vasstel wat ingevolge so 'n bevel betaal moet word of bepaal op watter wyse dit getakseer moet word.


(3) (a) Regulasies kan voorgeskryf word aangaande die prosedure in verband met verwysings na, en aansoeke by, die Outeursreghof en vir die reëling van die verrigtinge voor die Outeursreghof en aangaande die gelde ten opsigte van sodanige verrigtinge vorderbaar.


(b) Sodanige regulasies kan met betrekking tot verrigtinge voor die Outeursreghof enige van die bepalings van die Wet op Arbitrasie, 1965 (Wet 42 van 1965), of in die alternatief enige van die bepalings wat ingevolge die Wet op Patente, 1978, in die hof van die Kommissaris van Patente geld, toepas.


(c) Sodanige regulasies kan voorsiening bevat-


(i) waarby vereis word dat aan die Outeursreghof en aan die ander partye by die verrigtinge van enige voorgenome aansoek by die hof ingevolge artikel 36 kennis gegee word;


(ii) waarby die toepassing van bevele van die Outeursreghof opgeskort word of die Outeursreghof gemagtig of verplig word om dit op te skort in gevalle waar daar, nadat die Outeursreghof 'n beslissing gegee het, 'n aansoek ingevolge artikel 36 by 'n provinsiale afdeling van die Hooggeregshof aangeteken word;


(iii) om die toepassing van enige bepalings van hierdie Hoofstuk wat betref die uitwerking van bevele daarkragtens gegee, te wysig in die geval van bevele van die Outeursreghof waarvan die toepassing opgeskort word;


(iv) vir die publikasie van kennisgewings of die doen van ander stappe ten einde te verseker dat persone wat deur die opskorting van 'n bevel van die Outeursreghof geraak word, van die opskorting in kennis gestel word;


(v) om enige ander aangeleenthede wat bykomstig is by of ontstaan uit 'n versoek, aansoek, bevel of beslissing ingevolge artikel 36 te reël of voor te skryf.


(4) Sonder afbreuk aan enige regtens beskikbare metode om bevele van die Outeursreghof te bewys, is 'n dokument wat 'n afskrif van so 'n bevel heet te wees en deur die Registrateur as 'n ware afskrif daarvan gesertifiseer heet te wees, by enige regsgeding voldoende bewys van die bevel tensy die teendeel bewys word.


(5) Die Registrateur tree as die griffier van die Outeursreghof op.


(6) 'n Verwysing in hierdie Hoofstuk na die verlening van 'n geleentheid aan iemand om sy saak voor te dra, word uitgelê as 'n verwysing na die verlening aan hom van die geleentheid om sowel skriftelike vertoë voor te lê as om aangehoor te word.


[Sub-a. (6) bygevoeg by a. 26 (b) van Wet 125 van 1992.]


30 Algemene bepalings met betrekking tot jurisdiksie van Outeursreghof


Behoudens die bepalings van hierdie Hoofstuk is die werksaamhede van die Outeursreghof om-


(a) óf by verwysing van 'n lisensieskema na die Outeursreghof;


(b) óf op aansoek van iemand wat 'n lisensie verlang, hetsy ingevolge 'n lisensieskema of in 'n geval wat nie deur 'n lisensieskema gedek word nie,


geskille te besleg wat ontstaan tussen lisensiegewende liggame, of ander persone van wie lisensies vereis word en persone wat lisensies vereis of organisasies wat na bewering sodanige persone verteenwoordig.


[A. 30 vervang by a. 27 van Wet 125 van 1992.]


31 Verwysing van lisensieskemas na Outeursreghof


(1) Indien daar te eniger tyd terwyl 'n lisensieskema in werking is, 'n geskil met betrekking tot die skema ontstaan tussen die lisensiegewende liggaam wat die skema beheer en-


(a) 'n organisasie wat beweer dat hy persone verteenwoordig wat lisensies verlang in gevalle binne 'n kategorie waarop die skema van toepassing is; of


(b) iemand wat beweer dat hy 'n lisensie verlang in 'n geval binne 'n kategorie waarop die skema van toepassing is,


kan die betrokke organisasie of persoon die skema, vir sover dit gevalle binne daardie kategorie dek, na die Outeursreghof verwys.


(2) Die partye by 'n verwysing ingevolge hierdie artikel is-


(a) die organisasie of persoon op wie se versoek die verwysing geskied;


(b) die lisensiegewende liggaam in beheer van die skema waarop die verwysing betrekking het; en


(c) die ander organisasies of persone (as daar is) wat by die Outeursreghof aansoek doen om as partye by die verwysing gevoeg te word en wat ooreenkomstig subartikel (3) as partye daarby gevoeg word.


(3) Indien 'n organisasie (ongeag of hy beweer dat hy persone verteenwoordig wat lisensies verlang al dan nie) of 'n persoon (ongeag of hy 'n lisensie verlang al dan nie) by die Outeursreghof aansoek doen om as 'n party by 'n verwysing gevoeg te word, en die Outeursreghof oortuig is dat dié organisasie of persoon 'n wesenlike belang by die geskilpunt het, kan die Outeursreghof na goeddunke verlof verleen dat die organisasie of persoon as 'n party by die verwysing gevoeg word.


(4) Die Outeursreghof oorweeg nie 'n verwysing ingevolge hierdie artikel deur 'n organisasie nie tensy die Outeursreghof oortuig is dat die organisasie redelikerwys verteenwoordigend is van die klas persone wat hy na bewering heet te verteenwoordig.


(5) Die Outeursreghof moet, behoudens die bepalings van subartikel (4), by 'n verwysing ingevolge hierdie artikel, die geskilpunt oorweeg en nadat hy aan die partye by die verwysing die geleentheid gegee het om hul onderskeie sake te stel, so 'n bevel gee waarby die skema òf bekragtig òf gewysig word vir sover dit betrekking het op gevalle binne die kategorie waarop die verwysing betrekking het, as wat die Outeursreghof in die omstandighede redelik ag.


(6) 'n Bevel van die Outeursreghof ingevolge hierdie artikel kan ondanks enigiets vervat in die lisensieskema waarop die bevel betrekking het, op so 'n wyse gegee word dat dit òf vir 'n onbepaalde tyd òf vir 'n tydperk wat die Outeursreghof vasstel van krag bly.


(7) Waar die Outeursreghof 'n bevel gegee het met betrekking tot 'n lisensieskema wat na hom verwys is, bly dié skema, ondanks andersluidende bepalings daarin vervat, vir sover dit betrekking het op gevalle binne die kategorie ten opsigte waarvan die bevel gegee is, daarna van krag onderworpe aan die bepalings van die bevel: Met dien verstande dat hierdie subartikel nie met betrekking tot 'n verwysing van toepassing is ten opsigte van enige tydperk nadat die verwysing teruggetrek of ingevolge subartikel (4) van die hand gewys is nie.


32 Verdere verwysing van skema na Outeursreghof


(1) Waar die Outeursregshof ingevolge artikel 31 'n bevel ten opsigte van 'n lisensieskema gegee het, kan-


(a) die lisensiegewende liggaam wat die skema beheer;


(b) 'n organisasie wat volgens sy bewering persone verteenwoordig wat lisensies verlang in gevalle binne die kategorie waarop die bevel van toepassing is; of


(c) iemand wat beweer dat hy 'n lisensie in 'n geval binne daardie kategorie verlang,


behoudens die bepalings van subartikel (2), die skema te eniger tyd terwyl die bevel van krag is, weer na die Outeursreghof verwys vir sover dit betrekking het op gevalle binne die kategorie waarvoor die bevel geld.


(2) 'n Lisensieskema word nie sonder spesiale verlof van die Outeursreghof weer ingevolge subartikel (1) na die Outeursreghof verwys nie-


(a) waar die betrokke bevel op so 'n wyse gegee is dat dit vir 'n onbepaalde tyd of vir 'n langer tydperk as vyftien maande sal geld, voor die verstryking van 'n tydperk van twaalf maande vanaf die datum waarop die bevel gegee is; of


(b) waar dié bevel op so 'n wyse gegee is dat dit vir 'n tydperk van hoogstens vyftien maande sal geld, te eniger tyd meer as drie maande voor die datum waarop die bevel verstryk.


(3) Die bepalings van artikel 31 is mutatis mutandis van toepassing ten opsigte van 'n verwysing ingevolge hierdie artikel of 'n bevel in verband daarmee gegee, en die Outeursreghof is bevoeg om by so 'n verwysing die bevel te gee wat hy regverdig ag.


33 Aansoek aan Outeursreghof


(1) By die toepassing van hierdie Hoofstuk word 'n geval geag deur 'n lisensieskema gedek te wees indien daar volgens 'n lisensieskema wat dan in werking is, lisensies verleen sou word in gevalle binne die kategorie waartoe daardie geval behoort: Met dien verstande dat indien volgens die bepalings van 'n lisensieskema-


(a) die lisensies wat aldus verleen sou word, onderworpe sou wees aan bedinge en voorwaardes waardeur bepaalde aangeleenthede van die lisensies uitgesonder sou wees; en


(b) die betrokke geval betrekking het op een of meer van die aangeleenthede wat binne so 'n uitsondering val,


daardie geval geag word nie deur die skema gedek te wees nie.


(2) Iemand wat beweer dat die lisensiegewende liggaam wat 'n lisensieskema beheer, in 'n geval deur die lisensieskema gedek, geweier of versuim het om 'n lisensie volgens die bepalings van die skema aan hom te verleen of die verlening van so 'n lisensie aan hom te verkry, kan by die Outeursreghof om 'n bevel ingevolge hierdie artikel aansoek doen.


(3) 'n Aansoek om so 'n bevel kan ook gedoen word deur iemand wat beweer dat hy 'n lisensie verlang in 'n geval wat nie deur 'n lisensieskema gedek word nie, en-


(a) òf dat 'n lisensiegewende liggaam of persoon geweier of versuim het om die lisensie te verleen of die verlening daarvan te verkry, en dat dit in die omstandighede onredelik sou wees om die lisensie nie te verleen nie;


(b) òf dat enige gelde, bedinge of voorwaardes waarop 'n lisensiegewende liggaam die verlening van 'n lisensie voorstel, onredelik is.


(4) Waar 'n organisasie (ongeag of hy beweer dat hy persone wat lisensies verlang, verteenwoordig al dan nie) of 'n persoon (ongeag of hy 'n lisensie verlang al dan nie) by die Outeursreghof aansoek doen om as 'n party by 'n aansoek ingevolge subartikel (2) of (3) gevoeg te word, en die Outeursreghof oortuig is dat die organisasie of persoon 'n wesenlike belang by die geskilpunt het, kan die Outeursreghof na goeddunke gelas dat daardie organisasie of persoon as 'n party by die aansoek gevoeg word.


(5) By 'n aansoek ingevolge subartikel (2) of (3) moet die Outeursreghof aan die aansoeker en die betrokke lisensiegewende liggaam, en elke ander party by die aansoek, die geleentheid gee om sy saak te stel, en indien die Outeursreghof bevind dat die aansoeker se eis gegrond is, gee die Outeursreghof 'n bevel waarby verklaar word dat die aansoeker ten opsigte van die aangeleenthede in die bevel vermeld, geregtig is op 'n lisensie op die bedinge en voorwaardes en onderworpe aan betaling van die gelde (as daar is) wat-


(a) in die geval van 'n aansoek ingevolge subartikel (2), na die Outeursreghof se bevinding volgens die lisensieskema toepaslik is; of


(b) in die geval van 'n aansoek ingevolge subartikel (3), na die Outeursreghof se bevinding in die omstandighede redelik is.


(6) 'n Verwysing in hierdie artikel na versuim om 'n lisensie te verleen of die verlening daarvan te verkry, word ook uitgelê as 'n verwysing na versuim om binne redelike tyd nadat dit aangevra is, die lisensie te verleen of die verlening daarvan te verkry.


34 Verspreidingsdiens


By 'n geskil betreffende die oorsending van uitsendings in 'n verspreidingsdiens in die Republiek, moet die Outeursreghof enige eis kragtens hierdie Wet vir sover die lisensies van die betrokke uitsender vir sodanige oorsending in 'n verspreidingsdiens voorsiening maak of dit insluit, verwerp.


[A. 34 vervang by a. 57 van Wet 38 van 1997.]


35 Uitwerking van bevele van Outeursreghof en aanvullende bepalings in verband daarmee


(1) Iemand wat voldoen aan die voorwaardes verbonde aan 'n bevel ingevolge hierdie Hoofstuk deur die Outeursreghof gegee of wat 'n bevredigende versekering aan die eienaar of toekomstige eienaar van die outeursreg gegee het om aan bedoelde voorwaardes te voldoen, word geag die houer van 'n lisensie ingevolge hierdie Wet te wees.


(2) By die uitoefening van sy bevoegdheid ten opsigte van lisensies met betrekking tot televisie-uitsendings, hou die Outeursreghof onder meer rekening met alle voorwaardes opgelê deur die promotors van 'n vermaaklikheid of ander gebeurtenis wat in die uitsendings opgeneem gaan word, en in besonder word die weierings of versuim om 'n lisensie te verleen, nie deur die Outeursreghof onredelik geag nie indien die verlening daarvan nie met daardie voorwaardes bestaanbaar sou gewees het nie.


36 Appèlle


(1) Enige party by verrigtinge voor die Outeursreghof kan teen 'n bevel of beslissing van die Outeursreghof ingevolge daardie verrigtinge appelleer.


(2) Elke appèl word aangeteken en voortgesit op die wyse by wet voorgeskryf vir appèlle teen 'n siviele bevel of beslissing van 'n enkele regter, en artikels 20 en 21 van die Wet op die Hooggeregshof, 1959 (Wet 59 van 1959), is mutatis mutandis van toepassing.


(3) (a) Die hof kan met betrekking tot so 'n appèl-


(a) die bevel of beslissing waarteen geappelleer word, bekragtig, wysig of tersyde stel, na gelang die hof billik ag;


(b) indien die oorkonde nie genoegsame getuienis of inligting vir die beslissing van die appèl verskaf nie, die aangeleentheid na die Outeursreghof terugverwys met opdragte betreffende die afneem van verdere getuienis of die uiteensit van verdere inligting;


(c) enige ander weg inslaan wat na mening van die hof billik is en sal lei tot die spoedige en sover moontlik goedkoop beslegting van die saak; en


(d) die bevel aangaande koste uitreik wat die hof billik ag.


[A. 36 vervang by a. 28 van Wet 125 van 1992.]