Trekkerswee/Goue Gode

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Silwer Strale Trekkerswee
Goue Gode
deur Totius
Groue Grawe


Goue Gode
Bo-op die grond rys al 'n stad / wat op die heuwels skitter-blink

I

Dis heuwels, heuwels, heuwels net
sover 'n mens se oog kan speur;
dis of voorheen 'n monsterploeg
die wêreld hier wou stukkend skeur.

Ja, God se ploeg het hier geloop
in wentelkrag van vloed en vuur
toe heel die hoogland omgekeer
is in die aard' se wordings-uur.

Die reuse-sooi van daardie ploeg
'n berg was of 'n hoë rand;
en elke voor daaragter was
'n vrugbre moot of akkerland.

God se almagtige Hand het toe
daaroor gegaan met groot geswaai,
sodat 'n ganse goudveld is
in die aard se boesem uitgesaai.

Daarna het Hy die eeugety
stil oor sy akkerveld laat duur,
sonder dat een die geelblink vrug
versamel in sy voorraadskuur.

Geen Babilon se reusebeeld
is uit die goudsaad saamgesmelt;
geen wêreldstad se grootheid het
geskitter oor die heuwelveld.

Net Kaffervoete 't daar gegaan
wanneer hul hordes vlug of veg;
en die ondier het gelaer waar
die skatte van die wêreld leg.

II

Die taal van berge en rante is oud.
Ek sien die letters voor my staan,
die skeure omlaag, die kranse omhoog;
maar dis 'n skrif wat nooit vergaan.

Die taal is geskrywe met letters
van kranse en klowe en rif;
dit lê oop en bloot op die wande, ...
maar niemand ontraadsel die skrif.

Die kranse en klowe is woorde
tot reuse-sinne vereen,
en die stippels en strepe daartussen
is tot massas rotse versteen.

Dit is die taal van skeppings-dae,
die taal ook van die sondvloed-tyd,
waarby die late mens verbysterd
staan klae van onwetendheid...

Spreek daardie taal van hoë waters
teen hoë bergwand uitgeslaan,
en van opdrifsels eeue later
tot kransversténing oorgegaan?

Of spreek die taal van vuur se werking,
van vreselike wêreldbrand
toe berggevaartes op kom rys het
uit die aard se vuurge ingewand?...

Die sleutel van pylskrif-figure
en hiërogliewe is gevind;
maar hier staan al die wyse same
onwetend soos 'n kind.

So swyg ook stil die Rand se rante.
Ja, die skeppingstaal is al te oud!...
Of spreek hier gryse lettermerke
miskien al lank die woord van: Goud?...

III

Nou loop 'n loper oor die Rand
wat rooi is in sy aangesig;
hy sien niks van die skone land,
maar hou sy oog omlaag gerig.

'n Kaffer sukkel agter hom
en dra sy loodswaar pak:
'n vysel, stamper, pikswart kom
met goeters in 'n goiingsak.

Hoor! dis geen vooros-klok gewis
wat lui op die anders stille Rand!
Die klankgeluid is anders, dis
die stamper op die vyselkant.

Bo stugge rots—nog nooit getref
as deur die slag van donderweer—
word nou die hamer opgehef
en mokerslag daal dreunend neer.

Die rots word gruis; die gruis word stof;
die wasbak spoel dit om en om,
en delwers-oog speur rust'loos of
die goud-en ysterstrepie kom.

Daar is dit! en hoe bly is hy!
Die goud-aar is oplaas geraak...
Die outa sien 'n os wat wei,
en dink: "Hoe lekker sal hy smaak."

Die rots word nog 'n keer gestamp ...
en in die spoelkom omgewas.
Die delwer gaan dan na sy kamp ...
sy dienaar hurk daar by sy las.

IV

Ons sien nou weer die loper loop.
'n Tolk en hy het keer op keer
met omhaalwoorde geprobeer
of hul oom Gert se plaas kan koop.

Oom Gert was na Pretoria:
hy het hom met sy sorg gewénd
na die vaderlike president,
en dié het hom geantwoord: Ja.

Maar ag, oom Gert se hart is swaar
as hy weer kom die bultveld oor;
daarbinne moet hy almaar hoor
'n stem so lastig, so onklaar:

"My plasie is my Nabots-erf
wat met sy weiveld wiegel oor
die Rand. Moet ek dit nou verloor
vir Agabs, om dan rond te swerf?

"Gewetenstem naas lotgeval!
Die stem is Jakobs stemklank, maar
die lewenslot 's die Esaus-haar,
en ek is blind soos Isak al!"

So het hy lank gepeins, gewag,
tot hy oplaas dink: "Laat maar gaan."
Hul bied hom tweemaal duisend aan,
en daarmee is die koop volbrag.

Oom Gert maak nog sy saak gewis:
hy vra net goudgeld en kontant,
en dat sy eie predikant
sal tel of hulle almal is.

V

o Heilige nagte van voorheen
as die maanlig skaars in die huisie dring,
waar oom Gert lê waak, soos die psalmis sing,
om te peins oor God,

die nagte nog lank, na skeppings-maak,
deur geen kunsglans nog verkort;
as die mens nog tyd het om wakker te word
en te peins oor God.

Die vetkers het maar kort gebrand
om te lig oor die oue Skriftuur
wat die stof bied in die vroeë uur
om te peins oor God.

Die siel doen soos die blomkelk dan
wat die blaartjies sluit by nag,
en stil-alleen op die son staan wag—
so peins die siel oor God.

Dit doen net soos die voël by nag,
wat die vlerk nie vliegend meer wil strek,
maar die koppie in die dons gaan dek—
so peins die siel oor God.

Dis doen en doen en nog eens doen,
totdat uit hoër, heil'ger oord
verruis die saalge stemmingswoord—
as die siel stil peins oor God.

Totdat 'n ligstraal na benee
val in die oog omhooggehou,
en die siel dan weer sy God aanskou—
terwyl dit peins oor God.

Dan voel dit weer aan wyding ryk
en beef stil opwaarts-heen
met groot verlange om nog
oor God te peins.

Maar ag, nóú is oom Gert vol sorg,
en sy bed is vuur onder hom:
'n ander god het daar gekom,
en die naam van die god is: Goud.

VI

Voorheen was in oom Gert se huis
'n sjieling net so skaars te kry
as in 'n bedelaar se kluis—
en tog was daar geen armoed' by.

Oom Gert se huis kos hom geen geld:
hy't self die muurtjies opgetrek,
die gras gesny op eie veld,
en toe met eie hand gedek.

Die hout was geelhout wat gesaag
is in die Houtbosbergse kuil,
vandaar met moeite uitgedraag
en oral in die land verruil.

Sy meubels is van eie maak,
en wie daarop gaan sit die voel:
dit is geen goed na vreemde smaak,
maar boer se eie bank en stoel.

Wat op sy tafel kom is uit
sy eie tuin of uit sy kraal—
daar's brood en melk, daar's boerbeskuit
en vleis, dit is die sober maal.

Hul klere kies hul so gering,
dat hoë ruil nie nodig is.
Die smouse het dit rondgebring:
ferweel en tabberdgoed en sis.

Ja, geld was skaars en goud was min,
maar min ook die onrus en gebrek;
daar was geen ryke of arme in
die land, niks wat die onrus wek.—

Hoe het die wêreld nou gedraai!
Hoe word oom Gert se vrees gewek!
Hy sien sy goed al opgelaai
en hoe sy wa weer noordwaarts trek.

VII'

"Kom kinders, ons moet trek,
want hier kan ons nie bly;
as ons hier langer bly,
sal hulle ons weer kry.

"Ek het my grond so lief,
my vrye plaas en werf.
Vir hierdie plaas en werf
het ek voorheen geswerf.

"Kom kinders, ons moet trek,
dit is die boer se plan,
en daar's geen ander plan.
Laat almal trek wat kan!"

"Ag, vader, moenie trek,"
sê Dina, "laat ons bly,
want waar ons trek of bly,
sal hul ons tog weer kry.

"Ons kan nie immer trek,
ons kan nie immer vlug,
saam met die wild wegvlug
vir mensgerug.

"Ons woon al lank so stil;
laat ons nou maar geniet,
met eerbaarheid geniet
van wat die wêreld bied."

Wat sal oom Gert nou doen
om die onheil af te weer
as Dina haar verweer,
met sagte woord hom keer?

"Ek voel 'n ding wat kom,
my binneste die werk
net soos die miertjies werk
wat verweg storm bemerk.

"Nou ja, ons sal hier bly,
op die uithoek van die plaas,
van die ons ontvalle plaas
maar vér van stadsgeraas."

VIII

Bo-op die grond rys al 'n stad
wat op die heuwels skitter-blink;
dit was 'n reeks van kampe eers,
getimmer uit hout en sink;
maar nou 'n wêreldstad meteen,
en massas delwers trek daarheen.

Oom Gert het so iets nooit gesien:
die suiwer lug is troebel-vuil,
en helder stroompies van weleer
dam nou in donker modderkuil.
Die grond voorheen so skoon en rooi
is nou met steenkool-as bestrooi.

Al bo die stad, en verder, sweef
'n swart-deurrookte deins'righeid;
dit lyk net soos 'n veldvuur wat
hom uitsprei oor die velde wyd.
En saans dan slaan 'n rooi gegloor
soos veldbrand al die heuwels oor.

In boeredorpe het hul eers
'n kerk gestig op wye plein,
waarom vergader, hier en daar,
die grasdak-huisies, laag en klein.
Maar nou word eers, en wondergou,
'n groot hotel daar opgebou.

Daar is geen Son- of Maandag meer;
dit vleg en kronkel deurmekaar,
en saans, nog lank na middernag,
het die gewoel nog nie bedaar.
Die wêreld maak oom Gert nou dom
wat selde in die stad meer kom.

En as hy in die sonlig sien
hoedat die stad lê flikker-beef,
of saans bemerk die dof-rooi gloed
wat opwaarts na die hemel streef,
dan dink hy: 's Dit nie wat ek lees
van Babilon en van die Bees?

IX'

Die nuwe wêreldstad die lê
tussen die twee families in.
Een kant is Willem en oom Gert,
en ander kant daar boer oom Koos
nog met sy talryke gesin.

Die wêreldstad lê tussen hul,
want, ja, die vriendskap is geskeur.
Is dit miskien die profesie
van wat op later dag nog met
die hele nasie sal gebeur?...

Dina het Engels gou geleer,
en ook so mooi leer sing...
Sy het verlaas oom Koos besoek
om hom saam met sy huisgesin
tot vriendskap met die stad te dwing.

Sy praat van meegaan met die stroom,
van nie so alles te vermy.
Maar nee, oom Koos het vas besluit
dat hy met sy geslag
op die ou-ou boere-pad sal bly.

Sy sing oplaas vir hul 'n lied
om so hul harte nog te vang.
Oom Koos die volg dit met 'n sug
en dink aan beter tyd terug
wanneer hy hoor die mode-sang:

X

"Stad waar die ligte newels swewe,
waar ligte luggies skitter-bewe;
stad op 'n hoogland uitgebou,
ver-sigbaar by die hemelblou—
Johannesburg jy's waarlik ja
die glorie van Suid-Afrika.

"Van digte donkerheid omgewe
het Boer en Kaffer hier gelewe;
hul kon die goudstraal nie ontdek
wat die beskawings-lewe wek;
geen boeretent of ossewa
kon lig bring vir Suid-Afrika.

"Geen trekker bring hier nuwe lewe,
maar deur 'n hoër drang gedrewe,
kom pionier en delwer aan
wat goudvonke uit die rotse slaan.
Johannesburg die was weldra
die ligpunt van Suid-Afrika.

"Johannesburg is hoog van strewe,
wat laag is word nie neergedrewe,
maar naturel en trekker-boer
word uit hul onkunde opgevoer.
Johannesburg is waarlik ja
die glorie van Suid-Afrika.

"Johannesburg is hoog verhewe,
die koningin uit lig gewewe;
haar goue beeld sal wonders doen,
sal immer ophef en versoen.
Johannesburg sal steeds hierna
die glorie wees van Afrika!"

XI

Blink is die saal van lampelig;
gloed-helder blink hulle aangesig.

Warm is die saal van somergloed;
warm en onstuimig die hartebloed.

En kringlend sweef daar bont deureen
die danseresse op ligte been.

Maar Dina is die skoonste as sy
haar liggaamskoon in dans uitsprei;

en Willem, die gewenste man,
sien van die kant die skouspel an;

terwyl hom loof 'n kring van mans
dat hy só 'n vrou leen vir die dans.

Daar word gebuig, gevra, geswaai,
die arrems in mekaar gedraai.

Dan rus oom Gert, in slaap gesink,
waar net Gods sterre in stilte blink.

Rus?... Nee, hy sien op donker muur,
in helder letters van hemelvuur:

"Geweeg, geweeg, te lig bevind!"
Dan roep hy: "Ag, my arme kind!"

Sy vrou die stoot hom saggies aan,
maar berg ook self 'n snik en traan.

Dof word én saal én walsgeluid,
en langsaam gaan die lampe uit...

Leeg is die saal... Op tafelblad
staan leë bottels in hul nat.

En eind'lik, ná die sondenag,
staan weer daarbuite 'n ander dag.

XII[A]

'n Warrelwind, die dagspook wat
so plots ontwaak,
en plots op straat of in die pad
sy dans-swaai maak—
is hy nie soms die bode van
'n storm wat naak?

Papiere, blare, voddegoed,
van stof deurdring;
geswaai, geruk, soos in 'n tregter
opgewring,
kry skielik lewe en asem, hul
dans in 'n kring.

Is dit 'n gees, haastig gedaal
uit hoër lug,
wat van 'n naadrende onheil bring
die voorgerug?...
Kyk hoe die loom-lui stof geswind
sy voet ontvlug!

Of is dit dalk 'n toorheks wat
puur uit 'n grap,
op straat al in die rondte wals
met ligte stap,
en met die voddegoed en stof
kalkoentjies trap?...

Rumoer'ge warr'ling langs
die stof-vuil straat;
binne die sinkgebou staan al
'n mense-plaat,
en op die platform staan 'n klomp
klaar om te praat.

Uit alle wêreld-oorde saam
gewarrelwaai,
lyk hul oom Gert soos hane wat
staan koningkraai;
wanneer hul veg vir stemreg met
'n groot lawaai.

Intussen pak die stormwolk al
op Tafelberg;
en anderkant die water is
'n leeu vererg
wat nog in sagte woorde-klou
sy naels verberg.

Oom Gert is moeg van die tumult;
ryp is sy plan:
hy self met honderd ander storm;
gryp pote van
die stoele, en slaan op kop en lyf
so wat hul kan.

Die helde vlug na alle kant
die deurpoorte uit.
Van lae galery vlug hul
deur vensterruit,
totdat 'n al te dikkert daar
op half-lyf stuit.

Oom Gert laat hom dit dugtig op
sy sitplek voel.
Die dikkert skreeu sy buitevriend:
"o Pull, John, pull!"
Oom Gert die slaan; die dikkert roep:
"o Help, John, pull!"

[A] 'n Beskrywing van die stemreg-agitasie.

XIII
Is 't oorlog?... In oom Koos se huis
woel almal net om klaar te kry.
Daar word geslag weer en gebak,
en buite voor die agterdeur
trek reeds die seuns die bokwa reg
om op te pak.

Die harte voel nie lekker nie,
die woorde het angstig-min geword—
soos steeds by donker voorbesef,
by die vergeefse angsgevraag
van hoe en waar
die ontwaakte lewenslot sal tref.

Lughartig praat 'n enkele seun
hoe hy die Engelsman sal skiet,
maar moeder maan: My kind, my kind!
Die seun wyk willig vir die woord,
want, ja, daar was 'n kleinigheid
wat hy nog aan sy saal wou bind!

Dis amper klaar... Daar kom hul aan,
die burgers van die omtrek, want
oom Koos die is nog veldkornet...
Straks staan hul, teuel in die arm
en met geboë hoof,
want een gaan voor in smeekgebed.

Die vrouens staan effens opsy,
met arrems oor mekaar gevou,
nou dat hul taak is afgedaan.
Nou kan hul eers hul smart besef,
en enkle droog met voorskoot-punt
al die eerste oorlogstraan.

Dan skuif en skok, met gang en draf,
die burgers op hul perde weg—
dit lyk somaar 'n mengelklomp!
Maar tussen hulle flikker-blits
geweldig in die lenteson
die blinkgemaakte mauser-tromp!

Oom Gert wat hom meer tuis voel by
dié ruiterskaar—hy het oom Koos
sy krygsmansdiens al aangebied—
die luister hoe die jongspan in
hul oorlogsblydskap sing
die klanke van 'n oorlogslied:

XIV

Kom, burgers, trek die perde reg:
nou vrou en kind goeien-dag geseg!
Jongkêrels, los die nôi se hand;
en seuns, verlaat jul moeders, want
daar gaan 'n strydroep deur die land!
Gryp nou die teuels bymekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!

Die regterhand gryp die visier,
die bors oorkruis 'n bandelier;
die spore in die sonskyn blink,
stiebeuels teen mekaar weerklink,
die ketel aan die saal rinkink.
Kom, burgers, hou nou bymekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!

Laat aan die trippelaar sy pas,
maar hou die vuurge hingste vas.
Die agterstes moet ingalop
tot binne-in die ruiter-trop—
die ponie en die bossie-kop.
Kom, burgers, ry so bymekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!

Trek burgers, almal nou geteld,
al voort maar deur die wye veld,
en of jul al omlaag verdwyn
of op die heuwels weer verskyn—
wys altyd weer die slingerlyn.
Kom burgers, trek so bymekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!

Jaag, burgers, jaag oor rant en rots
wanneer jul teen die vyand bots.
Ruk in, spring af en pos gevat
aan die onwrikbre ryperd-blad.
Mik fyn, kyk waar die stoffie spat!
Staan, burgers, staan dan bymekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!

En moet jul val, val dan met eer,
met die oog die vyand toegekeer;
val op die grense, man en perd,
die oue vierkleur is dit werd,
en die eerkroon wink al uit die vert.
Val burgers, val dan bymekaar—
die vierkleur is weer in gevaar!

XV

So sing die jonges vol van vreugde,
maar ag, oom Gert se hart is seer
as hy straks diep en dieper peinsend
gaan langs die slagveld van weleer.

Dáár lê Majuba, donker kleurig,
sy sye een en al terras;
dis of die berg van alle eeue
vir wonderdaad geskape was.

Daar lê Laingsnek; dis of Gods hande
dit vir 'n skanswerk uit wou bou.
En daar's Ingogo's kronkelbedding—
net om die vyand op te hou.

Daar's nog die wonderlike hoeke,
net om die vyand vas te keer;
maar ag, oom Gert voel nou so anders,
sy hart is onverklaarbaar seer.

Hy sien nou oral groot kanonne,
hy weet nie of die ding sal gaan.
Die treine voer nou alle soorte
van wapens uit die hoofstad aan.

Daar is hom ook so baie mense,
en baie goed word aangevoer;
voorheen was daar so min maar nodig:
'n ryperd, biltong en 'n roer.

Dis nodig, ja, die tyd die vorder,
en daarom swyg hy maar en kyk.
Maar heel die Amajuba-wêreld,
alles wil hom so anders lyk.

Tog leef hy weer, die troue krygsman,
al trek hy nou maar same net:
'n oorlogsperd die stamp en runnik
wanneer hy hoor die krygstrompet!

XVI

Verlore!...
Die dag van stryd het mooi begin,
die burgers trek verwinnend in,
en boerename 't binnekort
oral 'n glorie-klank geword!—
'n Pragtige môreglore!
Maar onder in oom Gert se hart
kom effens al, nog diep-verward,
'n fluisterstem na vore:
Verlore, verlore!

Verlore!...
Die dag van stryd begin so goed,
Suid-Afrika lê aan hul voet...
Die Boer moet Afrika regeer!
Gryp gou, voordat die kans kan keer!
Buig uit die grense na vore!...
Maar nou kom daardie fluisterstem,
diep in oom Gert se bors geklem,
so duidelik na vore:
Verlore, verlore!

Verlore!...
Rookwolke nader uit die suid
en sprei hul oor die aard-breedte uit;
oor Drakensberg se veil'ge top
skuif swaar 'n donderonweer op;
die storm sing in wilde kore!
Oom Gert se stemme, in hom bekneld,
kom nou daar buite op berg en veld
al donderend na vore:
Verlore, verlore!

Verlore!...
Oom Gert die kon nie verder vlug,
en sit nou, met sy vrou, te sug
agter die ysterplate vas,
daar waar hy eertyds vryman was
en sy vryheid is wedergebore!
Die fluisterstem daarbinne kom
nou deur die ysterplaat weerom
as huilende windstem na vore:
Verlore, verlore!

Verlore!...
Die dag van stryd hou lank nog aan—
dis of die son nou stil gaan staan.
Maar eindlik roep hul rond: "Verby!
dis vrede, vrede weer, wees bly—
al is die vryheid verlore!"...
Dan keer die wilde stem as sug
weer in oom Gert se hart terug;
en dring dan weer altyd na vore:
Verlore, verlore!

XVII

Die oorlogsfakkel is gedoof,
en die oorlogskamp word oopgesluit.
Die nuwe tye, hooggeloof,
kom met gejubel, lank en luid.

Die burgers kom van oral an
en raak al met hul lot versoen.
Maar net oom Gert, gebroke man,
wat sal hy in so 'n wêreld doen?

Want ook sy troue vrou is dood—
die lewe van 'n handjie meel
en van 'n brok genadebrood
was haar as boerevrou te veel.

Willem, sy skoonseun—hy't vir hom
die boerdery eers waargeneem—
is skout, en het nie teruggekom.
Hy's seker nou totaal vervreem!

Oom Koos weer het sy grond verhuur,
en trek die hoë Bosveld in,
die Randse lewe is hom te duur
en skaadlik vir sy huisgesin.

Maar Dina—waar is sy en wat?
sy die altyd skone boerevrou?...
Geheel verslingerd in die stad
en will'ge prooi van vreemdes nou!

Wanneer oom Gert van Dina hoor,
verbysterd al deur smart op smart,
dan roep 'n dubb'le stem: "Verloor!"
en dubb'le swaard gaan deur sy hart.

Geen antwoord is daar op die stem
wat vlymend deur sy siel nou gaan;
maar as die leed te vinnig klem,
roep hy: "Dit het die stad gedaan!"