Oom Gert vertel en ander gedigte/Die Soutpan

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
Die Doringboom Oom Gert vertel en ander gedigte
Die Soutpan
deur C. Louis Leipoldt
Japie


Die Soutpan.

Kaal is die ou sandwêreld hier, en kaal
        Die see daarbuite, waar die branders breek:
        'n Strand vol klippies en 'n poltjie kweek
Van ruigtegras, nou nie meer groen, maar vaal.
Hier praat die veld 'n onverstaanbre taal;
        Hier maak die son die blou soutwater bleek,
        Totdat hy saans vermoeid sy kop versteek
Agter die duine, waar sy glans verdwaal.
Hier staan die soutkors sonder vou of plooi,
        Glad, silwerwit, en met 'n goudgeel lys
        Van modder en klei—hier dun en daar nog dig.
So arm die wêreld hier, en tog so mooi:
        Stil, as 'n oumens amper oor sy reis
        En met die Dood se skadu op sy gesig.