O, die oggendstond op 'n boereplaas!

From Wikisource
Jump to navigation Jump to search
O, die oggendstond op 'n boereplaas!

deur Totius


O, die oggendstond op 'n boereplaas!

O, die oggendstond op 'n boereplaas!
Daar trek al op die eerste rook.
Hul het gistraand die graag beslis
wie of se beurt dit môre is
om ketel te kook.

Die môre-ster het opgegaan;
daarbinne roer al een;
daarbuite bly die rokie draai,
omdat daar nou geen windjie waai
deur vroeë môrewêreld heen.

Die haan het op sy beul geblaas;
hy spring al van sy tak;
'n mens sal sê dat hy die baas
(so stap hy) is van die werf en plaas,
en die transport dra in sy sak.

Hom volg sy vrind die kallekoen,
en oue towenaar:
hy worstel met sy slange, wat
hy nukrig teke in die pad
se stof, met duistre vlekgebaar.

Die kraalvee is al moeg gelê;
hul rek die stramme lywe uit.
Daar kom die kaffer ook al aan,
wat koulik oor die douveld gaan
en eers die kalwerhok ontsluit.

Sy emmer ruis van pure musiek,
so vloei dit nou uit volle speen;
musiek ook vir die kalfie als
hy kort-kort om sy moeder wals
op nog onvaste horrelbeen.

Maar kyk hoe staan die osse met
groot oë naar die hek te tuur,
totdat die sware hinderpaal,
word uit die mikstok uitgehaal,
waaraan hul saans hul lywe skuur.

Die son gaan op, die vee verdwyn.
net in die onverstoorbre vert'
'n osse-span stap voor die ploeg,
en agteraan die man wat swoeg
by 'n rukkeringe stert.

Die mïre smelt weer met die dou,
die vrede alleen bly soos dit was.
Net 'n hen spring van haar eiers af
met groot geraas, en die brakhond blaf
vir die enkele kuiergas.